Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Tweede kans vir Dorette Potgieter

Op 11 September wou die aktrise Dorette Potgieter vir haar pa, Org, haar eerste dokumentêr wys oor die kans wat sy gewaag het binne Pollsmoor-gevangenis – maar helaas was dit toe reeds te laat. Sy het aan Willemien Brümmer vertel hoe sy heling gevind het agter tralies.

’n Skermgreep uit Kans, waar Dorette vertel oor die Film 4 Offenders program wat sy in die Pollsmoor-gevangenis begin het om die geheime van die silwerskerm te ontsluit. Foto: Werner Hefer

In plaas daarvan dat sy en haar pa soos afgespreek saam na haar eerste dokumentêr, Kans, sou kyk, los hy ’n laaste verrassing in die posbus.

Die aktrise Dorette Potgieter kyk af na haar hande terwyl sy vertel oor 11 September – haar ma se verjaardag, haar ouers se huweliksherdenking en die laaste ding wat sy régtig graag met haar pa, Org, wou deel.

Sy lyk tegelyk breekbaar én sterk, maar die emosie stoot kort-kort teen ’n dun keerwal.

“Ek en Lia was op pad na my ma-hulle toe in Welgelegen om my ma saam te vat ysskaats toe, want Lia was sedert die lockdown nog nie weer by ysskaats nie, en sy vaar regtig góéd in ysskaats. Tien minute voor ons daar aankom, bel ons my ma om te sê: ‘Sit gou vir Lia drie repies spek in die pan, sy wil dit eet op pad ysskaats toe’.”

Liewe Jesus, as Oupa Org nog nie by jou in die hemel is nie, stuur hom asseblief vir ons terug.

Toe haar ma, Barbara, tien minute later aan haar motorruit klop, is dit egter nie met spek nie. “Hulle het op my pa afgekom, en daar was toe nie meer ’n hartklop nie, sy hart het net gaan staan in sy slaap. My broer het toe klaar begin met CPR, en my ma het toe klaar op die WhatsApp-groepie van die buurt om hulp gevra.”

Op pad hospitaal toe vra Dorette vir Lia Luna Li om te bid. Sy bid: “Liewe Jesus, as Oupa Org nog nie by jou in die hemel is nie, stuur hom asseblief vir ons terug’.”

By die hospitaal is Dorette reeds voorberei op die ergste.

Die aktrise Dorette Potgieter se eerste dokumentêr, Kans, oor die lewe in Pollsmoor, is pas bekend gestel. Sy wou dit op 11 September vir haar pa, die voormalige televisieregisseur en joernalis Org Potgieter wys, maar toe sy by haar ouerhuis aankom het sy hart reeds gaan staan. Foto: Milan

Haar goed gemoduleerde stem is sag waar sy op ’n blou fluweelstoel sit in ’n Victoriaanse huis in die suidelike voorstede van Kaapstad.

Sy en Lia woon deesdae in ’n veiligheidskompleks buite Stellenbosch, waar dit voel asof sy “aan die hemel kan raak”. Ons ontmoet hier terwyl Lia danslesse doen by die Waterfront.

“Ek het toe al besef niks wat ek kan doen, kan hom terugbring nie. Dit was maar ’n belaaide dag, want ons het toe nou nie gaan ysskaats nie en my ma se verjaardag het toe nou ’n bietjie anders uitgedraai. Ons sou net die dag saam spandeer het en ons sou twaalfuur almal by die huis gewees het, en dan sou ek vir my pa gesê het ons loods my webtuiste, dorettepotgieter.com, en ons loods die dokumentêr en hy het nog nie eens die dokumentêr gesien nie.”

Dis juis by Pa Org waar sy van jongs af reeds gesien het wat agter die kamera gebeur. Dié oud-model wat op 16 reeds die Timotei-meisie was. Sy speel toneel vandat sy vyf is en op nege het sy teenoor Arnold Vosloo in die rolprent Kringe in ’n bos gespeel.

Dorette het geen opleiding gehad oor hoe om ’n dokumentêr te maak voordat sy haar eerste dokumentêr geskiet het nie, maar sy het van kleins af reeds ’n blik gehad op wat agter die kameras gebeur danksy haar pa, Org Potgieter.

“My pa het vir die SAUK gewerk vir lank en hy was die regisseur van programme soos Musiek mosaïek en Lekker ligte liedjies. Ek was elf, so oud soos Lia, en dan het my pa al die musiekvideo’s gedoen vir die programme wat hy uitgesaai het vir die SAUK. Van hierdie video’s was nogal amazing. Ons praat hier van David Kramer, Randall Wicomb, Anton Goosen, Laurika Rauch, Sonja Heroldt en Danie Niehaus wat hy vir die eerste keer aan ’n televisie-gehoor bekend gestel het . . . die lys is lank.”

Die blou van die stoel is so blou soos haar oë. “Dis nogal ’n verligting dat my pa nie meer so ly nie, dat hy nie meer so seer het nie en dat hy nie meer so verskriklik swaar kry nie.”

In sy laaste jare het hy net sowat 30% van sy hartfunksie oorgehad. Maar hy het nog genoeg energie gehad om vir Lia te leer spoorsny met briefies as leidrade wat haar deur die huis en die tuin gelei het. “Aan die einde van die spoorsny het sy altyd ’n pakkie biltong of ’n sjokolade gekry. En elke keer wanneer sy kom kuier, dan los my pa vir haar ’n ietsie, ’n bederfie in die posbus.”

Ek dink die laaste ding wat ek met regtig met hom wou deel was Kans en die werk wat ek gedoen het in Pollsmoor.

Haar stem breek. “Daar was ’n Tex-sjokolade in die posbus toe ons weer by die huis aankom en hy reeds dood verklaar is. Hy moes dit die aand vantevore al daar gesit het vir Lia omdat hy geweet het sy kom. Lia het nou gevra dat ons dit in harpuis vir haar sit sodat sy dit vir ewig kan hou.”

Die gesig wat al soveel keer op die voorblaaie van tydskrifte gepryk het is byna sonder skanse. Sy aarsel. “Die laaste tyd het ons daar gekom sodat Lia haar oupa kon sien en hulle ’n tydjie kon saam spandeer, maar ek het nie meer so baie gehad wat ek met hom wou bespreek of deel nie. Ek dink die laaste ding wat ek met regtig met hom wou deel was Kans en die werk wat ek gedoen het in Pollsmoor.”

’n Kans in die nuwe Suid-Afrika

Wat sy ook vir hom sou wou sê is dat Kans vir háár ’n tweede kans gegee het – iets wat sy wens hy ook kon gehad het in die laaste pylvak van sy lewe. “Toe my pa in 1994 weg is by die SAUK het hy dit baie moeilik gevind om sy voete te vind in die nuwe Suid-Afrika en ek dink hy sou in Kans kon sien hoe ek my voete vind. Dit was die uitdaging wat my dra en my dryf . . . waar hy nie noodwendig meer kans gesien het vir alles wat hy moes vermag om in die nuwe Suid-Afrika bo uit te kom nie.”

Ek dink as hy Kans kon gesien het, dan sou ’n hy kans gehad het om te sien wat ’n mens kan vermag met die kans wat jy jouself gun om iets gedoen te probeer kry.

Sy vee oor haar oë. “Ek dink wat ek deur Kans probeer doen het is om vir mense te wys jy hóéf nooit bo uit te kom nie. Dis ’n pad wat jy stap, en hoe meer hande jy kan vat op pad na waarheen jy dink jy moet stap . . . dís eintlik die journey.”

Sy knik. “Ek sou dit definitief met hom wou gedeel het, want my pa het van 1994 af regtig gesukkel. Dit was nie vir hom maklik om op sy eie voete te staan en sy eie besigheid (Spektrum Produksies) te hê nie. En toe het hy baie siek geraak. Ek dink as hy Kans kon gesien het, dan sou ’n hy kans gehad het om te sien wat ’n mens kan vermag met die kans wat jy jouself gun om iets gedoen te probeer kry.”

‘Om deur die seer te werk’

Toe sy begin droom het oor haar eerste dokumentêr het sy self nie gehou van wat sy sien wanneer sy in die spieël kyk nie. In dié tyd het ’n Afrikaanse gesinstydskrif op sy voorblad uitbasuin dat sy “platsak” is en dat sy en Lia Luna Li nou van “kospakkies en aalmoese” leef.

Dié “goue meisie” wat op 24 as die “yskoningin” Susan Bosman in die sepie Egoli vir die eerste keer ’n huishoudelike naam geword het.

Dorette saam met Lewies Davids, die departement korrektiewe dienste se mediawoordvoerder by die Pollsmoor-gevangenis in die afdeling vir vroulike gevangenes. Foto: Alice Buckley

Gou het sy egter nuwe vryheid op ’n onwaarskynlike plek gevind: Tussen tatoeëermerke, bendes en verhale van onuitspreeklike pyn in een van die mees berugte gevangenisse ter wêreld.

Dit was nadat sy in 2016 ’n waarnemer was van ’n program vir herstellende geregtigheid deur die Hope gevangenisbediening, gelei deur pastoor Jonathan Clayton in die Brandvlei-gevangenis naby Worcester.

Dis hier waar sy besef sy wil deel word van ’n volhoubare program om vir gevangenes en oud-gevangenes te leer oor die geheime van die silwerskerm en só te help keer dat hulle terugval na ’n lewe van misdaad.

Op 26 Maart verlede jaar loods sy Film 4 Offenders saam met die Suid-Afrikaanse Film-akademie onder 28 gevangenes in Pollsmoor sodat hulle weer “in voeling kan kom met dit wat hule eintlik wil wees”. Vyf maande later volg die Film For Offenders nasorgprogram in samewerking met pastoor Craven Engel van die First Community Resource Centre en Ceasefire by Camp Joy, ’n halfweghuis naby Strandfontein.

Dorette saam met lede van die nasorg-program by Camp Joy. Sy gee op Saterdae vir hulle klas in digitale filmproduksie. Foto: Jaco Marais

“Ek sal dit nooit vergeet nie, een van die leerlinge by Pollsmoor het vir my gesê sy kan nie wag om na my klas te kom nie, want dis die een klas in die week wanneer sy kan wees wie sy eintlik is.”

Sy glimlag teer. “In daai klas is sy nie ’n gevangene nie. Ek dink nogal ons moet meer sulke veilige platforms skep vir mense waar hulle net kan sag word en kan connect met ander en deur die seer kan werk en kan leer om hul selfbeeld weer te begin bou, want wat gebeur wanneer hulle eendag weer vrygelaat word?”

‘Bloed agter bloed’

In Kans, waarvan sy meer as ’n kwart van die onkoste gedra het deur onder meer haar motor te verkoop, vertel sy die verhaal van Amore Stevens, wat begin vanjaar vrygelaat is uit Pollsmoor.

Amore wat getrek is “na ’n yard en ’n wendyhuis” toe sy so oud was soos Lia Luna Li.

In die dokumentêr vertel Amore: “Hulle (vier mans) het net gemaak wat hulle wil en ek is net uit, blank, unconscious, stil.” Dit was “bloed agter bloed”.

Amore Stevens soos sy verskyn in Kans. Foto: Werner Hefer

Sedertdien woon sy op straat, en vanaf 2009 is sy in en uit die gevangenis, vasgevang in ’n stelsel wat haar telkens in die steek laat.

Ineengevleg hiermee sien die kyker hoe programme soos Film 4 Offenders en die Hope gevangenis-bediening vir gevangenes ’n tweede kans gee.

Ek kon dit nog deurtrek, maar dit het my R180 000 meer gekos as wat ek gehad het.

Dorette skud haar kop. “Kans sou al in Februarie vanjaar uitgekom het, maar toe het ek einde Desember ’n bloutjie geloop met my eerste redigeerder omdat sy te druk besig was met ander projekte. Pollsmoor het eers agt dae voordat ons kon begin skiet vir my bevestig ons kon voortgaan – en teen dié tyd het jy eintlik al jou hele produksiespan verloor.”

Sy sug. “Ek kon dit nog deurtrek, maar dit het my R180 000 meer gekos as wat ek gehad het. Dit was maar ’n kans wat ek gewaag het van die begin af en dit was nie maklik nie, maar al my jare van ballet het vir my daai doelgerigtheid en dissipline geleer.”

Dorette saam met pastoor Craven Engel van die First Community Resource Centre en Ceasefire, wat die Film 4 Offenders-nasorgprogram fasiliteer by Camp Joy buite Strandfontein. Hy kry lede van die nasorgprogram om onder meer te help met ’n volhoubare voedingsprogram in Hanover Park wat fokus op die kwesbaarste lede van die gemeenskap. Foto: Jaco Marais

Sy kyk by die venster uit na ’n voëltjie op die stoepie. “Ek weet nie of jy weet nie, maar Jonathan (Clayton) het vir my gesê net 8% van korrektiewe dienste se begroting word opsygesit vir herstelling en rehabilitasie – nou hoe op aarde gaan jy die issues waarmee hulle te kampe het regmaak as daar eenvoudig nie geld is om dit te doen nie? So ek dink met Kans staan ek miskien ’n klein kansie net om ’n paar mense in hierdie land daarop attent te maak dat ons wel ’n verskil kan maak as ons weet hoe om ’n bydrae te maak.”

‘As sy wil terugkom kan sy’

Die probleem is dat jy iemand tot by die water kan bring, maar jy kan hulle nie dwing om te drink nie. Op 6 Januarie vanjaar toe Amore vrygelaat word uit Pollsmoor, neem Dorette haar na pastoor Engel se nasorgprogram naby Strandfontein. Sy help haar met klere en beddegoed en kruideniersware. Sy betaal vir haar om eers ’n ses weke restourasie-program te volg om haar weer op haar voete te kry, waarna sy sou opleiding kry deur onder meer Film 4 Offenders.

Dorette deel ’n oomblik met Osbert Kelly Solomons. Hy is die eerste lid van Film 4 Offenders wat vrygelaat is op parool en Dorette het ’n baie lang pad met hom gestap. Hy is steeds deel van die nasorgprogram by Camp Joy en hy gaan ’n belangrike rol speel in die opvolg vir ‘Kans’, ‘ ’n Tweede kans’. Foto: Jaco Marais
Dorette saam met Osbert, by Camp Joy se groentetuin waar hulle besluit wat op die spyskaart is vir middagete. Foto: Jaco Marais

“Ons het reeds iemand wat nou al daar is van Desember. Hy was ’n heroïenverslaafde en nou is hy skoon en hy doen ongelooflike werk. Hy het nou al sestien mense wat onder hom werk en ons wil ’n Tweede kans, die opvolg tot Kans, met hom ontwikkel, want ons het onderhoude met hom gedoen toe hy uitgekom het en saam met hom deur parool geloop.”

Amore se storie is egter anders, en sy hardloop twee keer weg van Camp Joy. Sedert die inperking is sy terug op straat. In dié stadium het sy nog net stukkies van die dokumentêr gesien waarin sy die hoofrol vertolk.

As sy wil terugkom kan sy – maar of die bendes haar gaan tóélaat is ’n ander storie.

“Om jouself uitmekaar te haal en weer op te bou sit nie in enigiemand nie. Ons besef haar dwelmprobleem is groot. Ek weet nie of sy my of ons ooit regtig ’n kans sal gee om haar te help nie, maar sy weet ons deure staan altyd oop vir haar. As sy wil terugkom kan sy – maar of die bendes haar gaan tóélaat is ’n ander storie.”

‘Dit het my heel gemaak’

Haar werk in die gevangenis gaan voort – al het die wêreld intussen tot stilstand gekom.

Weens die pandemie kon sy vanjaar nie weer die ses maande Film 4 Offenders-program in Pollsmoor loods nie en die fondsinsamelingsdag wat sy op 31 Maart sou hou saam met 11 sporthelde kon ook nie gebeur nie. Maar die plan is om die program volgende jaar ook in ander gevangenisse te loods en om voort te gaan met die nasorgprogram, wat sy in dié stadium nog self befonds.

Só lyk dit in die vroulike gevangenis by Pollsmoor waar Dorette vir Amore Stevens ontmoet het, die hoofkarakter in haar dokumentêr, ‘Kans’. Foto: Alice Buckley

Daar is ook ’n nuwe geselsprogram wat op haar webwerf uitgesaai gaan word in samewerking met DigiTV, Vat hande met Dorette, oor hoe jy ’n verskil kan maak aan ander se lewens. “Ons gaan nou eers kyk hoeveel episodes ons geskiet kry voor Oktober wanneer ek skiet aan Swartwater se tweede seisoen (as Annalien Steyn).”

Daarna hoop sy om te begin met ’n Tweede kans – want vir die eerste keer voel sy sy kon vir mense wys hoe haar hart lyk. Sy kyk op. “As jy Kans gaan kyk, sal jy ’n geleentheid kry om met ’n baie diep deel van my te connect, ’n baie diep emosionele deel.

Dit het my heel gemaak om met al hierdie mense se stukkendheid te deal en om vir hulle te wys hoe om dit weer heel te maak.

“Daar is soveel mense wat net vergeet van ’n groot deel van ons gemeenskap wat stukkend is, wat uit ’n stukkende agtergrond kom van generasies van seer en misbruik.”

Sy knik. “Dit het my heel gemaak om met al hierdie mense se stukkendheid te deal en om vir hulle te wys hoe om dit weer heel te maak.”

Haar regterhand vroetel met ’n lang, blonde haarlok. “Ek voel vir die eerste keer in my lewe het ek myself baie weerloos gemaak deur Kans vry te stel, want daar is soveel ongelooflike rolprentmakers wêreldwyd met soveel ongelooflike hulpbronne en geld en hier kom ek met my klein dokumentêrtjie en ek voel so half: Joe, dis ’n baie groot arena waarin ek myself bevind, maar die boodskap wat Kans vir my dra is vir my genoeg om in enige geselskap en in enigiemand se lewe ’n verskil te maak, want dis éérlik.”

Sy staan op, op pad om weer vir Lia Luna Li by haar danslesse te gaan haal. “Mense vra altyd vir my hoekom ek Pollsmoor toe gaan? En dan sê ek: Ek gaan omdat ek kán. En elke keer wanneer ek daar wegry, kan ek nie wag om terug te gaan nie.”

Sy glimlag moedig ten spyte van haar verlies. “Wat ek eintlik probeer sê is ek het nooit besef hoe baie ’n mens kry wanneer jy gee en wanneer dit wat jy gee groei uit dit wat jy kry van dit wat jy gee nie.”

*Kans kan gekyk word by dorettepotgieter.com. Die geld gaan aan onder meer Film 4 Offenders, die Hope-gevangenisbediening, die Amore Stevens Trust en die vervaardiging van ’n Tweede kans.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.