Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'n Lewe: ’n Sin vir reg en vir skryf se donker kreatiwiteit
Achmat Dangor
Achmat Dangor in 2006. Foto: Getty Images

Die skrywer en aktivis Achmat Dangor is in Parkview, Johannesburg, dood. Hy was 71. Die oorsaak van sy dood word deur die familie privaat gehou.

Dangor was ’n voormalige bestuurshoof van die Nelson Mandela-stigting. Hy was ten nouste betrokke by Steve Biko se Swartbewustheidsbeweging, later ook by die Kagiso-trust en die Ford-stigting, asook by UNAids (Joint United Nations Programme on HIV and AIDS) in Genève.

Hy was destyds bitter teleurgesteld oor die ideologies-gedrewe manier waarop die ANC se ontkenning van MIV tot derduisende mense se dood bygedra het. Hy was verstom dat by van die president tot tradisionele leiers daar ’n totale ontkenning van dié ramp was.

Dangor het ook by die Staatsuniversiteit van New York in Suid-Afrikaanse letterkunde doseer. Hy sal onthou word as ’n skrywer van formaat.

Ek is ’n Afrikaan met Asiatiese en Hollandse bloed in my. Ek weet nie watter ras ek is nie. Ek gee ook nie om nie.

Dangor het sewe boeke (gedigte, romans en kortverhale) gepubliseer. Wat uitstaan is die romans Kafka’s Curse en Bitter Fruit. Vir laasgenoemde het hy die kortlys van die gesogte Man Booker-prys vir fiksie gehaal.

Van 1973 tot 1978 is hy deur die regering verbied om te skryf. Hy is ook weens sy betrokkenheid by die kulturele groep Black Thoughts verban. Dangor het in die geheim aanhou skryf.

In ’n stadium sê hy: “Ek is ’n Afrikaan met Asiatiese en Hollandse bloed in my. Ek weet nie watter ras ek is nie. Ek gee ook nie om nie.”

Aan Jean Meiring vertel hy op LitNet: “Ek was ’n moeilike kind en is na my ouma (in Jeppestown) gestuur. Dit was ’n huishouding vol vroue.

“Daar was nie elektrisiteit nie. In die aande het al die vroue by paraffienlampies sit en lees.”

Tot op sewe was Afrikaans en Sotho sy moedertale, maar hy is na ’n Engelse skool in Fordsburg gestuur. “My vrou, Audrey (’n filantroop), is ’n Skot, maar as ek met my ma praat, dan is dit in Afrikaans.”

Op 16 het hy vir ’n jaar as klerk op die dokke in Kaapstad gewerk. Daar het hy die meeste van sy vrye tyd verwyl deur te skryf. Hy het ’n beurs losgeslaan en letterkunde aan die Rhodes-Universiteit op Grahamstad gaan studeer.

“Ek skryf oral, enige plek, maak notas, wat ek dan later op ’n rekenaar oorskryf,” het hy gesê.

Aan die joernaal Kunapipi vertel hy dat hy homself as ’n storieverteller eerder as ’n gestruktureerde romansier sien. “Wat ’n leserskring betref, het ek niemand nie,” sê hy.

“Ek probeer nie aan lesers dink nie, want dit sal die natuurlike proses inhibeer. ’n Skrywer moet ook nie ’n samelewing probeer beïnvloed nie. Ons funksioneer beter as ons donker, kreatiewe kant domineer en ons na sosio-ekonomiese toestande uit ons eie oogpunt kyk.”

Hy vind dit steurend dat daar ’n kompetisie tussen relevante en irrelevante werke is. Swak geskryfde relevante literatuur is net so sleg soos swak geskryfde irrelevante literatuur.

Dangor het gewonder hoekom Suid-Afrikaners gereeld wegskram van die lyf en sensualiteit in hul letterkunde. Hy het nie gehou van hoe André P. Brink oor seks geskryf het nie. “In sy boeke het hy vroue reduseer tot mans se fantasieë.”

Dangor is in Newclare, in die weste van Johannesburg, gebore. Sy ouers was Juleiga en Ebrahim. Sy ma was ’n kleremaker en sy pa het onder meer op die myne gewerk waar hy sowat 13 tale leer praat het.

Sy vrou vertel sy sal sy intellek, medemenslikheid en sin vir reg mis. “Hy was nie een vir glanspersoonlikhede, vertoon, uitspattigheid of materialisme nie.”

Hy word oorleef deur sy vrou, Audrey Elster, sy kinders – Yasmin, Zane en Zachary – en ses kleinkinders.

† Achmat Ebrahim Dangor, gebore 2 Oktober 1948, dood 6 September 2020.

Rus in vrede

• Die Britse aktrise dame Diana Rigg, bekend om haar rolle as Emma Peel in The Avengers en Olenna Tyrell in Game of Thrones, is in die ouderdom van 82 oorlede. Sy was ook die enigste vrou wat mev. ­James Bond geword het – in die film On Her Majesty’s Secret Ser­vice, waar sy die rol van die contessagra­-vin Teresa di Veicenzo vertolk het.

• Chris Galloway was ’n akteur van Kaapstad wat toe hy jonger was veral goeie karakterrolle vertolk het. Hy het gereeld met Pieter-Dirk Uys gewerk – sedert hul dae by Die Ruimte-teater in die sewentigerjare1970’s. Van die stukke waarin hy opgetree het, was Die Van Aardes van Grootoor, Rearranging the Deckchairs on the SA Bothatanic en Cry Freemandela – The Movie.

• Die Suid-Afrikaans-gebore draaiboekskrywer en neef van die akteur sir Antony Sher, sir Ronald Harwood, is op 85-jarige leeftyd in Engeland oorlede. Harwood (gebore Horwitz) is ná sy skooljare in Seepunt na Londen, waar hy ’n loopbaan in die teater wou begin. Op aandrang van ’n lektor het hy sy van na Harwood verander omdat Horwitz “te Joods en vreemd geklink het”. Hy was die skrywer van ongeveer 40 toneelstukke en filmdraaiboeke, waaronder The Dresser en Being Julia. In 2003 wen hy ’n Oscar vir sy draaiboek van die Roman Polanski-film The Pianist.

• Een van Kaapstad se bekendste en geliefde blommeverkopers in Adderleystraat, onder almal net bekend as aunty Poppy, is skielik oorlede. Sy was bewonder vir haar pragtige, groot blommerangskikkings wat sy vir enige geleentheid kon optower.

• Ronald Bell, medestigter van die groep Kool & The Gang, skrywer van die diskoliedjie “Celebration” en medeskrywer van “Get Down on It” is op 68 oorlede.Hy was ook die medeskrywer van die liedjie, waarop derduisende mense reg oor die wêreld in nagklubs kaperjol het. Kool & The Gang was van die grootste musiekgroepe gedurende die 1970’s.

Meer oor:  Achmat Dangor  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.