Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Dopper kan ook gay wees . . .

Dit pynig hom dat die Gereformeerde Kerk met sy homofobiese standpunte wegkom, skryf Francois Lion-Cachet.

’n Gay Pride-optog in 2013 in Pretoria. Foto: Theana Breugem

Ten minste praat en wroeg die NG Kerk oor die menswaardigheid en aanvaarding van die gemeenskap bekend as LGBTI+, oftewel queer persone (’n sambreelterm vir die meeste seksualiteit- en gendervariasies).

Dis meer as wat gesê kan word oor die Gereformeerde Kerk of Dopperkerk – die kerk waarin ek grootgeword het.

My naamgenoot-oupa was ’n professor in teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en ’n geliefde prediker in dié kerk. Sy oupa, die bekende Jan Lion Cachet, was ’n prominente eerste prediker van die Gereformeerde Kerk en, saam met prof. Jacob Daniël du Toit (Totius) en ds. Dirk Postma, stigterslid van die Gereformeerde Kerk se kweekskool op Burgersdorp. Ná ’n skuif na Potchefstroom sou die PU vir CHO in 2004 die Noordwes-Universiteit (NWU) word, waarvan hy hoogleraar was. Hy word ook onthou as ’n vroeë ’nAfrikaan­se skrywer en digter.

Ek kon seker ook ’n dominee geword het, maar ek kon my nie versoen met die kerk se dogma nie. Ek het my lidmaatskap van die kerk in my tweede jaar van universiteit gekanselleer. Tog bly ek in bloed, as ’n Lion-Cachet en Kruger, ’n Dopper.

Die verwysing na bloed laat my dink aan Wilhelm Verwoerd se boek Bloedbande (2018, Tafelberg), waarin hy skryf oor sy verhouding met sy grootouers Hendrik en Betsie Verwoerd en oor sy “binnereis” om sy verhouding met hulle te versoen in postapartheid Suid-Afrika. Ek moes ’n soortgelyke binnereis begaan en ek doen dit steeds.

Daar is deernis en omgee te vinde in ’n kerk­gemeenskap en dit dra natuurlik waarde. Maar dogma openbaar ’n wrede kant van die werkinge van dié gemeenskap as jy uitkom as gay. Dit het die krag om gesinne en families uitmekaar te skeur en die potensiaal om verhoudings, selfs lewens te verwoes.

Vryheid van geloof is nie vryheid om te haat nie.

Dit alles was besonders pynlik toe ek sowat ’n week gelede op ’n Magister Divinitatis-gegradueerde, aan die NWU se Potchefstroomkampus, se Facebook-relaas afkom. Izak (ek weerhou sy volle naam vir sy onthalwe) skryf oor die onlangse film Moffie deur die regisseur Oliver Hermanus, wat aanleiding gegee het tot gesprekke om mense nie te “shame” nie. Hy draai vinnig na die uitwys van sonde deur te skryf dat dit “lekker” is om “skelmpies” te sondig, maar dat ’n ware Christen móét bely en nie met die sonde moet voortgaan nie.

Hy skryf: “Om vrede te vind daarin dat ander mense jou skel en sê jy is ’n ‘moffie’, is om vrede te vind daarin dat jy in sonde bly!” Ek ken geen persoon wat daarin vrede vind om deur ’n smet beklad te word nie. Nóg minder is dit waaroor die film Moffiegaan, juis die teenoorgestelde.

Ek is nie “in sonde gebore nie”, thank you very much. Ek wonder ook wat jou kwalifiseer om te sê my lewe is “onsedelik”?

“Ons ontvang Christus se genade en is vry van die wet!” Nee, gelykheid op grond van seksualiteit is in die Grondwet verskans en jy maak met jou uitinge inbraak op my en soveel ander se menswaardigheid. Net omdat jou uitspraak in die naam van (jou) God aangebied word, laat dit nie buite die reg val nie.

Izak gaan voort: “Ons mag nie wíl voortleef in ons sonde nie, ongeag of dit nou homoseksualiteit, verslawing, selfsugtigheid, afgodsdiens, haat, ens. ens. ens. is nie!” Ek wil nie eens weet waarna die “ensovoorts” verwys nie. “Ou deuntjie, nuwe versie,” merk een van my vriende op.

Selfs nog meer onrusbarend is die 61 likes, agt lowende kommentare en vyf shares van hierdie “wyse woorde van Salomo”.

Dis nie net Izak se siening nie.

Op “My Dopperdagboek”, ’n gewilde Facebook-groep vir dié kerkgemeenskap, is die name van onlangse teologiestudente se graadvang gepubliseer. Hieronder ook Izak se naam. Dit is ook dan hierdie groep se admin wat my verwys na die Gereformeerde Kerk se standpunt oor “homoseksualisme” – ’n bladsy wat ek al lank van weet en wat ek mee moes wroeg ten tyde van my aanvaarding van my seksualiteit.

Die kerk se standpunt lui soos volg: “Volgens die Skrif is homoseksuele gedrag teen die skeppingsorde (contra naturam). Daarom moet enige vorm van homoseksuele gedrag en dus ook die “homoseksuele huwelik” deur die Christelike etiek afgewys word. Persone met die homoseksuele oriëntering het die verantwoordelikheid om hulle te weerhou van homoseksuele gedrag net soos alle ander mense ten opsigte van hul gebroke menslike natuur selfbeheersing moet beoefen.”

Dit is interessant dat die kerk wel die onveranderbare aard van homoseksualiteit erken, maar beweer dat so ’n “oriëntasie geleë is in ’n bepaalde verlies in die ontwikkelingsfases gedurende die kinderjare.” So asof homoseksualiteit nie natuurlik voorkom nie. En asof die kerk en sy lede nie probeer om gays te “genees” nie.

In teenstrydigheid word daar bygevoeg “(h)omofobiese gedrag en ook ander diskriminasie teen persone met ’n homoseksuele oriëntasie, is egter strydig met die liefdesgebod en dus oneties. Die kerk en die owerheid moet alle vorme van homofobiese gedrag afwys.”

Pharos beskryf homofobie as die “vrees vir of afkeer van homoseksuele en homoseksualiteit.” Mag die kerk en sy lede dan gays afkeer of nie? Want daar ís diskriminasie. Is die standpunt dan onvoorwaardelike liefde of paternalistiese verwerping gegrond op vrees?

As die spreekwoordelike “verlore seun” weet ek presies wat ek van die kerk se standpunt dink.

Alle menseregte is aan mekaar verbind, wat in die akademie bekend is as “intersectionality”. Niemand is werklik vry totdat homofobie, rassisme, seksisme en ander vorme van diskriminasie uitgeroei is nie. Mens baklei nie net vir jou eie regte nie, maar ook vir ander s’n.

In die Black Lives Matter-beweging, maar ook al lank voor dit, word dit algemeen aanvaar dat rassisme nie ’n “opinie” is nie. Dit, en die waardigheid van alle mense, is nie oop vir bespreking of redenasie nie – veral nie ná honderde jare se drakoniese onderdrukking van swart mense, gays en vroue nie. Daar is nie meer ’n plek vir haat teenoor ander in die Suid-Afrikaanse samelewing nie. As dít sekere wit Afrikanermans ongemaklik laat voel, is dit nodig.

Dit help dat gays sigbaar is en hul stem laat hoor. In my eie hoedanigheid het ek al ervaar dat sekere Doppers se enigste verwysing na hoe ’n gay persoon lyk en optree, Nataniël is. Ons almal kan nie só stylvol wees nie.

Ons as gays en lesbiërs en almal oor die reënboogsprektrum heen, is nie randfigure nie: ons is jul seuns, dogters en genderqueer kinders en kleinkinders. Ons is jul ouers en grootouers.

Ek het ’n appeltjie te skil met die NWU se teologiese fakulteit.

Ek het my voorgraadse sowel as nagraadse studie aan die NWU voltooi. Ek het ook vir die NWU gewerk. Die NWU lê my baie na aan die hart en ek voel lojaal teenoor die universiteit in dié se huidige vorm – divers en progressief met heelwat transformasiewerk agter die rug. Die baba word nie met die badwater uitgegooi nie.

Maar dan is daar die Fakulteit Teologie waar tokkelokke opgelei word om te diskrimineer. Is daar dan nie sensitiwiteitsopleiding nie? Wat van die geskiedenis van mishandeling wat oorgegaan het tot marteling, skokterapie, mediese kastrasie en die moord van queer soldate deur die apartheidsregering? Dís waaroor Moffie gaan.

Leer teologiese studente van die eerste Johannesburg Pride in 1990 waar Hendrik Pretorius sy amp as NG dominee opgesê het en die Reformerende Gemeentes van Gelykes in Christus gestig het? Leer hulle van Simon Nkoli se toespraak, langsaan Beverley Ditsie en Edwin Cameron s’n? Van wat Beyers Naudé voor opgekom en baklei het?

Dit is sekerlik belangrik dat studente wat in die naam van die Here wil gaan preek, en leiersampte in die gemeenskap wil vol staan, hulself vertroud moet maak met die geskiedenis van onderdrukking in Suid-Afrika – wat deur die drie susterkerke ondersteun is? Dis nie genoeg om net die Bybel te lees nie.

Teologiese studente moet blootgestel word aan die skadelike gevolge wat dogmatiese wêreldbeskouings tot gevolg gehad het en steeds het. As die student(e) dan steeds kies om die onderdrukking van sekere groepe voort te sit, dan rus die gevolge op hul gewete en sal hulle daarvoor aanspreeklik moet wees. Homofobie, soos ander vorms van haat en diskriminasie, het van die gruwelikste dade tot gevolg.

Kan ’n staatsuniversiteit bande met ’n teologiese kweekskool behou wat skadelike dogma onderrig en meestersgraadstudente produseer wat dit propageer? Pas dit enigsins binne ons grondwetlike demokrasie?

Vryheid van geloof is nie vryheid om te haat nie.

Dis tyd vir die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika om daadwerklik en ten volle aan te sluit (soos hul naam voorgee) by hierdie wonderlike land van ons.

  * Francois Lion-Cachet werk vir die Constitutional Court Trust in Johannesburg. Hy is ook die redakteur van Klyntji.com.

Meer oor:  Francois Lion-Cachet  |  Diskriminasie  |  Kerk  |  Homofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.