Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Statiese pelgrimstog
Foto: AP

Of dit nou die broodlyn of die sjampanjelyn is wat nader kom, die grendeltyd dwing jou tot ’n ligter reis, skryf Cas Wepener.

Wat is die minste waarmee ek sal kan klaarkom?

Dit is ’n vraag wat dalk al by meer as een persoon in grendeltyd opgekom het. Hope mense is in ’n knyptang-posisie en moes (en moet) onwillekeurig algaande meer realisties raak.

Redes tot kommer wissel van werk tot wyn; paaiemente tot pap; van vallende aandele tot absolute ellende en hongersnood. Vir sommige is die broodlyn en vir ander is die sjampanjelyn ’n naderende realiteit.

Einde Maart het party mense gedink nee, dis nie so erg nie, maar die realiteit het gou oorgegaan in woede. Knap daarna was daar vele argumente om te probeer onderhandel. Die swart hond het die rokers daarna vinniger besoek as vir ander en stelselmatig tree die besef in: Ons is in vir ’n ding waaruit ons nie maklik gaan kom nie. Vir eers sal ons die situasie moet aanvaar.

Ongemaklike wyshede

Daar is dalk so ’n paar ooreenkomste met Elisabeth Kübler-Ross se bekende fases in die rouproses: vanaf ontkenning tot by aanvaarding, hoewel al die ander fases – woede, onderhandeling en depressie – ook sommer tegelykertyd met ons is.

Stelselmatig dring die besef deur dat daar ’n moontlikheid is dat ook my broodlyn, of sjampanjelyn, in die toekoms uitgewys gaan word.

Stelselmatig dring die besef deur dat daar ’n moontlikheid is dat ook my broodlyn, of sjampanjelyn, in die toekoms uitgewys gaan word. Dat ’n leë koskas, of pap- en twaksak, onvermydelik ook vir my wag. En dat ek deur fases sal gaan in die beleef daarvan. Vir party is dit ’n reis op die pad na menswording.

Hierdie stelselmatige gewaarwording is vergelykbaar met daardie paar kere in die lewe wat ’n stuk wysheid jou ongemaklik laat. Dis iets wat jy nie op ’n rasionele vlak heeltemal verstaan nie, maar jy weet oombliklik dis waar. Dit laat egter ’n nare gevoel by jou posvat, want jy weet jy sal daardie waarheid onvermydelik die een of ander tyd moet omhels.

Dis vergelykbaar met wanneer jy as kind vir die eerste keer begin dink oor die dood. Nadat jy ’n hele paar scenario’s getoets het, eers meer wetenskaplikes soos om jou te laat vries om later weer te ontdooi, asook teologiese opsies soos hemelvaart, sink die besef in dat die wurm ook oor jou waghou.

Die grendeltyd het my aan so ’n stukkie wysheid laat dink . . .

’n Nuwe vaart

Jare gelede het ’n dosent probeer om vir ons te verduidelik dat jy slegs iets werklik kan besit, soos ’n brood of ’n bottel sjampanje of jou eie lewe, indien jy dit eers weggegee het.

Ons was maar enkele jare uit die skool, met bitter min lewenservaring en oë vol onbegrip. Ná ’n klompie pogings om te verduidelik, los hy toe sy teologiese en filosofiese terme, gaan sit op die voorste bank en vryf sy ken terwyl hy van rat verwissel.

Toe vertel hy ons van sy vrou wat op ’n jong leeftyd oorlede is terwyl hulle kinders nog klein was. Op haar sterfbed het sy hom aangemaan en gesê dat hy sy kinders moet weggee, anders gaan hy hulle nooit besit nie.

Al is daar diegene wat die impak nog geensins aan hulle bas voel nie, behalwe vir ’n bietjie inperking-ongemak, moes bykans almal al ten minste effens dieper begin dink.

Dit is een van daardie oomblikke wat meer as net jou kop verstaan. Jou hele wese verstaan en terselfdertyd rebelleer jou skaars mondige lyf teen die toeëiening van die insig.

Die ou is reg en ek sal dit eendag doen, soos ophou rook, definitief, but not quite yet.

Ek dink in dié dae weer aan sy woorde. Tot en met middel Maart was sommige mense nog onsterflik in die breedste sin van die woord – van biologies tot finansieel. Dit is aan die verander en al hoe meer skakel Hemelvaart as haalbare opsie uit. In teologiese taal, sou ’n mens kon sê, is daar op die oomblik grootskaalse inkarnasie, vleeswording, menswording.

Nie Hemelvaart nie, maar eerder ’n Aardevaart. Al is daar diegene wat die impak nog geensins aan hulle bas voel nie, behalwe vir ’n bietjie inperking-ongemak, moes bykans almal al ten minste effens dieper begin dink. Meer nog as ’n jaar gelede word die lewe as ’n soort tog of reis beleef, al mag jy nie te ver beweeg nie.

Dis ’n reis wat nou deur ’n donkerige vallei gaan, die berge rondom die vallei lyk hoër as gewoonlik, en die reisigers op die tog lyk aansienlik kleiner weens die dreigende berge aan weerskante.

Reis ligter

’n Hollander skryf oor die bekende Camino-pelgrimstog in Spanje: “Hoe minder je meeneemt, letterlijk en figuurlijk, hoe meer vrijheid je deel zal zijn.”

Dalk is die grendeltyd ’n soort statiese pelgrimstog wat kan help om ligter te reis aan die een kant. En, aan die ander kant, om nader aan my landgenote te reis.

’n Reis waarop, al besit ek alles nog, ek dit terselfdertyd ook weggee. ’n Reis nader aan myself en my eie mensheid, vleesheid, verganklikheid en die aarde, wat tegelykertyd ’n reis nader aan ander is.

Soms is dit nie dreigende berge nie, maar branders, soos die wat vir Pi Patel in die Stille Oseaan omring het, wat help om die besef te laat posvat. Teen die einde van die rolprent Life of Pi sê Pi: “I suppose in the end, the whole of life becomes an act of letting go, but what always hurts the most is not taking a moment to say goodbye.”

Hierdie gedagtes is, toegegee, luuks. Maar die ontnugtering van die sjampanjelyn kan die werklikheid van die broodlyn in Suid-Afrika laat insink en die hunkering na Hemelvaart laat oorgaan in ’n Aardevaart.

  • Wepener is hoogleraar in praktiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Cas Wepener  |  By
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.