Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nasionale simbole: Kyk weer na volkslied, Springbok

Afrikaners behoort te verstaan waarom dit beter is om van ou simbole afstand te doen en nuut te begin. Dit geld nie net die ou vlag nie, maar ander apartheidsimbole soos “Die Stem” en die Springbok-embleem, skryf Michael le Cordeur.

Die Springbok-rugbyspan sing die volkslied. Het dit tyd geword om weer na ou simbole soos die Springbok-embleem en “Die Stem” te kyk? Foto: Getty Images

Op Woensdag 21 Augustus het die gelykheidshof beslis die vertoning van die ou landsvlag in sekere kontekste is haatspraak, skadelik en rassisties. Die Nelson Mandela-stigting het die aansoek in die hof gebring met die Menseregtekommissie (MRK) wat die tweede aansoeker was in dié saak.

In sy uitspraak het adjunk-regter-president Phineas Mojapelo gesê die vertoning van die ou landsvlag word nie beskerm onder die klousule van vryheid van spraak nie; trouens dit is verdelend, pynlik en selfs meer as haatspraak: dit is teistering.

In hierdie artikel gaan dit oor meer as net die ou vlag. Dit gaan vir my oor al die ou nasionale simbole wat voortleef in die nuwe Suid-Afrika.

Daarom is dit verblydend dat dr. Azille Coetzee dit verlede week duidelik gemaak het dat sy haarself distansieer van diegene wat vasklou aan apartheidsnostalgie. Ook kollega prof. Anton van Niekerk lewer ’n pleidooi dat die ou vlag vir eens en altyd gebêre moet word. Dit is nodig dat wit Suid-Afrikaners hulle hieroor uitspreek, want dit kan so maklik vertolk word dat net swart Suid-Afrikaners sterk voel oor hierdie sake.

‘Die Stem’ volgende?

Lede van die EFF verbrand die ou vlag tydens ’n betoging in 2015. Foto: Argief

Kort ná die uitspraak van die gelykheidshof het stemme onmiddellik opgegaan dat “Die Stem”, as deel van die huidige nasionale volkslied, die volgende teiken moet wees.

Hieroor het ek reeds breedvoerig geskryf (Die Burger, 18.7.2018, p.6) en ek volstaan hier met enkele van die standpunte wat ek toe reeds genoem het. Ek voeg ook nuwe perspektiewe by.

“Die Stem van Suid-Afrika” het “God Save the King” vervang, net soos die ou Suid-Afrikaanse vlag die Union Jack vervang het. Die destydse regering het heeltemal afstand gedoen van koloniale simbole omdat dit pyn en hartseer gebring het. Juis daarom val dit vreemd op dat dieselfde burgers nou dieselfde aan swart en bruin mense wil doen waarteen hulle in die 20ste eeu in opstand gekom het.

Afrikaners behoort te verstaan waarom dit beter is om van die ou simbole afstand te doen en nuut te begin. Dit sluit nie net die ou vlag in nie. Dit geld ook ander apartheidsimbole soos “Die Stem” en die Springbok-embleem.

Deur die twee liedere saam te voeg, is ’n kompromis aangegaan in die edelste tradisie van versoening.

As jy wyd genoeg lees, is dit duidelik dat diegene wat deur die vorige regering onderdruk is, steeds ’n ongemaklikheid ervaar met “Die Stem”. “Nkosi Sikelel’ iAfrika” is as ’n kerkgesang deur die Metodiste-onderwyser Enoch Sontonga geskryf en deur swart Suid-Afrikaners as ’n vryheidslied aangeneem.

Ook dit veroorsaak spanning. Deur die twee liedere saam te voeg, is ’n kompromis aangegaan in die edelste tradisie van versoening.

Tog is dit juis hierdie versoenende benadering wat vandag onder kritiek van veral die swart jeug deurloop. Trouens, die EFF het dit duidelik gemaak dat “Die Stem” nou in sy visier is. Toe agt nuwe EFF-raadslede in 2016 beëdig is in die eThekwini Metro, het die EFF meegedoen aan “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, maar met die aanbreek van die “Die Stem” het hulle uit verset opgehou sing en gaan sit. Ook die leier van die DA, Mmusi Maimane, het sy ongemak met die sing van “Die Stem” te kenne gegee.

Daar is ook ander faktore waarom die huidige volkslied onaanvaarbaar is: Slegs vyf van die elf amptelike taalgroepe word ingesluit naamlik isiXhosa (strofe 1, reëls 1 en 2), isiZulu (strofe 2, reëls 3 en 4), SeSotho (tweede strofe), Afrikaans (strofe 3) en Engels (strofe 4).

Dan is daar die musikale faktor: “Nkosi Sikelel iAfrika” is ’n kerkgesang, selfs ’n gebed, terwyl “Die Stem” op die maat van marsmusiek geskryf is.

Die idee om “Die Stem” deel te maak van die volkslied was ’n gebaar om wit mense te laat welkom voel in die nuwe Suid-Afrika.

Verder: Suid-Afrika was nog nooit ’n land van slegs Christene nie. Die Moesliems van die Bo-Kaap is al langer as drie eeue hier. Vandag is ons ’n sekulêre staat met ’n diverse bevolking.

Onlangs het my kollega prof. Nuraan Davids, ’n praktiserende Moesliem, in The Cape Argus geskryf oor haar en baie ander se ongemak omdat die Suid-Afrikaanse samelewing voortgaan om Christenskap op te dwing aan alle Suid-Afrikaners.

Hoe sensitief en inklusief is dit dan teenoor Suid-Afrikaners van ander geloofsoortuigings asook burgers wat nie gelowig is nie, om ’n Christelike gesang as volkslied te hê?

Die idee om “Die Stem” deel te maak van die volkslied was ’n gebaar om wit mense te laat welkom voel in die nuwe Suid-Afrika. Dit was ’n edele doelwit, maar om ’n apartheidsimbool daarvoor te gebruik, was nie die wysste ding om te doen nie.

Wit mense het die afgelope 25 jaar gewys dat hulle onteenseglik deel is van hierdie land en sy toekoms. Hulle het nie ’n apartheidsimbool nodig om hulself te herinner dat hulle ook eg Suid-Afrikaans is nie.

Iets heeltemal nuut

Wyle Johnny Clegg met die bekendstelling van die Springbokke se Wêreldbeker-trui in 2015. Foto: Gallo Images

So wat is die oplossing? Ons het twee keuses: ons kan voortgaan soos nou deur ’n volstruishouding in te neem, ons kop in die sand te druk en die noodlot uit te daag totdat iemand op ’n dag by ’n geleentheid waar die hele wêreld dit sal sien, die EFF en die voormalige Springboksenter Michael du Plessis se voorbeeld volg.

Du Plessis het jare gelede strekoefeninge gedoen terwyl “Die Stem” voor ’n wedstryd gesing is.

Die alternatief is ’n heeltemal nuwe volkslied vir Suid-Afrika. Dit moet verkieslik nie langer as drie strofes, oftewel 1 minuut en 48 sekondes lank wees nie soos Madiba voorgestel het.

Die lied moet vertel waar ons vandaan kom en waarheen ons as ’n volk op pad is.

In my vorige artikel het ek voorgestel dat die legendariese Johnny Clegg gevra word om ’n nuwe lied te skryf. Clegg was die ideale keuse omdat hy met sy musiek en sy beeld as die “Wit Zoeloe” daarin geslaag het om die westerse kultuur met die Afrika-erfenis te versoen. Ongelukkig het die Hoër Hand ingegryp en is Clegg intussen oorlede. ’n Gulde geleentheid is verspeel.

’n Nuwe volkslied moet in al 11 amptelike landstale beskikbaar wees sodat enigeen dit kan sing in die taal van sy of haar keuse. Jy kan net regtig vereenselwig met die volkslied as jy die woorde begryp.

Tans is dit ’n sinnelose oefening omdat weinig verstaan wat hulle sing. Die lied moet vertel waar ons vandaan kom en waarheen ons as ’n volk op pad is.

Dit moet verkieslik ons land se sekulariteit vertoon, heeltemal onafhanklik van enige godsdiens. Dit moet ’n lied wees waarmee almal kan identifiseer sonder dat ons elke keer herinner word aan apartheid.

Die Springbok teen die Protea

Die voormalige Springbok-kaptein John Smit met die Springbok- en Protea-embleem op die bors. Foto: Gallo Images

Prof. Elmien du Plessis, mede-professor in die regte aan die Noordwes-Universiteit, het geskryf dat simbole wel gewig dra. Die hof se uitspraak beteken dat die ou vlag ’n simbool is van apartheid wat vir die meeste mense in hierdie land pyn en vernedering beteken het.

Die vraag is: wat maak die ou vlag anders as “Die Stem” of die Springbok-embleem? Soos die ou vlag is dit verdelend, nie versoenend nie.

Ons moet ook die vraag vra waarom word een sportsoort (rugby) uitgesonder terwyl al die ander kodes met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika die Protea as simbool aanvaar het?

Ek hoor ook die argumente oor dr. Danie Craven. Ek het Craven nooit ontmoet nie, maar volgens alle verslae was hy ’n intelligente en visionêre leier wat nie eens geskroom het om met die apartheidsleiers koppe te stamp nie.

Ek is bewus dat hy bruin en swart spelers deel van die ou Suid-Afrikaanse Rugby Unie gemaak het en hulle geleenthede gegee het om byvoorbeeld teen oorsese spanne te speel. Daarvoor eer ons hom.

Dr. Danie Craven het in sy dae as rugbybaas nie begryp hoe sy edele pogings tot gemengde rugby tot verdeeldheid in swart en bruin gemeenskappe gelei het nie. Foto: Argief

Maar wat Craven nie verstaan het nie, en sy volgelinge tot vandag toe nog nie begryp nie, is dat ook hierdie (weliswaar edele) pogings van hom tot verdeeldheid en pyn gelei het.

Bruin en swart gemeenskappe is uitmekaar geskeur omdat sommige dit gewaag het om die grens oor te steek om saam met die “boere” (die instandhouers van apartheid) te speel. Families is uitmekaar geruk. Broers het teen mekaar opgestaan.

Ek onthou voordat ek toestemming kon kry om te trou, ek eers my oorlede skoonpa moes oortuig dat ek aan die “regte” kant (die nie-rassige kant) my rugby speel. Gelukkig het ek en my broers in my pa se voetspore gevolg en vir die nierassige rugbyklub Roslyns gespeel.

Vandag, 25 jaar later, is die wonde steeds daar.

In my gemeenskap word steeds gepraat van is jy deel van “hulle” of is jy deel van “ons”. Dis hoe diepgewortel hierdie emosies lê.

Quo Vadis?

Michael le Cordeur

Daar is twee maniere om ’n liggaamsdeel te amputeer: jy kan elke jaar ’n toon verwyder en telkens deur dieselfde pyn en trauma gaan. Of jy kan een keer doen wat gedoen moet word.

Konsulteer alle rolspelers (en nie net enkele leiers wat hul mense se pyn vergeet het nie), kry almal se insette en werk met konsensus.

Adv. André Gaum van die MRK sê onlangs met verwysing na die Langebaan-voorval dit is duidelik en kommerwekkend dat daar nog geweldig baie spanning is tussen die bruin en wit gemeenskappe van Langebaan.

Maar hierdie spanning is nie net beperk tot Langebaan nie. Juis daarom benodig ons nasionale simbole wat Suid-Afrikaners in ’n eenheid saamsnoer; nie verdeel nie. Versoening is slegs moontlik as die bepalings daarvan billik is en deur almal aanvaar word. Kom ons doen wat ons 25 jaar gelede al moes gedoen het.

Kom ons begin heeltemal nuut. Eers dan kan ware heling geskied.

* Prof. Le Cordeur is verbonde aan die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Danie Craven  |  Volkslied  |  Ou Landsvlag  |  Die Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.