Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Oorlog sonder wenners

’n Handelsoorlog het verlede week tussen China en Amerika uitgebreek. Die Europese Unie staan op die punt om ook ingesuig te word. Wat beteken dit vir die internasionale politiek en ekonomie? Leopold Scholtz soek ’n antwoord.

Handelsoorloë is maklik om te wen, meen pres. Donald Trump van die VSA. Foto: AP

Dit gebeur nie baie dat die wêreld se meeste vooraanstaande ekonome só eensgesind is nie, maar hiéroor is hulle dit wel: Die aanstaande internasionale handelsoorlog met die VSA – die sterkste ekonomiese moondheid op aarde – in die episentrum kan geen wenners oplewer nie; slegs verloorders.

Verlede week het verhoogde Amerikaanse invoertariewe op sekere Chinese goedere ten bedrae van $34 miljard van krag geword. Die Chinese het met ’n soortgelyke invoerheffing op sekere Amerikaanse produkte teruggeslaan.

Trump staan ook op die punt om handelsoorloë te begin teen die Europese Unie (EU), Kanada en Mexiko – al drie, terloops, formeel politieke bondgenote van Amerika.

Pres. Donald Trump was nie links nie en dreig toe om nog $16 miljard se tariewe by te voeg, en dat dit uiteindelik tot $200 miljard of selfs $500 miljard vermeerder kan word. Dit dreig om buite beheer te eskaleer.

Maar dis nie al nie. Trump staan ook op die punt om handelsoorloë te begin teen die Europese Unie (EU), Kanada en Mexiko – al drie, terloops, formeel politieke bondgenote van Amerika.

Die gevolge hiervan kan wydlopend wees.

China se hulp nodig met Noord-Korea

Polities kan dit uiters negatiewe gevolge vir Trump se opsigself lofwaardige poging wees om die Amerikaanse betrekkinge met Noord-Korea te normaliseer. Dáárvoor het hy egter China se politieke en ekonomiese hulp nodig, en hy maak die Chinese nie gewilliger om te help as hy hulle in die tande skop nie.

Die Noord-Koreane se onverwagse taamlik brutale houding toe die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, Pjongjang besoek het, was veelseggend.

Het Xi vir Kim aangemoedig om sy stert teen Trump te lig?

Pompeo is in ’n amptelike verklaring behoorlik onbeskof sleggesê.

Dié verklaring het, interessant genoeg, baie kort op die hakke gevolg van ’n besoek wat die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, aan pres. Xi Jinping in Beijing gebring het. Onder gesaghebbende internasionale waarnemers is die vraag gestel: Het Xi vir Kim aangemoedig om sy stert teen Trump te lig?

Was dit ’n subtiele boodskap van Xi aan Trump dat hy moet versigtig wees met sy handelsoorlog?

Fabriek sluit reeds deure in VSA

Gaan mense nog plakkate rondswaai as pres. Donald Trump se beoogde handelsoorlog hand uitruk? Foto: Reuters

Maar dit kan ook ekonomies uiters nadelig wees. Die eerste gevolge vir die Amerikaanse ekonomie begin reeds sigbaar word.

’n Amerikaanse spykerfabriek, wat nie meer goedkoop staal uit Kanada kan invoer nie, het reeds sy deure gesluit, die eerste slagoffer van die handelsoorlog.

Amerikaanse sojaboonboere het luidkeels geprotesteer. In 2017 het China naamlik 31% van die Amerikaanse sojaboonproduksie ingevoer, wat beteken dat die boere massiewe verliese gaan ly.

Dit gebeur veral in die Midde-Weste, ’n omgewing wat deurslaggewend was in Trump se verkiesing in 2016.

Trump gaan soos ’n stoomroller verder. En dus moet hy maar voel, is die gevoel in Europa.

Daarby het die georganiseerde Amerikaanse Kamer van Koophandel ook beswaar aangeteken. Vergeefs, tot dusver.

Die EU staan bowendien gereed om sy eie invoertariewe op sekere Amerikaanse goedere te verhoog. Die Europeërs voel met dié president is mooi en beleefde praatjies nie genoeg nie.

Theresa May en Emmanuel Macron het heuning om sy mond gesmeer. Angela Merkel het hom met logika en klipharde, onontkenbare feite probeer oortuig.

Niks het gehelp nie. Trump gaan soos ’n stoomroller verder. En dus moet hy maar voel, is die gevoel in Europa.

Handel nodig vir welvaart

’n Man gesels op sy selfoon buite ’n kantoorgebou in Beijing, China. China het gedreig om nie terug te staan in enige handelsoorlog nie. Foto: AP

As daar een les is wat die geskiedenis vir die huidige situasie inhou, meen kenners, is dit dat handel strykdeur ’n onverbiddelike voorwaarde vir ekonomiese groei en welvaart was. Regdeur die geskiedenis het welvaart op handel berus.

Dis soms deur oorloë of politieke spanning onderbreek, waarna verval ingetree het.

In die 20ste eeu is die beste voorbeeld die uitbreek van die Depressie in 1929, toe die aandelebeurs van Wall Street in duie gestort het. Die sogenaamde Smoot-Hawley-wet, waardeur invoertariewe gehef is (dis enkele maande vantevore in die Kongres gepasseer) het die ekonomiese ineenstorting wat hierop gevolg het, aangehelp, veral in sekere deelstate.

Dis egter net die begin; die einde is volstrek onseker.

Wat gaan die uitwerking dié keer wees?

Luidens die webwerf Bloomberg het ekonome bereken dat dit die Amerikaanse ekonomiese groei, wat tans uitstekend is, met 0,4% kan laat daal. Dis egter net die begin; die einde is volstrek onseker.

In Europa word die ontwikkelinge met kommer gevolg. ’n Senior Duitse diplomaat wat met sy land se betrekkinge met Amerika werk, Peter Beyer, het vandeesweek aan die gesaghebbende Frankfurter Allgemeine Zeitung gesê hy verwag dat die Duitse motornywerheid – wat 50% van die EU se motoruitvoer bedra – swaar getref gaan word.

Hy verwag egter dat Amerika ook benadeel gaan word. “By ’n handelsoorlog is daar geen wenner nie.”

VSA kwesbaar vir handelsoorlog

’n Vrou buite ’n winkelsentrum in Beijing, China. ’n Handelsoorlog tussen die VSA en China het al tot groot kommer gelei. Foto: AP

Die Amerikaanse ambassadeur in Berlyn, Richard Grenell, het onlangs in ’n gesprek met Duitse motornyweraars voorgestel dat sowel Amerika as die EU hul invoertariewe tot nul verminder. Beyer het dit verwelkom, maar daarop gewys dat só ’n aanbod aan Brussel gedoen moet word, wat die kwessie van tariewe hanteer.

Volgens die Duitse regering is 4 700 Duitse ondernemings in Amerika doenig met ’n investering van 255 miljard euro. Hulle is verantwoordelik vir 672 000 werkgeleenthede.

Interessant genoeg is Nederland – met ’n aansienlik kleiner ekonomie – selfs meer voordelig vir die Amerikaners. Tans hou Nederlandse investerings in Amerika naby aan ’n miljoen Amerikaners aan die werk.

(Terloops, dit was dié wete wat die Nederlandse premier, Mark Rutte, tydens ’n onlangse besoek aan die Withuis iets ongewoons laat doen het. Toe Trump op ’n perskonferensie sê dit maak nie veel saak of ooreenstemming bereik kan word of nie, het Rutte hom – met ’n glimlag – onderbreek: “Nee, dit maak baie saak.” Dit het groot aandag in die internasionale media getrek, want wie durf die magtigste man in die wêreld só teenspreek?)

Bowendien, sê die Europeërs, práát met ons; ons is nie onredelike mense nie. Móét jy dan jou vriende so in die tande skop?

Dit wil nie sê dat dit alles op kort termyn in die gedrang is nie. Dit wys wel dat Amerika kwesbaar is vir ’n handelsoorlog wat hand uitruk.

Bowendien praat Trump en die Europeërs by mekaar verby.

Trump sê die EU het ’n handelsoorskot van $146 miljard met sy land, maar hy neem slegs die fisieke in- en uitvoere in ag. Wanneer dienste bygereken word, sê die Europeërs, is die oorskot slegs ’n fraksie hiervan.

Bowendien, sê die Europeërs, práát met ons; ons is nie onredelike mense nie. Móét jy dan jou vriende so in die tande skop?

Trump benader die saak ewenwel taamlik nonchalant. “Handelsoorloë is maklik om te wen,” het hy ’n tyd gelede getwiet.

Dit sal in die afsienbare tyd blyk in welke mate – indien hoegenaamd – hy reg het.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon.

Meer oor:  Europese Unie  |  Donald Trump  |  Europa  |  China  |  Amerika  |  Handelsoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.