Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Liefde en lus vir Afrikaans

Afrikaans baklei nie, dit is ’n liefdestaal wat almal omarm, het Esra Plaatjies, ’n deelnemer aan ’n gesprek op die Suidoosterfees in Kaapstad, gesê. Murray La Vita doen verslag.

Tracey Lange, gespreksleier, SZ Minnaar, ’n joernalistiekstudent aan die Universiteit Stellenbosch, Carla Barnard, ’n onderwyser aan die De Vrije Zee Primary School, en Esra Plaatjies, ’n finalejaarstudent aan die KSUT, tydens ’n gesprek op die Suidoosterfees in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Wat is dit wat verhoed dat jongmense Afrikaans wil vier en koester?

Dít is onder meer bespreek in ’n gesprek wat in die Kunstekaap deur die Afrikaanse Taalraad aangebied is. Die onderwerp was “Afrikaans – ’n taal vir almal”.

Tracey Lange, gespreksleier en radio- en televisiepersoonlikheid, het vertel van die boodskappe wat sy by kfm of via Facebook ontvang. Een ma het aan haar gesê: “Tracey, my kind praat Afrikaans en skielik het die skool gesê nou in gr. 10 moet sy ál haar vakke in Engels doen. Nou huil my kind elke dag; skielik het sy gegaan van 80% vir Wiskunde na 40%, want sy verstaan absoluut niks. Sy was die A-student en ek weet nie hoe om haar selfvertroue terug te kry nie.”

Lange het die gesprek begin deur te vra hoekom baie mense uit Afrikaanse huise kom en nou voel dat Engels die taal is “wat meer cool is”.

Ons kort weird en wonderful en ’n verskeidenheid Afrikaanse goed wat tásbaar is.
SZ Minnaar

Volgens SZ Minnaar, ’n joernalistiekstudent aan die Universiteit Stellenbosch, is daar geweldig baie Engelse media en “cool Engelse goed” wat ons nie in Afrikaans het nie.

“Dit is ’n leemte; ons kort weird en wonderful en ’n verskeidenheid Afrikaanse goed wat tásbaar is; wat mense kan kýk of lees of sien. Daar is net nog nie sulke Afrikaanse goed nie en ek dink dit veroorsaak ook dat miskien veral jong mense dink Engels is aantrekliker, want al daai goed is daar. Of ek, wat dalk hierdie randfiguur is, voel dat hierdie klein cos-player gemeenskap (mense wat aantrek en grimeer soos karakters in byvoorbeeld strokiesprente of videospeletjies) kry jy net in Engels.”

‘Verskillende tonge’

Esra Plaatjies: “Man, álmal is deel van hierdie feestafel; álmal moet hul regmatige plek inneem, en álmal is een, want ons is mos een taal se kinders, is ons nie?” Foto: Jaco Marais

Esra Plaatjies, ’n finalejaarstudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), het gesê Afrikaans “het verskillende tonge”.

“Ons moet diversiteit omarm; ons moet daai taalandersheid omarm; ons moet sê: ‘Man, álmal is deel van hierdie feestafel; álmal moet hul regmatige plek inneem, en álmal is een, want ons is mos een taal se kinders, is ons nie?’ ”

Lange wou weet hoe maak ons seker jongmense het die selfvertroue om met gemak permanent Afrikaans te praat?

Carla Barnard, ’n onderwyser aan die De Vrije Zee Primary School, sê haar skool was Afrikaans maar het nou skielik verengels.

“Daar is Afrikaanse kinders in die skool. En vir my as ’n taalonderwyser wat nou Engels moet aanbied terwyl ek eintlik vier jaar lank as ’n Afrikaans-onderwyser opgelei is, is dit baie hartseer . . . Dis ’n somber prentjie vir my, want ek lééf in Afrikaans. Nou hoe moet die kinders voel? Hoe moet die ouers voel? Nou ewe skielik sê die departement dit is nou ’n Engelse skool.”

Weens hul maatskaplik-ekonomiese omstandighede kan talle ouers nie hul kinders na ’n ander, Afrikaanse, skool stuur nie.

“Nou word die kinders benadeel. Ewe skielik moet álles wat julle in Afrikaans geleer het nou in Engels geleer word.”

Ons moet weet waar stáán ons as Afrikaanse mense, waar moet ons ons plek inneem en onsself bemagtig.
Carla Barnard

Sy meen moedertaalonderrig op skool bied aan kinders ’n goeie grondslag van waar hulle kan diversifiseer.

“Ek het ’n fondasie in mý taal. Ek het alles geleer wat ek moet leer en nou kan ek net dit wat ek ken, oorskakel in ’n ander taal. Maar steeds, die probleem met die skole is dat ons ouers nie ingelig is dat daar ’n plek vir almal is nie. Daar ís ’n plek vir Afrikaans.

“In die taalonderwysbeleid van 1996 is daar ’n sinnetjie waarvan almal dalk nie weet nie. Dit sê as daar 40 leerders is – van gr. 1 tot gr. 6 – wat ’n spesifieke taalbehoefte het, is die departement verplig om ’n klas te voorsien vir die taal van daardie leerders se keuse.

“Dus, ons moet net meer ingelig wees; ons moet weet waar stáán ons as Afrikaanse mense, waar moet ons ons plek inneem en onsself bemagtig.”

Taalminderwaardigheid

William Sezoe, ’n leerling aan die New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl, aan die woord. Foto: Jaco Marais

Volgens Lange meen die besluitnemers – dikwels die ouers – Engels bied meer geleenthede as Afrikaans. Plaatjies het gesê hierdie idee lei tot taalminderwaardigheid.

“En hierdie taalminderwaardigheid verhóéd onse kinders om hulle regtigwaar uit te leef in hul moedertaal. Onse gemeenskappe moet bemágtig word en jou moedertaal gaan vir jou bemagtig. Hier is báie universiteite en skole wat in Afrikaans onderrig gee . . . Wellington . . . ek kan die lys aanvul, en onse ouers en onse gemeenskappe weet dit nie.”

Minnaar het gesê verengelsing is ’n werklike probleem – veral aan universiteite soos die Universiteit Stellenbosch.

Dit is ’n wanpersepsie dat daar nie geleenthede in Afrikaans is nie.
SZ Minnaar

“En ek dink dit is iets wat nou ook na skole oorspoel – baie skole, veral hoërskole, is besig om te verengels.

“Wat net vir my ’n groot ding is, is die wanpersepsies. ’n Mens wil nie ’n anti-Engelse sentiment hê nie, maar hoe sake nou staan, is mense dink ons moet Afrikaans heeltemal los . . . Engels, Engels, Engels; as jy in Engels skoolgaan, gaan die wêreld vir jou oop, wat nie noodwendig waar is nie, want dikwels is dit Afrikaanse gemeenskappe en dis letterlik net in die klas waar die onderwyser Engels praat, maar jy praat pouse met jou klasmaats Afrikaans en as jy by die skool uitstap, is dit Afrikaans.

“Maar, ja, dit is ’n wanpersepsie dat daar nie geleenthede in Afrikaans is nie. Ek dink daar is nog sóveel moontlikhede vir Afrikaans. En die mark is daar; daar is báie Afrikaanse mense wat hou van goed in Afrikaans.”

‘Daai liefde en lus’

Lange het daarop gewys dat die luistertalle van die radioprogramme wat sy by Engelse radiostasies aanbied of aangebied het, dramaties gestyg het toe sy op lug Afrikaans begin praat het.

“Dus is daar baie geleenthede in Afrikaans, maar ons moet die feestafel aantreklik maak – nie net vir die jong mense nie, maar ook vir die ouers. Hoe doen ons dit?”

Plaatjies meen taalfeeste en -gesprekke moet na plekke soos Mitchells Plain en die Oos-Kaap – waar Afrikaans bloei en lewe – geneem word.

“Gee onse jong mense weer daai wákkerheid, daai wármte, daai liéfde vir Afrikaans. Daai lús vir Afrikaans. As ons dít doen, kan Afrikaans floreer en net hoër hoogtes bereik.

“Dit is nie ’n geveg nie. Afrikaans baklei nie; ons baklei nie met Engels nie; ons baklei nie met énige ander taal nie; ons is ’n liefdestaal; ons omarm álmal.”

Ek voel daar is nog ’n redelike skuldlas by ouer mense, maar die jong mense is redelik bevry.
SZ Minnaar

Volgens Lange is Afrikaans ’n lewende taal wat “konstant groei”.

“Daar word nie baie gedoen om die studente-organisasies te ondersteun wat Afrikaans wil uitleef en wil seker maak dat dit sterk staan nie. Ons moet seker maak dat ons daardie organisasies ondersteun – en hardop ondersteun, veral aan universiteite.”

Minnaar meen daar is ’n kreatiewe energie en ’n liefde vir Afrikaans onder jong mense.

“Ek voel daar is nog ’n redelike skuldlas by ouer mense, maar die jong mense is redelik bevry; ons dra nie meer die skuldlas nie. Daar is hierdie ongelooflike kreatiewe energie, maar die jong mense het net nie die sosiale kapitaal om dinge te doen nie.

“Ons moet Afrikaanse inisiatiewe ondersteun – veral jong mense wat jy kan sien ’n passie het vir ’n saak of ongelooflike werk doen.”

‘Wat doen óns?’

SZ Minnaar: “Mense dink ons moet Afrikaans heeltemal los . . . Engels, Engels, Engels.” Foto: Jaco Marais

Minnaar voel daar is “’n stigmatisering in die lug”.

“Veral onder ons jong mense. Ons moet na onsself kyk. Dus, die vraag is: Wat doen óns? Ondersteun ons die Afrikaanse platforms wat daar is? Probeer ons dit bemagtig?

“Ons voel partykeer in ’n blikkie gedruk. Jy is byvoorbeeld so bang om ’n Afrikaanse meme op sosiale media te deel en nou gaan almal vir jou kyk en sê: ‘O, jy’s die ondersteuner van die onderdrukker se taal.’ Ons dra nog daardie skuldlas van die verlede.

“Ons ondersteun Engels meer as wat ons ons éie taal ondersteun. Hoekom kan ons nie áltwee ondersteun nie? Hoekom maak ons nie ons taal óók ’n uitstaanding nie? Ons is in die Kaap; ons is in Suid-Afrika; hoekom wil jy ánder kontinente se tale kom bemagtig in jóú ruimte? Trek jou kleure aan en wees ’n Kápenaar. As jy wil sê: ‘Ou djy, hoe lykit my broe? dan praat jy so met my.

“Ons emosies word uitgedruk in die taal waarmee ons gemaklik voel, want dit is ons identiteit, so moenie wégbeweeg daarvan nie en moenie dit vergeet nie. Ons moenie vergeet waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is nie.”

Plaatjies het gesê Standaardafrikaans staan sentraal tussen al die ander variëteite van Afrikaans, maar het dieselfde waarde as hulle.

“Lééf jou variëteit, maar Standaardafrikaans help jou om met ander mense te kommunikeer; hy is soos ’n skakel tussen hierdie variëteite.”

‘Hulle wil vlieg’

William Sezoe, ’n gr. 12-leerling van die New Orleans sekondêre Skool in die Paarl, het die gehoor gaande gehad met sy begeesterde mededelings oor jong mense en Afrikaans en oor hoe hy en ander leerlinge daarin geslaag het om ’n uurlange Afrikaanse program op ’n Paarlse radiostasie te vestig.

Hy het ’n beroep gedoen op steun aan jong Afrikaanse mense en kunstenaars. Oor die waarde van steun het hy gesê: “Hulle voel bemág; hulle voel bemoedig; hulle wil vliég!”

Meer oor:  Suidoosterfees  |  Tracey Lange  |  Murray La Vita  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.