Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Koerantmens moet nuuskierig wees . . .

Ton Vosloo is een van die mees gerekende koerant- en sakemanne in Suid-Afrika. In sy memoir, Oor Grense, vertel hy met sy eiesoortige humorsin en styl as gesoute joernalis die storie van Naspers en van sy ervarings in ’n loopbaan wat oor meer as ses dekades strek. In dié verkorte uittreksel beskryf hy hoe hy destyds in Port Elizabeth in die koerantwese beland het en sy voete gevind het as verslaggewer vir Die Oosterlig

Ton Vosloo (regs) by Koos Bekker (links) en Jamie Uys by M-Net se bekendstelling in 1985. Foto: Verskaf

“Ek het in Januarie 1955 so ’n kantoortjie buite ’n pakkamer by die Departement Bosbou [in Pretoria] gekry en moes aan ’n afdelingshoof rapporteer. Hy het my nie veel wys gemaak nie.

Ek kry daagliks pakke bruin leggers oor allerlei onderwerpe wat die vroue van die posdiens, genaamd Registrasie, aangedra het. Jy gaan dit deur, rig dit aan die here in die verskeie afdelings, en kyk hier en daar of jy ’n antwoord vir jou afdelingshoof kan prakseer. Waar jy nie raad het nie, vat jy net ’n pienk plakker waarop Pending staan en jy skryf ’n datum ’n maand vorentoe op en die legger gaan terug na Registrasie om ’n maand later weer uit te dop. Lekker ou laat-maar-loop-wêreld.

Ton, die ernstige jong joernalis, afgeneem deur ’n straatfotograaf in Kaapstad se middestad circa 1960. Foto: Verskaf

Leer myself tik

Ek was hoogs verveeld, en krap in die pakkamer ’n ou groot Remingtontikmasjien uit en begin om myself te leer tik. Tweevinger-koerantstyl. Ek let op die manne in die algemene kantoor kry soggens Die Transvaler en dan maak al agt ’n toiletbeurt met die koerant. Praat van jou leserstal opskuif!

Teetyd staan ons rond, ouens chaff die meisies, die manne praat politiek en Blou Bul-rugby, met hier en daar ’n verplaaste Bolander in diens van Bosbou wat vir die WP opkom.

Ek maak vriende met Charles Brookes van die Pretoria News, ontmoet ook ander redaksielede, en klop by die redakteur aan vir ’n leerlingpos. Sy raad is: Maak eers jou graad klaar. Ditto by Die Transvaler se Pretoriakantoor, waar ek kennis maak met een van die beste en mees beskaafde koerantmense ooit, Gus Cluver. Ek het jare later leedvermakerig gedink dat indien Die Transvaler my destyds gevat het, dinge heel anders vir my en Perskor kon verloop het.

Ton as lid van die o.?13-aflosspan van die Laerskool Jordan op Uitenhage, 1949 se laerskoolkampioen van die Oostelike Provinsie. V.l.n.r.: Johannes Mulder, Robert Crouse, afrigter-onderwyser Johnny van der Merwe, Ton en Johannes Potgieter. Foto: Verskaf

Ek het gedros . . .

In April 1956 kry ek vakansie en reis huis toe na Uitenhage. ’n Huisvriend, prokureur Gideon Pieterse, kom kuier. Hy is korrespondent vir Die Oosterlig en wil met vakansie gaan en vra my om in sy plek te locum. Ek is gretig, want ek sit my tone en tel by die huis. Gou loop ek ’n paar berigte raak en een haal die voorblad: ’n mooi vrou word vermis en almal is gaande.

Ek skryf die berig en kry ’n foto by die familie. ’n Dag ná die koerant verskyn het, gryp ’n vent my: Wat’s die probleem, dis sy vrou, en sy’s nie weg nie, sy was net kwaad vir hom en het net ’n paar dae elders heen gegaan.

Ton Vosloo se boek, Oor Grense.

Tog, teen die einde van daardie waarneemtyd bel die redakteur, Dirk de Villiers, my en sê ek moet kom dagsê. Ons voer ’n lekker gesprek en hy bied my ’n pos aan as verslaggewer in Port Elizabeth vanaf 1 Mei 1956. Ek stuur my bedanking per telegram na Bosbou in Pretoria. Hulle het nie gehou van my optrede nie. Jy moet darem ’n persoon bedank en jou maand kennis werk. Ek het gedros. [...]

En daar is ek toe terug op Uitenhage, ’n koerantman, 19 jaar oud, onervare, maar vol geesdrif.

Dirk de Villiers het my ingelyf in die mistiek van Nasionale Pers. Sy eerste boodskap was blywend: ’n koerantmens moet nuuskierig wees, geesdrif hê, en oor stamina beskik. Dit was baie goeie en waardevolle advies.

Ek het aanvanklik op Uitenhage gebly, halfvyf soggens opgestaan, so drie kilometer stasie toe gestap, die vyf-minute-ná-ses-trein gekry na Noordeinde-stasie en net voor seweuur by Die Oosterlig ingeval. Dan werk jy aan sport- (my voorkeur), hof- en misdaadstories, en later in die dag vergaderings, soos van die stadsraad se komitees, of die destydse afdelingsraad, of kerkvergaderings, soms tot laataand. Soms kry ek die laaste trein om vyf oor elf, en kom eenuur die oggend in die bed. Halfvyf roer jy weer! Praat van stamina.

Ton ontvang ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch se destydse kanselier, Elize Botha.
Ton Vosloo oorhandig ’n geskenk aan Nelson Mandela op ’n onthaal in die Naspers-sentrum in Roggebaai, Kaapstad.

Werk hard, speel hard

Later het ek ’n bromponie gekry om die stap na die stasie uit te skakel. Ná ’n derde bromponie en twee ongelukke, verhuis ek na die Baai. Daar het ek teen die bult nie ver van die redaksiekantoor nie geloseer en begin maats maak met ander jong, loslopende kollegas. Ek het die magiese samesyn en broederskap van koerantmense leer ken en dit terdeë geniet. Jy werk hard, maar speel ook hard.

Ek dink Dirk de Villiers het my aangestel omdat iets in my hom dalk aan sy eie loopbaan herinner het. Hy was predikantseun van die Paarl, het ook nie universiteit toe gegaan nie, maar wel ’n pos by Die Burger gekry. Hy het ’n knap, veelsydige joernalis geword, in die beste tradisie van Die Burger, en gevorder tot nuusredakteur. Die redakteurspos by Die Oosterlig was sy eerste en hy het die koerant stelselmatig uitgebou en vernuwe.

Dirk het later redakteur van Die Huisgenoot en hoofbestuurder van Nasionale Tydskrifte geword voordat hy in 1965 Johannesburg toe verplaas is as hoofbestuurder van die te stigte Sondagblad, Die Beeld, saam met Schalk Pienaar as redakteur. Dirk en my paaie sou toe weer ineenloop. [...]

Ek doen berigte in die Baai, open ’n kantoor op Uitenhage en loop die kollegas van die EP Herald, Clive Cowley, en die Evening Post, John D’Oliveira, raak. Ons word goeie maar mededingende kollegas en soms ruil ons nie-botsende berigte uit. Hierdie soort kollegialiteit het ek later in my loopbaan met die meeste koerantlui gehandhaaf. Dis seker hoe ’n deel van my mondering gevorm is vir die tye wat sou kom.

Cowley was later hoof van sy groep se diens in die ou Suidwes-Afrika, wat toe ’n brandpunt in die internasionale politiek geword het. D’Oliveira vorder tot in die parlement vir die ou Argus-groep, word ’n vriend en vertroueling van eerste minister John Vorster en skryf ’n biografie oor hom. Hierdie wakker en uitstekende koerantmens sterf egter op ’n vroeë ouderdom aan ’n hartaanval.

Van my jonger kollegas by Die Oosterlig is Franz Kemp, later befaamde storiejagter van Huisgenoot; Schalk Burger en Ben Louw, albei later by Landbouweekblad; Cornelius (Boet) Uys, breedsprakig en later segsman vir Eskom. Arthur Blake, rooikop van Stellenbosch, het ’n opslaankap-Messerschmidt, ’n driewiel-vliegtuigagtige bromponie waaraan almal hulle vergaap. As hy platsak is, samel Arthur leë drankbottels in vir geld en proviand. Hy word later ’n gesaghebbende kenner van militêre geskiedenis.

Die jong, Hollands-gebore Jacques van der Elst gaan Potchefstroom toe en eindig as professor in Afrikaans-Nederlands en later as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die Oosterlig se rugbyspan in Port Elizabeth. Ton, flank, staan regs agter. Foto: Verskaf

Rugby vir die huisspan

Vir ontspanning speel ek rugby vir Die Oosterlig se huisspan. My sportredakteur, Alex Kellerman, speel ook. Alex is later as senior koerantman deur dr. Danie Craven oorreed om sekretaris van die destydse Suid- Afrikaanse Rugbyraad te word.

In ons koerantspan is ook ’n jong setter van die fabriek, Derek Minnie. Hy het later vir Transvaal senter gespeel, grootbaas geword van die groot papiergroep Mondi en ’n hoofbestuurslid van Transvaal Rugby. Sy seun, Derick Minnie, is nou ’n woelwaterflank van die Rooibontes – of Goue Leeus, soos hulle nou bekend staan.

Op 24 September 1980 steek die verkope van Beeld dié van sy groot mededinger, Die Transvaler, verby. Om die geleentheid te vier, neem Ton Vosloo ’n sluk uit ’n bottel sjerrie wat spesiaal vir so ’n dag gehou is.

In die joernalistiek het ek al hoe meer in die landspolitiek begin belang stel. By Die Oosterlig het ek my eerste voorsmakie gekry toe ek die destydse minister van binnelandse sake, dr. Eben Dönges, vergesel het op ’n besoek aan Jansenville in die kiesafdeling Somerset-Oos van die Volksraadslid Andries Vosloo, geen familie nie. Redakteur Dirk de Villiers het gereël dat ek saam in LV Vosloo se Dodge ry. Só het Pers en Party destyds saamgewerk.

Voor die vergadering in Jansenville het die innemende en gekultiveerde Dönges, later aangewese staatspresident, die klein dorpshospitaaltjie besoek en hand geskud met die twee of drie pasiënte. Ek het ’n foto geneem, en so is ’n welwillende beeld in die koerant uitgedra. Of sinies gesê: propaganda vir die Nasionale Party. Heelwat later is die term embedded journalism geskep vir die joernalistiek van koerante wat as spreekbuise vir politieke partye optree. Maar ons het in die 50’s en 60’s nie gedink of besef ons was “ingebed” nie.

By my op Jansenville het ek ’n gerf perstelegramvorms gehad waarop ek my berig met my draagbare tikmasjien moes tik en dan die aand ná die vergadering na die poskantoor moes neem vir deursending na die hoofposkantoor in Port Elizabeth. Vandaar is dit per teledrukker na Die Oosterlig se redaksie. Ek moes vooraf met die posmeester reël dat hy halftien inkom om sy taak af te handel. Hy het my berig met sy vinger op die outydse Morsekode-masjientjie uitgetik. [...]

My beat by Die Oosterlig is polisiesake en ek ry saans saam met die blitspatrollie om by vars nuus te kom. Ek sluit ook by die Polisie-rugbyklub aan om nóg nader aan die nuus te wees. Die sekretaris van die klub was ook die hof-ordonnans in die Baai se hooflanddroshof. Hy het my soggens heel eerste laat kyk na die “boek” van sake wat voorkom om sodoende ’n voorsprong op mededingers van die Herald en Post te kry. My veld brei uit: sport, nuus, misdaad, algemene sake, later politiek.

7 Mei 1958: Só het Die Oosterlig destyds oor Margaret Rheeder se teregstelling berig.

Rheeder-saak

Margaret Rheeder, ’n 33-jarige, word daarvan aangekla dat sy haar man, Benjamin Rheeder, vergiftig het met arseen om hom uit die pad te kry sodat sy haar liefdesverhouding met ’n jong stoker kan voortsit. Dis ’n opspraakwekkende moordsaak en kollega Lorna van der Merwe en ek word aangesê om die saak te dek.

Die saak trek landwyd aandag en Rheeder word ter dood veroordeel met geen versagtende omstandighede nie. Sy is gehang in die Sentrale Gevangenis in Pretoria.

Lorna en ek word gevra om die saak op te volg met ’n artikelreeks oor Margaret se herkoms in Suid-Kaapland en om die volle verhaal uit te krap. Dit doen ons so suksesvol dat Die Oosterlig se verkope van ’n gemiddeld van so 8 000 per dag na 13 000 spring, die hoogste in sy bestaan tot toe.

Die samesyn met Lorna, ’n knap joernalis en opgeleide onderwyseres in wiskunde en Latyn, lei later tot ’n verhouding en ons trou in 1960.

Sy was tot aftrede ’n eersteklas joernalis en mentor van ’n rits bekwame vroulike joernaliste soos Reinet Louw Kemp, Elsa Kruger, Elretha Louw en die bekende Amanda Botha, wat ’n protégée van Lorna in 1960 se dae by Die Landstem en later by Die Beeld was.

Amanda was destyds die eerste vroulike lid van die sportredaksie – ’n eerste in Suid-Afrika se joernalistiek.”

’n Groot dag in Naspers se geskiedenis: die notering van sy aandele op die Johannesburgse Effektebeurs in September 1995.

Meer oor:  Ton Vosloo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.