Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Doodskoot vir Afrikaans

Die konstitusionele hof se bevinding dat Afrikaans as onderrigtaal met ’n marginale plek by die Universiteit Stellenbosch tevrede moet wees, is die ernstigste aanslag op Afrikaans as ’n openbare taal en die voortgesette bestaan van die krimpende Afrikaner-etniese groep  die afgelope 25 jaar, skryf Hermann Giliomee. 

Piet Cillié (regs), volgens Giliomee die invloedrykste redakteur van die Suid-Afrikaanse pers gedurende die tweede helfte van die 20ste eeu, het dikwels na die Afrikaners se kwesbaarheid verwys. Hier ontvang hy die Phil Weber-medalje vir uitnemende prestasie in die Nasionale Pers-groep van Ton Vosloo.

Piet Cillié, redakteur van Die Burger van 1954 tot 1978 en sonder twyfel die invloedrykste redakteur van die Suid-Afrikaanse pers gedurende die tweede helfte van die 20ste eeu, het dikwels na die Afrikaners se kwesbaarheid verwys.

Een van die hooftemas in sy skrywes was sy poging om twee oënskynlik onversoenbare doelwitte te versoen: Enersyds die swart eis vir vryheid en geregtigheid en andersyds die Afrikaners se strewe na etniese oorlewing.

Toe die NP-regering die mag in 1992 begin oorgee het, het die debat oor Afrikaner-oorlewing skielik dringender geword. Dit het gou duidelik geword dat die NP en die ANC radikaal verskillende menings oor kwessies soos regstellende aksie en beheer oor openbare skole en universiteite gehandhaaf het, tensy hierdie instellings na die ANC se pype gedans het.

Tot die vroeë 1990’s het die kans van Afrikaner-magsoorgawe skraal gelyk, maar die onverwagte het in 1992 gebeur toe die NP en die ANC saam die Rekord van Verstandhouding onderteken het, wat die momentum aan die ANC gegee het. Dit het die einde van die NP-regering en binne sewe jaar van die NP self ingelui.

Gedurende sy eerste dekade aan die stuur het die ANC lippediens bewys aan die liberale demokratiese aansien van die Grondwet en die konstitusionele hof as ’n onafhanklike waghond oor individuele én gemeenskaplike vryhede. Maar teen 2004 het dié masker begin afglip en het die Jakobynse karakter van die ANC homself begin ontbloot.

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die toekoms van ons mense en alle minderhede weer eens in ons eie hande is – soos al telkens in ons stormagtige verlede die geval was.

Universiteit van die Vrystaat

Dit was in die bevinding van die konstitusionele hof oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) in 2018 duidelik dié hof toon min of geen belangstelling in die regte van ’n kulturele minderheid nie. Die voorstel van ’n tweestroom-beleid waarin studente kan kies om hul onderrig in óf Engels óf Afrikaans te ontvang, is weggelag.

Ná die hofuitspraak in die UV-saak ingevolge waarvan slegs Engels as onderrigtaal verpligtend geword het, het oudpres. FW de Klerk opgemerk daar is ’n “doelbewuste uitkalwing” van minderhede se regte en vryhede.

Die ANC, het De Klerk gesê, “is besig om ons eiendom, maatskappye, werkvooruitsigte en kulturele erfenis te beperk tot die krimpende persentasie van die bevolking wat ons verteenwoordig. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die toekoms van ons mense en alle minderhede weer eens in ons eie hande is – soos al telkens in ons stormagtige verlede die geval was.”

Gelyke Kanse

Die konstitusionele hof se uitspraak in die onlangse saak oor die Universiteit Stellenbosch (US), wat deur Gelyke Kanse aanhangig gemaak is, was net so skokkend rakende die manier hoe die kulturele kwessie behandel is. Gelyke Kanse het aangevoer ’n stelsel van parallelmedium-onderrig op voorgraadse vlak sou ’n regverdige oplossing bied.

Die US het dit teengestaan en beweer dit sou heeltemal te duur wees. Om hierdie aanspraak te staaf, het US-regslui ’n ongetekende dokument van twee bladsye aan die hof voorgelê waarin die getal modules waarvoor tolke voorsien sou moes word, heeltemal oordryf is. Volgens hierdie dokument is bereken die koste van parallelmedium-onderrig sou ’n stewige verhoging van 20% in studentegeld noodsaak.

’n Voormalige visekanselier van die US het hierdie berekening verwerp. Hy het bereken ’n Afrikaanse stroom sou ’n verhoging van sowat 4% in studentegeld noodsaak. Die uitspraak, geskryf deur regter Edwin Cameron, het die eerste berekening doodluiters aanvaar en het dit uitgebuit om Gelyke Kanse se saak van die hand te wys.

Die groep wat die meeste onder die afnemende aanbod van Afrikaans aan die US ly, is die Afrikaanssprekende bruin gemeenskap.

Jan Heunis, SC, Gelyke Kanse se advokaat en vroeër ’n lid van die US-raad, het dikwels daarop gewys dat die US-administrateurs nooit enige belangstelling in die uitbreiding van parallelmedium-onderrig of selfs in die ondersoek daarvan as ’n opsie getoon het nie. Daar is nooit behoorlik in die raad daaroor gedebatteer nie. Tog werk dit baie goed by hoogs gerespekteerde universiteite in Ottawa en Freiburg.

Die indruk wat hierdie sage skep, is dié van ’n universiteit wat bereid is om Afrikaans as ’n medium van hoëronderwys op te offer om die guns van die regering te wen en sy plek op die rang­lys van die akademiese wêreld te verhoog, waarvan die wetenskaplike waarde deur talle kundiges bevraagteken word.

Die groep wat die meeste onder die afnemende aanbod van Afrikaans aan die US ly, is die Afrikaanssprekende bruin gemeenskap.

Sedert 1970 het die proporsie studente uit hierdie groep wat ’n Baccalaureus-graad behaal het, van 10% tot 6% gedaal. Dit is die laagste syfer van al die gemeenskappe. Tussen 2004 en 2017 het hul voorgraadse getalle by die US op 1 400 uit ’n totaal van 13 455 voorgraadse studente gestagneer, terwyl die getal wit Engelssprekende studente in dieselfde tydperk van 2 384 tot 5 458 gestyg het. (Tussen 2004 en 2017 het die totale getal voorgraadse studente van 13 455 tot 19 840 toegeneem.)

In 2017 was die wit Engelse getalle twee keer dié van swart studente. (Die universiteit beweer dit is om laasgenoemde groep te akkommodeer dat hy in 2017 besluit het om al sy lesings in Engels te gee, en die konstitusionele hof dink duidelik hierdie feit troef alle ander feite.)

Wit Afrikaanssprekers het bruin Afrikaanssprekers drie keer verraai. In die 1950’s het hulle hul stemreg weggeneem. In die laat 1960’s het hulle 3 000 bruin mense onder dwang verskuif van ’n wyk in die hart van Stellenbosch, bekend as Die Vlakte. Nou ontneem die US bruin Afrikaanssprekers die reg om hul universiteitsopleiding in hul moedertaal te ontvang.

In die proses ignoreer die universiteit eenvoudig die agteruitgang op hierdie gebied sedert 1970, toe die Universiteit van Wes-Kaapland, wat vir bruin Afrikaanssprekers gestig is, gedwing is om Engels-medium te word.

Die US het gekies om groot getalle wit Engelssprekers, die rykste gemeenskap in die land, in te neem en sluit sy oë vir die lot van die Afrikaanssprekende bruin gemeenskap. Die eens gerespekteerde konstitusionele hof doen dieselfde.

Tans oorleef Afrikaans as onderrigtaal op universiteitsvlak nog net op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit en in ’n paar kursusse aan die US. Hierdie kursusse gaan beslis vinnig verminder.

Afrikaanse hoërskole sal dieselfde paadjie volg. Talle sal aanvoer dit maak geen sin om mense in Afrikaans op te lei as geen doeltreffende Afrikaansmedium-universiteite bestaan nie.

Solidariteit het meer as 500 000 opbetaalde lede.

’n Verskuiwing weg van die staat

Die Solidariteit-beweging onder die dinamiese leierskap van Flip Buys het die gaping gevul wat deur die ondergang van die NP en ander Afrikaner-organisasies gelaat is. Die vakbondvleuel van hierdie beweging het lede die afgelope 20 jaar teen onregverdige afdankings of geblokkeerde bevorderings beskerm.

AfriForum, ’n burgerlike organisasie, bevorder die belange van Afrikaners in die openbare sfeer; die FAK fokus op die Afrikaanse kultuur; Sakeliga sien om na die belange van sakelui en boere; en Helpende Hand verskaf hulp aan arm mense.

Solidariteit het meer as 500 000 opbetaalde lede.

Op universiteitsvlak het Solidariteit afstandsonderrig met behulp van moderne tegnologie in werking gestel. Vir dié doel is Akademia, ’n Afrikaansmedium- tersiêre instelling gegrond op die Christelike geloof en gemeenskapswaardes, tot stand gebring. Tot dusver is 13 studiesentrums landwyd (en een in Windhoek) gevestig, elkeen toegerus met moderne konferensietegnologie. Elke sentrum bied gratis internettoegang tot ’n aanlyn steunstelsel en biblioteek. Akademia bied tans vier BCom-grade en ’n BA-graad in sosiale wetenskappe (politiek, filosofie en ekonomie).

Buys het pas die boek Die pad na selfbestuur: Anderkant die mislukking van staatsbestuur (Kraal-uitgewers) gepubliseer. Dit stuur ’n dringende boodskap na spesifiek die Afrikaners dat aanslae op Afrikaans en op wit mense oor die algemeen nie sal ophou nie. Hy spoor minderhede aan om te organiseer en hulself te herposisioneer om voorbereid op ’n onseker toekoms te wees.

In die 1930’s is die gevleuelde woorde “ ’n Volk red homself” gebruik om Afrikaners te inspireer om projekte van stapel te stuur om die wydverspreide Afrikaner-armoede te verlig en Afrikaanse ondernemings te vestig. Sewentig jaar later sê Buys: “Leef waar julle julself kan regeer.”

Buys skryf die meerderheid sal altyd in die versoeking wees om ’n goed presterende minderheid te blameer. Hy waarsku dat geen grondwet, politieke stelsel, hof of selfs militêre mag in staat sal wees om ’n magtelose minderheid te beskerm teen ’n meerderheidsgroep wat hulle teiken nie. Die onvermybare gevolg sal wees dat die goed opgeleide deel van die minderheid gou na veiliger weivelde sal emigreer.

Is daar enige alternatief?

Hermann Giliomee

Volgens Buys is die belangrikste hindernis in die Afrikaner se oorlewingstryd nie die klein getalle nie, maar die feit dat hulle in geen streek die meerderheid is nie.

Die enigste oplossing is om hulle doeltreffend te organiseer.

Afrikaner-selfbestuur word noodsaaklik weens die agteruitgang van talle landelike dorpe en binnestede. Weens wanbestuur en korrupsie kan baie mense nie veilig daar leef nie. Met ’n regering wat minderhede hul regte op vele gebiede ontsê, pleit Buys dat gemeenskappe, spesifiek die Afrikaners, hulself organiseer om hul eie belange te beskerm en hul toekoms as ’n gemeenskap te verseker.

Dis ’n wekroep wat niemand durf ignoreer nie.

  • Hierdie is ’n verkorte weergawe van ’n artikel wat by www.politicsweb.co.za verskyn het.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.