Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Gesag selfs hoër as die ANC?

Pres. Cyril Ramaphosa se getuienis voor die Zondo-kommissie skets ’n donker prentjie van die ANC se siening van die parlement, skryf Christi van der Westhuizen.

Pres. Cyril Ramaphosa by die Zondo-kommissie. Foto: Gallo Images

In pres. Cyril Ramaphosa se verskyning voor regter Raymond Zondo se staatskapingskommissie verlede week, het hy my ontleding dat die ANC direkte beheer oor parlementslede probeer uitoefen as “vergesog” en ’n blote “veronderstelling” afgemaak.

Dit wat hy daarna gesê het bevestig baie van wat verkeerd is met ANC-denke.

Paradoksaal genoeg wys dit ook waarom ’n mens hoopvol is oor die feit dat hy die hoof van die party is.

In verlede week se verhoor – waartydens Ramaphosa in sy hoedanigheid as ANC-president getuig het – het die getuienisleier, adv. Alec Freund, aangehaal uit my boek Working Democracy: Perspectives on South Africa’s Parliament at 20 Years, wat in 2014 reeds verskyn het. Freund het Ramaphosa gevra om kommentaar te lewer op my stelling dat die ANC in die vroeë 2000’s ’n politieke komitee saamgestel het om die party se parlementslede meer direk te beheer.

Hierdie stelling was deel van my ontleding van die stappe wat die ANC gedoen het om dié ondersoek in die wiele te ry wat in daardie stadium deur die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) na die berugte wapentransaksie van R60 miljard gedoen is. In 2001 was daar toenemend aanduidings van misdrywe wat gepleeg is in die toekenning van wapenkontrakte vir die weermag.

Ramaphosa het onbedoeld bevestig hoe al dié dinge gebeur het.

Skoor is uniek onder die parlementêre komitees omdat daar van die veronderstelling uitgegaan word dat dit ’n nie-partydige komitee is wat op onbevange wyse toesig hou oor openbare finansies. Komiteelede, vir wie die begrip van demokrasie destyds nog relatief nuut was, het oor partygrense heen bymekaargekom om die wapentransaksie te ondersoek.

Hulle was van plan om deur die rookskerms te kyk en agter die skanse te kom wat die regerende party, staatsamptenare en internasionale wapenvervaardigers opgerig het om hul doen en late te verberg. Min het hulle geweet dat dit sou lei tot die ANC se eerste grootskaalse aanval op die land se demokratiese instellings in sy strewe na hegemonie.

Aangesien Skoor geen ondersoekvermoë van sy eie gehad het nie, het hy die openbare beskermer, die ouditeur-generaal, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) opdrag gegee om die transaksies te ondersoek. Die magte van hierdie entiteite is sodanig dat hulle die korrupsie aan die kern van die ooreenkoms sou kon blootlê as hulle hul werk sonder inmenging doen.

Maar die ANC sou nie toelaat dat dit gebeur nie.

Volgens die destydse ANC-LP Andrew Feinstein het ’n vlaag van ingrypings gevolg, gelei deur die destydse speaker, Frene Ginwala, wat op haar beurt namens die destydse president, Thabo Mbeki, opgetree het. Die ANC was veral onthuts oor die betrokkenheid van regter Willem Heath se SOE.

Heath was nie ’n kameraad nie en kon dus nie beheer word nie. Die partymasjinerie is daarom aan die gang gesit om die situasie “reg te stel”. Ná baie slenters is Heath se SOE nie net uit die ondersoekspan gestoot nie (in weerwil van die Skoor-besluit), maar uiteindelik is Heath se eenheid deel gemaak van die NVG en die regter in die pad gesteek.

Die parlement was die volgende instelling in die ANC se visier. Die ANC-banke in die komitee is gesuiwer van die “moeilikheidmakers”. Saam met ander veranderings is Feinstein verwyder as die leidende ANC-lid van Skoor.

Daarna was die komiteevoorsitter, die IVP-parlementslid Gavin Woods, in die spervuur. Die uiteinde van die aanslag was dat die IVP die Skoor-voorsitterskap ontneem is.

Feinstein is vervang deur Vincent Smith wat, saam met nog ’n nuut aangewese ANC-lid in die komitee, Thabang Makwetla, elke poging deur opposisie-LP’s om die ondersoek voort te sit aggressief in die kiem gesmoor het. Sowel Smith as Makwetla is sedertdien by die Bosasa-skandaal betrek.

Die doelwit was om toe te sien dat Skoor gemarginaliseer word en te verseker dat geen ander komitee die oorspronklike taak kan voltooi nie. Om dit te bereik is die ondersoekspan se verslag eers deur die kabinet aanvaar en daarna na ’n verskeidenheid van komitees verwys.

Die gedwonge, stuksgewyse oorweging van die verslae het beteken dat die parlement se vermoë erg verwater is. Parlementslede in die onderskeie komitees het nie die finansiële kundigheid gehad om die kompleksiteit van die wapentransaksie te ontrafel nie. Nóg die strydighede in die sterk geredigeerde verslag nóg die uitsluiting van misdadige aktiwiteite in die verslag is onder behoorlike kruisondervraging geneem.

Soos ons nou weet, het dit alles uiteindelik op niks uitgeloop nie.

Die ANC het homself beskerm ten koste van instellings wat noodsaaklik is vir die funksionering van ’n demokrasie. Die manier waarop die ANC die parlement misbruik het om die wapenskandaal onder die mat te vee, het aanduidend geword van hoe die party toekomstige krisisse sou bestuur.

In sy antwoord voor regter Zondo verlede week het Ramaphosa onbedoeld bevestig hoe al die bogenoemde gebeur het.

Ná sy aanvanklike afwysing van my ontleding as “vergesog” het hy tog eufemisties toegegee dat parlementslede nie hul rol sonder “leiding” kan uitvoer nie.

Hy het verduidelik dat die ANC die parlement as ’n “baie belangrike forum” en as “ ’n nodus van stryd” beskou. Om hierdie twee idees oor die parlement afsonderlik en saam te lees, is onthullend.

In ons grondwetlike raamwerk is die parlement meer as ’n “baie belangrike forum”. Dit is die forum waar die wil van alle Suid-Afrikaners (nie net ANC-ondersteuners nie) verteenwoordig word.

Dit is nog meer so in ons stelsel van proporsionele verteenwoordiging, wat nie bloot net meerderheidsregering bevoordeel nie. Soos ons weet, is proporsionele verteenwoordiging ook onvolmaak, omdat dit anti-demokratiese beheer deur partybase moontlik maak – waarvan die onderhawige bespreking ’n goeie voorbeeld is.

Die feit dat die ANC die parlement as “ ’n plek van stryd” beskou, lei noodwendig tot pogings om ook hierdie “belangrike forum” te oorheers – eerder as om toe te laat dat dit optimaal funksioneer as ’n ruimte vir demokratiese uitdrukking.

Die gevolg is dat die funksie van die parlement as ’n demokratiese instelling vervang word deur ANC-denke, wat dit graag as ’n instrument sien wat die party dien. Die enigste onaantasbare instelling is die party self.

Die resultaat van hierdie posisie is ooglopend: Die aftakeling van Skoor en die parlement en daarna ook die Skerpioene, die NVG, die polisie, die Staatsveiligheidsagentskap, staatsondernemings en entiteite en departemente op al drie regeringsvlakke.

Maar hier ontstaan ook die paradoks.

Vir Ramaphosa om hom as ANC-president beskikbaar te stel om voor die staatskapingskommissie te getuig, spreek eerder van die teenoorgestelde van bogenoemde.

Hy het nie uitgestap of geweier om vrae te beantwoord soos sy voorganger gedoen het in ’n demonstrasie van ANC-hubris nie.

Ramaphosa het, deur as die hoof van sy party te gaan getuig, die kommissie en die oppergesag van die gereg aanvaar. Hy het daarmee dus erken dat daar ’n hoër gesag as die party is: ’n Regsproses wat deur die instellings van hierdie grondwetlike demokrasie bewerkstellig is.

Hy het inderdaad erken dat die party teenoor ons verantwoording moet doen en dat die Grondwet die hoogste wet in die land is.

* Prof. Christi van der Westhuizen is ’n skrywer en medeprofessor aan die Sentrum vir die Bevordering van Nie-Rassigheid en Demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Christi Van Der Westhuizen  |  Korrupsie  |  Anc  |  Zondo-Kommissie  |  Skoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.