Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Net ‘rugbyvennoot’ sou deug
Harold Verster
Ryno Opperman
Rory Duncan

Die Superrugby-reeks begin vandeesweek. Wat wag op die Cheetahs in 2017, asook in die nuwe bedeling in beroepsrugby? Ryno Opperman (voorsitter: Vrystaat-Cheetahs-direksie), Harold Verster (uitvoerende hoof) en Rory Duncan (direkteur: rugby) beantwoord vrae van Gert Coetzee, Volksblad-redakteur.

’n Nuwe beroepsbedeling vir rugby word ingestel. Hoe gaan dit werk?

Die nuwe model moet ingevolge Saru se grondwet afgerond word, maar breedweg behels dit dat ’n rugbyunie 74% van die aandele in ’n bedryfsreg (soos die Vrystaat-Cheetahs) aan ’n private ekwiteit (maatskappy, instelling of individu) kan verkoop. Voorheen het Saru se grondwet bepaal die unie moet ’n beherende aandeel van 51% of meer hou. ’n Lisensie-ooreenkoms met voorwaardes beskerm Saru se bates. Die nuwe bedeling strook met die Franse, Engelse en Nieu-Seelandse model vir beroepsrugby.

By die Stormers (wat onlangs bankrot­ verklaar is) beweeg Remgro en by die Haaie glo Supersport as oorhoofse eienaar in. Is die Cheetahs in die mark?

Ons is nie onder druk om nou te verander nie, en ons het die luukse om ’n weldeurdagte, rustige besluit te neem, danksy die voordeel van finansiële stabiliteit.

Hoe sou die “ideale” eienaar van die Cheetahs lyk? Is so iemand plaaslik te vinde?

Ons moet nie teen die plaaslike mark vaskyk nie. Rugby is ’n wêreldproduk wat op die globale verhoog “uitgestal” word. Die Crusaders in Christchurch is ’n voorbeeld van hoe ’n “kleiner” klub (in Nieu-Seeland met skaars 7 miljoen mense) bedryf moet word. Die Engelse beroepsrugby- en sokkerklubs is ook ’n voorbeeld. Die franchise is nie noodwendig geografies gebonde nie, maar ons wil dit in Bloemfontein hou. Ons sal kyk na die regte blywende (ongoing) vennoot wanneer die tyd ryp is, eerder as na ’n belegger. Ons is reeds in ’n goeie verhouding met SuperSport wat 24,5% aandele in die Cheetahs besit en ons vennootskap met hulle werk uiters goed.

Wat sou die Cheetahs aan ’n vennoot bied?

’n Globale produk en ’n gevestigde handelsmerk met gerespekteerde waardes, insluitende trots, respek en gemeenskapsbewussyn, in ’n kleiner, lojale mark, en die wete dat rugby ’n waardetoevoegende nalatenskap in ons streek het. Plus ’n bron van ongelooflike potensiaal, ’n rugbykultuur soos min ter wêreld en passievolle ondersteuners.

Op die Cheetah-prysuitdeling by Ramblers is die Cheetahs se finansiële stabiliteit telkens geopper. Hoe is dit vermag?

Die regte kundiges is in die regte poste aangestel. Ons het ons eie Superrugby-bedryfsreg gekry, wat ook vir spelers konti­nuïteit meegebring het. Voorts hou ons by ’n realistiese begroting (ook met spelerskontrakte, besigheidsinkomste en bedryfsuitgawes), en is ons inkomste uit borgskappe nou baie hoër. Borge hou van ’n opbrengs op hul beleggings en betrokkenheid, en by die Cheetahs bied ons dit. Die eerste keer is al die moontlike borgskap-ruimtes op die Cheetah-rugbydrag verkoop. Dié positiewe kettingreaksie is ontoevallig. Die verowering van die Curriebeker in 2016 is drie jaar tevore as ’n doelwit gestel, en vermag danksy ’n bepaalde sake-strategie op alle vlakke met ’n spesifieke strategie vir spelerskontrakte wat junior spelers deur die ligas heen tot op senior vlak ontwikkel. Vanjaar is die Vrystaat-Cheetahs een van min bedryfsregte wat op ’n wins afstuur, en projeksies dui op ’n wins in die komende twee jaar ook.

Hoe verskil spelerskontrakte hier teenoor elders?

Die waarde van kontrakte is dieselfde as by ander unies. Die verskil is dat die Stormers, Bulle en ander grotes, sê maar, tien spelers op A-vlak sou kontrakteer en die Cheetahs vyf. Dieselfde geld op B-vlak en onder toe. Die Cheetahs ontwikkel spelers om deur die stelsel boontoe te “filtreer”. Ons klein, doelgerigte akademie lewer gemiddeld 8,5 beroepspelers jaarliks – van die beste in die land.

Tog staan die Cheetahs jaarliks spelers aan ander unies af?

Die verlies van spelers is ’n Suid-Afrikaanse rugby-verskynsel, en nie uniek aan die Cheetahs nie. Daar is ’n “salarisplafon” wat ná ’n aantal wedstryde en seisoene bereik word, en dan skuif spelers. By die Cheetahs voer die stelsel van “onder” spelers wat diegene wat weggaan, vervang. Ons afrigtingsbeginsels is dieselfde op o.19- en o.21-vlak as boontoe – dieselfde oefeninge, patrone en gesindheid.


Baie keer kla briefskrywers in Volksblad dat “minder geld” nie ’n rede is hoekom die Cheetahs nie met die “groot unies se diepte” kan meeding nie. Tog is ons in ’n kleiner mark. Hoe word die geld­realiteit bestuur?

Ons vul van onder aan, en gaan pluk nie net kersies van bo nie. So skakel ons “prys” as ’n buitensporige faktor uit, en werk aan volhoubaarheid. Jong hoë-potensiaal-spelers, baie uit plaaslike skole, ontwikkel hier in topspelers. Ons kry ook spelers wat by ander unies nie tot hul reg kom nie, maar dan hier Springbokke kom word. Spelers is deesdae jonger reg vir groot rugby, en die Cheetahs dra by tot hul ontwikkeling deurdat spelerwaarde gelyk is aan die “speeltyd” op die veld. Dink maar aan Francois Venter, Uzair Cassiem, Rayno Benjamin, Sergeal Petersen en ook Lood de Jager (wat nou by die Bulle is en met wie ons ’n goeie wedersydse pad ge-stap het). Die akademie lewer ’n onontbeerlike bydrae tot ons gekontrakteerde groep van 45 spelers.

Hoe voel julle as direksie, bestuur en rugbyhoof oor die Cheetahs se vertoning in 2016?

Die Superrugby-reeks is altyd taai. 12 spelers het verlede jaar die eerste keer daaraan deelgeneem. Ons het vier wedstryde gewen en vier met een drie of minder verloor. Dit was redelik, maar ons sou beter wou vaar. Die verowering van die Curriebeker is ’n oogmerk wat ons al in November 2014 gestel het. Dit was uitsonderlik dat ons die trofee in 2016 gewen het sonder een nederlaag in die reeks. Dit was die tweede agtereenvolgende jaar dat ons o.19-, o.21- en senior span die Curriebeker-uitspeelrondes gehaal het. Net die WP kon dit ook regkry.

Vir die direksie dra die Curriebeker-welslae tot volhoubaarheid by. Dit was al propvol stadion in die reeks met die kaartjies wat vier dae voor die eindstryd uitverkoop is, omdat ons ook die mark van Kimberley, Welkom en Johannesburg bedien. Altesaam 19 000 kaartjies of sowat 50% is in drie dae aanlyn op ons eie stelsel verkoop. Vir ons was 2016 dus een van die beste jare in ons geskiedenis. Benewens die prestasies op die veld is al ons ander mikpunte en doelwitte ook oortref, insluitende finansies en bemarking. Ons glo dit is te danke aan goeie beheer, bestuur en duidelike strategieë.

Wat is jul doelwitte vir 2017?

Ons is vasberade om die titel as Curriebeker-kampioen te verdedig en ook op o.19- en o.21-vlak die derde keer agtereenvolgens die uitspeelwedstryde te haal. In Superrugby het ons ’n meer ervare groep deurdat van die spelers aan hul tweede of derde reeks deelneem. Tradisioneel vaar elke vorige jaar se Curriebeker-kampioen in die volgende seisoen goed in die Superrugby-reeks. Vanjaar se mededinging teen die Nieu-Seelandse spanne (in 2016 was dit Australiese spanne) gaan moeilik en opwindend wees – die Chiefs, Cru-
saders en Highlanders tuis en die Hurricanes en Blues in Nieu-Seeland. Ons sal aantreklike Cheetah-hardlooprugby bly speel. Ons het een senior speler (De Jager) verloor, maar meer as 45 spelers van verlede jaar “oorgedra”, terwyl 22 van 2015 nog hier is. Altesaam 30 spelers is tot 2018 gekontrakteer. Vir twyfelaars oor die volhoubaarheid van Cheetah-rugby bied ons in September die Springbok-toets teen Australië hier aan. Ons gaan ons bes probeer om al die kaartjies uit te verkoop.

Op die prysuitdeling het dit gelyk asof die Cheetahs ook van die veld ’n hegte eenheid is?

Die Cheetah-maatskappy met 64 werknemers – 52 heeltydse personeel en 12 dienswerkers (buiten die spelers) – is soos ’n gelukkige beroepsfamilie. Suster Esmaré Cronjé (van die Life Rosepark-hospitaal) is reeds 25 jaar lank as mediese noodwerker betrokke. Wilna Jurack het ’n toekenning vir 20 jaar diens gekry. Spangees strek wyer as net die span. Van die skoonmakers tot sekuriteitswagte en almal anders is opgewonde oor die span en steun die spelers.

As Sergeal Petersen ’n goeie lopie in ’n wedstryd inkry, is al ons vroulike werknemers skoon opgewonde.

Goeie steundienste is onontbeerlik?

Dit werk soos suurdeeg. Drie jaar gelede het die direksie besluit ons het nie die grootste begroting nie, maar niks keer ons om die mees professionele unie in die land te wees nie. Nou het ons ’n gevestigde professionele besigheid. Dit sluit in ’n “rugby-departement” met ’n puik gimnasium (in samewerking met die Vrystaatse hoëprestasie-sportsentrum) en ’n mediese eenheid (met twee geneeshere, drie fisioterapeute, drie fiksheidskundiges en andere) wat skole en private pasiënte ook bedien. Die Knights-krieketspan sê juis een van ons mediese werkers is hul geluksengel. Die akademie-spelers kry ontbyt, middagete en aandete en die beste sorg. Ook hulle word aan Cheetah-waardes blootgestel, sodat dit nie net oor die spel nie maar oor menswees gaan. In die administrasie loop alles seepglad – van reëlings vir reis en verblyf tot die ontleding van wedstryde.

Tog bly rugby die “kernbesigheid”?

Die uitruil-ooreenkoms met Japan werk goed. En ons het ’n goeie en tevrede span afrigters, elkeen ’n spesialis uit eie reg met Franco Smith (hoofafrigter) met sy besondere “omgee”-perspektief op mentorskap.

Bring onsekerheid oor die moontlike verkleining van die Superrugby-reeks twyfel?

Dit is iets waaroor Sanzar en dan Saru moet besluit. Die terugvoering wat ons van verskeie betrokkenes kry rakende die Cheetahs se voortgesette deelname aan Superrugby ná 2018 is egter baie positief. Eerder as om ons voortydig te bekommer, fokus ons daarop om wedstryd vir wedstryd en seisoen vir seisoen deur goeie Cheetah-rugby die volhoubaarheid van die bedryfsreg te bly verseker. Ons werk hard aan die stadion-“belewenis” en Cheetah-ondersteuners kan deur hul bywoning help om ons geliefde span vir altyd hier te sien speel. Sonder die Cheetahs sou Suid-Afrikaanse en wêreldrugby armer wees.

Meer oor:  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.