Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Blink toekoms vir die landbou

Nick Serfontein, die boer wat ’n ope brief aan die president geskryf het, sê waarom hy gló.

Nick Serfontein die afgelope week op Rapport en CIty Press se grondberaad. Foto: Deon Raath

Ses weke gelede was daar ’n klein aardbewing op Bela-Bela met Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad. Dit het ’n tsoenami veroorsaak wat oor ons land gespoel en nuwe hoop geskep het – ’n landmerk in die geskiedenis.

Dit het gevolg op die reeks openbare sittings oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet, waar die naakte rassisme en radikalisme skokkend was. Dit was nie net ’n ernstige aanklag teen die politieke klimaat nie, maar kan ook gesien word as ’n gevaarlike spiraal na ’n plek waar ons nie wil wees nie.

Twee weke ná Bela-Bela het pres. Cyril Ramaphosa sy ekonomiese reddingsplan aangekondig, wat ondanks heelwat kritiek tog ’n bietjie hoop gegee het. Nog belangriker was die aanwys van ’n baie gebalanseerde komitee wat advies moet gee aan die interministeriële taakspan oor grondhervorming. Wat belangrik is van laasgenoemde, is die erns en die politieke wil om die bul by die horings te pak; iets wat ons in jare nie gesien het nie. Hierdie gebeure het ’n verdere golf tot die tsoenami gevoeg en die deining effe hoër gemaak.

Net toe ons dink die deining sak, volg City Press en Rapport se grond-indaba Woensdag. Die deelname het verstom. Die gehoor het ingesluit oudpres. Kgalema Motlanthe, senior amptenare, die georganiseerde landbou, agriondernemings, banke, die private sektor, afgevaardigdes van sewe politieke partye, boere, die media, akademici, vier lede van die presidensiële advieskomitee, en dan ook mense wat net pleinweg omgee – soos die ikoon Brand Pretorius.

Die huidige stelsel is soos ’n Titanic wat nie kan draai nie en gesink moet word.

Net soos met die Bela-Bela-grondberaad was die opwinding en geesdrif voelbaar en sigbaar. Enigiemand wat ná die beraad Woensdag uitgestap het en nie hoop gehad het dat daar lig in die tonnel is nie, leef in ’n ander wêreld.

In die eerste sessie is teruggekyk na die verlede wat by ons spook, maar ook na suksesstories uit die private sektor wat boekdele spreek oor die kwaliteit van ons samelewing.

Daar was ook konsensus oor die konsep van grondherverdeling en grondrestitusie. Dit is moreel reg, want dit gee terug aan diegene wat van hulle ontneem is teen hul wil. Dit is maatskaplik reg, want dit gee selfvertroue en waardigheid wat saamloop met die eienaarskap en reg tot grond. En dit is ekonomies reg, want dit skep geleenthede vir ’n beter lewe.

Tragies egter is die manier hoe grondhervorming oor die afgelope 24 jaar geadministreer is en die korrupsie wat daarmee gepaard gegaan het – verraad teenoor die mense vir wie dit bedoel is. Die erkenning Woensdag van die ANC oor hierdie verraad is prysenswaardig in teenstelling met die vorige ontkennings van enige wanadministrasie.

Daarna het ons Woensdag vorentoe gekyk. Die reg op grond in die voormalige tuislande bly ’n tameletjie, maar daar ís suksesverhale. Die grootste nood vir eiendomsreg is egter in die stede, waar die oplossing redelik eenvoudig is en vinnig kan plaasvind met politieke wil.

Waar daar wel verskille was, is oor hóé grondhervorming moet plaasvind en of dit hoegenaamd nodig is om art. 25 te verander om hervorming te bespoedig. Erkenning is gegee aan die Motlanthe-verslag – een van die bes nagevorste dokument oor grondhervorming – wat aanbeveel dat dit onnodig is om art. 25 te verander. In die politieke debat is verskille tussen partye beleefd hanteer. Net die EFF staan die nasionalisering van alle grond voor.

Met dié suksesvolle beraad agter die rug is die vraag: Wat nou?

Ek stem saam met Dan Kriek dat beleidsekerheid oor grondregte belangrik en dringend is. Boere is bekommerd en die huidige onsekerheid is uiters ongesond. Die grondhervormingsproses het egter momentum en die politieke wil is skynbaar daar. Dit is kritiek dat die momentum behou word en dat die tsoenami nie sy deining verloor nie.

Die staat sit met honderdduisende hektare grond, asook onproduktiewe grond wat aan die politieke elite oorgedra is. Daar is geen rede hoekom hierdie grond nie dringend met die regte ondersteuningsmeganismes aan die régte mense oorgedra kan word nie. Dit bly egter ’n ope vraag wie se verantwoordelikheid dit moet wees. Die twee staatsdepartemente wat tradisioneel daarvoor verantwoordelikheid was, het ’n gemors daarvan gemaak. Om dieselfde strukture te gebruik en dieselfde te doen en verskillende resultate te verwag, is onverantwoordelik. Hulle het nie die vermoë of die kennis van wat dit verg om suksesvol te boer nie. ’n Goeie voorbeeld is die situasie met dieregesondheid wat in ’n tydbom ontaard het en die beesbedryf kan kelder. Die huidige stelsel is soos ’n Titanic wat nie kan draai nie en gesink moet word.

Die oplossing lê in die beoogde Landbou-ontwikkelingsagentskap wat op die tafel is en gedryf word deur agriondernemings, die private sektor, die Landbank, kommersiële banke en ander finansieringsinstansies om:

* Goedkoop finansiering te verskaf soos dit waarmee wit boere op die wenpad geplaas is ná die koloniale tydperk;

* Potensiële boere te selekteer;

* Opleiding te verskaf; en

* Mentorskap te verskaf.

Suid Afrika het ’n ongelooflik dinamiese kommersiële landbousektor met van die heel beste boere ter wêreld. In die vleisbeesbedryf lê ons internasionaal 22ste wat getalle betref, maar in produksie van beesvleis lê ons 11de, al is 40% van ons beeste in die stamgebiede waar produksie baie laag is. Ons is die tweede grootste uitvoerder van sitrus ter wêreld. Stel jou voor wat gedoen kan word met die regte strukture, politieke wil, ondersteuning en mentorskap deur die kommersiële boere hand aan hand met nuutgevestigde opkomende boere.

Die afgelope beraad tesame met die Bela-Bela-beraad en dit wat daarop gevolg het, het my geweldig geïnspireer en hoop gegee vir ’n blink toekoms in die landbou. My beroep op die landbouers van hierdie pragtige land is dat ons moet bly glo, want die toekoms behoort aan diegene wat die meeste en die langste glo. En ons moet besef elke suksesstorie, hoe klein ook al, maak ’n reuseverskil.

Die advieskomitee het ’n uiters moeilike en belangrike taak, maar dit is ’n gedugte span. Uiteraard gaan daar verskille wees, wat goed is, want as ons almal oor alles saamstem in die lewe kom ’n mens nie by die regte resultaat uit nie.

* Serfontein is voorsitter van die Sernick-groep

Meer oor:  Nick Serfontein  |  Ope Brief  |  Grondberaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.