Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Pionier op papier

In 1919 verskyn die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, Die Boerevrou, onder redaksie van die formidabele Mabel Malherbe. Vandag, net meer as ’n eeu later, dien dié publikasie as ’n tydkapsule om te sien hoe ons oumagrootjies geleef het. Elsabé Pienaar vertel.

Altesame 154 uitgawes van die tydskrif Die Boerevrou het oor 13 jaar verskyn (teen 1 sjieling per uitgawe). Die drukoplaag was sowat 1 000 per maand.Foto: verskaf

’n Mens sou kon sê Mabel Catherine Malherbe het Suid-Afrikaanse “bloubloed” in haar are gehad. Haar oupagrootjie aan vaderskant was George Rex, stigter van Knysna, en haar oupa aan moederskant, Jan Nielen Marais, was lid van die Transvaalse regering. Mabel se ma, Jess, se jongste broer sou mettertyd een van die bekendste Afrikaanse digters en skrywers word: Eugène Marais. Haar pa, Frank Rex, was redakteur van die Oudsthoorn Courant.

Reeds tydens Mabel se skooljare aan die Rustenburg Girls’ High School in Rondebosch, Kaapstad, hoor Mabel die roepstem van die joernalistiek.

“I have ink in my veins,” het sy dikwels geskerts, maar haar ma het ’n stokkie voor haar planne gesteek om by ’n Engelse dagblad te gaan werk.

Tydens die Anglo-Boereoorlog doen sy verpleegwerk op ’n trein en voltooi ’n drie jaar lange kursus in verpleegkunde in Haarlem, Nederland.

Met haar terugkeer na Suid-Afrika trou Mabel in 1904 met Kenne Nicolaas de Kock Malherbe, ’n knap prokureur aan wie sy reeds tydens die oorlog verloof geraak het. Die saggeaarde Kenne het Mabel heelhartig ondersteun in die talle werksaamhede waarby sy deur die jare betrokke geraak het, en soms tong-in-die-kies na homself verwys as “mnr. Mabel Malherbe”. Die Malherbes het twee kinders gehad. Martha (Martli), in 1905 gebore, was ’n aktrise en het haar in Londen gaan vestig. Haar broer, Nicolaas Samuel (Boet), is in 1906 gebore, en was later ’n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty.

Mabel het altyd deernis vir haar medemens gehad, en liefdadigheid, opheffing en vroueregte het haar na aan die hart gelê. Sy was ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie in 1904 en in 1919 ook betrokke by die totstandkoming van die Bond van Afrikaanse Moeders, wat vroedvroue sou oplei en poog om die sterftesyfers onder moeders en baba’s te laat daal.

In Die Boerevrou se bestaan van 12 jaar het sowat 7 600 advertensies van 592 adverteerders verskyn. Sowat 4 500 lesersbriewe is geplaas.

Eerste Afrikaanse vrouetydskrif

Toe Mabel en Kenne vroeg in 1919 ’n tentoonstelling bywoon en inteken op Farmer’s Weekly, vind sy ’n vrouebylae, The Homestead, daarbinne. Dit het Mabel laat besef hoe ryp die tyd vir ’n Afrikaanse tydskrif vir vroue was.

Dit was ’n moeilike tyd in die geskiedenis van Suid-Afrika. Die land het steeds gesteier onder die nagevolge van die Anglo-Boereoorlog en die Verskroeide Aarde-beleid. Dit was kort ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog en ’n tyd van grootskaalse verstedeliking – en in Suid-Afrika het die era van die “armblanke” aangebreek.

As bestuurslid van die Vrouefederasie het Mabel dikwels gereis.

“Ek het sterk onder die indruk gekom van die skreiende behoefte aan hulp,” vertel sy.

“Leesstof, wenke oor huishouding, oor siektes ensovoorts – kortom, oor die lewe. Eenvoudig en aantreklik opgestel en in ons eie taal, sodat die eenvoudigste vroutjie daar op die platteland nut en plesier daaruit sou kon kry.”

Onder aanmoediging van haar oom, Eugène Marais, en met die hulp van die skrywer en historikus Gustav Preller (’n huisvriend van die Malherbes), het die eerste uitgawe van Die Boerevrou in Maart 1919 verskyn: die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, ’n maandblad met ’n oplaag van sowat ’n duisend eksemplare, en ’n tydskrif vír vroue déúr vroue, een wat ’n enorme rol gespeel het om die aanpassings wat vroue in dié era moes maak, te vergemaklik.

Die Boerevrou was vol praktiese raad oor tuinmaak, pluimveeboerdery, seepkook en byeboerdery, naaldwerk en die jongste modes. Sy het gou diep in haar lesers se harte gekruip, en daar is liefderik na haar verwys as “Die Vroutjie”.

Die dag toe die kluts kwytgeraak is

Omdat Mabel nie ’n ervare joernalis was nie, en ook omdat Afrikaans nog in haar kinderskoene gestaan het, het sy die jong verslaggewer Louis Hiemstra genader om met taalversorging te help.

Van Hiemstra, laterjare ’n woordeboekskrywer en taalkundige redakteur by die Nasionale Pers, het Mabel vertel: “Hy het my getrou gehelp, nie alleen met die proewe lees nie, maar ook met die taal. Alles wat ek self geskrywe het, moes eers na hom gaan, sodat hy die taal en spelling kon verbeter.”

Wanneer daar twyfel was oor hoe ’n woord gespel moes word, het Mabel haar by Hiemstra se beslissing berus, maar eenkeer het hy wel die geveg verloor.

Mabel en Hiemstra het bewus geraak van ’n skrywer wat gereeld interessante bydraes vir Die Boerevrou ingestuur het, en in 1920 word sy genooi om haar by die redaksie aan te sluit. Maria Elizabeth Rothmann lewer ’n groot bydrae tot die tydskrif met vele stories, en sou later ontwikkel een van die gewildste vroeë Afrikaanse skrywers, onder die skuilnaam M.E.R. Van haar eerste kortverhale is in Die Boerevrou gepubliseer.

M.E.R. vertel dat Hiemstra dikwels strepe deur haar anglistiese skryfwerk getrek het – die gevolg van haar Engelse akademiese opleiding – en dan van haar sou verwag om alternatiewe woorde voor te stel. Net een maal het sy haar teëgesit.

“Ek het naamlik in die ingestuurde resepte altyd die eiers laat klits. Louis het volgehou dat hulle gekluts sou word, iets wat my so onnatuurlik geklink het dat ek op my tande gebyt en dit weer na klits verander het. Ek weet ook dat ek daar gewen het, want vandag klits Afrikaners hulle eiers!”

Mabel Malherbe, pionierjoernalis en redakteur van Die Boerevrou. Sy was die susterskind van Eugène Marais, Pretoria se eerste vroueburgemeester én ’n Volksraadslid.

Puik medewerkers

“Die Vroutjie” se lesers was nie intellektueel agtergeblewe nie. Die tydskrif was ’n mondstuk vir vroueverenigings, daar was boekresensies, verhale en gedigte, en gereelde bydraes deur Eugène Marais, wat sy gedig “Waar Tebes in die Stil Woestyn” vir die eerste uitgawe geskryf het.

Die lys van medewerkers van Die Boerevrou is indrukwekkend: Jan Celliers, Henry Fagan, Uys Krige, Gerard Moerdijk (wat later die Voortrekkermonument sou ontwerp), FW Reitz, Toon van den Heever, AG Visser, om maar enkeles te noem.

Dr. C Louis Leipoldt het ’n gesondheidsrubriek hanteer en ook prosastukke bygedra, terwyl Mabel ook die lesers aan verskeie prominente kunstenaars soos JH Pierneef en Erich Mayer se werk bekendgestel het.

Die Boerevrou was ook verbasend interaktief, veral as ’n mens in ag neem hoe “primitief” die posdiens nog in die 1920’s was. Skaars twee maande ná die eerste uitgawe, het die redaksie soveel briewe begin ontvang dat ’n afsonderlike briewekolom, “Om die Koffietafel”, begin is.

Dié “kuierplek” was besonder gewild, het dikwels ’n oor-en-weer korrespondensie oor ’n kwessie ontlok, en lesers het graag in hul briewe uitgewei oor hul eie voorouers se wedervaringe en gewoontes.

Op dié manier het Die Boerevrou ’n belangrike bron van kennis oor die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner geword. Wenbriewe is beloon met ’n gegraveerde teelepeltjie.

Ná Die Boerevrou het Maria “Miems” Rothmann (M.E.R.) haar in 1922 by Die Burger in Kaapstad aangesluit, waar sy die eerste redakteur van die koerant se vroueblad geword het. Sy het later in die Carnegie-kommissie van Ondersoek na die Armblankevraagstuk gedien. Die Hertzogprys vir Letterkunde is in 1953 aan haar toegeken.Foto: Die Boerevrou

Einde van ’n era

Mabel het adverteerders in Die Boerevrou streng gekeur. Omdat haar pa ’n drankprobleem gehad het en haar oom Eugène aan morfien verslaaf was, het Mabel geweier om enige drank of gepatenteerde medisyne te adverteer. Anna Neethling-Pohl, wat in 1945 ’n artikel oor Mabel vir Die Huisgenoot geskryf het, vertel: “Die adverteerders het dikwels woedend geword en met beledigende woorde hul steun teruggetrek, maar mev. Malherbe het hardnekkig voet by stuk gehou.”

Uiteindelik het die finansiële krisis van die Groot Depressie sy tol geëis, en moes die redaksie van Die Boerevrou in Desember 1931 die pen neerlê.

Mabel beur voort

Vir Mabel was daar nie veel tyd vir nabetragting nie. Teen 1931 het sy reeds vier jaar lank in die stadsraad van Pretoria gedien, en in 1932 word sy die eerste vrou wat tot burgemeester van ’n Suid-Afrikaanse stad verkies is. Sy was ’n kampvegter vir vrouestemreg, en word in 1933 as die eerste Afrikaanssprekende vrou tot die Volksraad verkies. Hier het sy haar tot 11 April 1938 heelhartig aan die lot van minderbevoorregtes en die opheffing en bemagtiging van vroue toegewy.

Die Universiteit van Pretoria het haar in 1953 met ’n eredoktorsgraad in die lettere vereer vir die diens wat sy aan die Afrikaanse taal en kultuur gelewer het. Sy sterf in Februarie 1964 in die ouderdom van 84 jaar.

Mabel se vriende het haar as gereserveerd en soms intimiderend beskryf, terwyl Betty Malherbe, ’n aangetroude familielid, Mabel onthou het as “a woman of tremendous integrity.” Maar miskien gee haar vriendin M.E.R. die raakste opsomming: “Ek sien haar nou nog by haar lessenaar sit met die maand se stukke voor haar, besig om die dummy op te stel – artikels, ‘Koffietafel’-briewe’, stories, versies, illustrasies, dekorasies, bladvullings. Ek sien haar elke stuk, elke brokkie en krummel met die genoeë hanteer waarmee ’n jong moeder haar enigste dogtertjie aantrek en linte in haar hare bind.”

  • Bronne: deur dr. Jeanette van Rensburg; My Beskeie Deel deur M.E. Rothmann (1972); Wikipedia: Mabel Malherbe; Die Burger 100: Sy Mense en Hul Stories deur Bun Booyens en Aldi Schoeman (2017). Besoek www.dieboerevrou.co.za.
Jeanette van Rensburg, samesteller van Die Boerevrou Gedenkboek 2019.

‘Stille krag van ons oumagrootjies’

Jeanette van Rensburg, ’n gebore en getoë Pretorianer, se liefde vir geskiedenis is aangevuur deur die feit dat haar oupagrootjie ’n bittereinder in die Anglo-Boereoorlog was. Nadat sy haar meestersgraad oor die belewenisse van gewone mense gedurende die Anglo-Boereoorlog voltooi het, was Jeanette nuuskierig oor die lot van die vrouens en kinders wat die oorlog en konsentrasiekampe oorleef het.

’n Doktorale kultuurhistoriese studie oor Die Boerevrou-tydskrif het haar meer antwoorde gegee as waarop sy kon hoop, en Jeanette kon nie die versoeking weerstaan om dié kultuurhistoriese vonds met die wêreld te deel nie. Die resultaat was Die Boerevrou Gedenkboek 2019, wat in tydskrifformaat gedruk is om die eerste Afrikaanse vrouetydskrif te herdenk.

Dié publikasie bied ’n blik op die lewe en uitdagings wat die vrou in die eerste derde van die 20ste eeu in Suid-Afrika in die gesig gestaar het. In die hedendaagse konteks lees ’n mens dié boek met ’n hernude gevoel van moed en durf, amper asof daar skielik ’n poort na die verlede oopgemaak is, sodat jy inspirasie kan put uit die stille krag van vroue wat 100 jaar gelede hul voete – en stem – moes vind in ’n onseker tyd in hierdie land.

“ ’n Mens voel aangeraak as jy lees met hoeveel moed, geloof en deursettingsvermoë ons oumagrootjies die lewe aangepak het,” vertel Jeanette oor haar vyf jaar lange studie van Die Boerevrou. “Die moderne Suid-Afrikaanse vrou kan baie leer by ons eweknieë van 100 jaar gelede.”

Miskien is dit die leuse van Die Boerevrou wat ’n mens steeds hoor fluister vanuit die verweerde blaaie: “Ek sien haar wen, want haar naam is Vrou en Moeder!”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.