Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Land se roete na rampspoed

Die verrotting het begin by Madiba – en sy party had nog altyd ’n knaende kontantvloeiprobleem, skryf R. W. Johnson in ’n nuwe boek.

Nelson Mandela besig om stemme te werf in 1994. Foto: Tom Stoddart

Die meeste Suid-Afrikaners kyk terug na die presidentskap van Nelson Mandela en selfs dié van Thabo Mbeki as ’n tyd toe dinge beter gegaan het as nou – ’n soort verlore goue era.

Die ware prentjie lyk nogal anders.

Toe Nelson Mandela in Mei 1994 as president oorgeneem het, was hy twee maande weg van sy 76ste verjaardag. In sy lewe was hy ’n student, ’n prokureur, ’n politieke aktivis en ’n gevangene. Hy het hoegenaamd geen ervaring van administrasie of regering gehad nie.

Die nuwe Grondwet het hom groot magte as president gegee, maar hy het min belangstelling in die gebruik daarvan gehad. Hy het sy rol eerder as hoofsaaklik seremonieel en simbolies gesien. Hy was aanvanklik veral bekommerd oor die behoefte om die nasie te verenig – in soverre daar inderdaad een nasie was, iets waaroor sommige skerp verskil het.

Om hierdie rede het hy die evangelie van rasseversoening gepredik, iets wat hom baie guns onder minderhede gewen het, maar ná ’n ruk gelei het tot ’n mate van onrustigheid onder die Afrikaniste omdat hy te goedgesind teenoor die wit mense was.

Dit was Mandela se skadelikste nalatenskap: ’n Oorgroot, oorbetaalde burokrasie met ernstige vaardigheidstekorte.

Mandela was ook die Nuwe Suid-Afrika se ambassadeur vir die wêreld. Die Amerikaanse president Bill Clinton was ’n vriend, so ook ’n oneindige karavaan bekendes van alle nerings – rolprent- en sportsterre, popsangers, modelle en sakemagnate. Een en almal is gevra vir aansienlike bydraes tot ANC-koffers of een van Mandela se liefdadigheidsorganisasies.

Sommige uiters twyfelagtige karakters het dit ook tot op die gastelys gemaak, soos die voormalige Liberiese oorlogsmisdadiger Charles Taylor, wat later in die Internasionale Strafhof in Den Haag vir 50 jaar tronk toe gestuur is vir terreur, moord en verkragting.

Taylor se besoek aan die Mandela-huishouding het eers aan die lig gekom nadat die supermodel Naomi Campbell gesorg het vir ’n sensasie deur te onthul dat Taylor in 1997 vir haar drie klein diamante gegee het – waarskynlik bloeddiamante – wat sy op haar beurt aan Jeremy Ract­liffe, die hoof van die Nelson Mandela-kinderfonds, gegee het wat dit in sy sak gesteek het.

Mandela was ook die ANC se hoof-geldinsamelaar wat die wêreld vol gereis het op soek na moontlike weldoeners. Dit het ook alle soorte ingesluit: Saoedi-koninklikes, die Libiese sterkman Moeammar Ghaddafi, diktators van verskeie Derdewêreldlande, maatskappydirekteure en ryk bekendes. Sy pogings om vir die ANC se verkiesingsveldtog in 1994 te betaal, was baie suksesvol. Dit word gesê dat Winnie Mandela bitter na hom verwys het as “die ANC se OTM” – maar dit was gou duidelik dat nadat die ANC dié verkiesing gewen het, dit baie moeiliker sou wees om donateurs vir die 1999-verkiesing te vind. Hierdie probleem het soos ’n swaard oor die ANC gehang.

Intussen het Mandela slegs ’n geringe rol in die administrasie van die land gespeel. Hy het nie die moeite gedoen om die voorsitter van die kabinet te wees nie en het gewoonlik kabinetsvergaderings lank voor die einde verlaat.

Dit het sy adjunk, Thabo Mbeki, toegelaat om as de facto-president op te tree, ’n rol waarin hy ewe onvas op sy voete was. Hy het, soos al die ander ANC-kabinetslede, geen ervaring van bestuur of administrasie gehad nie. Dit was dus in hierdie tyd dat kabinetskoördinasie verlore gegaan het, en die meeste ministers het net hul eie ding gedoen. Dit was ook in die tydperk dat die beleid van regstellende aksie en kaderontplooiing ingestel is, beleide wat die staatsdiens vinnig verwoes en die staat grotendeels ondoeltreffend gelaat het. En met soveel geleenthede het elite-korrupsie begin toeneem.

Mandela het niks gedoen om enige hiervan te keer nie en het selfs toegekyk hoe duisende van die land se mees ervare onderwysers op vroeë aftrede gestuur word, ’n klap waarvan die onderwysstelsel nooit herstel het nie.

So, terwyl Mandela baie gewild was, is daar min twyfel dat Suid-Afrika se afwaartse spiraal onder hom begin het.

Daarbenewens was dit natuurlik Mandela wat baie daarop aangedring het – teen Mbeki se wil – dat Jacob Zuma adjunkpresident gemaak moet word. Dit was ’n noodlottige keuse, want Zuma sou andersins geen hoop gehad het om president te word nie.

Later, toe Zuma ’n politieke veldtog teen Mbeki gevoer het, het Mandela hom ’n skenking van R1 miljoen gegee. In hierdie sin was Mandela indirek verantwoordelik vir die ramp van die Zuma-era. Die beste wat ter verdediging gesê kan word, is dat hy nie geweet het wat hy doen nie.

Die beste opsomming van die situasie word gegee deur die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE), ’n nieregeringsorganisasie wat ’n deurtastende ondersoek gedoen het na die wyse waarop die regering in dié tyd gewerk het.

“Funksioneel was daar wat ons as ’n vakuum in die sentrum van die regering kan beskryf,” het die CDE berig.

“Êrens tussen die kantore van die president en die adjunkpresident en tussen hulle en staatsdepartemente lê ’n spasie . . . Die kantoor van die president behoort aan die sentrum en voorpunt van die hele regeringstelsel in Suid-Afrika te staan. Maar op die oomblik is dit nie besig om die nodige ondersteuning te verskaf wat nodig is vir die staatshoof om die regering in die geheel suksesvol te bestuur nie.”

Die CDE was te diplomaties om die punt meer eksplisiet te maak dat Mandela te oud en te onervare vir die rol van president was.

Mbeki was jonger, maar ook onervare en oorweldig deur sy verantwoordelikhede – en byna al die ANC-ministers het geen administratiewe ervaring gehad nie.

Die beste hoop sou ’n ware regering van nasionale eenheid oor ’n lang tydperk wees sodat die ou NP-ministers hul kennis en vaardighede kon oordra, maar dit was iets wat die ANC vasbeslote was om te vermy. Teen 1996 het die NP die regering verlaat.

Die CDE-verslag het ook opgemerk dat Suid-Afrika, in vergelyking met ander middelinkomstelande, onder die wêreld se grootste besteders aan staatsdienssalarisse en -lone is.

Teen 1998-’99 het die staat se salarisrekening 49,5% van die regering se nierente-uitgawes uitgemaak. As Suid-Afrika wou terugkeer na die gemiddelde onder middelinkomstelande, sou 320 000 van die land se 1,17 miljoen staatsamptenare ontslaan moes word, wat op dié wyse ’n ekstra 8% van die begroting elke jaar vir kapitaalprojekte beskikbaar sou maak.

In die lig hiervan het die regering homself verbind tot ’n “herskikking” van die staatsdiens, maar min is behaal. In die praktyk was daar groot druk van binne die ANC vir meer staatsdiensposte en uiteindelik het elke ANC-regering onder hierdie druk geswig. Boonop het die kaders verwag om goed beloon te word: Hulle het hul rol gespeel in die stryd, het hulle nie? Die gevolg was volgens die CDE-verslag dat Suid-Afrikaanse staatsamptenare, in teenstelling met ander ontwikkelende lande, nie onder salaris- en loonverlagings gely het as gevolg van die makro-ekonomiese druk van die 1990’s nie. Trouens, die omgekeerde is waar – lone in die openbare sektor het in reële terme bo die bruto binnelandse produk (BBP) toegeneem vanaf 1996. Dit was ’n doelbewuste poging om staatsamptenare op hul gemak te stel tydens die samesmelting van die verskillende administrasies deur hul werk en lone te waarborg.

“ ’n Tweede rede was die regering se verbintenis tot eenvormige diensvoorwaardes binne die staatsdiens . . . ’n Derde rede vir mededingende staatsdienssalarisse was die regering se vasbeslotenheid om staatsamptenare materiële aansporings te gee vir meer lojaliteit, produktiwiteit en eerlikheid.”

Dit is hoogs diplomatieke taal. Wat dit in praktyk beteken het, was om die salarisse van swak gekwalifiseerde (tuisland-) burokrate tot die vlakke van goed gekwalifiseerde Afrikaners in die ou staatsdiens te verhoog.

Ander faktore was ook aan die werk: “Die ANC het verstaanbaar senior amptenare aangestel van binne sy eie lojale politieke geledere . . . baie provinsiale aanstellings was nie op vaardigheid alleen gegrond nie . . . In nasionale departemente . . . het senior staatsdiensaanstellings . . . oor die algemeen die etnisiteit of ras van die minister gereflekteer . . . ’n Meer sinistere, maar verwante probleem het ontstaan vanweë sommige amptenare se onwilligheid om korrupte praktyke of wangedrag van kollegas te ontmasker . . .”

Dit is Mandela se skadelikste nalatenskap: ’n Oorgroot, oorbetaalde burokrasie met ernstige vaardigheidstekorte. In effek is die ou staatsdiens vernietig en die regering is ontneem van die sleutelinstrument waarmee beleid geïmplementeer kan word.

’n Dilemma het die ANC-regering in die gesig gestaar. Aan die een kant het hulle ’n uiters ambisieuse program van sosiale en ekonomiese verandering gehad om uit te voer wat die dienste van die mees vaardige en ervare staatsdiens moontlik geverg het. Aan die ander kant was daar swaar druk vanuit eie geledere om die staatsdiens so gou as moontlik te Afrikaniseer. Daar was nooit twyfel dat die ANC laasgenoemde sou kies nie, veral aangesien hulle gevoed is deur paranoïese vrese dat die ou staatsdiens doelbewus die nuwe regering sal saboteer.

Dit was deel van ’n groter gebrek aan selfvertroue.

In essensie het die ANC homself so suksesvol oortuig van die bose aard van sy nasionalistiese teenstanders dat hulle dit moeilik gevind het om te glo dat FW de Klerk regtig die nasionale belang bo dié van sy party gestel het en die ANC mag op ’n skinkbord aangebied het. Dit was te goed om waar te wees en baie energie is vermors op soek na verborge vangplekke en, nog meer, die bose aktiwiteite van ’n geheimsinnige “derde mag”.

Die verwoestende Afrikanisering van die staatsdiens was ’n noodlottige stap, want dit het nie net gelei tot ’n wydverspreide verlies aan vaardighede nie, maar ook tot ’n verlies van institusionele geheue, sodat die meeste van die nuwe staatsamptenare geen idee gehad het van hoe hul departemente histories bedryf is nie, watter slaggate om te vermy, en so aan.

Die situasie is verder vererger deur die feit dat baie van die nuwe rekrute vir die eerste keer ’n goedbetaalde werk gehad het en daarom geneig was om te oorbestee, skuld te maak en, in ’n poging om die situasie reg te stel, vir ander werk wat meer betaal, te soek.

Die skepping van hierdie burokratiese bourgeoisie sou noodlottige implikasies hê vir die ANC en vir Suid-Afrika in die geheel.

Die antwoord is eenvoudig

Die kultuur van slagofferskap in Suid-Afrika is so goed gevestig dat dit heel normaal is vir politici om te beweer dat swart armoede en ontberings uniek was – selfs dat hulle “slawerny” verduur het. Dit is eenvoudig nie waar nie.

Suid-Afrika is ’n middelinkomste- ontwikkelende land. Baie honderde miljoene in Asië en elders in Afrika is veel armer as die gemiddelde Suid-Afrikaner. Apartheid was ’n vreeslike, onmenslike en vernederende stelsel, maar dit was ver van slawerny af. Wes- en Oos-Afrikane, wat werklik slawerny verduur het, sal kan verduidelik hoeveel erger ware slawerny is as enigiets wat mense onder apartheid verduur het. (Ironies genoeg het die Wes- en Oos-Afrikane wat vandag na Suid-Afrika stroom, nie dieselfde gevoel van slagofferskap nie en merk hulle dikwels op hoe eienaardig die eienskap van slagofferskap onder swart Suid-Afrikaners is, met die gepaardgaande geloof dat hulle daarom geregtig is op iets.)

Nietemin is die kultuur van slagofferskap so sterk verskans dat dit polities onmoontlik is vir enige politikus om vir laer lone te pleit. Ek verwag dus nie dat wat ek sê gewild of selfs aanvaarbaar sal wees nie.

Dit sal onder meer aangevoer word dat die verlaging van lone sal lei tot ’n toename in uitbuiting. Die antwoord is ja, inderdaad. Maar, soos die Marxistiese ekonoom Joan Robinson lank gelede al gesê het: “Die ellende wat saamgaan met die uitbuiting deur kapitaliste is niks vergeleke met die ellende om glad nie uitgebuit te word nie.” As jy hieroor twyfel, vra die land se nagenoeg 10 miljoen werkloses.

Die liberalisering van die arbeidsmark sal ’n algemene liberalisering van die mark behels, wat insluit die afbreek van kartelle. Waarskynlik moet al die staatsondernemings (SOE’s) geprivatiseer word, en verkieslik verdeel word om mededinging te skep.

Dieselfde beginsels moet in die res van die samelewing geld. Wat ons die laaste kwarteeu geleer het, is dat daar in die vroeë sta-diums van primêre akkumulasie geen hoop is om massiewe korrupsie en wanbestuur hok te slaan tensy ’n mens die dissipline van die mark aan jou kant het nie. Dit wil sê die huidige pogings om die SOE’s op te ruim, is waarskynlik gedoem om te misluk. Eerstens is dit hoogs onwaarskynlik dat dit doeltreffend sal wees – die geleenthede vir korrupsie is eenvoudig te groot – en tweedens, die oomblik wat die “groot opruiming” van die korruptes en onbevoegdes afgehandel is, gaan die proses homself net weer herhaal.

Meer oor:  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.