Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Nuwe Hoggenheimer?

Soos Hoggenheimer van ouds het die Guptas ’n snaar aangeraak in ’n tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waarin korrupsie hoogty vier, skryf Milton Shain.

Fred Mouton se uitbeelding van die Guptas se mag oor pres. Jacob Zuma wat verlede maand verskyn het.

Gaan “Gupta” nou in die Suid-Afrikaanse woordeskat ’n spreek­woordelike verwysing na finansiële en korporatiewe intrige word?

Hierdie van het gewis landwyd sinoniem geword met machiavelliaanse sake-konkelary.

Die EFF het dit met “Zuma” gekombineer om die samestelling “Zupta” te skep.

Die Guptas is tans daagliks in die nuus. Mcebisi Jonas, die adjunkminister van finansies, het byvoorbeeld onlangs ’n knuppel in die hoenderhok gegooi deur te beweer dat dié familie hom die pos van minister van finansies aangebied het kort voordat Nhlanhla Nene uitgeskop is.

Die kollig op hierdie familielede en hul bedenklike verhouding met pres. Jacob Zuma sal beslis verskerp namate die plaaslike-regering-verkiesings naderkom.

Die Guptas se verdagte saketransaksies en klaarblyklike mag bied, tesame met Nkandla, skietgoed aan diegene wat van Zuma ontslae wil raak.

Die storie kry momentum. Die SAKP het aanbeveel dat ’n geregtelike kommissie kwessies met betrekking tot die Guptas se saketransaksies ondersoek, asook dat gekyk word na wat genoem word die “korporatiewe kaping” van die regering deur sakeondernemings.

Ofskoon so ’n ondersoek verder as die familie sal strek, sal die Gupta-naam waarskynlik die simbool van “korporatiewe kaping” bly.

Die laaste keer dat ’n naam so ’n wyer betekenis gekry het, was in die vroeë 20ste eeu met die naam “Hoggenheimer”.

In daardie geval was die naam fiktief. Hy was trouens ’n spotprentkarikatuur in die tradisie van Europese spotprente van die laat 19de eeu toe die wêreldkapitaal in ’n vulgêre, opgeblase karikatuur met ’n Semitiese voorkoms verpersoonlik is.

In Suid-Afrika het Hoggenheimer sy verskyning gemaak toe dit gelyk het of die Witwatersrandse mynmagnate die plaaslike politiek oorheers.

Hoggenheimer op die skouers van generaals J.B.M. Hertzog en Jan Smuts ná die Verenigde Party se oorwinning in die verkiesing van 1938. Dié spotprent deur D.C. Boonzaier het op 23 Mei 1938 in Die Burger verskyn.

In van Heinrich Egersdörfer se “Goldbug”-sketse tot D.C. Boonzaier se spotprente is die oorgewig, ­diamantbedekte mynmagnaat as iemand met buitensporige mag uitgebeeld.

Dit was egter eers ná die Anglo-Boereoorlog dat die spotprentkarikatuur die benaming Hoggenheimer gekry het.

Sy eerste verskyning was op 24 September 1903 in die South African News, ’n Kaapstadse dagblad. Hy het vinnig nasionaal berug geword en is al hoe meer as oordrewe Semities en oorgewig uitgebeeld. Met terugskouing was die kruheid van die karikatuur trouens ’n rowwe maatstaf van die anti-Joodse en anti-kapitalistiese gevoelens in die eerste helfte van die 20ste eeu.

Omdat Boonzaier die spotprenttekenaar was wat vir die Hoggenheimer-karikatuur verantwoordelik was en nagenoeg vier dekades lank ’n verbintenis met dié karikatuur gehad het, is aangeneem dat dit sy skepping was.

Daardie eer kom egter die Engelse dramaturg Owen Hall (’n skuilnaam van James “Jimmy” Davis) toe, wat die Joodse miljoenêr Max Hoggenheimer in sy Weseinde-musiekblyspel The Girl from Kays geskep het. Dit het op 15 November 1902 in die Apollo-teater in Londen geopen.

Hierdie verhaal van ’n danser wat met haar innemende maniere die hart van ’n Amerikaanse miljoenêr gewen het, is 432 keer opgevoer voordat dit na Suid-Afrika gebring is.

Die praatsiek Hoggenheimer het ’n kitsgunsteling by Suid-Afrikaanse teatergangers geword. Volgens oorlewering het die Engelse komediant W.W. Walton met sy uitbeelding van die welgestelde Joodse finansier van Park Lane gehore aan sy voete gehad.

Tien dae nadat The Girl from Kays in die Goeie Hoop-teater in Kaapstad geopen het, het Boonzaier (’n entoesiastiese teaterganger) sy eerste Hoggenheimer-spotprent gepubliseer.

Hy het erkenning aan Hall se skepping verleen deur die woorde “met apologie aan The Girl from Kays” in die onderskrif.

Dan praat ’n mens nie eens van die diepgesetelde vyandigheid jeens Joodse immigrante nie.

Danksy die gereelde publikasie van hierdie spotprente en die opvoering van die toneelstuk in Suid-Afrikaanse stede van September 1903 tot November 1904, het Hoggenheimer vinnig die verpersoonliking van inhalige, selfverrykende wêreldkapitaal geword.

Daarna het hy gereeld in die South African News verskyn en die spotprenttekenaar gevolg toe hy vir The Cape, The Observer, The Cape Argus, De Voorloper, New Nation en Die Burger gewerk het.

Die imperialistiese aard van die Anglo-Boereoorlog, die oënskynlike mag van mynboukapitaal, die infiltrasie van pro-Boer-ideologie vanuit Brittanje se radikale linkse vleuel wat die Anglo-Boereoorlog met Joodse finansiers verbind het, asook die omstrede kwessie van Chinese arbeid het ongetwyfeld berugtheid aan die spotprentkarikatuur besorg.

Dan praat ’n mens nie eens van die diepgesetelde vyandigheid jeens Joodse immigrante nie.

Dit is insiggewend dat joernaliste dieselfde Oos-Europese aksent as dié wat in die spraakborrels van die praatsiek Hoggenheimer verskyn het, gebruik het om die Oos-Europese Joodse immigrante te kleineer.

Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, praat selfs van ’n “nasionale obsessie” oor die Guptas.

Dit is ook noemenswaardig dat “die Jood Hoggenheimer” in die Randse rebellie in 1922 sy verskyning gemaak het in pamflette wat teen die kapitaliste gemik is.

Teen daardie tyd het die roemryke Oppenheimer-naam, wat soos Hoggenheimer geklink het, ongetwyfeld gehelp om die fiktiewe karakter en die impak daarvan te konsolideer en te versterk.

Soos Hoggenheimer het die Guptas ’n snaar aangeraak in ’n tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waarin korrupsie hoogty vier. Daar gaan kwalik ’n dag verby sonder dat na dié Indiese familie verwys word.

Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, praat selfs van ’n “nasionale obsessie” oor die Guptas.

Met Jonas se onthulling het daardie obsessie nuwe hoogtes bereik. Weens endemiese korrupsie en met die aandag stewig op die Guptas gevestig, kan ons seker wees dat dié naam nog dekades lank in die bewussyn van Suid-Afrikaners gegrif sal wees.

Hoggenheimer het ’n opvolger.

Shain is ’n emeritusprofessor in historiese studie aan die Universiteit van Kaapstad. Sy nuutste boek, A Perfect Storm – Antisemitism in South Africa 1930-1948, is verlede jaar deur Jonathan Ball uitgegee.

Meer oor:  Korrupsie  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.