Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Regter met ’n menslike stem . . .

Uitsonderlike regters word geken deur uitsprake waarin hulle teen die stroom swem, skryf Jean Meiring.

Regter Edwin Cameron tydens sy afskeidsgeselligheid hierdie week. Foto: Alon Skuy, gallo images

Regters hink stereotipies die wêreld vol. In hul rooi klede is hulle verhewe bo die “storm en drang” wat óf deur getuienis óf op papier voor hulle in herinnering geroep word. Met ’n helder loep in die hand begluur hulle die kleinighede van ander se lewens en vel daaroor ’n oordeel.

Só het Suid-Afrikaners lank die regbank beskou. Des te groter was die verwydering toe die leeuedeel regters ouerige wit mans was wat die juridiese septer oor ’n groot verskeidenheid menselewens geswaai het.

Onder die grondwetlike bedeling wat in 1994 ingelui is, vertoon die skare regters ’n veel kleurryker demografiese reënboog. Hulle is soms heelwat jonger as voorheen, hulle sluit ’n groeiende getal vroue in – en, natuurlik, is die idee dat ’n regter wit is lankal saliger.

In die Oscar Pistorius-verhoor het regter Thokozile Masipa voorgesit. Nadat sy om den brode maatskaplike werker en toe misdaadverslaggewer was, is sy, in 1998, uit die advokatestand tot die regbank verhef. Sodoende het sy maar die tweede swart vroueregter in die land geword.

Wat ook al op appèl van haar uitspraak geword het, haar rol as voorsittende beampte in seker die mees stip dopgehoude verhoor sedert dié van OJ Simpson, het die publiek se opvatting van wat dit is om ’n regter te wees beduidend verdiep én verskuif.

Drie jaar voor regter Masipa, het Edwin Cameron in 1995 ’n regter geword. Die afgelope week ná 25 jaar op die regbank, die laaste 11 jaar as lid van die konstitusionele hof, het hy uitgetree.

Dinsdag het regslui, vriende en lede van die publiek die perseel van die konstitusionele hof in Braamfontein in Johannesburg oorstroom om sy laaste uitspraak aan te hoor en hom vaarwel toe te roep.

Cameron se eerlikheid oor MIV het ’n seismiese impak gehad.

Soos regter Masipa, het regter Cameron berge versit om die geykte beeld van die regter onbestendig te maak.

Jare al is hy openlik gay. In ’n openbare onderhoud met hom vir ’n appèlhofpos, het hy in 1999 openbaar dat hy met MIV lewe. In daardie donker dae, toe die Mbeki-regering se beleid oor die verskaffing van MIV-medikasie hoogs bedenklik was, het Cameron se eerlikheid ’n seismiese impak gehad.

Vir gewone, dikwels baie arm Suid-Afrikaners om te besef dat dit nie slegs hulle was wat MIV soos ’n gas in hul huise geherberg het nie, maar dat dit ook ’n gesiene en uiters bedrywige regter se lot was, het enorm bygedra tot die vermensliking van die regbank.

En die destigmatisering van diegene met MIV.

Regter Cameron het natuurlik ook dikwels die geleentheid gebruik om oor hierdie sake te praat. Binne die uitdyende perke van wat as behoorlik beskou is vir ’n regter in die nuwe demokratiese bestel, het hy ook buite die hof in helder en dikwels dringende taal die breë saak van maatskaplike geregtigheid – waaronder die kwessie van MIV – aangeroer.

Maar als inaggenome is regter Cameron se vernaamste taalmatige bydrae tot die Suid-Afrikaanse openbare lewe die byna 400 uitsprake wat sy naam boaan het.

In sy huldiging Dinsdag van regter Cameron het Ronald Lamola, die nuutaangestelde minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, juis gesê daardie rakvol uitsprake “sal tot die baie generasies wat nog kom spreek”.

’n Uitspraak is natuurlik ’n komplekse ding. ’n Groot deel van die inhoud word dikwels noodwendig aan die uitleg van duistere regsbeginsels of wetsbepalings gewy.

Tog het die konstitusionele hof hom dit juis ten doel gestel om uitsprake so toeganklik as moontlik te maak – om die komplekse kwessies wat aan die orde is in helder, alledaagse taal te probeer verwoord sodat daardie hof se regspraak byna so oop vir die publiek sou wees soos die skildery-versierde gebou se voordeur.

Toegang tot geregtigheid moet immers insluit dat ’n staat se burgers die wet wat die howe neerlê, moet kan verstaan.

Die konstitusionele hof het boonop die gebruik ontwikkel om uitsprake, wat dikwels oor baie bladsye heen loop, in kort mediaverklarings op te som, om die kern van die saak en die uitspraak in ’n neutedop te plaas.

Die filosofie van dié hof, waar ’n volbank van 11 regters dikwels voorsit, neig sterk in die rigting van aktiewe samewerking. ’n Konsep-uitspraak word dikwels tussen die regters se kamers, waar daar ook klerke werksaam is, uitgeruil. Kajuitraad word gehou en debatte word gevoer.

Al staan ’n regter se naam boaan byvoorbeeld ’n meerderheidsuitspraak, sou van die ander regters byna sonder uitsondering ook insette gelewer het.

Tog laat dié hof ook minderheidsuitsprake toe. Dit wil sê, waar een of meer van die regters nie met die meerderheidsuitspraak saamstem nie, skrywe hulle ’n verdere uitspraak om ’n ander uitkoms vir die saak te begrond.

Soms sal ’n minderheidsuitspraak met die meerderheidsuitspraak se gevolgtrekking akkoord gaan, maar dit langs ’n ander, soms korter – of meer kronkelende – paadjie bereik.

Natuurlik is dit die meerderheidsuitspraak wat regskrag het.

Om ’n verskeidenheid ooglopende redes is minderheidsuitsprake omstrede beeste.

By wyse van vergelyking is dit interessant om te merk dat sewe van die lidstate van die Europese Unie weersprekende minderheidsuitsprake verbied.

Maar dis juis in hierdie effe buitenissige essays dat ’n individuele regter se stem soms die sterkste deurskemer. Hy of sy het immers besluit om stroomop te wees, selfs om die meerderheidsmening striemend te kritiseer. Of hulle voel genoop om ’n voetnoot onderaan die hoofargument te plaas.

Gedurende sy 11 jaar op die bank van die konstitusionele hof, en vroeër ook die appèlhof, het regter Cameron (soms saam met ander regters) ’n boekvol minderheidsuitsprake gelewer. Sekerlik sal hulle in die toekoms die onderwerp van stip akademiese ondersoek wees.

Enkele voorbeelde is in die bekende arbeidsregsake Transnet Beperk v. Chirwa (2007) in die appèlhof en Steenkamp v. Edcon Beperk (2016).

Ook in die konstitusionele hof in Oppelt v. die Wes-Kaapse departement van gesondheid (2015).

Nes sy heel laaste uitspraak Dinsdag oor grond gehandel het, is twee van sy interessantste minderheidsuitsprake in sake wat oor die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997, handel.

In Snyders v. De Jager (2017), het die konstitusionele hof ’n tussentydse bevel toegestaan waarin die Snyders-gesin, wat teen hul uitsetting uit hul woning aan’t appelleer was, veroorloof is om hangende ’n appèl weer die huis te betrek. Dit ten spyte daarvan dat die eienaar in die tussentyd die Breda’s laat intrek het.

In taal wat met goeie, outydse helderdenkendheid en ’n skeut woede deurweek is, skryf regter Cameron: “Wat hierdie hof gedoen het is werklik buitengewoon . . . In werklikheid het die hof die Snyders-gesin ’n spoliasie-bevel toegestaan, wat hulle toelaat om hul vorige woning te betrek asof die Breda’s onsigbaar is. Asof hulle nie bestaan nie. Die Breda’s sou eers later ’n spreekbeurt kry . . . Ek sou lank so kon voortgaan – om die uitspattig-blommerige verklarings wat hierdie hof se uitsettingsregspraak geil deurspek aan te haal, wat deur hierdie tussentydse bevel verbreek word.”

Die leser het geen regsgraad nodig nie om deur die regter se pyl deurboor te word.

In Daniels v. Scribante (2017), het die konstitusionele hof die okkupeerder onder laasgenoemde wet se reg om die woning wat sy bewoon te verbeter, afgeweeg teen die eienaar se eiendomsreg.

Al het regter Cameron met die meerderheidsuitspraak, wat die okkupeerder se regte erken, akkoord gegaan, het hy ’n aparte kort uitspraak gelewer – ’n helder en dringende stukkie besinning – waarin hy waarsku teen die ondeurdagte aanwend van die geskiedenis in uitsprake.

“Waar die Grondwet en die regstellende wetgewing wat daaruit voortvloei toegepas word, is ons land se geskiedenis alomteenwoordig. Daardie geskiedenis is nie altyd direk van toepassing in die beregting van die geskilpunt nie. Tog skreeu dit dikwels ten hemele vir ’n stem . . . Wanneer belangrike dinge gesê word, as harde feite verdoesel word, is dit ’n onding om agter die onsekerhede van die geskiedenis te skuil, agter die onvermydelike onvolledigheid en partydigheid van hoe dit oorvertel is.”

Met sy vertrek van die regbank laat regter Cameron dus ’n boeiende Corpus Juris Civilis van uitsprake in sy kielsog, grotes en meer raaklynige kleineres, die samehang waarvan mettertyd deur slimmerds uitgelê sal word.

Dit verg egter geen waarsêery nie om reeds nou aan die hand te doen dat daardie ryk skat tekste ten minste een ding sal openbaar: Hoe werklik goeie regters deur die loep van erbarming en menslikheid die wêreld betrag.

* Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde.

Meer oor:  Edwin Cameron  |  Konstitusionele Hof  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.