Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Skoolhoof se plan met rokers

Wat doen jy met skoolseuns wat rook as ’n pak slae en ander straf nie meer help nie? Bill Schroder vertel van ’n plan wat hy beraam het in dié geredigeerde uittreksel uit A Headmaster’s Story: My Life in Education.

Daar was nog altyd vir my iets spesiaals aan seunskole.

Navorsing het gewys dat seuns in seunskole akademies aansienlik beter presteer as hul eweknieë in gemengde skole.

Ek glo ook dat seuns meer baat vind by seunskole omdat dit bydra tot hul algehele manwees. Meisies is oor die algemeen fisiek, intellektueel en emosioneel meer volwasse as seuns van dieselfde ouderdom. Eerder as om met meisies mee te ding, kan seuns teen hul eie pas ontwikkel in ’n seunskool en eerliker met hulself wees.

Daar is ’n energie en stukrag in ’n seunskool wat ongetwyfeld die gevolg is van ’n oorvloed testosteroon en dit kan met tye tot irrasionele gedrag en die neem van risiko’s lei. Daarmee saam kom egter ’n openheid en eerlikheid wat ’n mens van hulle laat hou, maar wat terselfdertyd ook uitdagend kan wees.

Ek glo dat ek aan die stuur van ’n beter skool by Pretoria Boys High was nadat daar van die lat afskeid geneem is.

Ek het vroeg geleer dat seuns selde om die bos gelei kan word en dat hulle ’n buitengewone vermoë het om deur ’n bedrieër en skynheilige te sien. Hulle kan wreed en deernisvol wees, selfsugtig en goedhartig, nuuskierig wees en grense probeer verskuif en tog kan hulle konserwatief en verbete voorstanders van tradisie wees.

Rook was een van die grootste uitdagings op skool. Voordat lyfstraf verbied is, is ’n seun wat gevang is dat hy rook, aangegee en deur die koshuisvader of hoof ’n pak slae gegee en dit was die einde van die storie – vir tyd en wyl, in elk geval. Lyfstraf het nooit die probleem opgelos nie en vir die meer macho seuns het die getal pakke slae ’n soort van statussimbool geword.

Ek glo dat ek aan die stuur van ’n beter skool by Pretoria Boys High was nadat daar van die lat afskeid geneem is. As ek nou terugdink, is ek nie trots op die kere wat ek die lat geswaai het nie.

Om dissipline te handhaaf en selfs hoër standaarde van gedrag te ontwikkel, moes ons kreatief dink en dit was onvermydelik dat ons die ouers moes betrek, iets wat die meeste seuns gehaat het. Dit op sigself was ’n goeie afskrikmiddel.

Hoe meer reëls, hoe meer rokers

Bill Schroder ((links) saam met John Illsey, skrywer van Pretoria Boys High School 1901-2001, en oudpres. Thabo Mbeki.

Daar moet net genoem word dat hoe meer regulasies ingestel is om mense te verhinder om te rook, hoe meer is daar gerook. Dit is hoe dit is met adolessente: die verbode vrug is altyd soeter.

Hoewel rook vir die meerderheid seuns net ’n verbode vrug was, was daar in ’n skool van 1 500 seuns altyd ’n klompie toegewyde rokers.

Ek onthou nog baie goed een seun wat herhaaldelik betrap is. Ek het uiteindelik nie geweet hoe om hom te straf nie omdat hy nie deur die dag kon kom sonder om te rook nie, ongeag hoe diskreet hy probeer het om te wees.

Uit frustrasie het ek hom tydens klastyd na Loch Armstrong, ’n pragtige meer op die skoolterrein, gestuur en my sekretaresse, Gail Bloemink, wat destyds gerook het, gevra of sy saam met hom sal gaan rook.

Om hulle verder te straf, sou amper wees soos om ’n hond te skop en ek was nie van plan om ’n seun te skors omdat hy rook nie.

Niks het Gail afgeskrik nie, hoewel sy gebrom het dat dit nie deel van haar werkspligte was om saam met ’n skoolseun te rook nie.

Maar hulle is daar weg. Hy het sy baadjie uitgetrek en sy das afgehaal en het ewe galant ’n sigaret vir Gail aangesteek. Ná ’n trek of twee het hy sy sigaret gedoof en gesê dit was die aakligste ervaring en dat hy gedink het hy is daardeur genees van sy gewoonte om by die skool te rook.

Dit kan waar wees, want ek kan nie onthou dat hy ooit weer na my gestuur is nie. Ek moes Gail ’n verhoging gegee het.

Dit was ’n geïsoleerde geval en ek moes oor die jare ’n plan met geharde rokers maak. Ek en die senior onderwysers het rekord gehou van die seuns wat gereeld gestraf is omdat hulle gerook het.

Nadat hulle ’n paar keer moes skoolsit en gemeenskapsdiens moes dien, is hulle as geharde rokers geïdentifiseer. Om hulle verder te straf, sou amper wees soos om ’n hond te skop en ek was nie van plan om ’n seun te skors omdat hy rook nie.

’n Dampie by die hoof se huis

Bill Schroder saam met die lede van ’n junior swemspan van die Wewstelike Provinsie.

Met die toestemming van die ouers is die seuns toegelaat om by my huis te rook, maar met die volgende voorwaarde: Hulle moes op hul eie gaan en agter om die huis stap waar niemand hulle kon sien nie, behalwe ons tuinier wat glad nie van rook gehou het nie.

Daar moes hulle alle kledingstukke verwyder wat hulle as seuns van Boys High kon identifiseer (een het my selfs gevra of hy sy broek moes uittrek omdat die kakie-kortbroeke kenmerkend van Boys High was).

Daarna moes hulle hul name en die tyd aanteken in ’n boek wat op die vensterbank van ons studeerkamer gelê het waar daar ook ’n asbakkie gestaan het. (Jare later het ek uitgevind dat my vrou, Cherry, ook ’n bakkie met pepermente daar neergesit het.)

Hulle is toegelaat om slegs een sigaret te rook en moes daarna “uitteken” en weer aantrek voordat hulle kon teruggaan.

Ek is seker hulle het net slimmer geword en nie so astrant nie, maar dit het my goed gepas.

Die volgende rokers het tou gestaan op die pad na ons huis en kon eers agter om stap as die vorige roker op pad terug was skool toe.

Ek was verbaas hoe inskiklik hulle was omdat niemand hulle dopgehou het om toe te sien dat hulle by die reëls hou nie.

Die rokers moes een keer per week aan my rapporteer en die terugvoering was dat hulle dié reëling gehaat het en verleë was as Cherry in die studeerkamer gewerk het of hulle gesien het.

Dit was beslis nie gesellig nie, wat gewoonlik die helfte van die pret van rook is. Die meeste het inderdaad gesê dat hulle nie meer langer by die skool sal rook nie en hoewel ons van tyd tot tyd ’n paar nuwe rekrute gehad het, het die besoeke baie minder geword.

Behalwe as hulle beter daarmee geword het om onder die radar te bly, het dit gelyk asof die getal rokers wat betrap word aansienlik minder geword het. Ek is seker hulle het net slimmer geword en nie so astrant nie, maar dit het my goed gepas.

Die belang van selfbeheer

Bill Schroder met sy onderwysgraad van die Universiteit van Kaapstad in 1965.

Ek wil net ’n laaste staaltjie oor rokery vertel wat nie goed op my weerspieël nie en die roker getraumatiseer het. Dit het gebeur toe ek een aand, uitgeput ná ’n lang dag, op pad huis toe was. Dit was reeds donker.

Buite Solomon House het ek ’n seun onder die trappe sien hurk met ’n sigaret. In my toestand van uitputting het ek dit beskou as ’n flagrante oortreding van die regulasies oor rook.

Ek het beheer verloor, op hom gegil en gesê hy moet gaan pak en die f*k uit my skool padgee. Ek het woedend huis toe gestap, vir Cherry vertel wat ek gedoen het en vir myself ’n stywe dop gegooi.

Nadat ek gekalmeer het, was ek verskriklik skaam oor my optrede. Cherry het my aangemoedig om na Solomon Huis te gaan, die seun te soek en hom om verskoning te vra.

Ek het hom gekry waar hy huilend met sy gesig na onder op sy bed gelê het. Ek het om verskoning gevra, waarna hy om verskoning gevra het. Hy het gelukkig nog nie huis toe gebel of begin pak nie. Ek het hom ’n meer gepaste straf gegee deur hom te hok en hy het dit aanvaar.

Terwyl dié ongelukkige voorval my weer herinner het aan die belangrikheid van selfbeheer, vermoed ek dit het die seun laat besef dat ek ook net menslik was.

Ek het weer die intense lojaliteit en agting ervaar wat hierdie seuns vir gesag het. Ek is seker hy het van sy maats daarvan vertel, maar nooit ’n woord daaroor geuiter of daarna verwys totdat ek hom tien jaar later op ’n reünie gesien het nie.

* Schroder was vier dekades lank ’n onderwyser in Engels en Latyn en was 19 jaar lank die hoof van Pretoria Boys High. A Headmaster’s Story: My Life in Education word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R250.

Meer oor:  Pretoria Boys High  |  Bill Schroder  |  Lyfstraf  |  Rook  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.