Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Laaste onderhoud met Madiba

In 2004, op 85-jarige leeftyd, het Nelson Mandela aangekondig dat hy hom aan die openbare lewe gaan onttrek. Twee jaar later het Jan-Jan Joubert egter ’n kans gekry vir ’n laaste onderhoud.

Iewers in 2006 bel Zelda la Grange, Madiba se regterhand, my en vra ’n vreemde vraag. “Madiba wil weet of jy iets teen hom het?”

“Natuurlik nie,” stamel ek. “Hoekom vra jy so iets?”

Nelson Mandela deel ’n grappie met joernaliste ná ’n vergadering in Johannesburg op 15 Maart 2006. Foto: Reuters

“Hy wonder hoekom jy nog nooit gevra het vir ’n onderhoud met hom nie.”

Nou’s ek gesnoeker. Dis die grootste kompliment van my loopbaan, maar hy doen dit seker met baie mense – sy sjarme is legendaries.

“Enige tyd. Uiteraard enige tyd,” antwoord ek.

Teen die middel van die jaar ontmoet ek vir Zelda by ’n pizzaplek in Sandton. Sy sê Madiba voel, as dit my pas, sy 88ste verjaardag is dalk ’n goeie tyd vir die onderhoud.

Sy verskaf my ook ’n paar grondreëls. Madiba raak oud, sê sy. Ek besluit uit eie beweging dat die onderhoud met deernis gevoer en geskryf sal word.

Soos die lewe loop, is ek die week wat hy voorstel met vakansie by my ouers in Durban. Ons besluit die familie moet darem iets vir die staatsman gee vir sy verjaardag en dat dit iets Afrikaans moet wees. Maar wat?

Uiteindelik besluit ons op ’n paar stukke biltong wat my pa en sy vriende self gesny en ordentlik gesout het (met ’n stewige skoot koljander, soos ons familie dit doen) tydens ’n jagtog naby Aliwal-Noord in die Oos-Kaap – Madiba se hartland-provinsie. My ma draai dit behoorlik toe dat die vetkolle nie deurslaan nie en ek neem dit saam Johannesburg toe.

Die onderhoud vind plaas by die Nelson Mandela-stigting se kantoor in Houghton. Dis omtrent twee dae voor die verjaardag en daar is vreeslik baie bedrywighede, onder meer omdat soveel mense van oor die wêreld heen geskenke stuur.

Ná ’n kort wagtyd neem Zelda my die studeerkamer in. Ek word aan Mandela voorgestel en die belewenis begin. Madiba het nie vreeslik baie tyd nie en ek val met die deur in die huis en begin met my vrae.

Ek het al sy antwoorde sorgvuldig neergeskryf en dit later so goed ek kon in berigvorm weergegee vir Die Burger,Beeld en Volksblad. Wat my egter bybly, is nie soseer sy antwoorde nie, maar die voorreg vir dit wat ’n mens tydens die onderhoud beleef het. Die eerste was die bykans onwerklikheid dat Mandela versigtig en met volkome aandag luister na jou vrae (ja, dit wat jy, ’n doodgewone produk van voorstedelike Durban, wil weet), en dit dan ernstig en deurdag beantwoord.

Dit het byna die heeltyd gevoel asof ek net bykans meganies opneem wat gebeur, byna soos ’n kamera.

Vir hoeveel mense is so ’n geleentheid beskore? Dit het selfbeheersing geverg om soms net rustig te knik, voort te gaan met die neerskryf van wat hy sê, en dan bedaard ’n opvolgvraag voort te bring.

’n Tweede herinnering is watter ongewone, bykans buiteliggaamlike ervaring dit was. Gewoonlik neem ek dinge sterk sintuiglik waar. Nie hierdie keer nie. Dit het byna die heeltyd gevoel asof ek net bykans meganies opneem wat gebeur, byna soos ’n kamera.

Daar sit die oudpresident soos ’n mens hom al so baie op televisie gesien het, met sy ryklik beskilderde Madiba-hemp, en hy praat in die kenmerkende stem wat soveel mense so goed kan namaak – dis jou eerste ontmoeting, maar als is eintlik reeds oorbekend.

Jare later, met die lees van Tony Leon se outobiografie, het sy vertelling oor Madiba se hospitaalbesoek aan hom ná sy hartaanval, en veral hoe onwerklik hy die nabye teenwoordigheid van Madiba se stem ervaar het, gestrook met my belewing daardie dag in Houghton.

Wat my ook bybly, was dat Mandela, soos baie bejaardes, ’n helderder belewing van die verlede as die onmiddellike gehad het. Sy oproep van feite en gebeure uit die 1940’s en 1950’s (’n bepalende tyd in hoe die bevrydingsbeweging tot aktivistiese wasdom gekom het) was so helder en suiwer soos ’n Kaapse sonskyndag in die winter.

As liefhebber van die geskiedenis was dit ’n belewenis om te kon hoor hoe iemand die verlede vir jou lewendig maak asof dit nóú gebeur, en die persoonlikhede van die destydse groot figure bespreek asof hulle nou-nou hier by die deur gaan instap. Met soveel skerp humor, boonop.

Dit het vir my daarop gedui dat daar absoluut niks met Madiba se gees en verstand skort nie.

Jan-Jan Joubert.

Terselfdertyd was dit vir my ontroerend hoe Zelda hom soms, tydens vrae oor aktuele kwessies, met ’n paar woorde in ’n rigting te water sou laat soos ’n mens met ’n skuitjie sou doen – net ’n wegstoot van die wal vir die bootjie om van daar sy eie weg te vind. Haar vinnige, onopdringerige gee van rigting vir antwoorde oor sulke kwessies het vir my beteken Madiba is dalk minder trefseker oor huidige kwessies as oor die van die verlede.

Dit was bloot ’n persoonlike indruk, maar ek het daarna nie weer in die media ’n onderhoud met hom gelees waar die onderhoudvoerder so wydlopend kon vrae stel oor aktuele en historiese kwessies nie.

Aan die einde van die onderhoud kon ek die geskenk oorhandig, en my pa se idee was ’n treffer, veral toe dit blyk die biltong kom uit die Oos-Kaap.

Ons gesin het daarna dikwels gehoop dat dit iets vir hom was om aan te peusel voor die vuurherd, en die moontlikheid daarvan verskaf ons steeds veel vreugde.

Met die afskeid sien Zelda die puik Kaapse fotograaf Benny Gool in die gang buite die studeerkamer, en daar kry ek, vir Madiba se verjaardag nogal, die groot geskenk van ’n werklik kosbare foto saam met die oudpresident.

Daardie foto is geraam en hang in my ouers se huis in Bloemfontein. Ek staan langs Madiba met my hand op sy skouer, en voor ons lê my pa se biltong nog half toegedraai op die tafel. Dit is ’n herinnering aan ’n onverdiende voorreg waarvoor ’n mens net dankbaar kan wees. En dit is miskien my kosbaarste besitting.

  • Jan-Jan Joubert het sy loopbaan as verslaggewer in 1997 begin en het van 2001 as politieke verslaggewer en politieke redakteur gewerk vir Beeld, Die Burger en Rapport. Hy is die skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer? (Jonathan Ball-uitgewers)
Meer oor:  Nelson Mandela  |  Jan-Jan Joubert  |  Mandela100
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.