Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'n Ode aan die Kaapse krygers

Verlede maand is Gewapende Magte-dag gedenk. Die verhale van Suid-Afrika se bruin soldate – én vryheidsvegters – moet egter nog volledig geboekstaaf word, skryf Heindrich Wyngaard. Hier is sy inleidende poging.

Die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps Bond (SAKK-Bond) gedenk die Slag van Square Hill, wat op 19 September 1918 plaasgevind het, by die Kasteel in Kaapstad in 2010. Foto: Jaco Marais

‘En dan hoor ek nog hy gaan onder die hotnots ook soldate werf,” protesteer die karakter Hans, ’n jong blokman, teen genl. Jan Smuts se Tweede Wêreldoorlog-besluit in Simon Bruinders se roman Die sideboard (Naledi, 2014). “En dié wat aansluit, gaan grond kry!”

’n Boer van die omgewing, Tol Lamprecht, reageer: “Die bruin mense is goeie soldate, hoor! My pa was ’n soldaat in die eerste Duitse oorlog en hy had baie respek vir die Kaapse Korps.”

Dié militêre eenheid het sy oorsprong in die sogenaamde Pandoere-eenheid vir “Kleurlingmans” en “Hottentotte” wat in 1793 gestig is om die Hollanders se hand te versterk in die stryd teen die Eerste Britse Besetting van die Kaapkolonie. In 1806 was dit weer sulke tyd met die Tweede Britse Besetting van die Kaap.

Die SA Kleurling Korps, later (weer) die Kaapse Korps, kortom SAKK, het in sowel die Eerste (1914-1918) as die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) diens gedoen. Ná die totstandkoming in 1963 van die eenheid in sy meer onlangse gedaante, het dit diens gedoen in (apartheid-) Suid-Afrika se Grens- of Bosoorlog teen (afhangend van hoe jy dit wil interpreteer) vyandige magte of vryheidsbewegings in Namibië, Mosambiek, Angola – én, natuurlik, teen die ANC self.

Ook in WWII het die Kaapse Korps hulself as soldate onderskei.

Maar die bruin soldaat en bruin vryheidsvegter se verhaal van oorlog en opstand – in albei gevalle onvolledig opgeteken – strek baie verder terug, so ver terug as die voorkoloniale oorloë.

“In SA, the period of primary resistance can be said to stretch from that fateful day in the first week of February 1488 when the first Khoe herder threw the first stone at the Portuguese buccaneers commanded by Bartolomeu Dias (. . .),” skryf dr. Neville Alexander in sy opstel “Rhythms and patterns of history” in Thoughts on the New South Africa (Jacana, 2013).

Die historikus prof. Jatti Bredekamp lys, opsommenderwys, ook die volgende konflikte: In die vroeë 1500’s die onderkoning van Portugees Indië, Francisco D’Almeida, en sy troepe se veldslag by Tafelbaai teen die Khoi-Khoi, waarin D’Almeida omgekom het; in die middel-1600’s, die Khoi-Khoi se eerste oorlog, onder leiding van Doman, teen die Nederlandse besetters; in die laat 1700’s, die charismatiese teenstandsleier Jan Paerl se “messiaanse beweging” waardeur hy geglo het Goddelike tussenkoms sal ’n oorwinning – én ’n herstel van hul grondregte – vir die Khoi-Khoi teen die Nederlanders verseker.

En dan was daar die beroemde slawe-opstand van 1808, aangevoer deur die slaaf Louis van Mauritius, waartydens meer as 300 slawe ’n dertigstuks plase in die Swartland aangeval en geplunder en boere aangehou het – totdat hulle vasgeval het teen Britse teenstand by Soutrivier in die Skiereiland. Dié opstand word vandag beskou as ’n kritieke oomblik in die aanloop tot die afskaffing van slawerny aan die Kaap in 1834.

                                                                    ***

Die oorgang van die 1800’s na die 1900’s word natuurlik onthou vir die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog, waartydens óók 14 000 bruin en swart mense omgekom het, teken dr. Willa Boezak aan in Griekwaheld – Die merkwaardige lewe van A.A.S. le Fleur I (Griekwa Nasionale Konferensie, 2018). In die hoofstuk “The war of Abraham Esau, 1899-1901: Martyrdom, myth and folk memory in Calvinia” in sy boek History Matters (Penguin, 2016) herinner prof. Bill Nasson ons aan die oorlogsrol van hierdie grofsmid van Calvinia, wat weens sy steun aan die Britte deur Boeremagte tot die dood gemartel is. Hieroor het lord Alfred Milner, toe Britse hoë kommissaris, gesê: “Nothing more dis­graceful has happened in modern war than the treatment of the coloured man Esau at Calvinia.”

Omgekeerd is daar die verhaal van die Griekwa-leier Andrew Abraham Stockenström le Fleur I wat in die aanloop tot die oorlog ’n rebellie teen die Engelse geloods het om die Griekwas en swart stamme se grond te probeer terugvat. Boezak onthul dat Le Fleur deur hoofman Sigcau uitverkoop is en in Februarie 1898 in hegtenis geneem is; hy het skuld beken dat hy “onregmatig, wederregtelik en kwaadwillig opruiende, slinkse pogings” sou bedink het en “voornemens was om die openbare rus en orde van die Regering van die Kolonie van Kaap die Goeie Hoop (. . .) in gevaar te stel”.

Andrew le Fleur met sy gevange rebelle by Kokstad uit die boek GRIEKWAHELD deur dr. Willa Boezak.

Die regter het dit as ’n “sinlose” en “gekke” rebellie beskryf – manne met assegaaie en perske- en kweperlatte teen die “magtige Britse leër” – voordat hy Le Fleur tot 14 jaar tronkstraf met harde handearbeid gevonnis het. Maar vir sy aansienlike rol om die Griekwas as volk te lei en te versterk bly A.A.S. le Fleur I tot vandag in die aansien van sy volgelinge ’n “vryheidsvegter, hervormer, held, revolusionêr, Opperhoof, profeet (. . .) maar getroue Griekwas,” skryf Boezak, “eerbiedig hom boweal as Die Kneg van God”.

                                                                          ***

“Die stadsaal in Kaapstad was gepak op Maandagaand 31 Augustus 1914, met bruin inwoners wat hul lojaliteit aan koning George kom wys het,” haal Sol Plaatje uit ’n óú koerantberig aan in die hoofstuk “The offer of Assistance by the South African Coloured races rejected” in Native Life in South Africa (Picador, 2007).

Wat uit hierdie byeenkoms voortgevloei het, was dat die destydse African Political Organisation van dr. Abdullah Abdurahman tot 13 000 bruin mans kon oorreed om hulself vir “vrywillige diensplig” beskikbaar te stel ter steun van ’n oorwinning vir die Britse Ryk in die Eerste Wêreldoorlog.

Maar dit is ’n gebaar wat (aanvanklik) deur ’n afjak begroet is, aldus prof. Richard van der Ross in In Our Own Skins – A Political History of the Coloured People (Jonathan Ball, 2015): Nadat genl. Louis Botha, toenmalige eerste minister, sy waardering teenoor die APO uitgespreek het, het sy sekretaris van verdediging teen vroeg November laat weet “that the Government does not desire to avail itself of the services in a combatant capacity of citizens not of European descent in the present hostilities (. . .) which has its origins among the white people of Europe”.

Teen September 1915 is egter besluit om ’n nuwe bataljon, weer eens die Kaapse Korps genoem, te stig om in die Eerste Wêreldoorlog te gaan veg, en in Februarie 1916 het 32 offisiere en 1 022 manskappe na Oos-Afrika vertrek, waar hulle dapper geveg en moed aan die dag gelê het. ’n Gedenksteen op Genadendal bring hulde aan afgestorwe WWI-soldate van dié sendingstasie. Ook gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die lede van die Kaapse Korps hulself as soldate onderskei; selfs as oorlogshelde, soos uitgebeeld deur ’n toneel in David Kramer se nuutste musiekblyspel, Langarm. Die staatsamptenaar Van der Byl besef die mank band leader Eddie Jephta is die oudsoldaat wat sy broer in die oorlog gered het. “Hard to believe,” kap hy af. “A hotnot hero.”

En wat was die dankie wat die bruin soldate uiteindelik vir hul aandeel in WWII gekry het? Dit was toe nié die beloofde grond waarna Hans in Die side­board verwys nie, soos dié aanhaling van Sonny Leon, ook uit Sideboard, ten tyde van die stigting van die Springbok Legioen van oudgediendes aandui: “Die geskenk van ’n oorlogjas en ’n baaisiekel is ’n belediging vir ons!”

                                                                                ***

In 1984 het Leon van Nierop die fliek Jantjie kom huis toe vir die SAUK geskryf.

Dit het die verbeelding van bruin seuns en jong manne van my generasie aangegryp: Húlle sou ook Jantjies kon word, het hulle geglo; en, soos Jantjie, dapperheidsmedaljes ontvang.

Terselfdertyd was dit ’n tydperk toe die stryd teen apartheid al hoe feller geword het – en so ook die onderdrukking daarvan. Betogings teen die Driekamerparlement. Noodtoestande. “Struggle”-martelaars: Ashley Kriel, Anton Fransch, Coline Williams, Robbie Waterwitch.

Dit het geverg dat belangrike, morele keuses gemaak moes word – onder meer wat loopbaanbesluite en die beoefening van sport betref; dit was die verskil tussen opoffering en heul met ’n multidimensionele “vyand”. Maar ook die teenstrydighede van “comrades” en lede van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK), wat noodgedwonge met staatsbeurse gestudeer het om byvoorbeeld onderwysers te word, ’n dilemma wat neerslag vind in Jeremy vannie Elsies (Tafelberg, 2018) deur Jeremy Vearey, ’n lid van die “Wes-Kaapse kleurling-MK-netwerk”.

Loopbaankeuses was egter destyds beperk en so is “army toe gaan” sedert die beginjare van die SAKK as ’n (lonende) alternatief beskou vir diegene wat nie kon gaan studeer of by die polisie kon aansluit of tronkbewaarders kon word nie.

Ben van Wyk van Oudtshoorn, ’n boorling van Fraserburg, was 18 toe hy in 1968 aangesluit het; die Kapenaar Nico Willemse, oorspronklik van Robertson, was ook 18 toe hy in 1970 dieselfde stap gedoen het. Hul motivering het verskil: Vir Van Wyk, die oudste van nege kinders, het dit “in ’n groot mate gegaan oor ons huislike omstandighede” – en selfs al was sy eerste keuse dat hy teologie wou gaan studeer, moes hy na sy pa luister; Willemse was op soek na “iets meer opwindends en interessants” omdat hy op sy tuisdorp toe basies net ’n bewaarder by die plaaslike tronk kon word: “Dis een van die redes waarom ek soldaat wou word. Maar ek is ook geïnspireer deur ’n buurseun wat vertel het hoe lekker is dit daar. Hy was een van min wat daar was.”

Van Wyk het uiteindelik tot ’n kolonel gevorder en Willemse tot ’n adjudant-offisier. In albei se ervarings was daar soet én suur. Van Wyk: “Ek moet sê daar was nogal redelike kameraderie ook tussen wit en bruin, maar vir lank was die wit ou jou senior ongeag jou rang.” Willemse: “In die weermag is ons ook maar apart behandel, soos in die res van die samelewing; so ons het apartheid aan twee kante gevoel. Julle is daai kant, ons is dié kant. Ons was maar altyd net die skouperde gewees. Maar daar was ook baie lekker tye, as ek moet praat van my eie ervaring.”

En voel hulle vandag dat hulle voldoende erkenning vir hul rol kry?

“Ons word nie behandel soos byvoorbeeld die swart (MK-) veterane nie,” sê Willemse. “Ons wat die grondslag gelê het, ons wat ons gesinne afgeskeep het, ons wat ons volle pond vleis aan die SA Weermag gegee het; en nou is ons ’n nul op ’n kontrak.” Van Wyk toon meer begrip: “Ons het teen mekaar baklei,” sê hy. “Ons kan tog nie op dieselfde voordele aanspraak maak as die MK’s, ensovoorts nie, maar ek sê nie dis reg nie.”

Dit is sekerlik ook nie reg dat daar weinig gepraat en geskryf word oor die ervarings van bruin soldate in die vorige bedeling nie, terwyl wit perspektiewe op die Grensoorlog – en swart perspektiewe op die “struggle” – met reëlmaat verskyn.

’n Onlangse uitsondering waarin die “bruin” ervaring van die oorlog – én die anti-apartheidstryd – belig is, is Valda Jansen se Hy kom met die skoenlappers (Human & Rousseau, 2016): “Ons huis is deurspek met die weermag,” skryf sy. “My pa se foto’s in sy uniform, sy sertifikate teen die mure langs die drie vlieënde voëls en die rankplant. Die taal in ons huis wentel, soos die gesprekke, om die weermag. ’n Harde taal waarby ek geen aanklank vind nie.”

Dié skyn ook ’n deel van ons land se geskiedenis te wees waarby die huidige regering en geleerde klasse nie veel aanklank vind nie.

“Heelwat ruimte bestaan vir ’n sterker hervertolking van die bruin mens se betrokkenheid in ons land se militêre geskiedenis,” som die historikus Jatti Bredekamp dit op. En wil dit voorkom, sê hy ook, asof die geskiedenis homself herhaal in “beloftes van hoop” wat nie gestand gedoen is nie.

* Heindrich Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator en ’n aanbieder op kykNET en kykNET & kie.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.