Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Storie sonder bitterheid

Maggie Jooste, wie se jeugherinneringe oor die Anglo-Boereoorlog pas gepubliseer is, vertel ’n besonderse en unieke verhaal, skryf Elsabé Brits.

In die Howick-kamp. Agter van links na regs staan
In die Howick-kamp. Agter van links na regs staan Maggie Jooste, haar ma, Anna, met die baba Gertina wat later aan koors gesterf het, Susie Brill en Robert Jooste. In die middelste ry is Johannes Brill, James Jooste en mev. Brill. Voor sit die Brill-dogtertjie en Hettie en Dolly Jooste. Foto: Graham Jooste

Daar bestaan veel meer boeke en dagboeke en meer dieptestudies is gedoen oor mans en generaals se ervarings gedurende die Anglo-Boereoorlog (ABO).

Hoewel die mans die wapen optel, is dit baie keer die vroue wat die stukke optel, en hulself en hul kinders aan die lewe moet hou. Hul vertellings van oorlog verskil aansienlik van dié van mans.

Veral in dié oorlog het vroue en kinders besonder swaar aan die las van oorlog gedra. Emily Hobhouse verwys spesifiek hierna in die titel van haar eerste boek: The Brunt of the War and Where It Fell. (’n Briefie wat die 14-jarige Maggie Jooste destyds vanuit die kamp aan haar oud­onderwyseres in Stellenbosch geskryf het, is ook in Hobhouse se boek opgeneem).

                                                                              ***

In 1962 het Maggie, toe reeds ’n weduwee van 76, haar herinneringe van die oorlog en hul verblyf in die konsentrasiekampe in Pietermaritzburg en Howick opgeskryf.

Tekste deur vroue oor die ABO spreek tot die emosie.

Met die uitbreek van die oorlog het sy en haar groot gesin in Heidelberg in die destydse Transvaalse Republiek gewoon. Hul pa, Jakobus Petrus Jooste, was ’n suksesvolle wamaker en hoefsmid en hy en sy vrou, Anna Susanna, en hul kinders het ’n klaarblyklik gemaklike lewe gelei – “ ’n baie gelukkige gesin in ons groot, mooi huis”.

Ná die uitbreek van die oorlog is haar pa en twee broers kommando toe. Anna en die ses kinders het op die dorp agtergebly en dit is duidelik uit Maggie se vertelling dat hulle toenemend swaarder gekry het, veral nadat Heidelberg in Junie 1900 deur die Engelse verower is het.

“Daardie dag het die vroue en kinders wat agtergebly het se onbeskryflike smart en angs van langer as twee jaar begin. Dit het gevoel of die mans en groot seuns na wie hulle moes gaan vir hulp en beskerming, vir altyd weg was. Daar was vreeslike gerugte van vroue en meisies wat aangerand is en van wreedheid teenoor hulle. Ons het dit eers later, nadat ons self weggevoer is en van honderde ma’s en dogters se ondervindinge gehoor het, verstaan en geglo.”

                                                                                ***

Teen 6 Desember is Maggie en haar gesin op oop veetrokke na die konsentrasiekamp op Howick vervoer. Sy skryf roerend en diepliggend oor al hul wedervaringe in die kamp. Die dood van haar sussie. Hoe sy en haar ma ’n paar skoene sonder kouse gedeel het; en hoe haar ma uiteindelik die boonste deel van dié stewels afgesny het om vir ’n kleintjie ’n paar skoentjies te maak. Die honger en koue. Die siekte waarvoor daar geen hulp was nie. Maar ook van moed en veerkragtigheid.

’n Foto van Maggie Jooste later in haar lewe wat nou eers na vore gekom het, ná die publikasie van haar boek. Foto: Annette Mulder

Sy skryf verder met baie insig oor wat werklik aan die gang was: “Teen die einde van 1901 het ’n ander aaklige toestand in die kampe aan die lig gekom. Ons kinders is nooit heeltemal deur die grootmense ingelig oor wat aangaan nie. Ek kan net onthou dat daar tussen ons kamp en die ander kamp ’n breë laagte was. Ons kampe het op twee bulte gelê met die skuins laagte tussenin waarin die water gewoonlik afgeloop het. ’n Hele klomp ronde Bell-tente word toe daar opgeslaan. Daar was mense in, maar ons is ten strengste verbied om naby hulle te kom.

“Ds. Van der Horst en Ma het baiekeer daarheen geloop en in al die tente met die mense gepraat en vir hulle gebid. Toe vind ons uit dat dit almal vroue en jong meisies was wat kinders van die Kakies verwag het.”

Self moes Maggie en ’n maatjie vlug vir ’n soldaat wat hulle wou “vang” toe hulle op ’n dag te ver geloop het. Hulle het nooit weer gaan blomme pluk nie, haar instink het haar gelei.

Hierin lê die groot krag van Jooste se herinnering – wanneer sy dinge aanraak waaroor daar selfs nou, 120 jaar later, tot ’n groot mate geswyg word. Ons weet dit het gebeur, daar is ’n sogenaamde ondersoek (“Havenga-verslag”) ingestel daardie jare van die oortredings teenoor vroue, maar dadels het daarvan gekom.

                                                                                       ***

’n Kleindogter van Maggie, Annette Muller van Kaapstad, vertel haar ouma het baie jare by hulle aan huis op George gebly, “tot ek 21 was en sy oorlede is. Sy was soos ’n tweede ma vir my gewees.”

Sy sê sy het met haar ouma se verhale uit die oorlog grootgeword en kan nog onthou hoe sy by hulle in die huis gesit en skryf het aan haar herinneringe en hoe haar pa die manuskrip oorgetik het.

Alexa, Dean en Jordan Jooste in 2011 by die gedenkteken waar die Howick-konsentrasiekamp was. Maggie Jooste was hul familielid. Foto: Dean Jooste

Annette se ma, Anna Susanna, is Maggie Jooste se dogter – haar enigste oorlewende kind ná ’n seun wat jonk dood is.

Die familie het vir baie jare vergeefs probeer om haar ouma se manuskrip uitgegee te kry, sonder enige sukses, uitgewers destyds het gewoon nie belang gestel nie. Maggie is uiteindelik in 1974 in die ouderdom van 88 oorlede sonder dat sy ooit haar boek in druk gesien het.

Muller vertel dat sy vroeër die jaar, ná die begin van die staat van inperking, weer haar ouma se herinneringe gaan lees het.

“Ek het net weer besef watter merkwaardige mens sy was. Sy was nooit bitter nie. Sy het altyd gesê die soldate was ook iemand se seun. Dit wys jou ook met hoe min ’n mens kan klaarkom,” sê sy.

Van die stukke juwele wat destyds gedurende die oorlog deur die gesin begrawe is, om vir die Britte weg te steek, en weer opgegrawe is, is vandag in haar besit.

“Dit is vir my baie, baie spesiaal,” vertel sy.

Hulle het nooit weer gaan blomme pluk nie.

Annette was nie self betrokke by die uitgee van haar ouma se manuskrip nie. Om die waarheid te sê het dit vir haar as ’n verrassing gekom.

Sy vertel dat daar twee afskrifte van die manuskrip in die familie was – waarvan die oorspronklike titel Ek onthou was.

’n Verlangse familielid van Muller, Graham Jooste, het ook ’n kopie gehad. Maggie was die tante van Graham se pa (aan vaderskant).

Onder die Joostes was daar ’n Afrikaanse en Engelse weergawe van die manuskrip. Dit blyk Maggie, wat baie goed tweetalig was, het haar herinneringe destyds in Afrikaans en Engels neergepen.

Van die juweliersware wat Maggie Jooste se gesin tydens die Anglo-Boereoorlog begrawe het wat haar kleindogter Annette Muller vandag besit. Foto: Annette Mulder

Graham sê die twee afskrifte het vir 57 jaar in sy tak van die familie rondgeswerf. Uiteindelik het sy seun Dean verlede jaar vir Tafelberg Uitgewers gekontak om te hoor of hulle nie belangstel om dit uit te gee nie.

En so is ’n lank gekoesterde droom – nie net van Maggie nie, maar ook haar uitgebreide familie – om haar boek in druk te sien, uiteindelik verwesenlik.

Graham sê net soos met Annette (die boek het die twee families ná baie jare weer bymekaar uitgebring) het Maggie se verhaal ook op hom ’n groot indruk gemaak, soveel so dat hy en sy gesin in 2011 die konsentrasiekampterrein en -gedenkteken op Howick gaan besoek het en sy een dogter ’n skoolprojek daaroor gedoen het

                                                                                 ***

Een van die land se groot kenners van die ABO, prof. Bill Nasson van die Universiteit Stellenbosch, sê daar is min persoonlike tekste wat handel oor die ervarings van vroue, anders as boeke deur mans, waarvan daar betreklik baie is.

’n Belangrike rede hiervoor is waarskynlik die feit dat oorlog tradisioneel beskou word as “ ’n man se besigheid”, terwyl vroue die passiewe, treurende slagoffers is – die moederlike figure.

Dat dit so is, is baie ironies in die geval van die ABO, waar die rolle van die verskillende geslagte in oorlog dikwels vervaag en verwissel het. Byvoorbeeld: Anders as wat die Engelse gehoop het, het die konsentrasiekampe in baie gevalle net vroue se verset verhard.

“ ’n Baie belangrike onderskeiding tussen die stemme van vroue en mans (en dit is van toepassing in baie oorloë) is dat vroue op veel minder geromantiseerde wyse skryf. Hul skryfwerk is sonder opwindende stories van wrede geweld, gedehumaniseerde uitbeeldings van die vyand en van bomenslike, individuele moedigheid. Daar is, in die geheel gesien, in vroue se skryfwerk veel minder van die idee teenwoordig dat oorlog ’n plig is, of van die drang om dood te maak,” sê Nasson.

Prof. Fransjohan Pretorius sê dit lyk of die leserspubliek uit die staanspoor meer belang gestel het in die militêre bedrywighede van die oorlog.

“Intelligente vroue wat dalk oor die ABO wou skryf, het waarskynlik hul plek in die manlik-oorheerste samelewing besef. Hulle was waarskynlik meer geïnhibeer as die manne om oor hul ervarings te skryf. Hoe jammer!”

Die gevolg is dat baie van die 20ste eeuse geskrifte oor die ABO heeltemal ontdaan is van emosie en menslike ervaring. Daar is boonop nie juis tekste van mans oor die ervaringe in die konsentrasiekampe nie.

Tekste deur vroue het tot die emosie gespreek, veral die wat in die 1930’s verskyn het tydens die opbloei van Afrikanernasionalisme. Die boektitels alleen gee al ’n idee hiervan: Mag ons vergeet? van mev. Neethling in 1938, Onthou! van Hendrina Rabie Van der Merwe in 1940 en Tant Alie van Transvaal: Die dagboek van Alie Badenhorst in 1938. Dan is daar natuurlik ook die boeke van Emily Hobhouse.

Nasson sê Jooste se teks staan uit omdat sy so noukeurig kon waarneem en oor haar ongewone volwassenheid op daardie ouderdom. Dit is ’n eerlike ervaring van ’n tiener in oorlog, wat baie gebeure met stoïsisme verduur.

Volgens Pretorius is die teks eg eerlik en ongekunsteld.

“ ’n Teks wat jy gou vanweë sy bewonderenswaardige balans omhels. Dit is so sonder pretensie en bitterheid, en het vir ons ’n boodskap vandag oor menseverhoudinge, rasseverhoudinge en lankmoedigheid en liefde. Die boodskap uit dié oorlog is: Die bekende Nelson Mandela-opmerking is die kern: ‘Never, never again . . .’ Kom ons leer uit die smart wat oorlog en in ons land se geval burgeroorlog, rasse-oorlog, vir almal kan bring. So iets het nie brieke nie. Lyding is universeel. Kom ons werk dit teë met wedersydse begrip.”

Nasson sê hy is nie seker wat ’n mens uit oorlog kan leer nie wanneer ’n mens in gedagte hou dat die Eerste Wêreldoorlog dié oorlog was wat alle oorloë moes beëindig. Hy dink aan die Franse digter Guillaume Apollinaire en sy oproep om medelye: “Pity on us who are always fighting on the fron­tiers / Of limitlessness and the future / Pity our mistakes, pity our sins.”

  * Elsabé Brits is ’n vryskutjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.