Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nene: Hoekom het politici nie empatie nie?

Het enigiemand gaan stilstaan en besef dat Nhlanhla Nene se bedanking as minister van finansies ná ’n dekade van straffeloosheid ’n daad van ordentlikheid en morele moed was? Politici het vergeet om hul gewete af te stof, skryf David Everatt.

Die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene, getuig voor die Zondo-kommissie na staatskaping. Foto: Felix Dlangamandla

Pres. Cyril Ramaphosa het pas die bedanking van Suid-Afrika se eens geprese, hoogs beleërde oud-minister van finansies, Nhlanhla Nene, aanvaar en Tito Mboweni gaan die land se sesde finansminister in vier jaar word.

Die president probeer desperaat om Suid-Afrika uit te grawe uit die onheilige gemors wat sy voorganger, Jacob Zuma, en sy vele kornuite binne en buite die regerende ANC veroorsaak het. Veral die verfoeilike Gupta-familie was die hoofrolspelers in wat ’n reeks navorsingsprojekte, kommissies van ondersoek, boeke en ondersoekende joernalistiekprojekte as staatskaping gedoop het.

Nene is tevore beskou as “skoon”, veral nadat Zuma hom in die pad gesteek het omdat hy geweier het om van sy meer belaglike rentebejagte projekte te befonds. Des van Rooyen het hom vir ’n naweek vervang. Toe is hy vir die wolwe gegooi toe Pravin Gordhan die minister van finansies geword het (voordat ook hy deur Zuma uitgedwing is).

Nene is gerehabiliteer deur Ramaphosa – wat die hele Zuma-strategie gefnuik het deur die president van die ANC en toe later die land te word. Nene se heraanstelling as minister van finansies is wyd as polities uitgeslape en markvriendelik beskou.

Maar toe laat val Nene twee bomme. Een: Dat hy tussen 2010 en 2014 met die Gupta-broers in hul wonings en kantore vergader het, maar dat hy dit nie met Ramaphosa gedeel het nie. Twee: Dat hy geweier het om ’n kernkragooreenkoms met Rusland te teken wat die land dekades lank finansieel sou verlam.

En nou is hy weg.

Het enigiemand die pouseknoppie gedruk en nagedink daaroor dat sy bedanking ná ’n dekade van straffeloosheid ’n daad van ordentlikheid en morele moed was? Ignoreer die party se kleure en kyk na die mens. Dit is duidelik ’n toets wat die meeste Suid-Afrikaanse politici hopeloos gedop het. Indien hulle ’n gewete het, het hulle duidelik vergeet om dit af te stof en te gebruik.

'n Geheul met die Guptas

Ajay en Atul Gupta, die Indiese broers wat sentraal is tot die bewerings van staatskaping in Suid-Afrika. Foto: Foto24

Enigiemand wat geheul het met die Guptas, ’n familie wat nou veilig in hul herehuise oorsee beskut is, is per definisie onrein. En per definisie sluit dit ’n swetterjoel mense in die politieke en sakeklasse in wat deur die Guptas verlei, gekorrupteer, gevlei, gedreig of gestoomroller is, afhangende van hoe sterk die persoonlikheid wat betrokke was.

Die briljantheid van hul staatskapingsprojek is ’n presensielys van byna elke senior politieke figuur in Suid-Afrika, tesame met baie van die elite-sakelui.

Party het opgestaan teen hulle, maar die meeste het gevou, verlei deur kontant of ’n krasse Sun City-familietroue-uitnodiging of korrupte kontrakte.

Baie is in die parlement, party is in die burgerlike samelewing, ander in die private sektor – onder wie die konsultasiefirma KPMG en die Brits gebaseerde voormalige beeldpoetsmaatskappy Bell Pottinger – en elders. Nie almal sit op ANC-gestoeltes nie. Miskien is dit hoekom die president geen ander keuse gehad het as om Nene te verwyder nie. Polities was die las te groot aan die vooraand van ’n verkiesing – nasionale verkiesings word volgende jaar gehou – en niemand is so uitgesproke soos dié wat iets het om weg te steek nie.

Maar hy het verantwoordelikheid geneem – anders as die leuens en lawaai van ander wat met hul hande in die spreekwoordelike “koekieblik” gevang is.

Nene het na die Zondo-kommissie oor staatskaping gegaan en erken dat hy gefouteer het. Ja, hy het met die Guptas vergader. Nee, hy het hom nie laat omkoop nie (wel, hy sou dit seker gesê het, nie waar nie?). Ja, hy is onder geweldig druk geplaas om die kernooreenkoms te onderteken wat Suid-Afrika se staatskas vir plunderaars sou oopstel. Ja, hy het geweier om te teken en is in die pad gesteek.

Dis opmerklik dat hy nie vir Ramaphosa gesê het oor sy vroeëre gesprekke met die Guptas nie. Maar hy het verantwoordelikheid geneem – anders as die leuens en lawaai van ander wat met hul hande in die spreekwoordelike “koekieblik” gevang is.

Nene het aan Suid-Afrika gesê: “In ruil vir die vertroue wat julle in my gestel het, is ek as ’n openbare amptenaar gedrag aan julle verskuldig wat bo verdenking is. Maar ek is ook ’n mens, ek maak foute, insluitende dié van swak oordeel.”

Hy het hierna aangebied om te bedank. Dít is rekenpligtigheid en ordentlikheid.

Mense wat in glashuise woon moenie klippe gooi nie. Foto: Sabelo Nsele

Gebrek aan empatie

In enige weergawe van die wêreld was dit ’n man wat eerbare vrymaking gevra het. Hy het sy eie foute erken, hy het om vergifnis gevra en het gevra om verlos te word van die verlokkings van sy amp waarvoor so baie aanhou om te kwyl en te slobber.

Was daar vrae wat gevra moes word? Beslis.

Maar wat het hy in ruil daarvoor gekry? Die EFF, wie se leierskap herhaaldelik al beskuldig is van korrupsie, het die kans uitgebuit en beweer dat Nene so “korrup soos die hel” is en beloof om nog kompromitterende besonderhede te onthul – wat nog moet gebeur.

Die DA, wat desperaat weer in die voorhoede wil kom ná Ramaphosa se opgang, het Nene se afdanking geëis en wou ander moontlike botsende belange laat ondersoek.

Nie een politikus het die ordentlikheid gehad om te sê “dit was die regte ding om te doen” nie. Die gebrek aan empatie is oorverdowend.

Empatie is die vermoë om te voel wat iemand anders binne sy eie verwysingsraamwerk ervaar. Eenvoudig gestel, om jou in hul skoene te plaas. Dit is buitengewoon skaars in die politiek – van Trump wat oorlewendes van mishandeling bespot tot Suid-Afrika vandag. Skree die ander kant dood, wen met volume en krasheid, sien eerlikheid as ’n swakheid, maar bowenal moet jy wen – niks anders blyk saak te maak nie.

Nie een politikus het die ordentlikheid gehad om te sê “dit was die regte ding om te doen” nie. Die gebrek aan empatie is oorverdowend. ’n Gebrek aan empatie is deel van ’n narsissistiese persoonlikheidsteuring – ’n onvermoë of weiering om met die gevoelens van ander te identifiseer. Dit is ’n taamlike netjiese beskrywing van politici, wat herhaaldelik bevestig word.

Foto:

Indien politici net persoonlike voordeel sien, veral in die “swakheid” van ander – swakheid wat hier omskryf word as eerlikheid, om vergifnis te soek en berou – dan is die toekoms onherbergsaam.

Maar vir al daardie ander selfsugtige, selfvoldane TV-jaende politici en ander, wie se eie vergaderings met die Guptas, of ander korrupte aktiwiteite, nog na vore moet kom, onthou net een ding: Mense wat in glashuise woon moenie klippe gooi nie.

*Hierdie stuk het oorspronklik in The Conversation verskyn.

*Everatt is die hoof van Wits se skool vir regering aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Meer oor:  Nhlanhla Nene  |  Guptas  |  Staatskaping  |  Korrupsie  |  Minister Van Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.