Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
NGK nou oor die Rubicon?
Predikante van die NG Kerk stem op die algemene sinode in 2015 oor die kerk se hantering van die sogenaamde gay vraagstuk. Foto: Deaan Vivier
 

Met behulp van die onlangse hofuitspraak dat die NG Kerk nie teen gay mense mag diskrimineer nie, kan die kerk nou dié Rubicon heeltemal oorsteek. Die vraag is of die kerk dit gaan doen, skryf Frits Gaum.

’n Stormpie in ’n glas water, is hoe ’n inbeller op ’n radioprogram die stryd in die NG Kerk (NGK) oor gay-regte en die onlangse uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria beskryf.

Maar die inbeller is verkeerd. Dit gaan hier oor ’n belangrike “storm” wat wel ’n sogenaamde minderheidsgroep intens raak, maar wat baie wyer implikasies het.

Uiteindelik gaan dit oor onreg wat deur die NGK, en ander kerke, teen gay mense gepleeg word. En onreg teenoor een persoon, kom neer op onreg teenoor almal.

Uiteindelik gaan dit oor onreg wat deur die NGK, en ander kerke, teen gay mense gepleeg word. En onreg teenoor een persoon, kom neer op onreg teenoor almal.

Die hofuitspraak vroeër vandeesmaand het ernstige prosedurele foute in die kerk se hantering van dié saak voor én tydens die buitengewone algemene sinode van 2016 uitgewys.

Maar meer as dit, die uitspraak dui ook daarop dat kerke nie in die lig van die Grondwet net op grond van hul reg op godsdiensvryheid mense se menswaardigheid en gelykheid mag skend nie.

En, weet ons, in wese staan die skending van mense se basiese regte ook téén die opdrag van die Here Jesus dat ons ons naaste moet liefhê soos ons onsself liefhet.

Dus moet ons ander gun wat ons onsself gun, en aan ander doen soos ons aan onsself gedoen wil hê.

Bybelse boodskap gedekodeer

Hierdie uitspraak en die kerk se verdere hantering daarvan bring die NGK opnuut voor ’n baie groot uitdaging te staan.

Ek is nie iemand wat die NGK wil afskryf en sy ondergang voorspel en, soos sommige, selfs leedvermakerig bepleit nie.

Die NGK het in die geskiedenis ook groot en goeie dinge gedoen, soos die uitdra van die evangelie wyd en syd en die oprigting van hospitale en versorgingsoorde, ook in ander dele van Afrika.

Die gay-saak het, teen wil en dank, op die kerk se tafel beland en jare lank is daarmee geworstel.

Die NGK lewer op welsynsvlak in Suid-Afrika ’n reuse-bydrae en laat sy stem saam met ander kerke telkens teen korrupsie en ander wanpraktyke in die samelewing hoor.

Dit alles maak dié kerk se hantering van die sogenaamde gay-kwessie, nadat dure lesse met die kerk se ondersteuning van die onregverdige apartheidstelsel geleer is, des te onverstaanbaarder.

Die gay-saak het, teen wil en dank, op die kerk se tafel beland en jare lank is daarmee geworstel, kommissies en taakspanne is aangewys om dit in die lig van die Bybel en die wetenskap te bestudeer, en daar is ernstig probeer om “klare wyn” daaroor te skink.

Die beste wyn tot nog toe is uiteindelik in 2015 geskink toe die algemene sinode ’n grensverskuiwende besluit geneem het en meteens ’n voorloper onder kerke in Afrika en die wêreld geword het.

Die sinode het besluit dat homoseksuele verhoudings, soos heteroseksuele verhoudings, uit ’n Christelik-etiese oogpunt aanvaarbaar is, dat die kerk burgerlike verbintenisse tussen gay mense kan bevestig, en dat geen selibaatsvereiste aan gay of lesbiese predikante gestel word nie – soos ook nie aan heteroseksuele predikante nie.

Gemeentes se gewetens is egter nie gebind nie en niemand is tot iets verplig nie.

Waar gemeentes/kerkrade hulle weg oopgesien het om gay-verbintenisse by hulle te bevestig, of om ’n gay dominee te beroep, kon hulle dit doen.

Waar gemeentes nie daarvoor kans sien nie, is hulle nie daartoe verplig nie.

Ruimte is dus geskep vir verskillende benaderings deur gelowiges wat die saak verskillend sien en die Bybel verskillend verstaan.

Want dit is waaroor dit gaan: Hoe ons die Bybel verstaan of interpreteer. Sommige gelowiges is in hul benadering meer fundamentalisties ingestel en vat die Bybel in haas alle opsigte letterlik op.

Ander, wat ewe veel erns maak met die Bybel as die Woord waardeur God steeds met ons praat, het groter begrip vir die feit dat die konteks van die tyd toe die Bybel geskryf is, in ag geneem moet word as ons die boodskap daarvan vir ons moderne (post-moderne) tyd reg wil verstaan.

Die Bybelse boodskap moet as’ t ware vir ons tyd gedekodeer word.

Al sê die Bybel byvoorbeeld nêrens dat slawerny sonde is nie – in Bybelse tye was dit normale praktyk – weet ons vandag dat slawerny (om ’n ander mens te besit soos jy ’n dier kan besit) in werklikheid téén die draad van die Bybelboodskap (wat naasteliefde van ons vra) ingaan. Slawerny is dus sonde, al sê die Bybel nie letterlik so nie.

Soms kan dit nie anders nie

Die kommosie wat in die NGK ná die 2015-besluit ontstaan het, het daartoe gelei dat die 2015-besluit nie uitgevoer is nie, maar dat ’n buitengewone algemene sinode belê is om net oor hierdie saak te praat.

Soos die hof nou beslis het, is ernstige foute in die proses gemaak, het die NGK nie sy eie kerkordelike reëls nagekom nie, en is die afwysende 2016-besluit oor die besluit van 2015 tersyde gestel.

Twaalf lidmate (hulle was eers 11) van dié kerk het die kerk vooraf by ’n paar geleenthede gewaarsku dat sy prosesse verkeerd is en dat hy op stuk van sake besig is om ’n onreg te pleeg.

Die betrokke kerklike liggame het egter hardkoppig voortgegaan om die kerk se eie reëls, selfs teen hulle eie regsadvies in, te oortree.

Die 12 het op die ou end geen ander keuse gehad nie as om die hof te nader om die 2016-besluit tersyde te stel.

Vir die 12 was dit geen maklike besluit nie. Hulle is baie bewus daarvan dat die Bybel van gelowiges vra om hul meningsverskille eerder onder mekaar te besleg as om daarmee na die hof te gaan.

Maar in sommige gevalle kan dit nie anders nie.

En soos die moderator van die algemene sinodes van 2015 en 2016, ds. Nelis Janse van Rensburg, verskeie kere gesê het: Dit is nodig om regsekerheid oor hierdie saak te kry, en net die hof kan regsekerheid gee. So help die hof die kerk om nie dieselfde foute in die toekoms te maak nie.

Is dit te veel gevra?

Met behulp van die hofuitspraak kan die NGK hierdie Rubicon nou uiteindelik heeltemal oorsteek. Die vraag is of die kerk dit gaan doen.

Dit sal wonderlik wees as die NGK ná dese daadwerklik uitvoering sal gee aan die 2015-besluit wat tans die geldende besluit vir die kerk is.

Frits Gaum

Sal die betrokke kerklike liggame nou verskoning vra vir die swak leiding wat hulle gegee het?

Sal hulle gay mense wat met die 2016-besluit nóg ’n keer te na gekom is, verskoning vra?

Sal hulle onverwyld namens die NGK by die departement van binnelandse sake aansoek doen dat predikante gay mense se trouverbintenisse kerklik kan bevestig?

Sal hulle doelgerig byeenkomste help reël sodat lidmate toegerus kan word met ’n verantwoordelike Christelik-etiese beskouing oor seksualiteit en alles wat daarmee verband hou?

Sal hulle projekte in werking stel om regstellende geregtigheid – restitusie – in die praktyk teenoor benadeeldes te laat geskied?

Sou die NGK dit doen, sal hy weer die morele gesagsposisie kan herwin. Is dit te veel gevra?

Dr. Gaum is een van die 12 lidmate wat hulle tot die hooggeregshof gewend het. Hy was ook onder meer redakteur van die Kerkbode en moderator van die Wes-Kaapse sinode van die NG Kerk.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.