Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Liefdesverhaal in ’n ander era

Prins Harry en sy Meghan se liefdesverhaal is veel anders as die storie van die destydse prins Edward en sy Amerikaanse bruid, Wallis Simpson, vertel Hannes Haasbroek.

Wallis Simpson en prins Edward op hul troudag op 3 Junie 1937 in Frankryk. Foto: Getty

Dit is insiggewend hoe die wiel gedraai het met die onlangse Britse koninklike troue in die Windsor-kasteel.

Meghan, ’n geskeide Amerikaanse aktrise van gemengde bloed (haar ma is swart en haar pa wit), is nie net hartlik en met ope arms in die koningshuis aanvaar nie; uit die Britse stywelip-establishment en politieke kringe was ook nie veel kritiek nie.

Dit is in skreiende teenstelling met wat koning Edward VIII (aanvanklik die prins van Wallis) in die 1930’s moes deurmaak toe hy as ’n ongetroude man sy hart hopeloos op ’n getroude Amerikaanse vrou, Wallis Simp­son, verloor het. (Ja, die prins van Wallis het verlief geraak op ’n vrou met die naam Wallis.)

Edward was die einste prins wat Suid-Afrika in 1925 onder groot belangstelling besoek het.

In die spervuur

Dié gewilde prins van Wallis en onmiddellike troonopvolger het in ’n ander era geleef, met ander sedes en waardes. Hy was direk in die spervuur oor ’n geskikte lewensmaat.

Daarteenoor is prins Harry heelwat laer op die lys en geld deesdae heelwat ander menings oor sake soos egskeiding en trou.

Prins Harry se oupagrootjie was Edward se broer.

Harry se ouma en kroonprins Charles se ma, die hoogs bejaarde monarg, koningin Elizabeth II, se pa was die geliefde maar hakkelende koning George VI (aanvanklik prins Albert en later hertog van York), by wie sy ná sy dood in 1952 oorgeneem het. Hy was die tweede oudste seun van koning George V en sy ouer broer was die einste prins van Wallis wat hier in Suid-Afrika kom kuier en koning Edward VIII geword het. Dit was egter ’n kortstondige koningskap.

Die liefde van sy lewe, Wallis Simpson, gebore Bessie Wallis Warfield en bekend om haar besondere uitgaande persoonlikheid, het die planne vir koninklike troonopvolging behoorlik verydel.

Die hertog en hettoging van Sussex, prins Harry en Meghan, op hul troudag op 19 Mei.Foto: Reuters
Die hertog en hertogin van Sussex, prins Harry en Meghan, op hul troudag op 19 Mei. Foto: AP

Dolverlief

Wallis Simpson het die prins van Wallis in die vroeë 1930’s ontmoet terwyl sy nog met haar tweede man, Ernest Simpson, getroud was.

Die liefde tussen haar en die prins het oordadig geblom.

In Januarie 1936 volg die prins sy pa as koning Edward VIII op en geniet hy die sosiale lewe aan die sy van Wallis, wat nie juis erg het aan koninklike protokol nie. Edward se oënskynlike miskenning van gevestigde konstitusionele gebruike laat die politici se wenkbroue hoog lig.

Dit is nie lank nie, toe bars die bom. Die druppel wat die emmer laat oorloop, was toe Edward aankondig hy gaan met Wallis trou wat besig is om van haar man te skei.

Sy is die liefde van sy lewe. Sonder haar kan hy nie . . . en basta met die res.

Britse liefdeskrisis

Sy aankondiging dompel Brittanje en sy dominiums in ’n konstitusionele krisis.

Die Britse premier, Stanley Baldwin, en sy kabinet is dié huwelik nie goedgesind nie, en staan glo gereed om hieroor te bedank. Die dominiums se premiers is ook hewig daarteen gekant.

Wallis, met twee ekse nog in lewende lywe, is nie geskik as vrou vir die koning nie. Sy hoofskap van die Kerk van Engeland sal ook in die gedrang kom, sê die beswaardes.

Edward het twee keuses. Hy kan sonder Wallis koning wees óf sy koningskap prysgee vir ’n lewe saam met haar.

Die eertydse prins Edward van Wallis (regs) lê tydens sy besoek aan Suid-Afrika in 1925 ’n krans by die Vrouemonument in Bloemfontein. Foto: Nasionale Museum, Bloemfontein

In Brittanje en die hele Britse Ryk is die mense verstom toe hul koning, sonder dat hy amptelik gekroon is, in Desember abdikeer. Sy heerskappy van 326 dae was een van die kortste nog in die geskiedenis van die Britse monargie.

Onthou, die hele drama het grootliks agter die skerms afgespeel en die Britte onkant betrap.

In ’n roerende en dramatiese radio-uitsending uit Windsor-kasteel deel Edward sy onderdane tuis en oorsee mee dit is vir hom onmoontlik om die swaar las van sy verantwoordelikhede en pligte as koning te dra sonder die hulp en ondersteuning van die vrou wat hy liefhet. Van toe af is hy die hertog van Windsor.

Verwerptes

Op 3 Junie 1937 trou hy en Wallis uiteindelik in Frankryk, ’n huwelik wat kinderloos sou wees.

In die jaar van hul troue besoek hulle ook Duitsland en ontmoet vir Adolf Hitler. Hulle is so te sê koninklike uitgeworpenes met ’n koningshuis wat afsydig teenoor hulle staan.

As die hertog en hertogin van Windsor leef hulle vir die res van hul lewe buite Brittanje, hoofsaaklik in Frankryk. Hulle bring net kort besoeke aan Engeland vir familieaangeleenthede. Die familiebetrekkinge verbeter mettertyd en ’n groot deel van die Britse bevolking toon ook simpatie met hierdie uitsonderlike liefdesverhaal.

In die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) word Edward as die goewerneur van die Bahamas aangestel. Gerugte doen die ronde dat hy en sy hertogin Nazi-simpatiseerders is.

Hulle twee is woelig in sosiale kringe en lei ná die oorlog ’n taamlike stralerjakkerlewe.

In die 1950’s en ’60’s is hulle bekende gesigte op plesiervaarte tussen Europa en Amerika.

Stories leef voort

Ná sy dood op 77-jarige ouderdom in Parys aan kanker, word Edward met volle eerbewys in die koninklike begraafplaas Frogmore, by die Windsor-kasteel naby Londen, begrawe.

By haar aankoms op die Londense lughawe vir die begrafnisontvang lord Mountbatten Wallis as verteenwoordiger van koningin Elizabeth en gaan sy in Buckingham-paleis tuis. Die hertogin onttrek haar aan die openbare lewe, word uiteindelik die slagoffer van demensie en sterf in 1986 in Frankryk. Sy word by haar man begrawe.

In die Britse geskiedenis bly Wallis ’n hoogs omstrede figuur, met talle bespiegelinge en stories oor haar private lewe.

  • Hannes Haasbroek is ’n historikus by die Nasionale Museum in Bloemfontein.

Meer oor:  Geskiedenis  |  Koninklikes  |  Aktueel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.