Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'n Ou vrees spook in Duitse agterkop

Verskeie Duitse stede is die laaste tyd deur onluste geteister en sommige waarsku dié ongedurigheid is aan’t toeneem, skryf Leopold Scholtz.

Daar is min lande ter wêreld met so ’n stabiele demokrasie as Duitsland.

Sy geskiedenis in die 20ste eeu – eers ’n outoritêre keiserryk; toe die totalitêre Nazi-diktatuur (wat in die oostelike derde van die land naatloos deur ’n ewe totalitêre, kommunistiese diktatuur voortgesit is) – het ’n onuitwisbare letsel op die Duitse psige gelaat. Die les wat hulle gemeenskaplik uit hul geskiedenis getrek het, was om ’n weerbare demokrasie te skep, een wat hom doeltreffend teen die verleiding van totalitarisme kan verdedig.

Die eerste demokratiese Duitse grondwet, dié van die Weimar-republiek (1918-’33), het alle vryhede toegelaat wat jy maar van ’n demokrasie kan verwag. Maar dit het ewe veel vryheid beteken vir diegene wat die demokrasie wou afskaf.

Dus is die strate van die groot stede in die jare onmiddellik voor en ná 1930 gekenmerk deur onluste en geweld.

Regse en linkse ekstremiste – Nazi’s en kommuniste – het mekaar en die polisie getakel, en baie bloed het gevloei.

Daarom wyk die Wes-Duitse grondwet van 1949 (wat ná hereniging die héle Duitsland geld) beslissend af van die Weimar-grondwet. Die demokrasie self word by implikasie as onaantasbaar gesien, iets wat met mening verdedig kan word teen aanslae van linkse en regse ekstremiste.

In die laaste weke het daar egter iets voorgekom wat baie lank nié in Duitsland gesien is nie: Regse en linkse straatgeweld. Hulle het mekaar nog nie gegryp nie, dalk omdat hulle almal ’n gemeenskaplike teiken het: Die Duitse demokrasie.

Twee weke gelede het sowat 22 000 mense, ’n eienaardige mengsel van regse en linkse ekstremiste en anargiste, in Berlyn teen die korona-inperking betoog. Die onderliggende teiken van die betoging se leiers, Michael Ballweg en Thorsten Schulte, was egter nie primêr die inperking nie, maar die demokratiese stelsel as sodanig.

Betogers teen die koronavirus-inperking en verregses tydens hul omstrede saamtrek verlede maand by die Reichstag in Berlyn. Foto: Getty Images

Schulte is op video vasgevang waar hy uitroep dat ’n “sataniese wese” – Angela Merkel, dus – die amp van die bondskanselier beklee.

Ballweg is ’n anargis wat die parlementêre stelsel wil vervang deur wat hy noem ’n “direkte demokrasie”. Hy roep mense op om ’n nuwe grondwet te skryf wat die mag van die parlement “teruggee” aan die volk.

Tussen die betogers was mense te sien wat plakkate van die sogenaamde Reichsbürger vashou en vlae van die keiserlike Duitsland dra. Die Reichsbürger verwerp die bestaan van die huidige Bondsrepubliek en hou vol dat die keiserryk steeds bestaan (met die subteks dat Adolf Hitler se Derde Ryk ook nog daar is).

’n Groep het van die hoofbetoging weggebreek en by die trappe van die parlementsgebou, die Reichstag, opgestorm, klaarblyklik met die doel om die gebou te beset. Uiteindelik kon die polisie hulle verdryf, maar dit het gevaarligte oor Duitsland heen laat flikker.

Die laaste dae is bowendien gekenmerk deur langdurige, gewelddadige onluste in Leipzig, hoofstad van die deelstaat Sakse. Soos die betoging in Berlyn is die geweld in Leipzig afkomstig van ’n allegaartjie van linkse en regse ekstremiste en anargiste.

Die onmiddellike aanleiding was die feit dat die polisie onwettige plakkers in twee huise in die voorstad Connewitz uitgesmyt het. Honderde mense het saamgedrom en klippe en bottels na die polisie gegooi en motors aan die brand gesteek. Elf polisiebeamptes is beseer in die geweld, wat drie nagte aangehou het.

Alle nach Leipzig: Bullen angreifen.

Die anargiste is bekend vir die gemak waarmee hulle tot geweld oorgaan. In Januarie, toe soortgelyke onluste in Leipzig uitgebreek het, het ’n anargistiese webwerf mense letterlik opgeroep: “Alle nach Leipzig: Bullen angreifen.” Oftewel: “Almal na Leipzig: Val die Pote (die polisie) aan.”

Alle gevestigde politieke partye – die gematig-konserwatiewe Christen-Demokrate, die gematig-linkse Sosiaal-Demokrate en die gematig-linkse Groenes – het die geweld skerp veroordeel. Een party wat opvallend stil was, was die Linkses, die erfgename van die ou Oos-Duitse Kommunistiese Party.

Die regs-populistiese Alternatief vir Duitsland (AfD) het verdeeld gereageer. ’n Woordvoerder het die geweld in Leipzig veroordeel, maar AfD-vlae was opvallend tussen diegene wat die Reichstag in Berlyn bestorm het. Volgens die Duitse media was minstens 20 AfD-leiers onder die betogers teen die inperking te sien.

Die AfD is eintlik ’n spesiale geval.

Die party is aan die uiteenval in ’n relatief gematigde vleuel, wat bereid is om volgens die demokratiese reëls te speel, en ’n regtervleuel, wat openlik met die Nazisme flankeer.

Studente-onluste in Februarie 1933 in Berlyn nadat Republikeinse studente deur die polisie verbied is om ’n saamtrek te hou. Foto: Getty Images

Bowendien loop joernaliste ook steeds meer deur. Gunnar Schupelius, rubriekskrywer vir die koerante van die Axel Springer-groep, moes al twee keer ’n nuwe motor aanskaf omdat syne aan die brand gesteek is. Op ’n linkse webwerf is hy “dringend aangeraai” om ’n ander werk te soek, of andersins minder krities oor die linkses te skryf.

Waarnemers vrees dat die geweldpleging stadigaan ’n grens nader. Prof. Hans-Gerd Jaschke van die Kollege vir Ekonomie en Reg in Berlyn het op televisie gepraat van “ ’n nuwe vorm van militantheid, wat ’n sekere terroristiese kenmerk ontwikkel. Daar is baie duidelik ’n toename in strafbare oortredings en geweld van links . . . Daarop moet die staat en samelewing reageer, sowel onderdrukkend as voorkomend.”

In ’n versigtig bewoorde hoofartikel skryf die gematig-konserwatiewe Frankfurter Allgemeine Zeitung wie sy toevlug tot geweld neem “waan hom al – of weer – in die barbarisme”. Die geweldenaars moet reg van die begin vasgevat word. Wat nodig is, is ’n “duidelike, sterk antwoord van die regstaat”.

Inderdaad, die Duitse konstitusionele hof se kommentaar oor die gebeure in Leipzig is duidelik: “Vir die linkse ekstremiste gaan dit nie om vreedsame byeenkomste . . . of oplossings nie, maar om vinnig massiewe geweld teen polisiebeamptes en daarmee teen die regstaat aan te wend.”

Maar die leiers van die linkse ekstremiste het geen berou nie. Hulle bly “outonoom, militant en anti-outoritêr”.

Hoe ook, die gebeure in Berlyn en Leipzig is net nóg ’n bewys dat linkse en regse ekstremiste, soos die punte van ’n hoefyster, véél nader aan mekaar is as aan gematigde aanhangers van die liberale veelpartydemokrasie.

Duitsland is sekerlik nog ver van die Weimar-anargie, maar niemand kan die Duitsers verkwalik as die chaotiese straatgevegte van destyds, en veral die staat se onvermoë om dit te keer, in hul agterkop maal nie.

Dr. Leopold Scholtz is ’n onafhanklike politieke kommentator.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.