Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Party uit pas met SA se werklikheid

Om ras bloot te probeer ontken maak geen sin vir enige politieke party in ’n land soos Suid-Afrika nie, skryf Denis Worrall.

DA kyk die bos mis,” skryf Jan de Lange in ’n onlangse rubriek – een wat hy verlede week opvolg met die vraag: “Is die DA besig om selfmoord te pleeg?”

Laasgenoemde is ’n gedagte wat ongetwyfeld by talle kiesers in álle gemeenskappe opgekom het.

In ’n tyd waarin ras en verwante kwessies die wêreld se eerste demokrasie uitmekaarskeur en elke belangrike Europese staat die spanning van ras in sy politiek ervaar, is daar mense in die DA wat verklaar dat ras nie bestaan ??nie in wat waarskynlik die mees veelrassige land ter wêreld is. Maak dit politieke sin?

Nee.

Daarom is De Lange se vraag eintlik baie relevant.

Die DA se beleidskonferensie vroeër die maand was baie belangrik en dit is baie jammer dat dit aanlyn plaasgevind het en nie oop was vir die vele standpunte wat dit noodwendig sou genereer nie. As stigter en medeleier van die DP – die party waaruit die DA gegroei het – glo ek daar is minstens twee aangeleenthede van belang wat ek gehoop het op die konferensie bespreek sou word.

Die eerste is die plek van ras in die DA-beleid; die tweede die rol van Helen Zille in die leierstruktuur van die party.

Ten opsigte van die kwessie van ras is daar duidelik ’n sterk element in die party wat hom beywer vir nierassigheid en ’n “nierassige” benadering. Dié lede stel nierassigheid op teenoor “veelrassigheid”, ’n benadering wat hulle verwerp.

Omdat alle regdenkendes rassisme verwerp is nierassigheid of ’n “nie-rassistiese” benadering vanselfsprekend aanvaarbaar en in werklikheid uiters wenslik, maar dit is nie wat die voorstanders daarvan dryf nie.

Vir hulle – en Zille is die dryfveer daaragter – is die Suid-Afrikaanse bevolking nierassig en ras behoort nie gebruik te word om die demografiese diversiteit van die land te beskryf of om openbare beleid te steun nie.

Dis jammer Zille is terug na die politiek.

Hulle verwerp dus “swart” ekonomiese bemagtiging en sou ongemaklik wees met ’n stelling soos “die meeste swart werkers is lede van vakbonde” of met ’n uitspraak soos “in 2019 het ’n veelrassige Springbok-rugbyspan vir die eerste keer onder ’n swart kaptein in die Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen”.

Of stel jou voor dat ’n geografie-onderwyseres in Engeland of Australië vir haar kinders sê die Suid-Afrikaanse bevolking is “nierassig”. ’n Mens kan daarom verstaan waarom die politieke ontleder Steven Friedman – ’n man wat sy storie ken – sê dat die DA met dié benadering politiek aktiewe swart mense gaan antagoniseer.

Een van die DA-woordvoerders het gesê die veranderings aan die partybeleid het die party in pas met die gees van die Grondwet gebring; en dit is natuurlik waar dat nierassigheid as een van die grondliggende waardes genoem word.

Tog bepaal art. 174(2) van die Grondwet spesifiek dat die ras-identiteit van kandidate vir aanstelling as regters “in ag geneem moet word”. En daar kan kwalik gesê word dat die ANC nasionaal en elders waar hy regeer, nierassig regeer.

Dit is deel van die rede waarom die DA die grootste party in die drie minderheidsbevolkingsgroepe is – ’n feit wat die party moet bevorder, aangesien minstens twee van hierdie gemeenskappe, vanweë hul geografiese konsentrasie in die Kaap en KwaZulu-Natal, ’n bydrae lewer tot die groeiende “regionalisme” in die land.

En dit is iets wat die demokrasie in die algemeen en die DA se verbintenis tot federalisme spesifiek bevorder.

Wat Zille betref wat grootliks agter die “nierassige” drukgroep in die DA staan: Sy het ’n merkwaardige loopbaan gehad, eers as joernalis, daarna as universiteitsadministrateur waar sy geveg het vir akademiese vryheid en hoë standaarde, en daarna as die leier – en ’n hoogs suksesvolle een daarby – van die amptelike opposisie. Net die regte een om Tony Leon op te volg.

Daarna het sy by ’n trots liberale dinkskrum aangesluit met die geleentheid om politieke en sosiale denke in Suid-Afrika te beïnvloed. Dit is egter jammer dat sy nie daar gebly het nie, maar verkies het om terug te keer na die politiek en geweldige mag uit te oefen in wat eintlik ’n nie-uitvoerende amp is. (Het iemand, byvoorbeeld, ooit iets gehoor van James Selfe in die 20 jaar wat hy in dié pos gedien het?)

Afgesien van die bedanking van minstens vier opkomende, politieke DA-leiers, het sy dit met haar byna daaglikse twiets en e-posse vir die tussentydse leier, John Steenhuisen – ’n duidelik slim en belowende politikus – uiters moeilik gemaak om sy siening oor te dra en sy politieke stempel af te druk in ’n stadium dat die DA se stem op sy nodigste was.

So, Helen, ek skryf as ’n vriend as ek, soos ander voor my, sê: Dit is tyd om ’n blaaskans te neem.

  * Dr. Denis Worrall was medestigter en -leier van die Demokratiese Party en ’n voormalige ambassadeur in Londen.

Meer oor:  Helen Zille  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.