Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Reus word wakker

Suid-Afrika is die slapende reus van rugby en kan ’n ál groter wordende supermoondheid word, skryf Eddie Jones.

Kampioene! Die Springbokke vier hul oorwinning oor Engeland in die eindstryd in 2007. Foto’s: Getty Images

Dit was rustyd in die Stade de France in Parys op 14 September 2007. Rondom my was ’n ongelooflike klomp spelers, waaronder talle lede van die Bulle wat my Reds op 10 Mei verwoes het.

Ek was nog nooit betrokke by die afrigting van ’n span wat ’n wedstryd so oorheers het soos die Springbokke pas hul openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi teen Engeland nie. Engeland was buitengewoon power, maar Suid-Afrika was besig om hulle te stoomroller in die tweede poel A-wedstryd. Rustyd was ons reeds 20-0 voor.

Ek sê “ons”, want ná agt weke saam met die span as die tegniese raadgewer, die werklike tweede in bevel ná Jake White, het ek soos ’n integrale deel van die Springbok-opset gevoel.

Die Bok-aanslag teen Engeland was klinies en wreedaardig.

Ek was gefassineer deur die gesprek in die kleedkamer wat heeltemal deur die spelers gelei is. Niemand het blykbaar omgegee dat ons 20 punte voor is nie. Die kloof tussen die twee spanne was so groot, dit het gevoel asof ons hulle 100-0 kon wen as ons wou.

In plaas daarvan het die voorste spelers ’n ongelooflike taktiese besluit geneem. Hulle was bereid om besit in die tweede helfte af te staan sodat die Bokke hulle verdediging toets.

Dit was nie arrogansie nie, maar bloot ’n intelligente besluit van ’n span wat gefokus was op die toernooi wat voorlê. Dit was ook heeltemal in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse rugbyfilosofie wat staatmaak op ’n hardhandige liggaamlike oorheersing van die spel.

Ek het geen beswaar teen hulle plan gehad nie, want my rol was nie om strategie te dikteer nie; dit was om met alternatiewe idees vorendag te kom en te sorg dat die Bokke se taktiek minder op formules staatmaak.

Jake White en Eddie Jones in 2007.

My ander verantwoordelikheid was om die afrigter Jake White te ondersteun. Ek sou probeer om die druk op hom te verlig deur taktiese advies te bied en ’n ander stem vir die spelers te wees terwyl ek hom ook help met die media.

Die Springbokke was baie slimmer spelers as die stereotipe cliché wat dikwels van Suid-Afrikaanse rugbyspelers geskets word. Hulle was die teenoorgestelde van die denkbeeldige reuse wat bo-oor almal wat in hul pad staan probeer hardloop, maar uitoorlê kan word deur spanne wat slimmer te werk gaan.

Ek het geleer dat Jake, John Smit, Fourie du Preez, Victor Matfield, Schalk Burger, Bryan Habana, Jean de Villiers en die res van die spelers ’n onversadigbare nuuskierigheid oor rugby het. Die manier waarop hulle my uitgevra het oor die aanvallende styl wat ons by die Brumbies ontwikkel het, was ’n duidelike teken van hulle ondersoekende benadering.

In die tweede helfte het die Springbokke gehou by hul rustydvoorneme om Engeland meer van die bal te gee. Hulle aanslag was klinies en wreedaardig en Engeland het nie ’n enkele punt behaal nie. Suid-Afrika het 36–0 gewen.

14 September 2007: Bryan Habana in aksie teen Engeland. Die Bokke was bereid om besit in die tweede helfte af te staan om hul verdediging toets.

Dit was ’n vreeslike vernedering vir Engelse rugby en vroeë bewyse dat Suid-Afrika onder die duidelike gunstelinge was om die 2007-Wêreldbekertoernooi te wen.

Ek was redelik seker dat ons die hele pad na die eindstryd sou stap waar ek verwag het ons teen die All Blacks te staan sou kom.

Ek het die afgelope nege jaar daaraan bestee om aan maniere te dink hoe om Suid-Afrikaanse spanne te klop. Dit was daarom fassinerend om nou in die maag van die ondier te sit en van binne te kyk hoe dinge gedoen word. Ek het ook die geleentheid gehad om eerstehands te sien onder watter geweldige druk Jake White as Springbok-afrigter was.

In Augustus 2004, het die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie geweier om Jake se spankeuse teen die All Blacks te bekragtig omdat daar slegs een swart speler, Breyton Paulse, in die beginspan was.

Jake is gedwing om sy skrumskakel, Fourie du Preez, wat ek nog altyd beskou het as Suid-Afrika se beste speler, te vervang met Bolla Conradie.

En toe, uit die bloute, kry ek ’n oproep van Jake White.

Conradie was ’n heel goeie nommer nege, maar hy was nie naastenby in dieselfde liga as Du Preez nie. Jake moes steeds die kwotastelsel aanvaar.

Ná apartheid kan ek die behoefte aan transformasie begryp, maar ’n afrigter word gemeet aan sy oorwinnings en nederlae.

Die werk van ’n rugbyafrigter in Suid-Afrika is duidelik die moeilikste werk in wêreldrugby – met Nieu-Seeland en Engeland kort op sy hakke.

In Nieu-Seeland is die verwagtings heeltemal buitensporig. Die nasionale gemoed word bepaal deur die vertoning van die All Blacks. Na my mening is dit die wêreld se grootste rugbynasie. Ek weet hulle sal my altyd kapittel en ek sal my eie stekie inkry, maar onder al die oor-en-weer slegsêery is daar ’n diepe wedersydse respek vir die spel en sy waardes.

Nieu-Seeland is die geestelike tuiste van rugby. Hulle word tans deur uitdagings in die gesig gestaar en het talle van hul beste spelers begin verloor as gevolg van reuse-geldaanbiedinge van Frankryk, Japan, Engeland en Ierland. Hulle sal dit deurtrek, maar dit word al hoe moeiliker vir hulle. Die vraag oor wat die All Black-trui werd is, sal al hoe indringender gevra word soos die euro’s, ponde en jen ophoop.

Die uitdagings en kompleksiteite verbonde daaraan om Engeland af te rig, is anders.

In Engeland is rugby, anders as in Nieu-Seeland, nie die nasionale sport nie, maar dit is ’n groeiende en belangrike spel. Die struktuur help egter nie en stel die klubs op teenoor die belange van die nasionale span. ’n Kulturele terughoudendheid belemmer ook die opkoms van natuurlike leiers in Engelse rugby. Wanneer spelers vorder van ’n klub na die nasionale span, is daardie bande moeilik om te verbreek. In Australië was dit maklik. In Engeland was dit een van my moeilikste take.

As ek die oorgang van klub- na toetsrugby verbeter het, sal dit een van die bevredigendste aspekte wees van my nalatenskap as afrigter in dié land.

Engeland behoort altyd een van die topspanne ter wêreld te wees en die huidige groep spelers en administrateurs is verbind daartoe om seker te maak dat dit gebeur.

Suid-Afrika konfronteer op sy beurt die afrigter met ’n ongelooflike moeilike situasie.

Terwyl die land se rugbyondersteuners verwag dat jy die meeste van jou wedstryde moet wen met ’n intensiteit van rondom 90%, word die hoofafrigter toegelaat om net 50% van sy vermoëns te gebruik.

Die politiek van postapartheid-Suid-Afrika oorskadu die spel en die Springbokspan om elke hoek en draai.

Maar dit is inspirerend om die voordele van die ontwikkelingsprogramme te sien waar swart en bruin spelers in die aanloop tot die 2019-Wêreldbekertoernooi hul hande opgesteek het en aangedring het op plekke in die span op grond van hul vertonings.

Eddie Jones se ‘My Life and Rugby’ word uitgegee deur Pan MacMillan en kos R330.

Suid-Afrika is die slapende reus van wêreldrugby en kan in ’n ál groter wordende supermoondheid verander as hulle hul ontwikkelingsprogramme in stand kan hou.

In 2006 was Jake se probleme as Springbokafrigter op ’n hoogtepunt nadat hy beswaarlik ’n mosie van wantroue in die direksie oorleef het. In daardie jaar het Suid-Afrika vier uit ses wedstryde in die Drienasiesreeks verloor – insluitende ’n reuse-pak slae in die Suncorp-stadion waar ek destyds die Reds afgerig het.

Ek onthou dat ek in die week voor die wedstryd met Jake in Brisbane koffie gedrink het en hy my gevra het vir my insigte.

Mate”, het ek gesê, “daar is altyd baie punte op hierdie veld. Dit is ’n baie vinnige veld. Kry jou verdediging in orde.”

Miskien het Jake my nie heeltemal geglo nie, want die Bokke is met 49–0 afgeslag. Ek dink daardie gesprek het by hom vasgesteek, want hy het daarna groter vertroue in my oordeel getoon.

In die 2007-Drienasiestoernooi het Suid-Afrika drie uit die vier verloor en is goed geklop deur Nieu-Seeland met 33–6. Die All Blacks was weer eens die weghol-gunstelinge om daardie jaar se Wêreldbekertoernooi te wen, al kon hulle die beker 20 jaar laas wen.

Die Springbokke is deur die res van die rugbywêreld afgeskryf en kon in vrede ver van die aandag af voorberei vir die toernooi.

Aan die einde van Julie, kort ná die Drienasies, was ek in Japan vir een van my afrigtingsvakansies by Suntory. My volgende werk sou die van hoofbestuurder en afrigtingsadviseur by Saracens in Engeland wees.

My vorige tyd by Sarries was ’n sukses en ek het uitgesien na die ooglopende eise van Premierliga-rugby.

En toe, uit die bloute, kry ek ’n oproep van Jake White. Ek het net van die oefenveld gestap by Suntory toe hy my verras met ’n oproep: “Wil jy nie die gesin vir ’n safari na Suid-Afrika bring nie?”

Ek het geweet Hiroko en Chelsea sal graag ’n paar dae in ’n Suid-Afrikaanse wildreservaat wil deurbring en ons het besluit om op pad na Londen ’n paar dae in Suid-Afrika deur te bring.

Ons het in Durban ontmoet en ná ’n paar dae weg vra Jake of ek ’n paar oefensessies van die Bokke sou bywoon.

“Regtig?” het ek gevra. “Ek sal dit graag wil doen.”

Die gedagte daaraan om op die veld rond te hardloop saam met die Springbokke het my laat voel soos ’n kind op Oukersaand.

Tydens hul eerste sessie het hulle ’n paar bewegings geoefen en ek kon sien dat hulle tevrede was met hulself. Ek was relatief beïndruk met sommige aspekte, maar daar was baie wat kon verbeter.

Ons het daarna in ’n kring bymekaargekom en die kaptein, John Smit, het die manne toegespreek. Hy was vol komplimente en toe kyk hy na my. “Wat dink jy, Eddie? Hoe was dit?”

“Dit was nie sleg nie, mate. As ek julle ’n telling uit tien moet gee, sou ek sê dit was ’n vier.”

John het na my gekyk om seker te maak of ek ’n grap maak. ’n Vier?

“Ja, mate. Daar is baie om aan te werk.”

Dit was waar. Hulle het weinig meer as ’n vier verdien, in ag genome die talent wat op die veld was. Hulle het soveel meer gehad om te bied. Ek was nog nooit een wat my ingehou het nie en ek het nie omgegee of hulle beledig gevoel het nie. John het my mening gevra en ek het dit vir hom gegee.

Ek het deur ’n paar bewegings gegaan en die Bokke gewys hoe ek dit anders sou doen. Ons het die volgende oefening meer daarvan gedoen en hulle moes seker daarvan gehou het, want Jake het my daarna ’n interessante aanbod gemaak. Sou ek dit oorweeg om as tegniese raadgewer by die Bokke aan te sluit tot aan die einde van die Wêreldbeker?

Terwyl die woorde by sy mond uitkom, moes ek myself keer om Jake te omhels. ’n Tegniese adviseur vir hierdie groep spelers aan die vooraand van ’n Wêreldbeker? Is jy ernstig?

Dit is moeilik om te beskryf hoe opgewonde ek oor die aanbod was. Jake het my die kans gebied om by ’n span betrokke te raak wat die potensiaal gehad het om al die pad tot bo te gaan.

Ek het niks van die harde werk die afgelope twee jaar gedoen nie, en hier word ek nou, met die toernooi net om die draai, genooi om saam te gaan.

Oor ’n paar etes het die senior spelers my begin uitvra oor die rugby wat ek in Canberra met die Brumbies gespeel het. In my ervaring kon slegs die Brumbies kers vashou met die Bokke as dit kom by ’n intellektuele nuuskierigheid oor die spel. Ek het altyd geweet dat Victor Matfield, Fourie, John en die voorste Bokke puik spelers was. Nou het ek ontdek dat hulle ook wonderlike ouens is.

Op een van ons eerste vergaderings het Victor na my toe gekom: “Ons wil baie nader aan die voordeellyn speel. Onthou jy daardie vyfman-lynstaan wat jy by die Brumbies gehad het? Waar jy die vleuel aan die voorkant van die lynstaan gehad het? Ek dink dit sal ons pas.”

Ons het eerlik gepraat en ek het ’n ander element by die Bokke gevoeg – veral wat hul agterlynspel betref. Ek was gelukkig om spelers soos George Gregan en Steven Larkham vir so lank af te rig en Fourie en Butch James, so ook die bokke se agterste driehoek, was soos sponse toe ons begin praat oor vlakker, meer aanvallende rugby.

                                                                                        ***

Die 2007-eindstryd is nie een wat vreeslik lank deur aanhangers onthou sal word nie, maar ek het die intelligente en doeltreffende manier waarop die Bokke gespeel het, bewonder.

Fourie du Preez het later gesê dat hulle nie die Wêreldbeker sonder my sou gewen het nie. Dit is baie gaaf en grootmoedig van hom, maar ek glo dat die Bokke steeds wêreldkampioene sou word. Ek het my bydrae gesien as soortgelyk aan ’n ou wat arriveer nadat ’n nuwe huis klaar gebou is en net klein gebreke aan ’n reeds baie soliede struktuur uitstryk – ’n geringe probleem hier of ’n laag verf daar.

Wat afrigting betref, behoort die Wêreldbeker van 2007 aan Jake White. Hy het drie moeilike jare agter die rug gehad in die moeilikste werk in wêreldrugby en ’n span opgebou uit spelers wat hy al sedert hul junior dae gekoester het.

Ek is baie geraak deur die solidariteit wat die span teenoor my gewys het. By die Wêreldbeker-dinee het hulle geweier om hul Springbokbaadjies aan te trek, omdat Saru nie vir my een gegee het nie, omdat ek nie ’n Suid-Afrikaner was nie.

Bryan Habana het ook ’n ongelooflike ding gedoen. Ongeveer ’n maand ná die toernooi, nadat ek reeds met my nuwe werk by Saracens begin het, kom ’n groot pakkie by my aan.

Ek kon aanvanklik nie dink wat dit is nie. Dit was ’n geskenk van Bryan, sy wêreldbeker-baadjie wat hy geraam het, omring deur foto’s van ons almal saam om dankie te sê vir die klein rol wat ek in Suid-Afrika se sukses gespeel het.

Die prentjies wat ek in my kop ronddra van daardie 13 weke saam met so ’n indrukwekkende groep ouens sal altyd vir my veel aanskouliker wees as enige blink goue medalje.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.