Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Menseslagting uit ander hoek beskou

Moet die Bulhoek-slagting, waartydens Jan Smuts se regering meer as 150 lede van ’n messiaanse sekte afgemaai het, bloot onthou word as ’n ongevoelige wit regering wat onskuldige swart mense afgemaai het, vra Rodney Warwick.

Die polisieoffisiere wat in bevel was tydens die gebeure by Bulhoek in die Oos-Kaap op 24 Mei 1921, môre ’n eeu gelede.

Die wyse waarop ’n groot polisiekontingent lede van ’n Xhosa-sekte in die Oos-Kaap op 24 Mei 1921 (môre presies ’n eeu gelede) afgemaai het, was die wrede hoogtepunt van die regering van genl. Jan Smuts se stryd teen ’n groep swart Christene se minagting vir sy regering.

In die verwoestende finale tonele van ’n konflik wat toe reeds maande lank geborrel het, is minstens 163 lede van die selfverklaarde profeet Enoch Mgijima dood en talle meer gewond.

Die Israelitiese gewondes wat nie in die beperkte fasiliteite in Queenstown gehospitaliseer kon word nie, is na hospitale in Wynberg en Roberts Heights, onderskeidelik in Kaapstad en Pretoria, oorgeplaas.

Die vermelde sterftesyfers is sekerlik onbetroubaar en daar was waarskynlik baie meer.

Maar soos dikwels die geval, was die gebeure by Bulhoek (deesdae deel van Whittlesea, 37 km suidwes van Queenstown) nie ’n eenvoudige swart-en-wit-saak nie. Daar is min twyfel dat die Israeliete goed bewapen was. Bo en behalwe knopkieries het hulle ook ’n arsenaal swaarde, spiese en militêre bajonette gehad – wapens wat hulle op onverskrokke wyse gebruik het teen die linies polisiemanne wat met .303-gewere bewapen was. Hulle het selfs ’n Maxim-masjiengeweerstelling wat strategies op ’n lae koppie geleë was, aangeval – ’n wapen wat gelei het tot die meeste ongevalle onder die Israeliete.

Historici moet dit opnuut ondersoek.

Altesaam 800 polisiemanne het aan die geveg deelgeneem, verdeel in twee berede regimente – ses eskaders – onderverdeel in pelotons. Nadat hulle hul perde agtergelaat het, het hulle met bajonette in gereedheid die Israeliete se nedersetting uit verskeie rigtings genader. Die hele polisielinie, van wes na oos en dan skerp noordnoordoos was sowat vier kilometer lank.

Die polisiemanne het tot op die laaste oomblik nog probeer onderhandel, maar die afgevaardigdes van Mgijima het hulle ingelig oor die Israeliete se voorneme om te veg omdat “Jehovah nie sal toelaat dat ons hutte verbrand word, ons volk verdryf en ons manne in hegtenis geneem word nie”.

Die gevegte het begin toe lt. E.J. Brinton, wie se peloton naby die middel van die linie ontplooi was, ’n enkele sarsie skote afgevuur het die oomblik toe die Israeliete se stormloop begin het – soos wat hy vooraf opdrag gegee is om te doen. Die polisie het later berig dat hierdie aanvanklike fusillade die Israeliete aangespoor het om alle polisiestellings gelyk te bestorm.

Die afgelope paar jaar reeds word die gebeure by Bulhoek – met minimale histories ontleding – getipeer as niks anders as ’n bloedbad waartydens ’n wit regering losgebrand het op hulpelose swart slagoffers nie. (Natuurlik moet mens dit kontrasteer met die dominante weergawe van vroeër dekades. In dié weergawe is Mgijima se volgelinge afgemaak as reddelose godsdienstige fanatici wat die polisie met geen ander keuse gelaat het nie).

Maar nou, met die eeufeesvieringe, behoort dit verantwoordelike historici se plig te wees om die gebeure opnuut te ondersoek en beoordeel – ongeag waarheen hul gevolgtrekkings hulle mag lei.

Biskop Enoch Mgijima, die leier van die Israeliete.

Die voorsittende beampte van die regterlike kommissie wat die slagting destyds ondersoek het, regter-president sir Thomas Graham, het uiteindelik die owerhede van alle blaam onthef en bevind dat die Israelitiese beweging baie meer anti-wit as godsdienstig was – ongetwyfeld gedeeltelik bevestig deur Mgijima se rasse-teologie.

’n Ingeligte moderne herondersoek van gebeure lê egter ’n boeiende en herhalende historiese tema bloot: Die voorkoms van onafhanklike swart Christelike genootskappe wat verskillende grade van ’n teologie van die eindtyd (of millennialisme) aanhang en die verreikende invloed wat dit op hul volgelinge het. (Hiervan is die profetes Nongqawuse en die Xhosa-veeslagting van die 1850’s natuurlik die bekendste voorbeeld).

Gedurende die 1920’s van die vorige eeu en daarna het soortgelyke onafhanklike swart Judaïes-Christelike sektes dikwels hul teologie verpak na aanleiding van sosiopolitieke behoeftes, griewe en verwagtinge van hul volgelinge. Mgijima se Israeliete is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Sy kudde het so volslae opgegaan in sy millennialistiese leerstellings dat die Israeliete op vreeslose wyse die keuse gemaak het om die polisie gewelddadig te konfronteer.

Hulle was God se uitverkorenes wat die einde van die wêreld in die gees van Matt. 24:6 afgewag het: “Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.”

Polisiemanne keer lede van die sekte aan ná die skietery.

Maar wie was hierdie profeet wat soveel invloed op sy volgelinge kon uitoefen? Mgijima, vermoedelik in 1868 gebore, was ’n Xhosa wat herkoms en taal betref, maar heeltemal onder die invloed van ’n godsdienstige geloof onderworpe aan sy eie leerstellings. Sy hipnotiese charisma het hy gebruik om ’n skynbaar volledige beheer oor sy volgelinge te verkry.

Mgijima se kerk kan sy ontstaan terugvoer na die Metodiste-prediker John Msikinya, oorspronklik van Fort Beaufort; wat in 1908 op ’n opvoedkundige toer na Amerika is op kerk-onkoste. Daar het Msikinya met die leerstellings van die voormalige slaaf en veteraan van die Amerikaanse Burgeroorlog William Crowdy te doen gekry. Crowdy het deur visioene tot die gevolgtrekking gekom dat swart mense die afstammelinge van Israel se tien verlore stamme was, idees gegrond in sy wrede slawe-opvoeding en die gewelddadige Amerikaanse rasseverhoudinge.

Crowdy het reeds teen 1905 sendelinge na Suid-Afrika gestuur, ’n land wat hy waarskynlik besef het ’n vrugbare teelaarde vir sy teologie is weens Suid-Afrika se eeuelange geskiedenis van verdrukking.

Teen die tyd dat Msikinya na die Oos-Kaap teruggekeer het, het Crowdy hom reeds tot biskop van sy kerk verhef. Msikinya se pogings om bekeerlinge te werf is egter – met die uitsondering van ’n enkele streek in die Queenstown-distrik – deur onmiddellike, dikwels gewelddadige reaksies van die lang gevestigde swart kerkgemeenskappe begroet.

Met die dood van Msikinya in 1914 het ’n ander Metodiste-volgeling, Mgijima, destyds ’n betreklik welvarende grondeienaar op Bulhoek, die bisdom aanvaar.

’n Gedenksteen vir dié wat gesterf het tydens die Bulhoek-slagting.

Mgijima het ná die dood van sy voorganger homself bitter vinnig en met beduidende steun van die gemeente as ’n “profeet” hervestig. Dit is geregverdig deur sy eie aansprake op ryk, simboliese visioene en besoeke van engele wat hom ingelig gehou het oor ’n apokaliptiese einde. Sy voortdurende ontmoetings met God het ’n ontstellende wending geneem toe hy met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 die ondergang van alle wit mense, ook in Suid-Afrika, voorspel het.

Hierdie duidelike teologiese verskuiwing en toon was genoeg om die Amerikaanse moederkerk genoegsaam te ontstel om Mgijima in die ban te doen. Hierop het die Suid-Afrikaanse kerk eenvoudig verdeel met Mgijima aan die hoof van die “nie-amptelike gedeelte” terwyl hy sy aanhang suksesvol vermeerder het.

Die sekte van Mgijima het daarna iets van ’n Joodse teologiese gedaante aangeneem. Christus is verlaag tot ’n belangrike, maar swart profeet. Ook Ou Testamentiese rituele is ingevoer – waaronder die oprigting van ’n tabernakel, ’n tent met houtbankies rondom Mgijima se troon, ’n verhoogde stoel met ’n arm- en voetrus waarop die biskop in ’n goue skarlakenrooi mantel, ’n hooftooisel van fluweel en goue kant en ’n houtkruis gesit het.

Die term “Israeliete” vir Mgijima se aanhangers was uiteraard direk gekoppel aan die Bybelse Hebreërs se status as “God se uitverkorenes”.

Mgijima en sy volgelinge se lang, smeulende geskille met die regering (en wat uiteindelik tot die slagting gelei het) was velerlei: Eerstens was daar sy oortreding van ’n legio wette wat plakkery verbied deur ’n toenemende aantal nuwe Israeliete wat van oor die Unie heen na sy Bulhoek-tabernakel verhuis het. Die Israeliete het die verhuising geregverdig deur die feit dat daar van die volgelinge verwag is om elke jaar gedurende die Pase ’n pelgrimstog na die tabernakel te onderneem – waarna hulle agtergebly het en vir hulself hutte opgerig het.

Die proses is verder aangespoor deur Mgijima se leer dat slegs volgelinge wat op die heilige grond by Bulhoek woonagtig is tydens die vernietigende wegraping op redding kan staatmaak. Die toeloop van mense is gelei deur klagtes van ander inwoners wat ontevrede was oor onder meer veediefstal – klagtes wat die owerheid gebruik het as bewys van die risiko’s wat die Israeliete vir stabiliteit in die streek inhou.

Vir die owerhede het die finale provokasie op 8 Desember 1920 begin nadat ongeveer 100 polisielede gestuur is om die Israeliete se onderdanigheid te verseker. Hierdie polisiekontingent het kamp opgeslaan binne ’n kilometer van Mgijima se nedersetting. In reaksie daarop het talle gewapende Israeliete hulle slegs 25 meter van die polisiekamp gaan vestig en daardie nag die mag direk gekonfronteer.

Die volgende jaar, twee maande ná die skietvoorval, skryf polisiemanne, ongelukkig met die openbare kritiek oor die slagting, dat dit maklik is om kritiek uit te spreek oor die optrede van die regering, maar dat net diegene wat in aanraking gekom het met die Israeliete enige idee kan hê van die “aggressiewe, gevaarlike en beledigende optrede” van hierdie fanatici.

“Hoe maklik is dit om groot woorde te gebruik en te kritiseer vanuit die gemak van jou leunstoel. Maar hoe moeilik om op gespoeg te word (met) ’n swaard binne sentimeters van jou maag.”

Ná die dreigende gedrag van die Israeliete het die polisie onttrek, maar die gevolg was dat die indruk van die ekstreme Israelitiese dreigemente verder versterk is deur die blatante oneerbiedigheid van swart mense wat wit mense uitdaag en bespot – en dit boonop polisiemanne.

Net soos Sharpeville plaasgevind het teen die agtergrond van nege swart en wit polisiemanne wat kort tevore by Cato Manor dood is, het Bulhoek ’n lang, donker voorspel gehad wat die owerhede betref: minagting vir die wet, deurlopende dubbelpraatjies deur Mgijima en sy luitenante in samesprekings met verteenwoordigers van Naturelle-aangeleenthede, die regbank en polisie, en dan uiteindelik aggressie, beledigings en dreigemente van geweld.

In ’n Shakespeariaanse idioom het dit sekerlik vanuit sekere oogpunte gelyk “as if time is out of joint”.

’n Inwoner van Transkei, ene Wellington Buthelezi, het verdere onrustigheid veroorsaak deur te profeteer dat Amerikaanse Negers met vliegtuie na Afrika sal kom om die swart mense te bevry. Mgijima se Israelitiese sekte was dus beswaarlik alleen in hul fanatiese teologiese aansprake.

Teen hierdie tyd was daar ongeveer 160 ander swart godsdienstige sektes – almal bestaande uit “uitverkorenes” wat buite die tradisionele kerklike beheer staan.

Wanneer Bulhoek, Sharpeville en Marikana vergelyk word – verskillende polisie-massa-skietvoorvalle uit verskillende eras en met heeltemal verskillende polisieprofiele, is daar telkens ooreenkomste: ’n Manifestasie van sekere aannames oor politieke en staatsmag, tesame met ’n rasse-, klasse-, of beroepsolidariteit onder die ontevredenes met aan die ander kant ’n kombinasie van polisievrese en -motivering.

Die polisie by Bulhoek was oorweldigend Engelse Suid-Afrikaners; hul offisiere feitlik uitsluitlik so; baie ook veterane van die Eerste Wêreldoorlog.

Die Sharpeville-skieters was meestal wit Afrikaners – baie jonk en gebore te midde van ’n onstuimige politieke stryd tussen wit Suid-Afrikaners, waar vrees, wantroue en die verwerping van swart politieke eise dikwels die enigste algemene punt was waaroor wit Engelse én Afrikaners saamgestem het.

Die Marikana-polisieoffisiere was byna uitsluitlik swart Afrikane – beeldmateriaal wys ’n baie klein groepie wit lede. Die bevelvoerders en hul politieke base was swart en die politieke mag van die ANC reeds goed gevestig – al het baie van die polisiemanne ook gedurende die onstuimige laaste jare van die bewind van die Nasionale Party grootgeword.

Oor dekades heen het polisiemanne van verskillende tale en kulture onder verskillende wit en swart regerings, wat voor provokasie te staan gekom het (of dalk nie?), dus presies dieselfde gereageer.

En hier is die ander vreemde verskynsel: Te midde van die staat se dogmatiese reaksie dat die Israeliete moes oppak en terugkeer na waarvandaan hulle gekom het, het die regstelsel en die regering egter voortgegaan (om binne historiese kontekstuele beperkings) mense gelyk voor die reg te handel. So is ’n wit boer en sy wit werknemer wat twee Israeliete op sy plaas geskiet het, tereggestel. Verteenwoor­digers van die regering het benadruk dat hulle letterlik jare lank op volgehoue wyse probeer het om Mgijima te oorreed om die wet te gehoorsaam.

So, waar is die sogenaamde objektiewe historiese antwoorde te midde van die kruisings tussen politieke mag, ras, godsdiens en die vasberadenheid van mense om ordelike samelewings te vorm en te beskerm, maar om ook onderdrukking te weerstaan?

*Dr. Rodney Warwick is ’n historikus aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Jan Smuts  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.