Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Veer vir Krog én Afrikaans

Antjie Krog word vanaand die eerste Suid-Afrikaner wat die gesogte Gouden Ganzenveer-prys in Amsterdam ontvang. Jo Prins het met ’n paar mense gaan praat oor die betekenis hiervan vir Krog én vir Afrikaans.

Antjie Krog. Foto: Lulama Zenzile

Antjie Krog se werk verdien om so ’n wyd moontlike gehoor te kry – die Afrikaanse gehoor is maar klein en meer lesers behoort aan haar werk blootgestel te word.

So het Willie Burger, hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, Woensdag gesê op die vooraand dat Krog in Nederland met die gesogte Gouden Ganzenveer-prys vereer gaan word.

Dié prys deur die Academie De Gouden Ganzenveer vereer Krog vir haar lewenswerk en as besondere en veelsydige digter.

Ek dink Krog se werk het veel te bied aan Europese lesers – juis omdat sy met die kompleksiteite van menswees in omstandighede van uiterste verskille tussen arm en ryk, geleerd en ongeletterd, en ’n ‘mengelmoes’ van beskouings in haar werk worstel.

Hoewel die prys aan Krog is, word die taal waarin sy primêr werk, Afrikaans, hiermee saam ook opnuut op ’n internasionale verhoog geplaas.

Vorige wenners sluit in mense soos Arnon Grunberg, Remco Campert, Adriaan van Dis en Tom Lanoye – laasgenoemde het die laaste paar jaar bekend onder Suid-Afrikaners geword ná onder meer optredes by die Woordfees op Stellenbosch.

Burger sê deur dié prys word Krog veral onder die aandag van ’n wyer Nederlandse publiek gebring.

“Die soort erkenning dra ook daartoe by dat haar status as skrywer in die buiteland verhoog – wat kan help om haar werk ook verder bekend te maak – in ander lande en vertalings.

“Ek dink Krog se werk het veel te bied aan Europese lesers – juis omdat sy met die kompleksiteite van menswees in omstandighede van uiterste verskille tussen arm en ryk, geleerd en ongeletterd, en ’n ‘mengelmoes’ van beskouings in haar werk worstel.

“En hierdie is temas wat belangrik is hier in SA maar ook toenemend daar.”

Louise Viljoen, professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, sê dit is merkwaardig dat dié prys, wat jaarliks toegeken word aan ’n persoon of instituut vanweë sy of haar groot betekenis vir die geskrewe en gedrukte woord in die Nederlandse taal, aan ’n Afrikaanse skrywer gegee word.

“Sover ek kon aflei, is dit die eerste keer dat dit gaan aan iemand wat nie in Nederlands skryf nie, maar deur middel van vertaalde werk so ’n impak maak op die Nederlands taal dat dit ’n toekenning waardig is.”

Krog is ’n uitmuntende en waagmoedige skrywer wat met elke nuwe teks ’n stroomverlegging in mense se denke bring.

Viljoen sê dit dui op die geweldige aansien wat Krog in die Nederlandse sfeer geniet en haar groot populariteit.

“Ek praat onder korreksie, maar ek het ’n keer gehoor dat sy die digter is wie se werk die beste verkoop in Nederland.

“Wat my betref, is die prys welverdiend: Krog is ’n uitmuntende en waagmoedige skrywer wat met elke nuwe teks ’n stroomverlegging in mense se denke bring. Sy prikkel en provokeer met haar werk. Verder het sy die vermoë om deur haar fokus op plaaslike Suid-Afrikaanse sake mense ver buite die grense van die land te raak.”

Afrikaans & Nederlands

Oor die verband tussen Afrikaans en Nederlands het Burger gesê vir hom bestaan daar ’n spanning.

“Aan die een kant is daar soms ’n sentimentele ervaring van verwantskap en uiteraard is daar ’n linguistiese en historiese verbintenis wat mens nie kan ontken nie en wat aanleiding gee tot wonderlike moontlikhede van samewerking, uitwisseling en wedersydse begrip.

Dat die eiesoortige en unieke posisie van Afrikaans, nie as ’n fassinerende kindertaaltjie uit die Suidelike halfrond effens geamuseerd beskou word nie, maar as ’n taal wat iets bied aan die Nederlande.

“Aan die ander kant is daar ook die probleem dat Afrikaans, deur ’n noue verbintenis met Nederlands te handhaaf, die gevaar loop om nie as Afrikataal beskou te word nie (en by implikasie die sprekers nie as Afrikane nie) maar eerder as ’n variasie van ’n Europese taal waardeur iets Europees ‘bewaar’ word, wat Afrikaans (en Afrikaanssprekendes) op ’n manier in die posisie van ‘Europeër in Afrika’ (om nie die woord koloniseerder te gebruik nie) hou.

“Die erkenning van Krog op die manier is egter ook ten opsigte van die tweede beswaar belangrik. Die erkenning daar, deur die Goue Gansveer, wys dat die vloei nie meer net van die een kant af is nie (Nederlands wat so veel te bied het vir Afrikaans), maar dat die omgekeerde begin plaasvind.

“Dat die eiesoortige en unieke posisie van Afrikaans, nie as ’n fassinerende kindertaaltjie uit die Suidelike halfrond effens geamuseerd beskou word nie, maar as ’n taal wat iets bied aan die Nederlande.”

Krog verlede jaar spesiaal vir die Woordfees afgeneem. Foto: Antonia Steyn

Viljoen het hierby aangesluit en gesê sy dink nie die gesprek tussen Nederlands en Afrikaans is nie nuut nie, maar baie jare al aan die gang.

“Daarvan getuig die besondere aansien wat Elisabeth Eybers in Nederland geniet het.

“Alhoewel die gesprek in die apartheidsjare getaan het, het daar na 1994 ’n hernude belangstelling in Afrikaanse skrywers gekom en is daar talle Afrikaanse skrywers wie se werk in Nederlands vertaal word.

“Ek dink Afrikaans word verryk en versterk deur die interaksie met ander tale, onder andere met Nederlands waarmee daar besondere historiese bande is.

Die toekenning van die groot Nederlandse literêre prys, De Gouden Ganzenveer, aan Antjie Krog, dui onteenseglik op ’n hegter band tussen die twee tale.

“Die transnasionale beweging van Afrikaanse skrywers en hulle tekste oor grense heen beteken dat die taal ook kan asemhaal en lug kry in ander omgewings.”

Die misdaadfiksieskrywer Rudie van Rensburg sê weer met Afrikaans “tans spartelend om kop bo water te hou as akademiese taal” is die verhouding tussen Nederlands en Afrikaans te verwelkom.

“Inisiatiewe soos die buitengewone leerstoel vir Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam, die Week van die Afrikaanse Roman van die afgelope klompie jare, die totstandkoming van die webtuiste, Voertaal, wat gesamentlik deur die Stichting Zuid-Afrikahuis en LitNet bedryf word, en die toekenning van die groot Nederlandse literêre prys, De Gouden Ganzenveer, aan Antjie Krog, dui onteenseglik op ’n hegter band tussen die twee tale.”

’n Mens het verstom gestaan oor die buitengewone belangstelling in Afrikaans by die geleenthede waar ek en my medeskrywers opgetree het. Dit was hartverblydend en ’n rede tot optimisme.

Of hierdie inisiatiewe en erkenning ’n wesenlike verskil gaan maak aan die benarde taalposisie van Afrikaans hier te lande, bly ’n ope vraag, meen Van Rensburg.

“Met my besoek verlede jaar aan Nederland en België tydens die Week van die Afrikaanse Roman, het ’n mens verstom gestaan oor die buitengewone belangstelling in Afrikaans by die geleenthede waar ek en my medeskrywers opgetree het. Dit was hartverblydend en ’n rede tot optimisme.

“Indien hierdie nuwe en positiewe taksering van Afrikaans wyer in Nederland kan uitkring, glo ek dit kan ook ’n rol speel om ’n keerwal te help vorm teen die vloed van verengelsing by tersiêre instellings in Suid-Afrika – veral as dit byvoorbeeld sou gepaard gaan met groot finansiële steun.

“Dit kan ook die weg baan om ander amptelike tale in die land aan te spoor om moedertaalonderrig wyer te vestig as tans.”

Meer oor:  Antjie Krog  |  Rudie Van Rensburg  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.