Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Nuwe pandemie kan gevaarliker as Covid-19 wees

Die grootste bedreiging vir Suid-Afrikaners se welsyn en hul veiligheid is nie Covid-19 nie, dis hongersnood. Hoe lank voordat die medisyne (die inperking) die pasiënt doodmaak? Willemien Brümmer stel ondersoek in.

Inwoners van Philippi en Heinz Park het verlede week probeer om ’n vragmotor van ’n kettingwinkelgroep wat in ’n ongeluk betrokke was te plunder. Die polisie het hulle gekeer, waarna hulle na ’n nabygeleë winkelsentrum opgeruk het. Foto: Jaco Marais

“Die mense in Philippi is nie bang vir die virus nie. Die gevaarlikste virus wat hulle nou vrees, is honger.”

Phumzile Ntozini is ’n veldwerker vir die Sustainable Livelihoods Foundation en aanbieder van die Township in Lockdown-podsending wat elke dag sedert die begin van die inperking op dié stigting se webtuiste geplaas word.

Hy verwoord die sentiment van die meerderheid mense in die townships wanneer hy sê: “Ons kan sê die eintlike virus is Covid-20, nie Covid-19 nie, want Covid-19 is daarbuite. Die honger wat aan mense knaag elke sekonde wanneer hulle binne bly, is Covid-20.”

Sy stem is skor. “Namate die tyd aanstap, word die honger erger. Dit eet aan mense se emosies. Dit vreet aan mense se geluk en al wat oorbly, is woede. Dis hoe hierdie honger-virus werk. Die honger-virus gaan ons ses voet onder bêre nog voordat korona selfs begin . . . ”

Phumzile Ntozini is ’n veldwerker van die Sustainable Livelihoods Foundation wat elke dag die podsending, Township in Lockdown aanbied. Foto: Verskaf

Hy sug. “Ja, ek weet die president het onlangs maatreëls aangekondig wat kan help met noodverligting en dit klink goed op die TV, maar die toepassing daarvan neem lank. Dis net ’n kwessie van tyd voordat die townships gaan opruk. Hoe lank kan Philippi hou? Hoe lank kan Khayelitsha en Guguletu hou?”

Die politiek van honger is immers ontembaarder as die politiek van gesondheid. En dit word ook al duideliker dat dit die grootste bedreiging vir Suid-Afrikaners se welsyn – en hul veiligheid – is. Wat die situasie selfs meer plofbaar maak, is die verdere ontplooiing van die volle beskikbare soldatemag van die regering.

Die vraag op almal se lippe is nou: Hoe lank voordat die medisyne (die inperking) die pasiënt doodmaak?

In die onlangse peiling oor die inperking deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) is bevind dat ’n kwart van alle Suid-Afrikaners nie geld vir kos het nie terwyl 45% tot 63% sukkel om hul rekeninge te betaal.

As in ag geneem word dat 30% tot 40% van die inwoners in ons wye en droewe land selfs voor die pandemie snags honger gaan slaap het, is die virus soos ’n soeklig wat die diep foutlyne in ons samelewing belig.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het verlede week tereg opgemerk: “Die virus het honger, armoede, werkloosheid en ongelykheid selfs verder blootgelê.”

Gaan die pandemie ons uitoorlê?

’n Man kyk na kospakkies wat onlangs deur die welsynsorganisasie Gift of the Givers in Athlone, Kaapstad, uitgedeel is. Foto: Jaco Marais

Sowat die helfte van Suid-Afrikaners lewe in elk geval onder die broodlyn – virus of te nie.

Mervyn Abrahams van die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) sê honger en ondervoeding was nog altyd deel van ons samelewing. “Sowat 30% van alle seuns onder vyf ly aan vertraagde groei en ’n kwart van alle meisies jonger as vyf ly daaraan. Wanneer ’n kind se groei belemmer word, het dit ’n impak op hul breinontwikkeling en dit is ’n regstreekse gevolg van ondervoeding.

“Ons gesondheidstatistieke wys ons wat op die borde van Suid-Afrikaners aangaan,” sê hy.

Mervyn Abrahams is die programkoördineerder van Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity wat maandeliks die pryse monitor van kosmandjies wat deur arm gesinne aangekoop word. Foto: Verskaf

Die ander skrikwekkende syfer is die hoë voorkoms van nie-oordraagbare siektes (soos diabetes) wat ’n belangrike oorsaak van sterftes is, veral onder swart vroue.

“Dis ook weens chroniese ondervoeding,” sê Abrahams. “Die virus het alles vererger. In arm huishoudings sou kos voorheen tussen twee tot drie weke gehou het, waarvan die laaste week broekskeur was. Maar noudat almal tuis is, hou daai kos op die meeste twee weke.”

Die ander probleem is natuurlik dat ons immuunstelsels beïnvloed word deur wat ons eet. En hoe ongesonder (en hoe minder) ons eet, hoe kleiner is ons weerstand teen Covid-19.

Die PMBEJD stel elke maand ’n voedselprys-barometer op. Dié kosmandjie sluit 38 verskillende kossoorte in – die soort wat arm vroue tipies elke maand in die goedkoopste supermarkte en slaghuise sou koop. Dié kossoorte is nie genoeg nie, en nog minder is dit deel van ’n heilsame dieet. Tog kos so ’n mandjie tans R3 473 per maand vir ’n huishouding van sewe.

Die afgelope twee maande (vanaf 2 Maart tot 23 April) het die koste met R252,75 gestyg. Selfs stapelvoedsel soos brood, rys en kool het drasties duurder geraak.

Abrahams sug. “Kinders word hongerder en vir elke kind wat honger is, moet ons weet vroue is selfs hongerder, want hulle offer hul eie behoeftes op vir hul gesinne.”

Dit was voor die inperking reeds moeilik om so ’n kosmandjie te bekostig.

“As jy in gedagte hou dat die minimum loon vir ’n algemene werker R20,76 per uur is, is so ’n mens se inkomste R3 155 per maand. So selfs wanneer mense ’n salaris verdien, kan hulle dit nie alles aan kos spandeer nie. Suid-Afrika is dus vasgevang in ’n baie lae besoldigingsmodel en die resultaat is dat dit talle gesondheids- en maatskaplike probleme veroorsaak,” sê Abrahams.

“En nou het baie mense reeds hul inkomste verloor en in die toekoms sal ons groter werkloosheid sien. Selfs met die verhoogde welsyntoelaes wat die president aangekondig het, is hierdie toelaes steeds baie laag en nie werklik ’n veiligheidsnet nie.”

’n Verdere probleem is dat die meeste Suid-Afrikaners in hierdie krisistyd selfs ongesonder eet. Uit ’n studie deur PMBEJD, “Observations from the supermarket floor”, koop arm vroue tydens die inperking meer stapelvoedsel soos mieliemeel, rys en suikerbone. Hulle koop ook meer eiers (in plaas van vleis) en meer blikkieskos, seep en Jik. Hul beursies is egter leër – wat beteken vleis, groente en suiwelprodukte bly op die winkelrakke.

Weens die beperking op openbare vervoer en die lang toue buite die winkels (van die vroue moet tot ses uur lank toustaan en dan word hulle slegs 20 minute binne die winkel toegelaat) gaan hulle ook minder as voorheen winkel toe. Dit beteken dat die kosmandjie selfs duurder en ongesonder en kleiner as voorheen is.

Boonop het die prys van vars groente sedert Maart aansienlik gestyg en dit is nou in die meeste gevalle vir dié vroue onbekostigbaar.

“Dit maak ons ontsettend vatbaar vir siektes,” sê Abrahams. “Ons sê dit al jare, maar dit is moeilik om te dink dat hierdie pandemie ons nie gaan uitoorlê nie. Ons is in die nood! Dit is van kritieke belang dat huishoudings wat ekstra hulp benodig om voedsame kos te koop dit deur kontant of kospakkies kry. Hierdie ingrypings sal in die komende weke selfs dringender word.”

Die informele sektor

Die boodskap op dié plakkate in Kaapstad kon nie duideliker wees nie. Foto: Jaco Marais

Die groot vraag is natuurlik of die staat pres. Cyril Ramaphosa se lofwaardige planne kan implementeer.

Die probleem is nie dat daar nie kos is nie. Die probleem is dat mense nie toegang tot hierdie kospotte het nie. Nie net het Suid-Afrikaners minder geld nie, sowat 30% van alle kosprodukte word in die informele sektor verkoop – veral in dié gebiede waar mense die weerloosste is.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, het onlangs aan Rapport gesê die huidige regulasies het oneindige probleme geskep om kos by die armes te kry.

Die polisie moes oorreed word om 'bakkiehandelaars' toe te laat om kos op markte te koop en in townships en landelike gebiede te versprei.

Volgens hom was daar ’n geweldige afname in die verkope van sekere vleisprodukte, groente en vrugte omdat die informele sektor tot ’n groot mate steeds gekeer word om kos onder die armes te versprei. Die voedselverskaffingsketting is ook onnodig onderbreek omdat die polisie “oop” markte en veeveilings gekeer en informele handelaars verbied het.

Die polisie moes oorreed word om “bakkiehandelaars” toe te laat om kos op markte te koop en in townships en landelike gebiede te versprei.

Straatverkopers moes ook sedert die inperking registreer om groente en vrugte op sypaadjies te mag verkoop.

“Hoe moet hulle by munisipale kantore uitkom om te registreer as daar nie eens vir hulle openbare vervoer beskikbaar is nie? Ek meen tot 50% van die armes het weens die inperkings nie toegang tot kos nie,” het Purchase gesê.

Dr. Andrew Charman is die mededirekteur van die Sustainable Livelihoods Foundation. Foto: Verskaf

Dr. Andrew Charman, mede-direkteur van die Sustainable Livelihoods Foundation, sê omdat die township-ekonomie tot dusver vir alle praktiese doeleindes gesluit was, is daar talle struikelblokke om net by ’n winkel uit te kom.

“Die hele inkopie-ervaring is verleng, spaza-winkels is nie meer tot so laat oop nie en baie straatverkope is gestaak. Die straatverkope is afhanklik van openbare vervoer en dis altyd gekonsentreerd in gebiede waar baie voetgangers is maar die inperking voorkom daardie verkeer van voete.”

Charman sê die munisipale permitstelsel vir smouse werk in party dele beter as in ander. “Geen munisipaliteit in die land het tot dusver nog werklik die formalisering van straatverkope aanvaar nie en hulle het nog nooit werklik gedink oor wat ’n geskikte permitstelsel sou wees nie, so dis effens belaglik.”

Prof. Scott Drimie, direkteur van die Southern Africa Food Lab. Foto: Verskaf

Prof. Scott Drimie, die direkteur van die Southern Africa Food Lab, sê die probleem is dat die inperking van Pretoria kom, en dat dit na provinsies, dorpe en stede afgewentel word. Die uitdaging lê dikwels by die interpretasie van die regulasies.

“Aanvanklik het dit beteken dat baie smouse en spazas eintlik nie kon sake doen nie, en toe, deur ’n proses van onderhandeling het baie van die sektore stadigaan oopgemaak. So daar is ’n verbetering, maar dikwels in plekke waar aktiewe gesprekvoering is oor wat die regulasies behels. Die stad Kaapstad het byvoorbeeld aktief deelgeneem aan die proses maar in gebiede soos eThekwini (Durban) was dit ’n baie groter stryd en dit hang dikwels af van hoe flink die raadslede is.”

Volgens Charman is sowat 80% van die spaza-winkels in die besit van buitelanders, en heelparty van hierdie winkels word geplunder – byvoorbeeld in Delft en Philippi.

“Dis deels ’n misdadige element maar ook frustrasie omdat die meeste plaaslike ondernemings gesluit is. Dit kom dus ook neer op politieke frustrasie.”

Hy sê nog ’n probleem in ’n koskrisis is dat mense hul bates vinniger uitput. “Mense se spaargeld is dikwels die beginpunt. En hulle soek lenings waar hulle ook al kan. Party van die geldskieters het nou hul rentekoerse tot 70% verhoog. Die normale koers is 50% per maand, maar nou moet jy R170 terugbetaal as jy R100 leen.”

Die politiek van kos

Die 83-jarife Mncedi Dudumahne wag geduldig vir sy Sassa-uitbetaling in Kraaifontein. Foto: Jaco Marais

Voedselhulp klink in beginsel goed . . . Máár as jy in gedagte hou dat die departement van maatskaplike ontwikkeling tot dusver meestal drooggemaak het met die verspreiding van die kospakkies, is dit nie ’n volhoubare oplossing nie.

“Ons ervaring is dat dit ’n lang tyd gaan neem om die logistiek van groter voedselhulp en toelaes op te skerp en die sukses wissel van plek tot plek. Jy sal hierdie uitdagings te bowe kan kom op een plek maar nie op ’n ander nie,” sê Drimie.

Tot dusver was die hulp van die burgerlike samelewing en van nie-regeringsorganisasies ongeëwenaard. “Die staat behoort regtig te dink oor hoe hy met hierdie organisasies saamwerk en hulle veral gedurende die wintermaande geld te gee,” sê Drimie.

Selfs in die Wes-Kaap was die voedselhulp van die regering tot dusver skokkend min.

Charman stem saam. “Die reaksie in die land was tot dusver baie goed, maar die band tussen die regering en die burgerlike samelewing was nog nooit goed nie – dis probleem nommer een. Die tweede probleem is dat daar tans so baie inisiatiewe is dat dit nie duidelik is wie wat waar doen nie.”

Selfs in die Wes-Kaap was die voedselhulp van die regering tot dusver skokkend min. Vrydag het die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die provinsie, Sharna Fernandez, gesê dié departement het slegs 50 000 kospakkies tot sy beskikking gehad om weerlose mense oor die provinsie tydens die inperking van 35 dae te help.

Luidens ’n voorlegging het dié departement se 92 gemeenskapsgebaseerde voedingskemas nog net 12 084 weerlose mense tydens die inperking met kos gehelp.

Henry de Grass, waarnemende uitvoerende streekbestuurder van Sassa, het gesê dié agentskap sou vandeesweek slegs 3 128 kospakkies oor die hele Wes-Kaap aflewer.

Henriette Abrahams, ‘n aktivis van Bonteheuwel en ’n voorvatter in die Bonteheuwel Covid Response Team, help al sedert voor die inperking om kospakkies onder inwoners te versprei. Foto: Verskaf

Henriette Abrahams, ’n aktivis van Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte en ’n voorvatter in die Bonteheuwel Covid Response Team, weet nie van enige regeringsinstansies wat tot dusver hier kos uitgedeel het nie.

“Die wyksraadslid Angus McKenzie het verlede week water en mieliemeel uitgedeel, maar dis al waarvan ek weet en dit was deel van ’n skenking deur die Bangladesjers. Hul verskoning is dat Sassa nasionaal nog nie vir sy takke in die provinsie geld gegee het vir kospakkies nie, en daarom het hulle nog nie kospakkies uitgedeel nie.”

Sy sug. “So hulle speel maar almal politiek en daar is politiek in kos en diegene wat die kos het, het die mag.”

Sy en haar span het reeds voor die inperking begin om kos, maskers en handskoene uit te deel met geld wat hulle in die gemeenskap ingesamel het.

“Die mense wat voorheen te trots of te skaam was om hulp te vra, smeek ons nou om hulp. Ons is by die punt waar ons moet vra wie die behoeftigste is, en dis die hartseer ding. Mense kom na my huis en sê hulle het nog nie ’n kospakkie gekry nie, en dan moet jy aan hulle verduidelik hoe ons kies wie kos kry en hoe ons die een week die een gesin moet oorslaan om vir ’n ander te gee.”

Annie le Roux, ’n kunstenaar van Plettenbergbaai wat betrokke is by die People of Love-voedselhulpskema in Kranshoek, sê hulle het sedert die begin van die inperking elke dag meer as 400 kinders en bejaardes kosgegee.

“Die regering het nog net 350 kospakkies uitgedeel in hierdie township van meer as 10 000 mense. Ek sê nie hulle wil nie, ek sê net hulle kan nie. Daar is nie ’n goeie infrastruktuur nie en daar is te veel rompslomp. Soveel vorms moet ingevul word voordat iemand ’n pakkie kan kry. Die private mense wat ’n plan maak, werk baie vinniger as die regering se planne.”

Sy glimlag. “Niemand het geweet dit sou so rof raak so vinnig nie, maar ek is darem nou al vuurfiks. Aan die begin was dit net ’n uur of twee, en nou is ons elke dag van eenuur tot sesuur daar.

“Sedert die begin van die inperking het meer en meer kinders net elke dag gekom en hulle het al hoe slegter gelyk. Jy sien ál minder emosies op hul gesiggies en dis asof hulle banger en meer getraumatiseerd is.”

Terug na die voortyd

Só lyk die kospakkies wat People of Love by die mense van Kranshoek aflewer. Die pakkies word danksy die finansiële hulp van private mense en skenkings deur boere moontlik gemaak. Foto: Verskaf

Kospakkies en sopkombuise is egter nie ’n volhoubare oplossing nie. Die belangrikste manier waarop mense kos in hul mae kry, is deur winkel toe te gaan en dit te koop.

En met kospryse wat reeds plek-plek gestyg het en waarskynlik verder sal styg, kan die voedselkrisis vir die sogenaamde witboordjieklas ’n werklikheid word.

“Ek dink dat ons binne sowat vier maande aansienlik hoër pryse sal sien,” sê Drimie. “Dis omdat dit ’n wêreldwye pandemie is en daar is beperkings op die vloei van kos van ander lande af weens die wêreldwye inperking en ons sal voedselpryse oor die volgende drie tot ses maande verder sien styg.”

Ons voorsien die armstes van die armes op ’n daaglikse grondslag van die goedkoopste proteïene en kos ter wêreld.
Christo van der Rheede

Hy sê kos-armoede (food poverty) sal beslis toeneem omdat die pandemie ’n impak het op mense se vermoëns om veilige, voedsame en gesonde kos op hul borde te kry. “Daar is geen twyfel dat dit sal toeneem nie. En tweedens, met die vermindering van inkomste en ander vangnette in huishoudings, neem materiële armoede toe. En oor die hele spektrum gaan mense deur die verswakte ekonomie benadeel word.”

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof van Agri SA wat in die minister van landbou se Covid-19-taakspan dien, sê een van die groot probleme tot dusver is dat die regering soms baie enkelvoudige oplossings het. “En hulle het ’n simplistiese benadering tot die toepassing van reëls en regulasies. ’n Mens moet eintlik in hierdie omstandighede baie slim te werk gaan om die regulasies te bestuur en geteiken te hou.”

Agri SA het gevra dat die regering ’n nasionale Covid-19-voedselhulpskema op net so ’n groot skaal soos die siftingsproses deur die gesondheidswerkers van stapel stuur. “Dit moet uit nie-bederfbare produkte bestaan en ’n gesin van sewe vir minstens twee weke kan voed. Jy slaan twee vlieë met een klap dood: Jy voorkom dat mense op en af stap winkel toe om te gaan bedel vir kos en dan die virus huis toe bring, en terselfdertyd help jy hulle om hongersnood in daardie huishouding te voorkom.

Tot dusver het die regering nog net sowat 350 kospakkies afgelewer in Kranshoek. Foto: Annie le Roux

“Die strategie van Sassa is heeltemal ontoereikend in hierdie stadium en hy het dieselfde probleem as die werkloosheidsversekeringsfonds wat sukkel om die geweldige hoeveelheid mense wat aansoek doen om hulp na behore te hanteer.”

Die goeie nuus, sê hy, is dat Suid-Afrika ’n uiters gesofistikeerde kommersiële voedselketting het. “Ons voorsien die armstes van die armes op ’n daaglikse grondslag van die goedkoopste proteïene en kos ter wêreld, en ons kry dit by hulle op ’n eenvoudige, dog doeltreffende manier. En ons voorsien nie net aan Suid-Afrika nie. Ons voorsien in groot maat aan Zimbabwe, Mosambiek, Lesotho en baie ander lande in Afrika om hulle te help om die voedselnood te oorkom.

“So ja, ons het genoeg kos op makro-vlak – maar weens die drakoniese maatreëls is dit in hierdie stadium ’n ander saak om daai kos by die armes te kry.”

Die groot probleem is dat die boere nie geld het nie. En hulle voorsien ons land, ons buurlande en ook die res van die wêreld van kos.
Christo van der Rheede

Hy meen ’n belangrike strategie om hongersnood te voorkom is nie net deur die heel armste mense te help nie. Die oplossing lê deels in ’n finansiële reddingsboei aan kommersiële boere.

“Die groot probleem is dat die boere nie geld het nie. En hulle voorsien ons land, ons buurlande en ook die res van die wêreld van kos. My voorstel is dat boere gehelp word deurdat hulle vir ’n jaar nie hul lenings hoef terug te betaal nie en skryf die skuld van boere in die droogtegeteisterde gebiede en alle rente op produksielenings af.

“Daarmee saam moet die regering met minstens R20 miljard se hulppakket kom om die banke te help met die skuld wat hulle afskryf. Die regering praat baie maklik van hoe kry jy die ekonomie weer aan die gang. Dís hoe jy dit aan die gang kry.”

Sy stem klink moeg. “Dit laat my dink aan prehistoriese tye. Daar was twee soorte mense wat veral belangrik was. Dit was die helers wat moes seker maak dat die mense gesond is en die ander was die jagters of die landbouers wat mense van kos voorsien het. Ons is nou weer in daardie posisie waar daardie twee groepe mense die belangrikste is.”

Want indien ons nie gou ‘n plan maak om kos op die borde van miljoene Suid-Afrikaners te kry nie, mag ons te laat besef honger praat harder as gesondheidsregulasies. Die opofferinge wat ons die afgelope maand ten duurste gemaak het om tyd te wen teen die virus, kan nietig gemaak word deur Covid-20.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.