Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ná Bosasa lyk Cyril nie meer soos SA se redder

Ná die storm rondom die Bosasa-skandaal lyk pres. Cyril Ramaphosa skielik nie meer soos die man wat die land ná jare van staatskaping en korrupsie kan red nie, het James-Brent Styan, mede-skrywer van The Bosasa Billions, aan Gert van der Westhuizen gesê.

Voor die getuienis oor die Bosasa-skandaal voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping kon ’n mens baie Suid-Afrikaners dit seker vergewe het as hulle gedink het dat hulle al alles gehoor het oor staatskaping en korrupsie wat hulle kon hoor.

Maar hulle is wreed ontnugter deur ontstellende getuienis voor dié kommissie oor hoe die ANC – soos die subtitel van The Bosasa Millions aandui – sy siel vir braaipakke, drank en sakke vol geld verkoop het.

Die ergste van alles was egter toe Ramaphosa ook by die Bosasa-skandaal betrek is met beweringe dat Gavin Watson, dié maatskappy se grootbaas, R500 000 geskenk het vir sy veldtog om in 2017 as president van die ANC verkies te word.

Dit het onder meer gelei tot beskuldigings dat Ramaphosa die parlement mislei het toe hy oor die skenking uitgevra is en ’n omstrede ondersoek deur die openbare beskermer wat later in die hof gedraai het.

Deesdae word Suid-Afrikaners byna elke dag gekonfronteer deur onthullings dat alles nie pluis was met Ramaphosa se verkiesingsfonds nie, en die grense tussen die “goeie ouens” en die “slegte ouens” is vinnig besig om te vervaag.

Dit was nie al nie.

Andile Ramaphosa, die president se seun, het ook erken dat sy maatskappy R2 miljoen betaal is vir konsultasiewerk wat hy vir Bosasa gedoen het.

Pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar met sy inhuldiging. Foto: Jaco Marais

“Die skandaal strek tot in die hoogste kantore van die land,” sê Styan, wat The Bosasa Billions saam met Paul Vecchiatto geskryf het.

“Ek dink dit gaan Ramaphosa se presidentskap maak of breek. Voor die Bosasa-skandaal ontbloot is, is Ramaphosa amper as ’n soort van heilige gesien; ons redder, die groot heilige wat niks verkeerd kan doen nie. Nou lyk dit skielik nie meer so nie.

“Nou word daar ernstige aantygings teen hom gemaak waarvoor daar skynbaar bewyse is.”

Volgens Styan het Ramaphosa groot steun onder Suid-Afrikaners geniet, maar is dit besig om te taan omdat daar oënskynlik niks gedoen word om korrupsie hok te slaan en korruptes te straf nie.

Die Bosasa-skandaal het meer skade aan Ramaphosa se beeld gedoen as wat dit aan die beeld van die ANC gedoen het.

“Hy sal sy rug moet styfmaak. Hy sal moet optree teen senior lede van sy party wat van korrupsie beskuldig word. Nomvula Mokonyane (voormalige minister van omgewingsake en beweerde ontvanger van fabelagtige Bosasa-braaipakke) is net herontplooi en werk nou as organiseerder in die ANC se hoofkantoor. Daar daar word nie van mense ontslae geraak nie.”

Volgens Styan kan mense dié gebrek aan optrede aan eiebelang toeskryf. “Hulle kan dink dat die president nie optree nie omdat hy ’n oog op ’n tweede termyn het.

“Op die oomblik is daar nie goeie leierskap nie en lyk dit of die leierskap hopeloos gekompromitteer is.”

Die Bosasa-skandaal het meer skade aan Ramaphosa se beeld gedoen as wat dit aan die beeld van die ANC gedoen het, sê Styan. Hy meen die ANC was in elk geval al “só vol koeëlgate dat hy net moet omval”.

Tog glo hy die ANC kan herstel as hy hand in eie boesem steek. Die sogenaamde “goeie ouens” in die party sal ook ’n spreekwoordelike streep in die sand moet trek en sê: Tot hiertoe en nie verder nie.

Nuwe hoofstuk in staatskaping

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, wat voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het. Foto: Zukhanye Mtebele

Suid-Afrikaners sal ook “diepe introspeksie” moet doen oor hoe hulle gaan optree om sake om te draai. Styan sê Zimbabwe is ’n baie goeie voorbeeld van ’n samelewing wat geleidelik ten gronde gegaan het omdat nie genoeg mense teen vergrype opgestaan het nie.

“Ek dink nie dinge sal hier by ons só ver gaan nie. Daarvoor is ons regstelsel nog te gesond. Dit blyk duidelik uit die sterk hofuitsprake van die afgelope tyd; die regstelsel staan al hoe meer op teen dit wat verkeerd is.”

Suid-Afrika se aktiewe burgerlike samelewing wat sy stem gereeld teen korrupsie laat hoor, is ’n ander faktor wat in sy guns tel.

En boeke soos The Bosasa Billions herinner Suid-Afrikaners uiteraard daaraan dat hulle sake nie net goedsmoeds kan aanvaar nie.

Dit was fassinerend om te sien hoe staatskaping werk, hoe alles in mekaar pas.

Styan sê die gedagte met dié boek was om vir mense ’n oorsig te gee van die Bosasa-skandaal – ’n “nuwe element, ’n nuwe hoofstuk in staatskaping”.

“Dit was fassinerend om te sien hoe iemand wat in die binnekring van staatskaping was (Angelo Agrizzi, Bosasa se voormalige bedryfshoof) dit oopvlek. Dit was fassinerend om te sien hoe staatskaping werk, hoe alles in mekaar pas: Hier is wat gebeur het, hier is die rolspelers.

“Ek het nie ’n oordeel probeer vel nie. Ek het nie besluit wie is die skelms en wie is nie die skelms nie, wie is onskuldig en wie nie. Ek is nie ’n forensiese ouditeur, of ’n polisieman of ’n speurder nie. Ek het net probeer verduidelik en vertolk, die lesers moet vir hulself besluit.”

Cheeky ’n ‘aangename verrassing’

Cheeky Watson, boer van Gavin Watson, grootbaas van Bosasa. Foto: Lulama Zenzile

Volgens Styan was dit nogal ’n moeilike boek om te skryf. Hy werk voltyds (as skakelbeampte vir die minister van plaaslike regering in die Wes-Kaap) en moes deeltyds skryf. Sy skrywery (’n boek van hom oor die Steinhoff-skandaal is onder meer verlede jaar gepubliseer) beteken boonop dat hy nie veel rus kry nie en drie jaar laas met vakansie was.

Styan kon net enkele van die Zondo-kommissie se sittings bywoon, maar gelukkig word al die verrigtinge getranskribeer en is dit saam met verklarings en videomateriaal op die internet beskikbaar.

“Ek moes in die aande en oor naweke op die hoogte van sake kom. Ek het dan die sappige stukkies uitgehaal en vertolk,” sê Styan.

“Ons het ook probeer om elke liewe persoon wie se naam genoem word vir kommentaar op te spoor. Net minder as vyf was onbereikbaar en die meeste was bereid om kommentaar te lewer. Daar was byvoorbeeld verskeie onderhoude met Agrizzi.

“Dit was nogal vir my ’n aangename verrassing dat Cheeky Watson ingestem het tot onderhoude. Ek het lank probeer om hom in die hande te kry en hy het nogal lank met my gesels. Hy wou nie oor sy broers en die onderneming praat nie, maar die onderhoude met hom was baie belangrik vir agtergrond-inligting en akkuraatheid.”

James-Brent Styan (links) saam met die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh vroeër vanjaar in Die Burger se gespreksreeks op die KKNK in Oudtshoorn. Foto: Murray La Vita

Styan en Vecchiatto se boek is die eerste oor die Bosasa-skandaal, maar verskeie boeke het die afgelope jaar of drie oor staatskaping en korrupsie verskyn. Is mense nie al vuisvoos vir sulke boeke nie?

“Daar is seker ’n mate van vuisvoosheid, maar ook nog woede oor wat gebeur het. Mense wil dus steeds weet wat gebeur het en wat gaan gebeur. Ek glo nie ’n versadigingspunt is al bereik nie. Ek dink ook nie dit sal gou gebeur nie.”

En tot tyd en wyl iets gedoen word om ’n einde aan korrupsie te maak, sal joernaliste en skrywers soos hy maar aanhou vertel en oopkrap, sê Styan.

“Al is dit ook nou net dat boeke soos hierdie oor 100 jaar van nou af vir mense kan verduidelik wat gebeur het.”

*The Bosasa Billions: How the ANC Sold Its Soul for Braaipacks, Booze And Bags of Cash word deur Lapa uitgegee en kos R295.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.