Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Net nuwe strategie kan help

Die stryd om Afrikaans as moedertaalonderrig in skole en universiteite te behou, het ’n onverkwiklike konfrontasie geword. Die toedrag van sake se uiteindelike gevolg is nou al voorspelbaar: Afrikaans gaan verloor, tensy die strategie verander, maan Freek Robinson.

Die hofuitspraak in die guns van die Hoërskool Overvaal is net ’n tydelike oorwinning.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het reeds kennis gegee dat tot in die konstitusionele hof geappelleer sal word.

Ná hoofregter Mogoeng Mogoeng se uitspraak oor die gebruik van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat weet ons reeds in watter rigting die wind daar waai.

Met Cyril Ramaphosa as nuwe president van die ANC, en binnekort seker van die land, doen ’n geleentheid hom voor om in gesprek te tree en die situasie te beredder.

As Ramaphosa deur ’n wye spektrum van besorgde Afrikaanssprekendes in ’n positiewe gees genader kan word om voorstelle doen vir werkbare, praktiese oplossings, is daar ’n kans. Maar dan moet dit werklik ’n afvaardiging wees van die hele Afrikaanse gemeenskap buite die politiek wat ernstig en opreg is dat moedertaalonderwys aan al 11 die amptelike taalgemeenskappe verskaf moet word.

Die “oorwinning” in Maandag se uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria het oppervlakkig bloot gegaan oor die toelating van 55 “Engelse” leerlinge en of die skool plek vir hulle het of nie. Maar in werklikheid wou die regering en Lesufi dit gebruik om Afrikaans as onderrigmedium uit te faseer en dit deur Engels as voertaal vir almal te vervang – dit ten einde alle leerlinge die geleentheid te gee om “goeiegehalte”-onderwys te gee.

overvaal

Afrikaanse uitnemendheid

Afrikaanse skole se prestasies in die 2017-matriekeksamen is vir Lesufi, die ANC en die EFF ’n bitter pil om te sluk.

Hulle kyk met jaloesie na die syfers en uit frustrasie probeer hulle die skole aftrek tot ’n vlak waar gesê kan word dat almal gelyke (maar swak) onderwys ontvang.

Wanneer ’n Afrikaanse skool die “verskoning” gebruik dat hy reeds vol is, word dit beskou as ’n rassistiese daad om Afrikaans as onderrigmedium te bewaar en swart leerlinge uit te sluit.

Sowat die helfte van tradisioneel Afrikaanse skole bied reeds parallelmediumonderrig aan.

In die 1 279 skole wat nog enkelmedium-Afrikaans is, is daar ook swart leerlinge, hoewel hulle in die minderheid is. Dus gaan dit nie oor ras nie, maar wel taal.

Die aanslag op Afrikaanse skole gaan vanjaar aan verskeie fronte nog verder gevoer word.

Wetgewing is reeds ingedien wat beheerliggame se onafhanklike reg op die aanstelling van skoolhoofde en senior personeel na die staat sal oordra. Die plan is ook om die bepaling van die taal- en toelatingsbeleid van beheerliggame weg te neem. Daarby sal die reëling dat die voedingsgebied van skole ’n radius van 5 km is, uitgebrei word na minstens 30 km, aldus Lesufi.

Dit beteken in praktyk dat leerlinge van wanpresterende skole (in byvoorbeeld Soweto) die reg sal hê om in ’n voormalige model C-skool in ’n stedelike woonbuurt skool te gaan. Hulle mag ook eis dat hulle in Engels onderrig moet word.

Die proses sal verder aangehelp word deur Lesufi se plan om skole volgens gehalte te klassifiseer. Dis dan vir alle ouers duidelik waar hul kinders die beste onderrig sal ontvang.

Natuurlik sal Afrikaanse skole in die indeks van vyf vlakke bo uitkom. Dit is bykomend tot elke jaar se worsteling om plek te vind vir duisende nuwe leerlinge wat weens migrasie na veral Gauteng en die Wes-Kaap trek.

Teorie en werklikheid

Wat gebeur in praktyk wanneer die departement van onderwys (soos in die geval van die Hoërskool Overvaal) opdrag gee dat ’n Afrikaanse skool “Engelse” leerlinge inneem?

Kom ons skep ’n hipotetiese, maar tog praktiese geval van die Hoërskool X, ’n Afrikaanse enkelmediumskool. 55 Engelse leerlinge moet in hierdie skool in ’n gr. 8-klas geplaas word. Die denkbeeldige skool het vanjaar drie gr. 8-klasse, elk met sowat 30 leerlinge.

Tegnies behoort 18 van die 55, volgens die staat se voorskrif, onmiddellik opgeneem en gelyk onder die drie klasse verdeel te word. Dus het elke klas nou 36 leerlinge en die 18 leerlinge dring daarop aan dat hulle in Engels onderrig word.

Die onderwysers, wat nie opgelei is om in Engels klas te gee nie, moet nou met meer leerlinge in die klas die tyd in die helfte deel om in Afrikaans en Engels klas te gee.

Die staat sal, as jy gelukkig is, vir een of twee ekstra “Engelse” onderwysers betaal – en hulle sal waarskynlik nie in Afrikaans kan klas gee nie.

Maar die leerlinge ruil klasse om onderrig te word in verskillende vakke, so een of twee ekstra onderwysers help nie.

Wat word dan van die ander 37 Engelse leerlinge wat oorbly?

Hulle kan saam in een klas ingedeel word, wat – volgens die staat se eie maatstaf – nie gewens is nie. Maar waar gaan hulle skoolgaan? Ek weet van geen Afrikaanse skool in Gauteng waar een hele klaskamer leegstaan nie. In ’n geval waarby ek betrokke was, het die departement voorgestel dat hulle tydelike klaskamers vir Engelse leerlinge sal voorsien.

Maar dit skep weer segregasie – al die “Engelse”, of in werklikheid swart leerlinge, is dan saamgegooi in klasse, geskei van die ander leerlinge. En wat gebeur dan aanstaande jaar? Dan moet dieselfde uitdagings van die gr. 8-leerlinge hanteer word in gr. 9. ’n Nuwe groot groep “Engelse” leerlinge word weer in gr. 8 opgeneem.

In gr. 10 raak dit nog ingewikkelder, want leerlinge moet finale vakkeuses vir hul matriekjaar maak. Teen daardie tyd is die meeste leerlinge lankal reeds “Engels” en is Afrikaans versmoor.

Nog ’n verwikkeling is die finansies. In townships is onderwys meestal gratis. Afrikaanse skole kry bitter min toelae van die staat. Die persepsie heers dat ouers van die skool “ryk” is.

Nietemin het die Afrikaanse skole spesiale reëlings vir ouers wat nie die skoolgeld kan betaal nie. Hulle kry afslag of word selfs kwytgeskeld daarvan. Dis moeilik om dit te sê, maar die meeste Engelse leerlinge sal nie die volle skoolfonds van ’n kwintiel-5-Afrikaanse skool kan bekostig nie.

Die logiese gevolg is dat Afrikaanse leerlinge se ouers meer sal moet opdok vir swakker onderwys. Talle ouers sal doodeenvoudig hul kinders uit die staat­skole haal en hulle plaas in een van die talle private skole wat nou soos paddastoele opskiet. Die onderwysers van die staatskole sal ook hul heil in die private sektor gaan soek. Dan sit die aanvanklike skool wel volledig met Engels as voertaal, maar van die gehalteonderrig wat daar was, sal nie veel oorbly nie.

Die ABC van beleggings is eintlik eenvoudig; en dit begin deur minder te bestee as wat jy verdien. Foto: Pixabay

Wat staan ons te doen?

Die Afrikaanse gemeenskap moet ’n omvattende verklaring uitreik. Dit kan begin as ’n sosialemediaveldtog waarin soveel Afrikaanssprekendes as moontlik die verklaring steun. Die verklaring se kern moet wees dat Afrikaanssprekendes hulle onomwonde verklaar as landsburgers wat verbind is tot die opbou en groei van die land.

Al is hulle trotse Afrikaanssprekendes, is hulle ewe sterk ondersteuners van al die ander inheemse tale en moedertaalonderwys vir almal. Hulle sal saamwerk om ander inheemse tale – net soos Afrikaans oor eeue heen ontwikkel het tot die hoogste vlak – ook akademies te bevorder.

Die verklaring moet dit duidelik maak dat die Afrikaanse gemeenskap diskriminasie en rassisme verwerp.

Van die begin af was die meeste Afrikaanssprekendes bruin mense – en so is dit tot vandag. Afrikaans is eenvoudig nie ’n wit taal of eksklusief net vir die Afrikaner nie.

Die stryd vir Afrikaans moet inklusief geveg word.

Daarteenoor is Engels die enigste uitheemse amptelike taal in die land en boonop is dit ’n koloniale taal. Hoekom maak die vegters teen Afrikaans nie daaroor ’n lawaai nie?

Alle Afrikaanse ouers wil graag sien dat hul kinders eendag die arbeidsmark suksesvol betree en aanpas by die volle verskeidenheid rasse en taalgemeenskappe. Daarom moet daar reeds op skoolvlak blootstelling aan mekaar wees.

Ras kan en mag nie ’n maatstaf vir toelating by enige skool wees nie. Natuurlik maak taalbeleid dit moeilik om alle Engelse leerlinge te akkommodeer. Maar kom ons vier ons verskeidenheid en ontwerp verskeie maniere om mekaar werklik as medeburgers te leer ken en omarm.

Een ding is seker: Ons kan nie aangaan soos dit nou aangaan nie. Kom ons neem die inisiatief en begin ’n dialoog met Cyril Ramaphosa.

Afrikaanssprekendes moet saamstaan, in meelewendheid, as mede, toegewyde burgers wat bloot net sonder aanstoot ons kleinood, Afrikaans, wil praat.

Meer oor:  Hoërskool Overvaal  |  Afrikaans  |  Onderrigtaal  |  Moedertaal  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.