Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Woud van eike nodig om Notre Dame te laat herleef

Voordat die Norte Dame se hergeboorte kan begin, is dit nodig om te bepaal hoe die tragiese verwoesting van ’n monument van so ’n onskatbare waarde in die eerste plek kon gebeur, skryf Anne Gombault.

Die Notre Dame in ligte laaie. Foto: Getty Images

Die emosies in Parys, Frankryk was gedurende die nag van 15 April rou.

“Die Notre Dame brand, die hele Frankryk ween, die hele wêreld ween. Dis verskriklik, skrikwekkend, pynlik, ’n tragedie, ’n nagmerrie,” het aartsbiskop Michel Aupetit van die stad gesê.

“Hierdie plek laat niemand koud nie. Wanneer jy hierdie katedraal betree, neem dit besit van jou,” het Anne Hidalgo, die burgemeester van Parys, voor die brandende monument gesê.

“Ons sal dit herbou; ons sal dit herbou,” het Patrick Jacquin, leraar van die katedraal, herhaal.

Die volgende dag was die omvang van die skade verbysterend. Die katedraal se 93 m lange spitstoring het ingestort, twee derdes van die dak is vernietig en die binnekant is in sekere dele erg beskadig.

Maar danksy 500 brandbestryders se moedige stryd is die katedraal se struktuur “gered en heeltemal behoue”, aldus Jean-Claude Gallet, hoof van die Paryse Brandweer. Twee torings met hul enorme klokke staan nog en talle van die katedraal se onvervangbare skatte het behoue gebly.

Intense emosie

Omstreeks 19:20 op 15 April het rook uit die brandende Notre Dame die son verduister. Foto: Jennifer Gallé, CC BY

Onder die historiese monumente op aarde is die Notre Dame een van die “supersterre”: Sy unieke geskiedenis, uitsonderlike argitektuur en befaamde artefakte lok miljoene besoekers na Parys.

Trouens, die katedraal kan beskryf word as ’n strategiese bate met min gelyke ter wêreld.

Die katedraal, ’n Unesco-wêrelderfenisterrein, is in die eerste plek al 1 000 jaar ’n uitsonderlike plek van Christelike en Katolieke aanbidding. Dit is ’n juweel van Gotiese kuns met ’n magdom skatte, waaronder gebrandskilderde ruite, die doringkroon en die mantel van St. Louis, en die kerkorrel.

Miljoene mense wat nog nooit in Parys was nie, het met die lees van Victor Hugo se beroemde roman die lug in die katedraal ingeadem.

As die “oudste dogter” van die kerk in Frankryk is die Notre Dame ’n nasionale en kulturele simbool wat getuie van ’n groot deel van die land se geskiedenis was: Al die Franse konings het die katedraal besoek en Napoleon het homself daar tot keiser gekroon. En presidente Charles de Gaulle, Georges Pompidou en François Mitterrand is uit die katedraal begrawe.

Miljoene mense wat nog nooit in Parys was nie, het met die lees van Victor Hugo se beroemde roman die lug in die katedraal ingeadem. Hoewel dit in Engels The Hunchback of Notre-Dame heet, is die oorspronklike titel Notre-Dame de Paris. Só word die katedraal dus sentraal geplaas wat die titel en die verhaal betref. Hugo het ’n romantiese visie van die katedraal geskep sowel as ’n passasie waarin ’n brand beskryf word wat slegs in lesers se verbeelding plaasgevind het:

“All eyes were raised to the top of the church. They beheld there an extraordinary sight. On the crest of the highest gallery, higher than the central rose window, there was a great flame rising between the two towers with whirlwinds of sparks, a vast, disordered, and furious flame.”

Groot bate vir Frankryk

Die kroning van Napoleon deur Jacques-Louis David. Foto: Louvre Museum, Wikipedia

As ’n regstreekse gevolg van die Notre Dame se geskiedenis, argitektuur en kuns, asook van sy plek in die kultuur en letterkunde, is die katedraal die belangrikste monument in Europa. In 2018 het sowat 14 miljoen mense die katedraal besoek. Dit is een van Frankryk se “grootste bates” en die “katedraal der katedrale”.

Wêrelderfenisgebiede maak emosies wakker en emosies spreek van gedeelde waardes. Sulke emosies was op die gesigte van al die mense wat voor die katedraal saamgedrom het, dit was in die magdom boodskappe van staatshoofde, dit was in die vloedgolf uitstortings op sosiale media. Die Notre Dame se plek in die kollektiewe bewussyn en sy wêreldwye invloed is onbetwisbaar.

Dit is ons plek, dit is ons geskiedenis, ons letterkunde, ons verbeelding.
Emmanuel Macron

Om 23:30 het die Franse president, Emmanuel Macron, voor ’n steeds brandende katedraal gestaan en gesê:

“Die Cathédrale Notre-Dame de Paris is ons plek, dit is ons geskiedenis, ons letterkunde, ons verbeelding, die plek waar al ons groot oomblikke afgespeel het [. . .] Dit is in so baie boeke en skilderye [ . . . ] Selfs vir hulle wat nog nooit hier was nie, is dit ons storie.”

Sulke monumente inspireer ons om ons emosioneel daarmee te vereenselwig. Dit is hoekstene van ons nasionale identiteit en kan selfs internasionale betrekkinge bevorder. Die ontsteltenis oor die brand in die katedraal is ’n mengsel van sentimentaliteit, nostalgie en nasionalisme op ’n wyse wat diep bande met die verlede het. Die historikus David Lowenthal ontleed dit in sy studie The Past is a Foreign Country.

Vindingryke heropbou

Vlamme verswelg die spitstoring van die Notre Dame. Foto: Guillaume Levrier, CC BY

Macron het onomwonde buite die brandende katedraal verklaar:

“Ons het hierdie katedraal gebou en oor die eeue het ons dit laat groei en verbeter. So nou verklaar ek plegtig vanaand hier aan julle: Ons sal hierdie katedraal herbou, ons almal saam [ . . . ] Ons sal die Notre Dame herbou.”

In die loop van die aand en nag van 15 April en gedurende die volgende dag, het ’n merkwaardige poging begin vorm aanneem. Macron het ’n nasionale skenkingsprojek tot stand gebring, Unesco het sy steun belowe en die burgemeesters van dorpe en stede oor die hele Frankryk, het soos een mens gereageer.

Die ryk Arnault- en Pinault-families het onderneem om 300 miljoen euro by te dra tot die restourasie en duisende individue het ook hul steun aan die projek toegesê.

Voordat die katedraal se hergeboorte kan begin, is dit nodig om te bepaal hoe die tragiese verwoesting van so ’n onvervangbare monument in die eerste plek kon gebeur het. Restourasie was aan die gang toe die brand uitgebreek het en dit laat vrae ontstaan oor die vereistes waaraan werk aan historiese monumente moet voldoen en ook hoeveel hulpmiddels aan die projek toegeken is.

Kunshistorici soos Alexandre Gady en Didier Rykner sê die brand kon en moes voorkom gewees het. Hulle meen al word die Notre Dame “herstel”, het ons dit reeds in ’n sekere sin “verloor”.

Dit is so te sê seker dat die katedraal nie herbou kan word presies soos dit was nie. Die brand het diep in die dak begin waar herstelwerk aan die gang was. Die eikehoutraamwerk dateer uit die 13de eeu en volgens kenners sal dit ’n woud van 1 300 eikebome vereis om dit te herstel.

Een alternatief is om vindingryke nuwe tegnieke te gebruik soos wat argitek Henri Deneux gedoen het toe hy die katedraal van Reims herbou het nadat dit in die Eerste Wêreldoorlog verwoes is.

‘Ons treur oor geskiedenis’

Die katedraal van Reims in 1914. Foto: Wikipedia

Monumente in die algemeen, maar veral kerklike monumente, is broos. Die Notre Dame het teen alle verwagtinge in tydperke van geweldige onstuimigheid in die Franse geskiedenis oorleef en is nie deur bombardering of ernstige brande (wat ’n groot gevaar was voor die uitvinding van die weerligafleier in 1752) geskaad nie.

Tot en met 15 April het dit vir ons merkwaardig behoue gebly en het miljoene besoekers jaarliks hulde daaraan gebring. En tog was daar die risiko van die onvoorstelbare.

“Dit is in ons aard om te treur wanneer ons geskiedenis sien vergaan – maar dit is ook in ons aard om so sterk as wat ons kan vir môre te herbou,” het Barack Obama, voormalige Amerikaanse president, op die aand van die brand gesê.

Notre-Dame de Paris is die hart van die stad en van Frankryk, en dit is ’n inspirasie vir die wêreld. Ons is almal katedraalbouers in ’n oomblik van heilige eenheid in ’n sekulêre samelewing.

* Prof. Gombault is verbonde aan die Kedge Business School. Dié artikel het oorspronklik op  The Conversationverskyn.

Foto:
Meer oor:  Emmanuel Macron  |  Parys  |  Notre Dame
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.