Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Tuiste vir almal in Afrikaans?

Wat is die pad vorentoe vir waarheid en versoening in Afrikaans, vra Jan-Jan Joubert na aanleiding van die Dak-konferensie in Kaapstad.

Prof. Michael le Cordeur by die Dak-konferensie. Foto: Edrea du Toit

Die Ou Mutual-hoofkantoor in die Kaapse voorstad Pinelands huisves genoeg konferensies dat diegene wat die koffie daar bedien, behoorlik afgestomp raak.

Maar verlede Saterdag en Sondag was die groep wat in die skadu van ou Tafelberg saamgetrek het so baldadig en so uiteenlopend dat een van die ondersteuningspersoneel – straks hoopvol; ’n ander se tuisomstandighede is mos maar duister – vra: “Gaan hierdie oor huise vir Afrikaanse mense, meneer?”

Ja en nee, meneer. Die Namakwalandse mathuisie-embleem van die Dak-netwerk, met sy Afrikaanse bewoording langs die huisie, wil wel ’n tuiste bied, in ’n kulturele sin. Dak (dit staan vir die Khoi-leiers Damon, Autshumao en Krotoa) wil alle Afrikaanssprekendes onder een dak byeenbring; in hierdie geval om ’n weg vorentoe te vind vir waarheid en versoening oor verdelingslyne heen, met daardie verdelingslyne se bestaan en wordingsgeskiedenis wat nie ontken word nie.

Die koffieskinker se vraag was meer toepaslik as wat dit dalk vir sommige kan voorkom, want die naweek is dikwels verwys na die welvaartgaping tussen Afrikaanssprekendes – wat dit veroorsaak het, hoekom dit steeds bestaan en hoe om dit in onderlinge belang te begin oorbrug.

‘Wie het besluit bruin Afrikaans is nie beskaafde Afrikaans nie?’

Afrikaans is immers, soos enige taal, ’n hartsaak, ’n praatsaak, ’n kultuursaak en ’n behoortsaak, maar ook ’n gebruiksaak, ’n verbruikersaak en dus dikwels en vir baie – ten goede of ten kwade – ’n geldsaak, ter wille van oorlewing.

Of dit nou die kletsrymer Hemelbesem was wat op sy welsprekende beste en ten regte die gebrek aan bruin Afrikaanse rolmodelle weens gebrekkige kanse in die musiekbedryf betreur het, of die Stellenbosse opvoedkundige Quinton Adams – wat soveel van sy tyd aan die herstel van plakkershutte bestee – wat die mensonterende armoede op die Kaapse Vlakte deur sy sterk getuienis tot in die lokaal gebring het, of die Godsman dr. Braam Hanekom van die NG Kerk wat ongelykheid belig het – die koffieskinker se vraag was nie ongegrond nie.

Dit was pertinent, want die nood is groot.

Maar eers is daar stilgestaan by ons waarvandaan, met puik lesings oor die wording van Afrikaans deur proff. Hein Willemse en Hans du Plessis. Indien enigeen nog gedink het Afrikaans is die eksklusiewe eiendom van ’n etniese groep, is hulle behoorlik, en nogal bekoorlik, reggehelp deur die twee ware here.

Uit die onderwys het die leerkragte Earl Basson en Robyn van der Reede dit duidelik gemaak dat daar wel ’n taalhonger by tweede- en derdetaalsprekers vir Afrikaans bestaan, maar dan moet dit stadig, vriendelik en bemagtigend aangebied word – as ’n bruikbare bykomende vaardigheid.

Cornelia Faasen van die Nasionale Afrikaanse Toneelinisiatief het die soeke en produksie van kwaliteit-teaterwerk oor rasgrense heen en in alle taalvariante benadruk, en die noodsaaklikheid van die soeke na ’n beter toekoms eerder as ’n beter verlede beklemtoon.

Nogtans was daar duidelik by baie in die gehoor steeds die behoefte om die verlede te verwoord en nie te vergeet nie – die kepe geslaan deur en in ’n geliefde moedertaal wat ten kwade omskep is van bate tot wapen teen sy eie sprekers – en teen soveel ander.

Op die vraag wat jy kan doen, het die joernalis Malixole Gwatyu ’n baie bruikbare en proaktiewe voorstel verskaf: “Doen wat jy kan, nou, waar jy is, op ’n eerlike manier en sonder om mense vir ’n agenda te probeer kaap.”

Goeie raad, sou mens dink, binne en buite die taalakker!

Die kerkman dr. Hendrik Theys het hieraan die belangrikheid toegevoeg dat mense verstaan jy kan in Afrikaans kos op die tafel sit, terwyl die Stellenbosse student Giselle Botha vertel het van die noodsaaklikheid om te kan opkom vir Afrikaans sonder om “ ’n nasionalistiese klap weg te hê – of van een verdink te word”.

Prof. Michael le Cordeur van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch het uit die gehoor gemaan daarteen om jouself as slagoffer te sien, of vir hulp te wag. In sy Bolandse tuisdorp Wellington besit Pakistani’s en Chinese eerder as die plaaslike Khoi-San al amper die helfte van die winkels in die hoofstraat.

Die pynlik ongemaklike kwessie van regstellende aksie wat soms swart bo bruin bevoordeel, is pittig deur Hemelbesem getakel toe hy verwys het na mense wat aangestel word “as hulle hul name kan kliek”.

Prof. Anton van Niekerk, voorsitter van die departement filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, het die gehoor gekonfronteer met die feit dat die belangstelling onder studente in Afrikaans as onderrigtaal by Maties tans taan – tot sy spyt.

Van Niekerk het uitgewys dat baie studente tans internasionaal wil meeding wat die beroepsmark betref, en het gesê op universiteite moet die vraag gevra word hoe belangrik die taal vir studente is, en hoekom. Van Niekerk het voorts tot omvattende instemming aangevoer dat gedeelde waardes die fondament is waarop die toekoms gebou moet word.

In sy inset vanaf die podium het Le Cordeur ongemaklike vrae gevra. Is versoening moontlik? Is mense daartoe bereid? Word sommige dinge nog verswyg of weggesteek? Hy het voorts uitgewys dat versoening nie ’n gebeurtenis is nie, maar ’n proses wat volgehou moet word.

Voort op sy reis van ongemaklike vrae het Le Cordeur aangedring dat diegene wat verantwoordelik is vir die probleem, dit erken. “Wie het van 1948 tot 1994 vir die NP gestem? Wie het besluit bruin Afrikaans is nie beskaafde Afrikaans nie? Waarom is soveel Afrikaanssprekendes van die opening van die Taalmonument uitgesluit? Waarom is die Hertzogprys so laat eers aan Adam Small toegeken?”

Nogtans het hy gesê mense moet ophou met verdagmakery. Eerder as hofsake oor taalbeleid – wat wenners en verloorders skep, met Afrikaans so dikwels en op soveel maniere as verloorder – moet gevra word waarom studente nie die vele moontlikhede wat in Afrikaans by Stellenbosch bestaan, wil aangryp nie.

Le Cordeur het gesê die pad vorentoe is om te deel – wat skole, vakansieplekke, kerke ensomeer betref – en sy laaste ongemaklike vraag gevra: Is mense werklik daartoe bereid?

Hanekom se spreekbeurt het weer die moontlikheid van restitusie op die voorgrond gestoot. Hy het gevra dat versoening in alle handelinge voorop gestel word, en het vele praktiese voorbeelde van die bereiking van versoening hier te lande gelys.

Hanekom het die aanvaarding van die Belydenis van Belhar deur die Wes- en Suid-Kaapse sinode van die NG Kerk as versoeningsgebaar uitgelig, en die reaksie van sommige ander sinodes daarop betreur as ’n teken dat party sinodes al hoe minder in gemeen het.

Die Instituut vir Geregtigheid en Versoening se Stan Henkeman het breedvoerig uit sy instituut se versoeningsbarometer aangehaal om te wys hoedat ongelykheid ná 1994 toegeneem het, en hoe Suid-Afrikaners hulself ál meer op grond van ras eerder as taal beroep as identiteitsmeetsnoer.

Henkeman het sommige wenkbroue laat lig met sy stelling dat “Ek sien nie kleur nie” ’n beledigende stelling is. Hy meen restitusie is noodsaaklik en mense moet meer ontwrigtend optree, want as jy eenmaal ongelykheid gesien het, kan jy dit nie maklik weer ontsien nie.

Dr. Flip Buys, hoof van die Solidariteit-beweging, het gesê mens kan nie die geskiedenis verander nie, maar jy kan baie aan die toekoms doen. Hy het die beraad saamgevat deur (in die algemeen) te verwys na die land as een met goeie persoonlike verhoudinge en groot politieke verskille.

Buys, wat gesê het hy kom uit die noordelike republikeinse tradisie, het gesê ongelukkig het die Afrikaner se vryheid die simbool geword van ander se onvryheid. Nietemin het hy ’n multikulturele eerder as ’n monokulturele benadering bepleit.

Volgens Buys laat verskeie Afrikanerkapitalistiese instellings van sowat ’n eeu oud tans Afrikaanse mense in veral die noorde van die land in die steek waar hulle desnoods staatsdienste moet verskaf sonder staatsinkomste.

Hy het Afrikaanse mense gevra om te fokus op ooreenkomste eerder as verskille ter wille van die skep van ’n beter toekoms.

Ter afsluiting het prof. Julian Sonn en die Dak-voorsitter, dr. Danny Titus, onderneem dat hierdie konferensie die eerste stap is op ’n reis waar waarheid en versoening in Afrikaans tot heil van almal nagestreef sal word. Almal het verdaag met mandate ter vordering – tot ons binnekort daardie vordering meet.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.