Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die munisipale setels is gekies – wat nou?

Wat het ons regtig uit verlede week se munisipale tussenverkiesings geleer? Dirk Kotzé kom tot enkele gevolgtrekkings nadat hy die uitslae ontleed het.

Ondersteuners van die EFF en DA gesels verlede week in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

Spesiale betekenis word dikwels aan tussenverkiesings gegee. Dit word beskou as barometers van verandering in die politieke gemoed van ’n land. Vir partye kan dit vroeë aanduidings wees van nuwe tendense in die openbare mening.

In Suid-Afrika word tussenverkiesings net op munisipale vlak gehou. Munisipale verkiesings vind gewoonlik sowat 15 maande ná nasionale en provinsiale verkiesings plaas. Munisipale verkiesings was in die verlede nie toonaangewend nie. Die uitslae daarvan het eerder die nasionale en provinsiale tendense van 15 maande vroeër weerspieël.

Op 11 November is 95 tussenverkiesings in al nege Suid-Afrika se provinsies gehou. Dit verteenwoordig sowat 2,2% van die totale getal wyke van 4 400.

Die stempersentasie was baie laag. Dit is nie ongewoon nie. Plaaslike verkiesings in Suid-Afrika word tradisioneel gekenmerk deur ’n lae stempersentasie. In die eerste twee verkiesings ná 1994 het slegs 48% van kiesers gestem, gevolg deur 50% in 2006. Die hoogste stempersentasie van 58% is in 2016 behaal. Daarenteen is die stempersentasie in nasionale en provinsiale verkiesings in die middel 70’s.

Die tussenverkiesings het die tendens van 2019 gevolg wat die DA betref, maar nie wat die ANC en EFF betref nie.

Die lae stempersentasie beteken dat tussenverkiesings nie vergelyk kan word met landwye verkiesings om veranderinge in tendense te bepaal nie. Die lae stempersentasie maak enige vergelykings wat in persentasiepunte uitgedruk word onbetroubaar. Dit beteken dat tussenverkiesings nie ’n voorskou is van wat ons in volgende jaar se landwye munisipale verkiesings kan verwag nie.

Tog kan sommige handige insigte wel verkry word oor die partye – die regerende ANC, die DA wat die amptelike opposisie is en die kleiner opposisieparty, die EFF.

In die nasionale en provinsiale verkiesings van 2019, het die ANC se nasionale steun met sowat 5% gedaal en dié van die DA met sowat 1%. Die EFF en VF Plus se steun het toegeneem.

Hoewel dit ’n baie klein en onverteenwoordigende voorbeeld van die nasionale situasie is, het die tussenverkiesings die tendens van 2019 gevolg wat die DA betref, maar nie wat die ANC en EFF betref nie.

Insigte

Die ANC se goeie vertonings in verlede week se tussenverkiesings kan toegeskryf word aan die steun wat pres. Cyril Ramaphosa geniet. Foto: Argief

Die meeste van die tussenverkiesings is in die Oos-Kaap en Noord-Kaap gehou (sowat 20).

Die Oos-Kaap was tradisioneel ’n ANC-vesting totdat hy sy meerderheid in Nelson Mandelabaai se metropolitaanse raad in 2016 verloor het.

Die Noord-Kaap is geografies die grootste provinsie, maar het die minste inwoners. Die ANC beheer die provinsiale regering sedert 1994, maar dit is een van die provinsies waar die DA die sterkste as opposisieparty is.

Twee plaaslike rade (Renosterberg en Phokwane, albei in die Noord-Kaap) is ontbind en tussenverkiesings is daarom in al hul wyke gehou.

Die vyf tussenverkiesings in Johannesburg – die ekonomiese hoofstad van die land – verdien ook aandag.

Die uitslae kan in die onderstaande tabel gesien word.

Die onmiddellike indruk wat die uitslae skep, is een van stabiliteit. Slegs 10% van die setels het tussen die partye van hande verwissel.

Die ANC staan uit as die stabielste party, met ’n netto wins van drie setels nadat dit aan meer as 70% van al die tussenverkiesings deelgeneem het. Dit kan op verskeie maniere vertolk word.

Die eerste is dat dit die goedkeuring van die leierskap van pres. Cyril Ramaphosa as hoof van die party weerspieël.

Die steun vir Ramaphosa het straks die negatiwiteit jeens die ANC teengewerk.

Die tweede is dat hoewel die ANC-regering se bestuur van die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie in die openbaar gekritiseer is en die ekonomie erg verswak is, dit skynbaar nie ’n negatiewe invloed op die party se vertonings by die stembus gehad het nie.

Die steun vir Ramaphosa het straks die negatiwiteit jeens die party teengewerk. Dit is belangrik om daarop te let dat die party sy setel in Nkandla in KwaZulu-Natal aan die IVP afgestaan het. Nkandla is die tuiste van die vorige president, Jacob Zuma.

Die EFF

Die feit dat die EFF, die derde grootste party in die land, nie ’n setel gewen het nie is ook ’n aspek van die verkiesing waarvan kennis geneem kan word. Dié party is die amptelike opposisie in Noordwes en Limpopo, maar het geen invloed op die tien tussenverkiesings in dié provinsie gehad nie.

In verlede jaar se algemene verkiesing het die EFF se steun in KwaZulu-Natal met sowat 9% toegeneem, maar dié party kon nie hond haaraf maak in die 12 tussenverkiesings wat in dié provinsie gehou is nie.

Dit verras nie. Die EFF het nie ’n goeie vertoningslys op plaaslike regeringsvlak nie en dit vaar nie goed in verkiesings vir wyksraadslede nie. Die party se prominensie is ook beïnvloed omdat sy rol as koningmakers in die metrorade van Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai nie op veel uitgeloop het nie.

Die DA

Plakkate van die VF Plus en DA in Potchefstroom waar ’n tussenverkiesing verlede week gehou is. Foto: Susan Cilliers

Twee weke voor die tussenverkiesings het die DA wye mediadekking met sy federale kongres en die verkiesing van ’n nuwe leierskap geniet. Maar dit lyk nie asof hy enige voordeel daaruit kon trek nie.

Die DA het twee setels van die ANC in die Walter Sisulu-raad in die Oos-Kaap en in Matjhabeng in die Vrystaat afgeneem.

Dit het egter vyf setels aan die ANC afgestaan (in Emfuleni, Johannesburg, Madibeng, Renosterberg en Phokwane). Dit het ook een setel elk afgestaan aan Al-Jama-ah in Johannesburg, Good in George, die Patriotic Alliance in Johannesburg en aan die VF Plus in Noordwes.

Dit beteken dat die DA se belangrikste teenstander in dié verkiesings die ANC was. Dit ondersteun nie ontledings wat klem lê op die DA se verlies van wit steun aan die VF Plus in dié verkiesing nie.

Die bedankings van sy voormalige leier, Mmusi Maimane, die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, die Gautengse leier, John Moodey, en die Tshwane-streeksleier, Abel Tau – almal van Gauteng – verduidelik dalk waarom bykans die helfte van sy verliese in dié provinsie was.

’n Ander tendens was dat dit vier setels aan klein partye afgestaan het.

Hulle verteenwoordig almal verskillende vorms van minderhede in die land. Die DA voer aan dat hy ’n party vir minderhede is – ’n aanname wat duidelik onder druk is, maar waaroor ’n mens nie moet veralgemeen nie.

Die verlies van die DA se een setel in George het egter meer aandag gekry as die seges in die ander drie.

Kyk byvoorbeeld na George in die Wes-Kaap waar daar vier tussenverkiesings was. Die DA het een setel aan Patricia de Lille se Good-party afgestaan, maar die drie ander wyke behou. Die verlies van die een setel het egter meer aandag gekry as die seges in die ander drie.

Die VF Plus het slegs een oorwinning in ’n tussenverkiesing in Noordwes oor die DA behaal. Daarom kan daar nie op grond van slegs een geval aanspraak gemaak word op ’n algemene verskuiwing in steun van die DA na die VF Plus nie. (Vroeëre tussenverkiesings het wel dieselfde tendens gevolg as wat in die algemene verkiesing van 2019 gesien is.)

As ’n moontlike aanduiding van afname in die party se steun, fokus ontledings op die feit dat sommige van die meerderhede nou baie kleiner is as in 2019. Maar soos vroeër reeds aangedui is, kan vergelykings tussen die meerderhede van 2016 en dié van nou nie gemaak word nie weens die groot verskille in die stempersentasies.

’n Blik op die toekoms

Aanstaande jaar se munisipale verkiesings sal ’n toets vir al die groot partye wees, vir elkeen weens verskillende redes.

Die tussenverkiesings het gewys dat die basiese beginsels van die demokrasie ondanks die Covid-19-pandemie gesond is.

Die opposisie word meer divers en vloeibaar – en die moontlikheid van koalisieregerings op plaaslike vlak neem toe.

’n Groot toets sal die drie metropolitaanse rade wees wat die ANC in 2016 verloor het.

* Kotzé is professor in politieke wetenskap aan Unisa. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.