Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Nee vir meerledige kiesstelsel

Kiesafdelings gaan nie die probleem van onaanspreeklike parlementslede oplos nie,  voer Pieter Groenewald aan.

Nelson Mandela stem in Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing. Foto: Louise Gubb

Die voormalige NP-onderhandelaar Roelf Meyer het pas ’n verslag die lig laat sien waarin hy aanvoer dat die ou kiesafdelingstelsel weer ingestel moet word.

Meyer se voorstelle volg op ’n uitspraak van die konstitusionele hof dat dit vir onafhanklike kandidate moontlik gemaak moet word om aan verkiesings op provinsiale en nasionale vlak deel te neem.

Kiesers moet hulle nie laat mislei om te dink kiesafdelings gaan kiesers meer mag gee oor wie hul kandidate gaan wees in ’n verkiesing nie. Kandidate word nie aangewys deur kiesers nie, maar deur politieke partye of deur individue self wat as onafhanklike kandidaat hom/haarself beskikbaar stel as kandidaat. Kiesers besluit wel vir watter kandidaat hulle wil stem en die kandidaat met die meeste stemme word dan verkies.

Wanneer ’n kandidaat verkies is, dan is hy/sy in Suid-Afrika gekies vir ’n termyn van vyf jaar, of dit nou ’n onafhanklike kandidaat is of nie. Kiesers kry nie die mag om in dié vyf jaar van ’n gekose verteenwoordiger wat nie die werk doen nie, ontslae te raak nie. Dit kan eers by die volgende verkiesing, soos tans, gebeur.

’n Suiwer enkellid-kiesafdeling-meerderheidkiesstelsel in Suid-Afrika, soos voor 1994, sal baie nadelig wees deurdat dit die ANC ’n nog groter meerderheid in die parlement sal gee. In die verslag van die taakspan na die Suid-Afrikaanse kiesstelsel (2003), wat onder leiding van dr. Frederik Van Zyl Slabbert voltooi is, word gestel dat hierdie kiesstelsel die grootste party (ANC) tot ’n 80% meerderheid sal kan besorg.

Die grootste nadeel van die kiesafdelingkiesstelsel is dat dit disproporsionele uitslae in verkiesings lewer wat kan veroorsaak dat ’n party, soos die ANC, wat selfs die minderheid stemme in ’n verkiesing gekry het, steeds kan regeer. In Suid-Afrika was daar vier verkiesings (1910, 1929, 1948 en 1953) waar die regerende party meer setels (kiesafdelings), maar minder stemme gekry het in ’n verkiesing as die amptelike opposisieparty. Dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie en soortgelyke uitslae is al verkry in lande soos onder meer Brittanje, Kanada en Lesotho.

Die grootste kritiek is dat kiesers nie die LP’s aanwys nie.

In dieselfde verslag van die taakspan word dit wel gemeld dat hierdie kiesafdelingkiesstelsel wel onafhanklike kandidate op al drie vlakke van die regering moontlik maak, maar dit ook gunstig maak vir verteenwoordigers om te kan oorloop na ander politieke partye toe. Dit beteken dat selfs ’n onafhanklike kandidaat wat verkies is, in die vyfjaartydperk selfs kan oorloop en aansluit by ’n politieke party.

Die grootste kritiek teen die huidige proporsionele kiesstelsel is dat kiesers nie die LP’s aanwys nie en LP’s derhalwe nie verantwoordbaar is teenoor die kiesers nie en dat daar gebrekkige kontak is tussen die verteenwoordigers (LP’s) in die Nasionale Vergadering (parlement) en die kiesers.

Die werklikheid is dat kiesstelsels nie die mate van verantwoording van LP’s kan verseker nie. Van Zyl Slabbert se taakspan het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Dit beteken die blote verandering van die kiesstelsel sal nie meer verantwoording van LP’s teenoor kiesers verseker nie. Verantwoording word verseker deur die interne reëls en dissipline van die LP’s se politieke partye. Kiesstelsels se bydrae tot verantwoording van LP’s is om te verseker dat kiesers by ’n volgende verkiesing ’n keuse het tussen meer as een kandidaat of politieke party. Dit is ook nie kiesstelsels wat kandidate in ’n verkiesing aanwys nie, maar die onderskeie politieke partye. In enige aanwysing van kandidate sal die leierskorps en partyburokrasie ’n bepaalde rol speel, ongeag die tipe kiesstelsel.

In ’n verslag van Steven Friedman met die titel “The System’s Not to Blame? Electoral Systems, Power and Accountability”, verwys hy na verantwoordbaarheid deur geografiese (kiesafdelings) verteenwoordiging op munisipale vlak waar kiesers stem vir ’n spesifieke wykskandidaat.

In die 2016- munisipale verkiesing was daar 4 392 wyke wat beskou kan word as kiesafdelings. Friedman se gevolgtrekking was dat dit nie verantwoordbaarheid verbeter het nie en dit is te bevraagteken of aanvaar kan word dat verantwoordbaarheid doeltreffender op provinsiale of nasionale vlak sal geskied as dit nie op munisipale vlak slaag nie.

Die vraag is wat is die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika om vir die konstitusionele hof se uitspraak dat onafhanklike kandidate ook op provinsiale en nasionale vlak moet kan staan, voorsiening te maak? Moderne demokrasieë het ’n groot verskeidenheid kiesstelsels wat toegepas word. Daar is breedweg drie hoofgroepe kiesstelsels, naamlik meerderheid (bv. die kiesafdelingkiesstelsel), gemengde en proporsionele kiesstelsels.

Eenstemmigheid bestaan dat daar nie ? enkele beste kiesstelsel is wat deur alle lande toegepas kan word nie omdat elke land sy eiesoortige omstandighede het wat verreken moet word by die keuse van die geskikste kiesstelsel. So het Suid-Afrika ook eiesoortige omstandighede, veral wat betref die historiese verlede en stemreg in die verlede.

Daar word gewoonlik tien vereistes gestel waaraan ’n kiesstelsel moet voldoen om demokrasie te bevorder en legitimiteit aan die parlement te verseker. Hierdie vereistes behels dat kiesstelsels breë verteenwoordiging, toeganklike en betekenisvolle verkiesings, versoening, stabiele en bekwame regering, verantwoordbaarheid van die regering, verantwoording van verteenwoordigers, bevordering van politieke partye, opposisie en toesig, volhoubaarheid van die verkiesingsproses en internasionale standaarde moet bevorder en verseker. Verantwoording van LP’s teenoor die kiesers is dus een van tien vereistes.

Dit is belangrik dat die genoemde vereistes beoordeel moet word binne die historiese omstandighede van Suid-Afrika van verdeeldheid, konflik, rassehaat, opstande en agterdog tussen rasse onderling en verreken moet word. Dit is dus belangrik dat versoening bereik moet word. Om hierdie rede bepaal die Grondwet in art. 46 en 105 dat die kiesstelsel, in die algemeen, proporsionele verteenwoordiging moet verseker.

Tans geld die proporsionele kiesstelsel op provinsiale en nasionale vlak en slegs politieke partye kan deelneem aan verkiesings en maak nie voorsiening vir onafhanklike kandidate nie. Op munisipale regeringsvlak geld die gemengde kiesstelsel waar verteenwoordigers proporsioneel en in wyke verkies word tot ’n stads- of metroraad.

Dit is belangrik dat die gemengde kiesstelsel gegrond is op die 50:50-beginsel waar 50% van verteenwoordigers in die rade deur wyke en 50% proporsioneel verkies word. Hierdie gemengde kiesstelsel op plaaslike vlak maak voorsiening vir onafhanklike kandidate om in wyke te kan deelneem en verkies te word.

Wetgewing bepaal tans dat op nasionale vlak waar die Nasionale Vergadering uit 400 lede bestaan, 200 lede deur provisies verkies word en 200 lede suiwer proporsioneel. Die Verkiesingskommissie bepaal die getal verteenwoordigers uit elke provinsie, gegrond op die getal kiesers in die provinsie, wat deel uitmaak van die 200 lede in die Nasionale Vergadering. Dit is moontlik om die Kieswet so te wysig dat hierdie 200 lede verkies word uit kiesafdelings in elke provinsie.

Dieselfde 50:50-beginsel wat geld op munisipale regeringsvlak kan dan van toepassing gemaak word op provinsiale en nasionale vlak en onafhanklike kandidate kan in kiesafdelings deelneem waar hulle verkies kan word. Hierdeur word dan voldoen aan die konstitusionele hof se uitspraak.

’n Verdere voordeel van hierdie voorstel is dat kiesers reeds vertroud is hoe die kiesstelsel op munisipale regeringsvlak werk en dat die kiesers in die kiesafdeling een gekose lid sal hê. ’n Meerledige kiesafdeling soos voorgestel deur Roelf Meyer is ingewikkelder en as ’n kiesafdeling tot agt verteenwoordigers het, vervaag die argument van verantwoordbaarheid.

  * Dr. Pieter Groenewald is leier van die Vryheidsfront Plus en het in 2013 sy doktorsgraad aan die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit in politieke studies voltooi. Die titel van sy proefskrif is “Die Suid-Afrikaanse nasionale kiesstelsel – ’n Kritiese ontleding en alternatiewe.”

Meer oor:  Pieter Groenewald  |  Roelf Meyer  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.