Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Stelsel in die waaksaal
Klaskamers en kantore by ’n skool in Laudium in Pretoria word ontsmet om kinders en leerkragte se veiligheid te verseker te midde van die Covid-19-pandemie. Foto: Gallo images

Dit gaan beroerd met ons onderwysstelsel, wat eintlik maar in die waaksaal lê, skryf Michael le Cordeur in sy terugblik op ’n ongewone jaar en vooruitskouing van dit wat nog voorlê.

Met skoolbestuurspanne wat vandeesweek teruggekeer het skool toe en met die wys­heid van 2020 tot ons beskikking, kan ons terugkyk op die onderwysjaar wat was.

Dit word gesê dat Covid-19 die skete van ons onderwysstelsel blootgelê het. Terugskouend, en met dit wat nog voorlê, sou ’n mens kon sê dit is ’n stelsel wat in die waaksaal lê en sukkel om asem te haal. In my diagnose is daar tien punte wat aandag moet kry.

Ondersteuning

Vir enige onderwysstelsel om doeltreffend te funksioneer, moet basiese ondersteuning in plek wees. Dit ontstel my dat sommige skole steeds nie basiese toiletgeriewe, veilige klaskamers en lopende water het nie. Hoe moet kinders en onderwysers hul hande was?

Werkende internetverbindings, sodat aanlyn klasse kan plaasvind, is blykbaar ook te veel gevra.

Kommunikasie

Kommunikasie tussen die onderwysdepartement en rolspelers is steeds gebrekkig. Dringende kennisgewings kom nie by almal uit nie. Dit lei tot verwarring en skep ’n vrugbare teelaarde vir fopnuus. Pamflette in al 11 tale sal meer doeltreffend wees as TV-uitsendings.

Gebrekkige kurrikulum

Die pandemie het onthul dat ons huidige kurrikulum nie tred gehou het met snelle verandering in die wêreld nie. Dis ’n kurrikulum wat weinig stimuleer, wat innovasie onderdruk, wat knegskap versterk en entrepreneurskap ignoreer.

Die Chinese gesegde dat dit beter is om iemand te leer om ’n vis te vang as om vir daardie mens ’n vis te gee is steeds waar. ’n Nasie wat daagliks in toue staan vir aalmoese is tekenend van ’n kurrikulum wat Suid-Afrika se leerlinge gefaal het.

Té eksamengedrewe

Ons skoolstelsel is te eksamengedrewe. Suksesvolle lande soos Finland laat kinders slegs een eksamen skryf: die matriekeksamen. Suid-Afrikaanse kinders is permanent gespanne weens ’n nimmereindigende gejaag na assesseringstake, toetse en eksamens. Daar is weinig kans om skool te geniet.

Die oormatige klem op die matriekeksamen en die ekstase oor die matrieks se oënskynlike sukses is ’n rookskerm om die werklike gebreke in die stelsel te verbloem.

Soos almal van ons wat aan meer as een kernprestasie-area moet voldoen, kan matriekuitslae nie die enigste assessering wees waarvolgens die minister van basiese onderwys beoordeel word nie. As jy werklik wil weet of onderwys in Suid-Afrika gesond is, moet jy kyk na die vlakke van geletterdheid en syferkundigheid. En ons almal weet hoe dit lyk.

Vakbonde

’n Herdefinisie van vakbonde se rol in ons onderwysstelsel is nodig. Ná 26 jaar is die verhouding tussen vakbonde en die minister van basiese onderwys steeds ’n armdruk-kompetisie om te sien wie eintlik in beheer is.

Dis veral die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) wat sy houding moet verander. Dié vakbond het knap leiers, maar hul stem word selde gehoor. Vakbonde se enigste doelwit kan nie meer wees om net te baklei vir hoër salarisse nie. Daar is baie fasette aan onderwys waartoe vakbonde ’n konstruktiewe bydrae kan (en behoort te) maak. Waarom is vakbonde byvoorbeeld so stil oor skole wat steeds nie lopende water of toilette het nie?

Daar is ’n Afrika-uitdrukking wat lui: As twee olifante baklei, is dit die gras wat seerkry. Dit is kinders wat die meeste ly onder die voortdurende toutrekkery. Dit is tyd vir ’n nuwe benadering waar almal saamwerk, ter wille van die kinders, sonder om alewig mekaar se bona fides te betwyfel.

Leerkragte se houding

Die oorgrote meerderheid onderwysers is hardwerkend en lojaal aan hul roeping. Ek behoort te weet; ek was jare lank ’n onderwyser en skoolhoof. Saam met my vrou het ons 60 jaar se ondervinding in minderbevoorregte skole.

My loopbaan as kringbestuurder het my oë oopgemaak vir die goeie werk wat in model C-skole gedoen word. Dit het my ook kans gegee om in die armste skole te werk.

Ek het gesien hoe sommige onderwysers hul plig gruwelik versuim en afwesigheid hoogty vier. Hierdie houding word dikwels gekondoneer deur ’n vakbond, pleks dat hulle aangespreek word.

Dis tyd dat hierdie onderwysers tot verantwoording geroep word. Beter nog: Raak ontslae van hulle! Hulle stel alle onderwysers in ’n swak lig en moet vervang word met onderwysers wat wil werk.

Ouerwordende onderwyskorps

Covid-19 het gewys dat ons ’n ouerwordende onderwyskorps het. In 2004 was onderwysers se gemiddelde ouderdom 42 jaar, nou is dit 47. Ons verloor baie onderwysers weens Covid-19. Dit bied geleentheid vir jong mense se toetrede tot die professie.

Ons stel eenvoudig nie genoeg jong onderwysers aan nie. Talle onderwysers wat pas klaar studeer het, soek ’n heenkome oorsee omdat hulle nie hier werk kan kry nie.

Dit maak nie sin om belastinggeld te gebruik om onderwysers op te lei net sodat hulle in die Ooste kan gaan skoolhou nie. Ons het hulle hier nodig. Onder leiding van ervare kollegas is dit dalk net die vonk wat nodig is.

Burokratiese rompslomp

Die onderwysstelsel is in sy aard steeds te burokraties, van nasionale vlak tot op provinsiale en streeksvlak. Dit is selfs op skoolvlak ’n probleem.

Ek is ’n voorstander daarvan dat skoolhoofde vir ’n termyn van vyf jaar aangestel word, waarna hulle weer moet aansoek doen vir hul pos. Dit sal prinsipale op hul tone hou en hulle dwing om meer deursigtig te wees. Diegene wat nie die mas opkom nie, moet ná vyf jaar vervang word.

Eie inisiatief ontbreek

Die meeste skole is steeds te afhanklik van die regering. Die wil om op eie inisiatief iets vir die skool te doen, ontbreek. Skoolhoofde is huiwerig om selfstandige besluite te neem en wag op amptenare om die pas aan te gee.

In talle voormalige model-C-skole speel ouers ’n belangrike rol om die skool te ondersteun. Ongelukkig kan dieselfde nie van ouers in armer gemeenskappe gesê word nie, terwyl dié skole dit eintlik meer benodig.

Die pandemie is die ideale geleentheid vir ouers om te verseker dat leerlinge en onderwysers in ’n veilige omgewing funksioneer.

Fondsinsamelings om die nodige beskermende toerusting te koop en die gereelde diep skoonmaak van klaskamers is enkele projekte waar ouers die las op die onderwysers kon verlig.

Oplossings vereis nie altyd geld nie. Innoverende aksies, hoe gering ook al, kan ’n groot verskil maak.

Transformasie

Die pandemie het opnuut beklemtoon dat onderwys in Suid-Afrika getransformeer moet word. Transformasie is nie ’n enkele daad of ’n paar aanstellings nie. Dis ’n nuwe lewenswyse in pas met die nuwe Suid-Afrikaanse konteks.

Ons nasionale sportspanne, kerke en kultuurorganisasies – alles dra die teken van die nuwe Suid-Afrikaanse konteks.

Skoolhoofde en beheerliggame moet eerlik op die volgende vrae antwoord: Het jy sakeleiers gekoöpteer wat kan help met jou finansiële beplanning? Is jou personeel, beheerliggaam en leerlingkorps verteenwoordigend van die diverse Suid-Afrikaanse samelewing? Hoeveel vroue dien in die bestuurspan? Maak jou skool voorsiening vir sokker, of is dit steeds net rugby en netbal?

Nêrens in Suid-Afrika is ’n omgewing wat nie deur verandering geraak is nie. Waarom moet skole die uitsondering wees? Vakbonde en die onderwysdepartement is ewe skuldig omdat hulle swyg hieroor óf dit kondoneer.

Hoe lyk die toekoms?

Die toekoms gaan (en moet) anders lyk. Die positiewe aspek van die pandemie is dat dit hierdie verandering versnel het. Dit dwing ons om ’n kuur te vind vir ons onderwyskwale wat eintlik lankal sigbaar was. Ons het die simptome geïgnoreer in die hoop dat dit vanself sou genees. Nou bevind onderwys hom in die waakeenheid, wagtend op ’n entstof.

Daardie entstof hoef nie van oorsee te kom nie. Dit is reeds hier.

Elke gemeenskap het leierskap én vaardighede om die stelsel reg te ruk. Ons is net te blind om dit raak te sien. Dis ons almal se taak om daardie vaardighede te ontwikkel sodat ons weer ’n kerngesonde onderwysstelsel het.

Prof. Le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudies aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Onderwys  |  Skole  |  Onderrig  |  Leerders  |  Onderwysers  |  Leerkragte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.