Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Lens op lyding

Die 83-jarige fotograaf Don McCullin is pas vereer met ’n terugskouende uitstalling in Londen. André Pretorius is getref deur die onthutsende eggo’s met die werk van Francisco de Goya.

Die geveg vir die stad Hue, Suid-Viëtnam. ’n Amerikaanse marinier in die huis van burgerlikes, 1968. (Don McCullin)

Berlyn. Ciprus. Die Kongo. Biafra. Viëtnam. Kambodja. Noord-Ierland. Bangladesj. Beiroet. Iran. Irak. ’n Opgawe van oorlog en menslike verdriet in die laat 20ste eeu. Dít, ja, maar ook hoofstukke in die onlangse uitstalling van die fotografie van sir Don McCullin in die Tate Britain-kunsmuseum in Londen.

Want benewens mylpale van verdriet, verteenwoordig die lys ook stempels in McCullin se paspoort: Hy het miskien meer as enigiemand anders gedoen om ons beeld van die laat 20ste-eeuse konflik vas te lê.

Tussen die foto’s teen die museummure en in die uitstallingskatalogus is van die ontroerendste beelde van ons tyd. Kyk in die oë van daardie Amerikaanse marinier in Viëtnam in 1968: As jy wil weet hoe dit voel om deur bomskok in die gesig gestaar te word, hoef jy niks verder te soek nie. Hierdie anonieme jong Amerikaner se oë staar leeg verby die kyker, vanuit ’n plek in sy gemoed wat niemand wil sien of ken nie.

Naby Checkpoint Charlie, Berlyn, 1961.

Op ’n manier is dit ’n selfs meer onthutsende beeld as daardie foto van ’n dooie man in die Kongo in 1968 met die helfte van sy kop weggeskiet en verstrengel in ’n fietsraam: Laasgenoemde laat jou fisiek terugdeins, maar die sielkundige wond van die marinier wat McCullin vasgevang het, spook lank daarna by jou.

Die fotograaf se werk het baie tonele soos daardie een uit die Kongo – grafiese, meedoënlose beelde van die wreedheid van oorlog. Wat tref in die uitstalling is egter dikwels nie die verminkte lyke nie, maar die oorlewendes. Dieptastende beelde van die emosionele impak van oorlog, net soveel as die fisieke tol.

Soos die Turkse vrou in Ciprus in 1964 wat hoor van haar skaapwagter-man se dood: Sy kry die nuus van iets of iemand buite die fotoraam, miskien van iemand naby die fotograaf. Maar binne daardie raam is sy ’n vaste punt van skok in ’n warrel van afhanklikes, rouklaers en vertroosters. Haar gesig is vertrek in ’n uitdrukking wat in ’n ander konteks vertedering sou kon wees, maar hier spreek van ontreddering; haar oorheersende eienskap is dalk die universaliteit van haar figuur as die vrou wat deur die millennia die emosionele las van mans se oorloë dra.

Die poskaarte is afgelewer, maar die boodskap kom nie deur nie.

In die vasvang van sowel die fisieke as die emosionele impak van oorlog in swart-en-wit is daar ’n eggo van die fotograaf Letizia Battaglia se beeldstawing van Sicilië se Mafia-oorloë in die 1970’s en 1980’s, wat ek eens in die Anti-Mafia-museum in Corleone teëgekom het. Maar McCullin se sluiter het nie één konflik vasgelê nie, hy het ’n haas ondenkbare aantal van die oorloë van die laat 20ste eeu gefotografeer. Deur sy lens is ’n ongenaakbare kroniek-in-beeld gekarteer van ’n era van “vrede en voorspoed”.

Die uitstalling is ’n verpletterende ervaring, maar ten spyte van die betreklike “jong” medium – fotografie – voel dit nie nuut nie. Inteendeel – McCullin se oeuvre resoneer met ’n reeks sketse van ’n ander kunstenaar in ’n ander oorlog meer as twee eeue gelede.

Daardie ouer uitbeelding het my ’n paar jaar gelede oorval, op ’n herfsdag in die Koninklike Akademie van Skone Kunste van San Fernando in Madrid. Onder my vingers het ek die braille van verdriet en verwoesting gevoel: Riwwe op dik velle papier, nagelaat deur die etsplate wat in die vertrek langsaan uitgestal is.

‘Para eso habeis nacido’ (Francisco de Goya)

Die tonele van vergrype – die vlugtelinge, die ontbindende lyke, die verkragte vroue, die wanhopig grypende kloue, die verminkte mense, die sabels en bajonette in ’n gestroopte Spaanse landskap – het toe al vir my gedy met ’n haas ondraaglike eietydse herkenbaarheid. Die name wat dit destyds by my opgeroep het, was dié van McCullin en Robert Capa.

Daardie stel afdrukke is gemaak in 1930 en die muwwe reuk van ou papier het opgeslaan uit die velle, maar die 80 etsplate self is veel ouer: gegraveer in ’n duister epog, tussen 1810 en 1814, met Madrid en die Iberiese skiereiland gedompel in ’n wrede, eindtydse stryd.

Europa was indertyd verwring deur die spasma van die Napoleontiese Oorloë. In Spanje het Bonaparte die koningsgesin verban en sy broer, Josef, op die troon geplaas. Op 2 Mei 1808 het gewone Spanjaarde in Madrid in opstand gekom teen die Franse besetters en ’n bloedige stryd van ses jaar ingelui.

‘Qué hay que hacer más?’ (Francisco de Goya)

Francisco de Goya, 62 jaar oud en stokdoof, het sy hand gewend na ’n reeks etse bekend as die Desastres de la Guerra, die Rampe van Oorlog. Elk van die tonele het ’n – dikwels ontnugterde – onderskrif as titel. In Para eso habeis nacido (Hiervoor is jy gebore) strompel die enigste lewende oor ’n hoop lyke, miskien op soek na ’n geliefde. Jy kan die stank van ontbinding as’t ware ruik en hy braak ’n boog; in die verte styg ’n rooksuil bo die landskap. Sy braaksel is die menslikste aspek van die makabere toneel.

Goya se etsreeks is nie vir sensitiewe kykers nie: in Qué hay que hacer más? (Wat meer kan jy doen?) trek twee Franse ’n kaal man se bene uitmekaar terwyl ’n derde hom met ’n sabel van die lies af in twee sny. In Tampoco (Nóg die een nóg die ander) sit ’n Fransman behaaglik terug en bejeën sy handewerk: drie patriotte wat elk swaai van ’n droë boomstomp; die voorste een se broek is afgetrek.

Nie dat die Franse die enigste misdadigers was nie. Populacho (Gepeupel) beeld die wraak van die Spaanse massa uit: ’n Halfnaakte dooie – ’n Fransman, ’n hensopper? – lê met sy gesig grond toe terwyl ’n ou vrou hom redeloos met ’n knuppel toetakel en ’n man gereed maak om hom met ’n lang stok te sodomiseer.

Die handgranaatgooier, Hue, Viëtnam, 1968. (Don McCullin)

Goya se boodskap is ’n essensieel pasifistiese een – oorlog verontmenslik – en sy etse ’n kragtige manifes teen oorlog. Soos ook die oeuvre van Don McCullin. Die byskrifte van McCullin se foto’s is meer direk feitelik as Goya se titels, maar selfs in die gestrooptheid hiervan eggo die fotograaf se reportage die vroeëre kunstenaar.

Die kunskritikus Robert Hughes se opmerking in sy Goya-biografie is net so goed van toepassing op McCullin: “Goya’s excoriating cycle of prints is neither pro-Spanish nor pro-French, but against war as such. It could hardly have retained its eloquence, its sense that, in Wilfred Owen’s words, ‘the Poetry is in the pity’, if it had been otherwise.”

Want wie wat hier lees kan onthou waaroor al McCullin se oorloë gegaan het? Biafra, enigiemand? Ciprus, 1964? Selfs die Beiroet van die 1970’s? Wat nog te sê die Spaans-Napoleontiese Oorlog tussen Napoleon, die Engelse en die Spanjaarde? Daardie oorloë se redes en verloop is grootliks vergete buite geskiedenisdepartemente. Maar die menslike lyding kan nie ongedaan gemaak word nie en die beelde – McCullin s’n, soos Goya s’n – staan as stille, swart-en-wit monument aan daardie lyding.

Die Amerikaanse marinier met die skok in sy (Don McCullin)

Dít is wat my op daardie dag in die stil galery in Madrid getref het by die omblaai van elke nuwe bladsy van die Goya-afdrukke: Hoe eietyds Goya se waarnemings en sy uitbeeldings is. Kyk na Muertes recogidos (Versameling dooies): Hierdie hoop verwronge lyke herinner aan niks meer nie as daardie makabere foto’s van die bevryding van die Bergen-Belsen-konsentrasiekamp in 1945. En die vlugtelinge in Y esto tambien (En dit ook) herroep die Balkan-beelde van die 1990’s.

Skoonheid staan in ongemaklike jukstaposisie met geweld en boosheid: Que valor! (Hoe dapper!) toon die elegante figuur van ’n slanke jong vrou wat die lont by ’n kanon se loop bring om die skoot af te vuur. Die tussenspel van haar sensuele figuur en die gewelddadigheid van die falliese loop is reeds ongemaklik, maar kyk weer: die “platform” waarop sy staan om die lont by te bring is ’n hoop dooie verdedigers van die grofgeskut.

Ni por esas (Nóg hulle) weer, is ’n toneel met die grasieuse lyne van klassieke ballet. Maar dit is geen dans van liefde nie: Nee, dit is verkragting. Hy sleep haar aan haar arms na waar hy haar wil hê, terwyl nog ’n vrou op die agtergrond ’n slagoffer word.

Is daar ’n eggo hiervan in McCullin se Near Check­point Charlie, Berlin, 1961 op die omslag van die uitstallingskatalogus? ’n Vrou in ’n eenvoudige donker rok en plat skoene kom aangestap verby twee Amerikaanse troepe gehurk oor ’n masjiengeweer wat onbedoeld dreigend in haar rigting wys. Van een troep sien ’n mens net die stewel; die ander se profiel sinspeel op ’n soort waardering (of wellus?) jeens die vrou. Wreedheid en normaliteit, geweld en skoonheid vasgevang in ’n ondelikate pas de deux.

Wat doen dit aan die waarnemer, al hierdie ontmensliking? Per slot van rekening moes McCullin in 1968 reg in die uitdrukkingslose blik van daardie marinier in Viëtnam gekyk het. Moes hy eerstehands die skok, afgryse, vernedering en verlies van ontelbare oorlogslagoffers beleef het. Moes hy meer verminkte lyke gesien het as wat goed is vir enige mens.

Soos hy in die uitstalling aangehaal word: “Seeing, looking at what others cannot bear to see is what my life is all about”. En hy is gedryf deur ’n soort verantwoordelikheidsin: “You have to bear witness. You cannot just look away”.

Daardie pligsbesef het ook sy werk ver van die oorlogsfront beïnvloed: Hy het industriële landskappe in die noorde van Engeland en armoede en vreemdelinghaat in die ooste van Londen in die 1970’s gefotografeer. Hierdie foto’s het dieselfde intensiteit as sy werk in oorlogsones: Daardie hawelose straatslaper in ’n verwaarloosde stadslandskap van Sleeping Man, Spitalfields, London 1970 is ononderskeibaar van die gesneuweldes in sy ander foto’s.

In ’n ander vertrek in die Prado hang Goya se 14 Swart Skilderye – enigmatiese beelde wat spreek van ontnugtering met die mensdom en met wat hy in lewe moes aanskou. In een daarvan is die mitologiese figuur van Saturnus besig om sy eie seun te verorber. In ’n ander veg twee mans ’n tweegeveg met knuppels, terwyl albei wegsink in die landskap – asof in dryfsand – onder ’n troebel hemel. Nog ’n metafoor vir ’n oorlog waarin albei kante verloor, miskien.

Oor hierdie skilderye het Seamus Heaney in sy gedig “Summer 1969” geskryf:

He painted with his fists and elbows, flourished /

The stained cape of his heart as history charged.

Miskien is daardie slotreël ook van pas vir McCullin: het hy nie immers ook die bevlekte kleed van sy hart gewaai vir die aantog van die geskiedenis nie?

200 jaar uitmekaar het hierdie twee kunstenaars in hul verskillende media poskaarte uit die hel gestuur om die mensdom ter herinner aan die afgryse van oorlog. Die poskaarte is afgelewer, maar die boodskap kom nie deur nie.

* André Pretorius is ’n regsgeleerde wat in Londen praktiseer.

Meer oor:  Londen  |  Kuns  |  Uitstalling  |  Fotografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.