Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Donker skadu oor hoogste hof

Die konstitusionele hof het in ’n reeks onlangse uitsprake gewys dat hy ’n getroue en partydige agent van transformatisme is, skryf Koos Malan.

Regter Edwin Cameron se afskeidseremonie in die konstitusionele hof op 20 Augustus vanjaar in Johannesburg.

Die uitspraak van die konstitusionele hof in Gelyke Kanse se saak teen die owerhede van die Universiteit Stellenbosch oor die drastiese besnoeiing van Afrikaans as voertaal is onherroeplik besmet.

So skryf adv. Jan Heunis SC wat namens Gelyke Kanse opgetree het onlangs in sy artikel “Om die Bos gelei” op hierdie blaaie.

Heunis se openbare standpuntinname verteenwoordig ’n ongekende bevraagtekening van die integriteit van die regbank. Sy sienswyse is gegrond daarop dat Stellenbosch se rektor, prof. Wim de Villiers, en regter Edwin Cameron (wat intussen as regter in die konstitusionele hof afgetree het) in aanloop tot die uitspraak, wat deur Cameron gelewer is, in briefwisseling en gesprekke met mekaar betrokke was.

Die kommunikasie tussen die twee het gegaan oor Cameron se kandidatuur as kanselier van die Universiteit Stellenbosch (Cameron is inderdaad intussen as kanselier aangewys), asook hul boeiende meningswisseling oor identiteits- en dergelike kwessies.

Die onbehoorlike heimlike kommunikasie tussen Cameron en De Villiers (blykens Heunis se uiteensetting, sowel as die publikasie van die volle korrespondensie op Politicsweb) werp ’n donker skadu oor die onpartydigheid van die hoogste hof.

Die hof rig skade aan en pleeg geweld teen mense se regte en belange.

Die onpartydigheid van die regbank, meer bepaald van die konstitusionele hof, is een van grondliggende geloofsoortuigings van die Suid-Afrikaanse grondwetlike orde. Dit is op grond daarvan dat die publiek gerusgestel is dat wanneer ook al hul regte in die gedrang kom, die howe – en in die finale instansie die konstitusionele hof – daardie regte deur onpartydige uitsprake sal beskerm.

Die oomblik wat die konstitusionele hof se onpartydigheid in die vaarwater beland, verval die grondslag van die vertroue in grondwetlike regte daarmee saam. Dit is presies wat heel flagrant met Gelyke Kanse gebeur het.

Die partydigheid van die konstitusionele hof is egter niks nuuts nie. Trouens, wanneer dit kom by sake oor die ANC-geleide regerende elite se ideologie van transformatisme, kan met veiligheid voorspel word dat die hof as integrale deel van daardie elite die ideologie sal regverdig en bevorder.

Terselfdertyd sal die hof diegene wat beskou word as uitdagers van transformatisme in die ongelyk stel.

Die afdwing van kulturele en taalhomogeniteit in die openbare sfeer vorm die kern van die ideologie van transformatisme. Hiervolgens word ’n enkele mono-kulturele nasie in die vooruitsig gestel en dienooreenkomstig van taal- en kultuurgemeenskappe vereis om hulself ter wille van die enkele homogene nasie te likwideer.

Dit is veral die ryk ontwikkelde Afrikaanse taal en kultuurbates van sy sprekers wat die transformatiste dwars in die krop steek. Die konstitusionele hof deel hierdie afkeer en verleen verdere stukrag daaraan.

Drie jaar gelede in die veelbesproke Pretoria-straatnaamsaak het hoofregter Mogoeng Mogoeng in die naam van transformasie heftig uitgevaar teen kulturele diversiteit sover dit Afrikaanse kultuurbates raak. Die saak vir die behoud van name vir openbare plekke wat Afrikaanse historiese figure gedenk, was volgens Mogoeng ’n illegitieme strategie wat teen die transformasieprojek en die visie van die Grondwet indruis.

Volgens Mogoeng het almal die plig om hulle by transformatisme in te werp.

Die Grondwet se taal- en kultuurverwante regte het glad nie in die gemoed van Mogoeng en sy gevolg geregistreer nie. Daarvoor was hul transformatiewe drif net te verblindend.

’n Jaar daarna, in Desember 2017, was die meerderheid van die hof onder aanvoering van Mogoeng op sy volgende vaart teen Afrikaans. Dit was in die taalsaak van die Universiteit van die Vrystaat. Die hof het die universiteit lof toegeswaai vir sy afskaffing van die parallelmedium-bedeling van Afrikaanse naas Engelstalige onderrig ten gunste van ’n eentalig Engelse bedeling.

Ofskoon dit klaarblyklik redelikerwys doenlik was om Afrikaans in die parallelmedium-opset te behou, het die hof beslis dat redelike doenlikheid transformatief beoordeel moes word. Die hof het verklaar dat die parallelmedium-model rassesegregasie, -uitsluiting en -meerderwaardigheid voortsit.

Daar was geen getuienis om hierdie stelling te ondersteun nie. Die universiteit het bloot die bewering gemaak, wat Mogoeng en sy gevolg goedsmoeds aanvaar en ge-eggo het. Boonop het Mogoeng-hulle, soos onomwonde in ’n kritiese minderheidsuitspraak uitgewys is, plaaslike en buitelandse reg wat op die saak betrekking het en wat ’n teenoorgestelde beslissing sou meebring, geïgnoreer.

Hierdie minderheidsuitspraak het Mogoeng en sy gevolg se vooroordeel en partydigheid helder aan die lig gebring.

Daar is ’n reeks ander ideologies-verwante uitsprake waar die konstitusionele hof sy rol getrou vertolk het om aspekte van transformatisme te bevorder. Die Renate Barnard-uitspraak oor rasseverteenwoordigendheid en die Agri SA-uitspraak oor die ontneming van minerale regte tel hieronder.

Onder die onbehoorlike kommunikasie tussen Cameron en De Villiers skuil daar dus, soos hierdie reeks uitsprake toon, ’n veel omvattender strukturele partydigheid van die konstitusionele hof ten gunste van die ideologie van transformatisme. Derhalwe is die hof inderdaad nie ’n onpartydige beskermer van regte nie. Inteendeel. Dit is die regsgespesialiseerde departement van die regerende elite en lewer dienooreenkomstig sy bydrae tot die verwesenliking van die doelwitte van transformatisme.

Die hof doen dit deur die Grondwet in die openbarende lig van transformatisme te vertolk. In die lig van transformatisme vind hy betekenisse waaroor baie mense verstom staan – betekenisse wat oplaas dikwels nie regte beskerm nie, maar juis misken. Doelwitte van transformatisme is deurslaggewend vir wat die Grondwet beteken.

Hierdie sienswyse oor die plek en rol van die hof as agent van transformatisme is allermins slegs myne. Gerespekteerde eertydse regters van die konstitusionele hof het self die howe se verpligting om transformatisme te ondersteun, beklemtoon. Mense soos oudhoofregter Pius Langa en oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke.

Moseneke verklaar reeds in 2002 in die vierde Bram Fischer-gedenklesing, dat die regbank die plig het “(t)o observe with unfailing fidelity the transformative mission of the Constitution.” Dit, aldus Moseneke, moet die hof in samewerking met organe van die staat en instellings van die burgerlike samelewing doen.

Dit is presies dit wat die konstitusionele hof met onfeilbare getrouheid doen. In die proses rig die hof skade aan en pleeg hy geweld teen mense se regte en belange. In die geval van Gelyke Kanse, die taalsaak van die Universiteit van die Vrystaat, die Pretoria-straatnaamsaak en dergelike ander verinneweer hy Afrikaanse en Afrikaner-belange in die naam van transformatisme.

'n Geregverdig gebelgde Leopold Scholtz vra ná die Gelyke Kanse-uitspraak in ’n rubriek of die regters van die konstitusionele hof begryp hoeveel skade hulle Afrikaans en sy sprekers berokken het.

Scholtz se vraag oor die nadeel wat die hof aangerig het, sny ’n saak van wesenlike belang aan oor die rol van die dikwels partydige hof in die staatstruktuur en meer bepaald oor die konstitusionele hof in die Suid-Afrikaanse grondwetlike orde.

Dit herinner ons daaraan dat die staat, soos Max Weber reeds lank gelede akkuraat aangedui het, die instelling is wat hom daarin onderskei dat dit oor die monopolie op legitieme mag beskik. Hierdie mag sluit geweld in. Die hof – in hierdie geval die konstitusionele hof – is deel in hierdie monopolie. Deur sy uitsprake laat die hof gereeld – dog verreweg nie altyd nie – geregtigheid geskied.

Wanneer hy soos in Gelyke Kanse en ’n reeks ander uitsprake getrou sy rol as die partydige agent van transformatisme vertolk, pleeg hy uit hoofde van sy gedeelde magsmonopolie kwalik bedekte dade van dwang, oorheersing en geweld teen Afrikaners en Afrikaanstaliges.

Ofskoon hierdie geweld in die oë van die dominante elite, en dus ook van die hof aanvaarbaar is, is dit vir die benadeelde slagoffers onregverdige regterlike dade van geweldpleging.

Dit is dade wat ’n streep trek deur die belofte van die grondwetlike orde om deur ’n partydige regbank regte te waarborg.

  * Prof. Koos Malan doseer publiekreg aan die Universiteit van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.