Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Kaping in die staat se boesem

Skokgetuienis oor die verval van die SA Inkomstediens onder Tom Moyane word voor die Nugent-kommissie van ondersoek gelewer. Pauli van Wyk woon dit by.

Tom Moyane

Jan Taks se doeltreffendheid is diep geknou in die vier jaar sedert Tom Moyane se aanstelling as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

’n Ontleding van die belastingsyfers oor die afgelope sewe jaar wys onder meer die SAID het minder aksynsbelasting by tabakvervaardigers ingevorder, terwyl ongebreidelde smokkelary en die onderverklaring van vervaardigde tabakprodukte in dié sektor toegeneem het.

Dit blyk ook sake-eienaars het nie verniet gekla nie: Die SAID was doelbewus agtelosig met die terugbetaling van BTW aan almal behalwe die Guptas, in ’n klaarblyklike poging om die inkomstesyfer kunsmatig te verhoog.

Dié getuienis is gelewer deur Cecil Morden, die land se voorste belastingontleder, by die geregtelike kommissie van ondersoek na die SAID, wat tans in Pretoria sit.

Pres. Cyril Ramaphosa het die kommissie, gelei deur die afgetrede regter Robert Nugent, ingestel om administratiewe probleme en beleidsake in die SAID te bekyk.

Die vonke het dadelik gespat.

Moyane en sy regterhand, Jonas Makwakwa, is onder meer verlede week voor Nugent beskuldig van onwettige inmenging by die belastingsake van politici en groot ondernemings.

Die kommissie is ook ingelig oor die uittog van kundige amptenare die afgelope vier jaar, wat die SAID se vermoë om sy inkomsteteikens te haal ’n nekslag toegedien het.

Enigeen wat die nuwe orde bevraagteken het, is geïsoleer.

Dit alles het op Moyane se wagbeurt gebeur nadat oudpres. Jacob Zuma hom op twyfelagtige wyse in September 2014 as SAID-kommissaris aangestel het.

Die kommissie se doelwit is nou om vas te stel wat presies fout gegaan het en met ’n ingrypende regrukplan vorendag te kom vir ’n inkomstediens wat nou al twee jaar sy belastingdoelwit mis.

Dít laat die fiskus met ’n reuse-inkomstekrisis en beteken dat die regering noodgewonge miljarde rande moet leen net om die boeke te laat klop.

’n Finale verslag word in November verwag waarna Ramaphosa die kommissie se aanbevelings na goeddunke kan implementeer.

Die probleem is egter dat Ramaphosa net ingrypende veranderinge by die SAID sal kan implementeer as hy self genoeg politieke kapitaal in die ANC het.

Die toetrede van die EFF tot die stryd en hul vermoë om die openbare debat te stuur, kan dinge vir Ramaphosa erg bemoeilik.

                                                                                                 ***

Net so aangrypend soos die grafieke wat aan die Nugent-kommissie gewys is en wat wys hoe groot die krisis in die SAID is, was die getuienis van 11 huidige en voormalige SAID-amptenare.

’n Prentjie van Moyane wat met ’n ystervuis regeer het en Makwakwa wat sy neus in die vertroulike sake van belastingbetalers gesteek het, is geskets deur amptenare soos Sunita Manik (voormalige hoof van die grootsake-eenheid), Ivan Pillay (voormalige adjunk-kommissaris) en Makungu Mthebule (huidige groephoof van korporatiewe regsake).

Kameras is in bome en fotostaatmasjiene geplant om amptenare te beloer. SAID-amptenare het die kameras in hul skootrekenaars toegeplak omdat hulle nie hul base wat hulle dophou vertrou het nie.

Getuienis soos dié het die monde laat oophang.

Verskeie getuies het gesê as hulle sterk gesprek wou voer om die beste oplossing vir ’n probleem te vind – voorheen die norm – is dit as teëpratery gesien.

Dwarstrekkers was gou hul werk kwyt en enigeen wat die nuwe orde bevraagteken het, is geïsoleer.

Dit was opvallend hoe elke getuie voor die kommissie ’n “kultuur van vrees” in die SAID sien posvat het.

Ter stawing het Bernard Mofokeng, ’n voormalige senior bestuurder in die SAID se kantoor vir geskilbeslegting, getuig hoe Makwakwa as ’n middelvlakbestuurder onder Moyane deur die range gespring en geweldige mag bekom het.

Dit het alles begin toe Moyane die SAID se bestaande gesagstrukture afgebreek het om ten duurste ’n nuwe bedryfstelsel te implementeer. Hy het Makwakwa beheer oor die implementering gegee.

Mofokeng sê die dag in Januarie 2015 toe Kelly-Ann Elskie by sy kantoor instap, was die dag toe sy moeilikheid begin het.

Hy het dit toe nie geweet nie, maar Elskie was in ’n geheime buite-egtelike verhouding met Makwakwa gewikkel. Mofokeng het op aandrang van Makwakwa ingestem dat Elskie as ’n junior regsassistent in sy afdeling werk.

“Binne ’n maand was daar moeilikheid,” het Mofokeng getuig. Elskie was glo gereeld betrokke in gevegte met haar kollegas en sou hulle dan dreig met haar “man” se hoë pos. Diane Lawler, Elskie se bestuurder, het haar nie laat afdreig nie en vinnig agter die kap van die byl gekom: Sy het Elskie daarvan beskuldig dat sy gejok het oor haar kwalifikasies en in ’n buite-egtelike verhouding met ’n senior SAID-bestuurder betrokke was.

Elskie het die beskuldigings erken – en ’n amptelike grief teen Lawler ingestel.

Makwakwa was volgens Mofokeng “baie ongelukkig met hoe ons Elskie behandel het”. Die uiteinde was dat Lawler Elskie om verskoning moes vra vir die beskuldigings wat sy gemaak het.

Sowel Mofokeng as Lawler se bestuursposte is kort daarna as deel van Moyane se herstrukturering geskrap.

Mofokeng sê dit was Makwakwa se wraak.

Nog amptenare het getuig hoe Makwakwa geen dwarsboming geduld het nie. Makungu Mthebule, groephoof van korporatiewe regsake, is kort ná die skorsing van Pillay teen die einde van 2014 aangestel om in sy pos waar te neem. (Pillay is beskuldig dat hy ’n eenheid bedryf het wat op politici gespioeneer het. Die bewerings is later teruggetrek.)

Die SAID se BBP-eenheid, wat omsien na die belastingsake van die president, kabinetslede en regters, was Mthebule se verantwoordelikheid. Sy het ook in die SAID se hoogste gesagstruktuur, die uitvoerende komitee, gedien en die geleentheid aangegryp om haar kundigheid te bewys.

Mthebule het getuig sy het haar mening gereeld gelug. Sy het Moyane in ’n vergadering op die “kultuur van vrees” in die SAID gewys, met spesifieke verwysing na Makwakwa. “Die kommissaris het uit die vergadering gestorm en vir ’n goeie 25 tot 30 minute weggebly. Hy was woedend,” het Mthebule getuig.

Makwakwa het ook die gewoonte gehad om haar te bel of te SMS met navrae oor ’n sensitiewe of hooggeplaaste belastingbetaler – iets wat Mthebule as verdag en ongehoord gesien het.

Mthebule sê sy het Makwakwa se navrae herhaaldelik afgeweer, waarna hy haar ondergeskiktes begin “teister” het vir inligting.

“ ’n Mens moet jou mag op ’n positiewe manier uitoefen, en nie op ’n manier wat vrees in mense aanwakker nie. Jy kan nie mense dwing om iets te doen omdat hulle voel hulle sal andersins gestraf word nie,” het Mthebule met verwysing na Makwakwa getuig.

Makwakwa sê hy sal alle “leuens” oor sy gedrag – bewerings wat gemaak is deur getuies wat almal onder eed getuig het – by toekomstige kommissiesittings weerspreek.

Nugent wou ook by getuies weet: Waarom sou Moyane en Makwakwa ’n nuwe bedryfstelsel by die SAID wou instel wanneer die inkomstediens se stelsels reeds klopdisselboom geloop het?

Manik het ’n verduideliking gehad: “As ek toegang wou hê tot beduidende bedrae geld vir ’n politieke of individuele doel, sou ek by die grootsake-eenheid begin het . . . Een skikking kan meer as ’n miljard rand wees.

“As ek dit skik en ek kry 10% vir my moeite, is dit baie geld.”

Manik het daarop gesinspeel dat haar voormalige eenheid ’n spaarvarkie is waaruit groot somme geld weggesyfer kan word.

Verskeie ander getuies het gesê hulle vind dit vreemd dat Moyane en Makwakwa “iets wou regmaak wat nie gebreek was nie”.

                                                                                         ***

Moyane was besonder ongelukkig oor die getuienis wat gelewer is en het verlede Vrydag met ’n lys eise by die verhoor opgedaag.

Sy regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, het die kommissie as ’n “boendoehof” beskryf en geëis dat alle getuienis geskrap en die kommissie se mandaat opgeskort word.

Nugent het Mpofu daarop gewys dat sy argumente geen regsgeldigheid het nie, en al Moyane se eise verwerp.

Die grondwetkenner prof. Pierre de Vos het in ’n meningstuk uitgewys dat Mpofu se regsargumente dun en emosioneel gelaai is. Waarom sou ’n senior advokaat, wat waarskynlik die foute in sy eie argument herken, nogtans deurdruk, het De Vos gevra. Sy afleiding: Dis tipies die strategie van die party waarvan Mpofu ook voorsitter is – die EFF – om die openbare gesprek te probeer swaai.

“Sou die publiek, asook sommige goedgelowige politici, daarvan oortuig wees dat die kommissie onregverdig is, sal die president dit moeiliker vind om die aanbevelings te implementeer.”

Dit was opmerklik dat Julius Malema, die EFF-leier, in ’n woedende tirade Donderdagmiddag ook gekies het om die Nugent-kommissie aan te val en verdag te maak.

Dit bring ons terug by Ramaphosa se probleem: Die president benodig politieke kapitaal om broodnodige veranderinge by die SAID te implementeer.

Die EFF blyk nie geneë hiermee te wees nie.

Waarom presies, sal net die tyd met beslistheid leer.

Meer oor:  Tom Moyane  |  Dali Mpofu  |  Said  |  Nugent-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.