Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'n Vrou se plek is haar plek

Terwyl Sonja Loots deur Rapport se heel eerste uitgawe blaai, besef sy dat daar niks nuut onder die son is nie. En tog?

Wat was die vrou se plek? Op Kersvader se skoot?.?.?.

Uit ’n koerant van 50 jaar gelede kan mens heelwat aflei oor die posisie van vroue destyds. Dit is duidelik dat baie verander het, maar dat baie helaas nog dieselfde is.

Die verbysterende lot van mev. Lena Msini, medebepaal deur die feit dat sy ’n vrou én swart was in ’n era van toestromingsbeheer, trekarbeid en afsonderlike ontwikkeling, is ondenkbaar in die land waarin ons nou woon. Rapport berig in sy eerste uitgawe dat haar man, “die Bantoe van Paarl, Harlem Msini”, al 20 jaar vir die Wellingtonse Droëvrugtekorporasie werk. Sy vrou het saam met hom in die Wellingtonse plakkerskamp gewoon, maar toe die plakkerskamp platgestoot is, het slegs hy huisvesting gekry in Mbekweni.

Lena is voor sy deur gearresteer en saam met haar kinders weggestuur na Dordrecht, waar die superintendent van die lokasie verklaar het dat sy ook dáár geen verblyfreg het nie.

Rapport berig verder oor twee Stellenbosse Kweekskoolprofessore, Jac Muller en Willem van der Merwe, se “hulpkreet om meer barmhartigheid” teenoor “die ou, kreupel maar betroubare Bantoe-arbeider en sy wettige vrou wat in tergende omstandighede 16 jaar lank aan hom getrou gebly het”.

‘Vra eerder hoeveel staatslui het maagsere.’

In reaksie daarop skop dr. Piet Koornhof, adjunkminister van Bantoe-administrasie, egter vas. Dit gaan om beleid wat die Wes-Kaap “as die natuurlike arbeidsveld van die Kleurlinge teen Bantoe-instroming probeer bewaar”, skryf hy in ’n mediaverklaring.

Dit sal nie billik wees om ’n uitsondering te maak nie en hopelik sal “die geval” die publiek en werkgewers opnuut aanmoedig tot “die gebruik van Kleurlingarbeid in plaas van Bantoe-arbeid”.

In nóg ’n berig onderstreep ’n predikant van die N.G. Kerk dat diskresie moeilik is, want “daar is soveel wat allerhande barmhartigheidsvoorwendsels byhaal in hul doelbewuste poging om die beleid van afsonderlike ontwikkeling te torpedeer”. Ds. Piet Smith, Algemene Sendingsekretaris, maan dat mens nie aan amptenare wat die beleid toepas as hardvogtig moet dink nie.

“Vra hoeveel het maagsere.”

Op ’n dieet?.?.?.
?.?. agter ’n stofsuier.

Al sê die kop dat die kerk die Msini’s help, blyk dit uit die berig dat dit nie die geval is nie. Terwyl amptenare se maagsere glo bloei en die kweekskoolprofessore se waarskuwings oor “gesinsverbrokkeling van die Bantoe” en toekomstige “verbittering teenoor die Blanke” op dowe ore val, is daar skynbaar geen uitkoms vir Lena Msini nie. Sy bevind haar in ’n burokratiese niemandsland wat in ’n Kafka-roman hoort.

“Lena Msini weet nie waar sy mag wees nie,” som die joernalis dit ten slotte op.

                                                                                    ***

Die verwoestende impak van die wette wat op gronde van ras en geslag teen vroue soos Msini diskrimineer het, lê genadiglik agter ons. Dat aspekte van die verlede egter nog met ons is, blyk uit die eerste Rapport se beriggewing oor die bekroning van Jennifer Hosten van Grenada as Mej. Wêreld. Die berig begin met ’n grappige verdagmakery van haar voorkoms: “Die eerste foto van die nuwe Mej. Wêreld wat nie geradio is nie, het vandeesweek in Suid-Afrika aangekom. Nou blyk dit dat dit nie maar net die radioproses is wat haar foto’s laat lyk het soos dit lyk nie.”

Sy sal meer modieus wees in ’n midi, maksi.

Hierna word dit prontuit gesê dat sy “moeilik as die mooiste meisie ter wêreld bestempel kan word”. Die berig lui dat sekere mense “ten onregte” beweer het haar bekroning hou verband met ’n saketransaksie waarin haar land betrokke is. Geen korrektief word aangebied vir die stelling dat ander deelneemsters meen “sy is net gekies omdat sy nie-blank is” nie.

Die berig waarin Hosten se voorkoms afgekraak word saam met sydelingse verwysings na haar ras kon netso wel in vandag se koerant gestaan het. Verlede jaar, toe ons eie Zozibini Tunzi as Mej. Wêreld gekroon is, het sy aan miljoene televisiekykers gesê dat sy grootgeword het in ’n wêreld waar ’n vrou wat soos sy lyk, met haar velkleur en soort hare, nie as mooi beskou is nie.

Sy het gepleit dat sulke vooroordele einde kry.

En doenig met die wasgoed.

Pas was daar egter weer groot konsternasie oor die bekroning van die nuwe Mej. Suid-Afrika, Shudufhadzo Musida. Dié 24-jarige boorling van Ha-Masia in Limpopo is deur rassistiese trolkommentators, ook op Netwerk24, verguis oor haar hare, velkleur en liggaamsbou. Dit is ’n halfeeu later, maar die insig dat vroue op meer as een manier mooi kan wees, bly Suid-Afrikaners ontglip.

                                                                                  ***

Die koerant se uitbeelding van wit vroue wek met die eerste oogopslag die indruk van ’n sorgelose bestaan. Die “mooi, gesonde meisie” wat tydens ’n waterkarnaval langs die Vaaldam in ’n bikini poseer, glimlag breed. So ook die “mooi en jong bruid’’ van ’n mynmagnaat wat, met die maanlanding nog vars in almal se geheue, ’n hoed met “ruimtehelmontwerp” by haar troutabberd dra. Die grootste probleem van mev. Vicky Oxley, vrou van Suid-Afrika se diplomaat in Persië, is dat haar rokke te kort is. In Persië, “waar uiterlike vertoon baie belangrik is”, sal sy meer modieus wees in ’n midi of ’n maksi. Ag, en dan moet vroue wat voorbehoedpille gebruik, tog onthou om hulle nie oormatig vir hul mans te vererg of hulle voor ’n warm stoof afsloof nie. Dr. Kitty Littie se proefnemings met konyne toon dat vroue kortisoltellings in hul bloed laag kan hou deur meer suiker te eet of ’n dampie te maak.

Mans hou glo van haar?.?.?. maar nie van háár nie.
Vry: Martie Snyman.

Onraad merk mens eers wanneer jou oog val op ’n advertensie vir ’n pos by die Dominikaanse Grimley-skool vir dowes in Hoopstraat, Kaapstad. Die skool soek ’n visehoof en luidens die opskrif kan vroue ook aansoek doen. Uit die res van die advertensie, waarin salarisskale verstrek word, blyk dit dat vroue nie kan hoop op gelyke besoldiging nie. Selfs met dieselfde kwalifikasies en terwyl sy dieselfde werk doen, sal ’n vrou aansienlik minder verdien.

Al kopskuddende blaai mens om en dank jou sterre dat daardie soort sistemiese diskriminasie nie meer algemeen is nie. Maar dan stuit jy teen die agterbladberig oor die getuienis in ’n egskeidingsgeding. Mev. Gwen Pretorius sien nie meer kans nie ná jare lange mishandeling deur haar man, Trevor, wat haar onder meer met rooi verf besmeer het voordat hy haar en haar negejarige uit die huis gesit het.

Erger nog is die berig oor mev. Martie Snyman, wat vrygespreek is nadat sy haar man, Sarel, doodgeskiet het. In ’n onderhoud vertel sy hoe sy 14 jaar lank deur hom gefolter is. Hy het haar soms opgetel en teen ’n muur gegooi; en op die dag van sy dood besope tuisgekom en dadelik begin dreig: “Vandag gaan die pistool praat.”

Vry: Martie Snyman.
En die man se plek? Al timmerende aan die toekoms, met rook in sy longe en “oop lug” in sy are?

Hy het haar geklap en haar wind uitgeslaan sodat sy op die vloer geval en een van haar jong kinders al huilende op haar gaan sit het om haar te probeer beskerm. Die geweld het ure lank aangehou, totdat hy later die pistool teen haar kop en sy knipmes teen haar keel gedruk het. Toe hy die pistool eenkant sit en haar begin wurg, het sy dit in die hande gekry en hom geskiet.

“Ek is nou vry,” sê sy aan die koerant. Sy poseer verlig. Maar in 2020, terwyl ons pas weer opnuut begin fokus het op 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, weet ons ongelukkig dat dit vir talle vroue wat ná haar gekom het, nie waar is nie.

Hulle is nie vry nie.

Kyk mens ’n halfeeu later na die foto’s van Martie Snyman en Jennifer Hosten in die vergeelde koerantblaaie van 1970 besef jy dat hulle nie figure in die vergetelheid is waarop ons terugkyk van lewens en raamwerke wat volledig anders is nie. Hierdie vroue het ’n halfeeu gelede baklei teen dinge waarteen steeds baklei word. Hul skoene en kapsels lyk anders, maar ons herken iets dieper liggend aan hulle, want hulle is tegelykertyd so ver, en tog so naby, aan die vroue van nou.

  • Dr. Sonja Loots doseer letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Vroueregte  |  Rapport50  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.