Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nene: ‘Ons is nog nie in ’n morele paradys nie’

Beleef ons ’n morele herontwaking ná die oudminister van finansies, Nhlanhla Nene, se bedanking? Willemien Brümmer het met die filosoof prof. Anton van Niekerk gepraat.

Die oudminister van finansies, Nhlanhla Nene, getuig voor die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Het ons uiteindelik ’n era van gentleman’s politiek betree ná die bedanking van Nene?

Mnr. Nene se optrede herinner veel meer aan ons tradisionele beeld van ’n gentleman – iemand wat verantwoordelikheid neem vir sy dade en selfs bereid is om te bedank as sy dade totaal onvanpas was. Maar ek dink dis voortydig om te vermoed of te hoop dat ’n nuwe “era” aangebreek het, veral wat Suid-Afrikaanse politici betref. Ons het ongelukkig nog net te min van hierdie soort eerbare optredes gesien. Een swaeltjie maak nie die somer nie. Maar hopelik is hierdie ’n begin omdat dit ten minste die voorbeeld stel van wat ’n politikus in sodanige omstandighede behoort te doen.

Het Nene dit reggekry om sy integriteit te behou deur te bedank nadat hy voor die Zondo-kommissie getuig het oor sy ontmoetings met die Guptas?

Pres. Cyril Ramaphosa kondig by Tuynhuys aan dat die nuwe minister van finansies Tito Mboweni is. Foto: Adrian de Kock

Ek reken dat Nene ’n klomp respek afgedwing het deur eerlik te wees en verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar. Die idee dat hy vir ’n tweede keer as minister van finansies moes uittree (hierdie keer vrywillig, die vorige keer afgedank!) moet ’n besonder bitter pil wees om te sluk. Nogtans het hy dit met waardigheid gedoen. Tog bly dit ’n ernstige vraag waarom hy met hierdie bekentenis gewag het totdat hy voor die Zondo-kommissie moes getuig. Het hy ten minste al vir pres. Ramaphosa oor sy bande met en besoeke aan die Guptas ingelig toe hy aangestel is? Hieroor is daar nog nie duidelikheid nie. “Integriteit” is ’n baie groot woord wat ons liefs spaarsamig moet gebruik, en dan slegs vir diegene wat dit werklik verdien. Ek sou meer duidelikheid oor laasgenoemde kwessie wou hê voordat ek te vinnig met die begrip “integriteit” in hierdie verhaal begin smous.

Het Nene ’n ander opsie gehad as om te bedank, of was dit die enigste eerbare ding om te doen?

Gegee wat aan die lig gekom het, en dan veral die feit dat, soos in die geval van oud-pres. Zuma self (asook die vorige premier van Noordwes), daar sterk sprake is dat ’n seun van Nene ook betrek is en moontlik bevoordeel is, dink ek nie hy het ’n ander opsie gehad as om te bedank nie. Wat in hierdie verband vir ander geld, moet vir hom ook geld. Nie verniet nie dat die groot morele filosoof van die 18de eeu, Immanuel Kant, argumenteer dat ons dade slegs reg is wanneer die morele reël waarvolgens ons optree, as geldig vir alle mense beskou kan word!

Nene het bedank, maar mense soos Malusi Gibaba, minister van binnelandse sake wat self erken het hy was ’n gereelde besoeker by die Guptas se Saxonwold-woonkompleks, klou steeds aan hul poste. Wat is die (etiese) implikasies hiervan?

Is dit nie ook tyd vir die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, om te bedank nie?Foto: Felix Dlangamandla

Ek dink die etiese implikasies is eenvoudig: Gigaba behoort self onmiddellik te bedank. Dit was immers reeds in Zuma se tyd duidelik dat Gigaba ’n besonderse, alte hartlike verhouding met die Guptas het. Hulle wou Suid-Afrikaanse burgerskap by hom hê, en hulle is met die oog op daardie proses duidelik meer simpatiek behandel as gewone ander mense. Gigaba was duidelik een van hul vertrouelinge in die Zuma-kabinet, en hy behoort sonder meer te bedank. Dit geld ook alle ander ministers of senior staatsamptenare wat toegelaat het dat ’n Indiese familie met geen politieke locus standi in Suid-Afrika nie, so amper beheer oor die staat oorgeneem het.

Sou ’n mens pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat hy Nene se bedanking aanvaar by Tuynhuys as “onberispelik” kon beskryf – en het hy sy belofte oor ’n nuwe “daeraad” gestand gedoen?

Kom ons wees almal dankbaar dat daar vir ’n keer korrek en moreel geregverdig deur die SA president en regering opgetree is deur die aanbod en aanvaarding van Nene se bedanking. En kom ons hoop en bid dit is die begin van ’n nuwe styl van verantwoordbare regering. Dis egter nog, soos die Engelse mooi sê, “early days” om te begin praat van ’n “nuwe daeraad” of een of ander apokaliptiese verwagting van ’n morele paradys wat skielik aangebreek het. Hierdie regering, ook onder leiding van pres. Ramaphosa, skuld die Suid-Afrikaanse nasie herhaalde en volgehoue demonstrasies van skoon regering en morele verantwoordbaarheid ten opsigte van alles wat hulle doen. Laat ons hoop die geskiedenis sal voortaan daaroor gunstiger oordeel as wat tot nou toe die geval was.

Betree Suid-Afrika nou weer ’n era van hoop?

Prof. Anton van Niekerk

Ek hoop so! Maar ek het pas verwys na die voorwaardes wat nagekom sal moet word alvorens ons met vrymoedigheid kan praat van ’n “era van hoop”. Die ekonomie is in ’n allertreurige toestand. Die aandelebeurs is aan die tuimel en die rand was lanklaas so swak. Gemeenskappe wat geen behoorlike dienste ontvang of voordele trek uit werkskepping nie, is by gatvol verby en betoog vanaf die Limpopo tot by Kaappunt. Treine word aan die brand gesteek asof dit die nuwe nasionale sport is. Vertroue in die landboubedryf vlieg by die deur uit vanweë al die sinnelose praatjies oor onteiening sonder vergoeding, wat duidelik weinig meer is as ’n (taamlik goedkoop) verkiesingsfoefie met die oog op 2019. En dan skep die president soms die indruk dat hy toelaat dat die gronddebat meer deur Julius Malema oorheers word as deur homself.

’n “Era van hoop”? Ek is uiters versigtig vir sulke vergesigte in hierdie klimaat. Die beste waarop ons tans kan hoop, is dat alle Suid-Afrikaners hand aan die ploeg begin slaan om saam te werk ter wille van die hoop wat uiteindelik slegs deur ons almal saam geskep kan word.

* Van Niekerk is uitgelese professor in die filosofie aan die Universiteit Stellenbosch en direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.