Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Nie alle boere in sonde ontvang en gebore nie’

Nie alle boere is “sestigjarige wit ooms” nie, meen Ivor Price en Kobus Louwrens, die skrywers van die boek For the Love of the Land. Hulle het aan Willemien Brümmer vertel hoekom selfs ’n lappie grond ’n lewe kan red.

Ivor Price en Kobus Louwrens, boesemvriende en mede-entrepreneurs, is die skrywers en samestellers van ‘For The Love of the Land, Being a farmer in South Africa today’, wat uitgegee word deur Tafelberg-uitgewers. Foto: Jaco Marais

Vir jare het Ivor Price die stem van sy oupa, oorle eerwaarde Arthur John Gordon, in sy kop gehoor. Dié man wat nêrens heen gegaan het sonder sy kopie van die Vryheidsmanifes, die 1983-vertaling van die Bybel en sy pakkie Rembrandt van Rijn nie: “Die enigste goeie boer is ’n dooie boer.”

Maar vanjaar, 16 jaar ná sy oupa se dood, het hy besluit om die boek wat hy en sy boesemvriend Kobus Louwrens, geskryf het op te dra aan die boere wat sy lewe gered het.

Waar Ivor en Kobus in die grondvloer-restaurant van die “korporatiewe toring” in Kaapstad sit waar hulle albei as skrywers en mediabestuurders geslyp is, is die sinisme van die hoofstroom-joernalistiek ligjare agter hulle. Hulle glo nie meer in “if it bleeds it leads” nie; hulle glo onwrikbaar in die genesende krag van grond.

Die storie van hoe dié twee diepsinnige stadsjapies by grond betrokke geraak het, kom van ver.

‘Die jaar van my dood’

Die verhale in ‘For the Love of the Land’ is nie stories wat gil oor plaasmoorde of droogte of onteiening sonder vergoeding nie – dit laat ons anders kyk na wie dié mense is wat Suid-Afrikaners se kos produseer ten spyte van verbysterende uitdagings. Foto: Jaco Marais

Die verhaal begin in 2016 toe die “giftige tentakels” van die voormalige SAUK-baas Hlaudi Mosoeneng, die hele openbare uitsaaier “verpes” het.

Die tyd toe Ivor by die SAUK bedank het as SABC2-nuusankerman en RSG-aanbieder omdat hy nie langer durf stilbly het nie. Die tyd toe “iets in my binneste gebreek het”.

Daar is steeds ’n somberheid aan sy stem wanneer hy die gebeure herroep. “Nadat ek by die SAUK weg is oor Hlaudi was daar ’n jaar in my lewe toe ek omtrent geen werk gedoen het nie, want ek was ’n bietjie mal in my kop. Ek het baie keer gesukkel om my kop van die kussing te lig. Ek verwys daarna as die jaar van my dood. Maar eintlik as ek nou daaraan terugdink was dit die jaar van my wedergeboorte – want toe kry ek uit die bloute ’n oproep van VIA op DStv en hulle vra wil jy nie die program Landbouweekliks op TV aanbied nie, en ek dink toe dís vreemd. . .”

As jy my tien jaar gelede hieroor gevra het, sou ek gesê het: ‘Nee, jy’s mal, wat weet ek nou van landbou af?’
Ivor Price

Hy glimlag. “Maar hulle het juis iemand gesoek wat as ’n stadsjapie die boere se stories van ’n ander kant kon benader en met nuwe oë na landbou kon kyk. Dit het toe gebeur dat ek binne ’n jaar meer as 100 000 kilometer gereis het om uitsonderlike boere te ontmoet.”

Die boere se warmte en hul begrip vir sy storie (en selfs vir sy “donker familiegeheim”) is uiteindelik vir hom ’n vurk in die pad. Terwyl hy by hulle aan tafel sit en hul hande vashou tydens die tafelgebed, begin hy anders dink oor die ou refrein: “Seën die hande wat die kos voorberei het”.

“Dit het my laat dink aan wie dié hande is wat die kos voorberei het en toe het ek begin besef daar is ’n lang ketting van hande wat die boere, die plaaswerkers en landbou-ondernemings insluit.”

Hy grinnik. “Nou is ek ’n ambassadeur vir Vriende van Landbou byvoorbeeld, en as jy my tien jaar gelede hieroor gevra het, sou ek gesê het: ‘Nee, jy’s mal, wat weet ek nou van landbou af?’”

Seën my pa en seën my ma

Ivor Price glo die boer van die toekoms is ’n swart vrou met hoë hakke en grimering. Foto: Jaco Marais

Terwyl Ivor se beeld van landbou aanvanklik dié is van werkers wat agterop ’n bakkie sit, in vervalle werkershuise woon en vir ’n hongerloon moet werk, was boerdery vir Kobus nog altyd gehul in nostalgie.

Dié strategie-direkteur vir die digitale bemarkingsagentskap YehBaby wat hy saam met sy vrou Ronelle begin het, glimlag byna verskonend. “As ek aan landbou dink, dink ek aan ‘seën my pa en seën my ma en my oom op sy plaas in Afrika’. Jy verbeel jou dit dalk, maar jy voel asof jy op ’n manier deel is daarvan.

“Toe besef ons hoe wyd verskil mense se ervaring. Dis nou in ’n tyd dat boere mense in doodskiste opsluit en dreig om hulle aan die brand te steek en ons het besef dís die beeld van boere in die hoofstroommedia en dis die beeld van landbou tot ’n groot mate. Dit en ’n baie spesifieke benadering tot plaasmoorde.”

Ek het grootgeword met die idee dat ’n boer ’n wit Afrikaanse man is.
Ivor Price

Kobus en Ivor, wat al vir minstens twintig jaar lank vriende is, los mekaar af soos ’n ou getroude paar – die een maak die ander se gedagtes klaar.

“Ek wens eintlik dat my oupa nog gelewe het dat hy kon sien hoe boere uit hul pad gaan,” sê Ivor. “Hulle maak paaie reg, hulle bou skole en klinieke, hospiese . . .dis goed wat ek met my eie oë gesien het.”

Hy lag. “Ek het grootgeword met die idee dat ’n boer ’n wit Afrikaanse man is. Ek het nie besef in Phillipi op die Kaapse vlakte is daar ’n vroulike Moslem-boer, Wadea Jappie, wat ’n groot eierboer is nie. Ek het nie besef dat swart mense al vir geslagte lank met groot sukses boer in die land nie.”

Projek Suid-Afrika

the love of the land

Die idee vir die landbounuus-webtuiste FoodForMzansi is gebore uit die behoefte om weer Madiba se reënboognasie te laat herleef “vir dié wat nog naïewelik glo in projek Suid-Afrika”.

Ivor is net soos Kobus ’n hopelose romantikus wat weet hoe om dié romantiek in ’n werkbare onderneming te omskep. “Dis gebore omdat ons glo dat landbou sosiale kohesie kan bevorder ten spyte van die feit dat dit vir baie mense in sonde gebore en ontvang is en volgens hulle in sonde sal sterf.”

Elf maande nadat Kobus en Ivor FoodForMzansi gestig het, wen hulle die groot prys as beste digitale nuus beginneronderneming by WAN-IFRA se African Digital Media Awards.

Kobus knik skamerig. “Ek het aan die begin so half gedink ons is besig met ietsie kleins, maar die groot krag daarin lê dat mense waarvan niemand vantevore notisie geneem het nie hulleself nou verteenwoordig sien. Die landboumedia stel nie in hulle belang nie, want hulle is nog nie suksesvol nie en hulle is nog nie groot nie, maar ons vertel die stories van mense wat besluit het hulle gaan probeer.”

Ivor val in. “Kobus sê altyd die ding van die tradisionele media is dat hulle ’n geneigdheid om net stories te dek wanneer dit bloei of reeds dood of verlam is. En daar is ’n wêreld daar rondom waarin die meeste van ons leef.”

For the Love of the Land

Kobus Louwrens en Ivor Price in die Media24-gebou in Kaapstad waar hulle albei jare gelede geslyp is as joernaliste en mediabestuurders. Hulle het saam die bekroonde landbou-webtuiste FoodForMzansi begin. Foto: Jaco Marais

Uit FoodForMzansi word hul boek For the Love of the Land gebore, met die stories van 30 uiteenlopende boere, in hul eie woorde vertel, oor wat dit beteken om vandag ’n boer te wees in Suid-Afrika. Dis stories van onbesonge helde wat grense verskuif; gelaagde verhale oor erfenis, die honger na grond, verlies en heling. Dis nie stories wat gil oor plaasmoorde of droogte of onteiening sonder vergoeding nie – dit laat ons anders kyk na wie dié mense is wat Suid-Afrikaners se kos produseer ten spyte van verbysterende uitdagings.

In Februarie vanjaar teken hulle ’n kontrak met Tafelberg-uitgewers, en in Junie vanjaar is die stories klaar. Die meeste van die verhale is deur boere wat “glad nie kan skryf nie maar uit die hart praat” – en dan het Ivor en Kobus en ’n aantal ander skrywers verder met hulle gesels en aan hul stories geskaaf.

Een van die dinge wat die boek veral regkry is om die stereotipes rondom swart boere af te breek. “Dis nie net die stereotipes wat wit mense het nie,” verduidelik Ivor. “Dis die stereotipes wat swart mense self het. Baie van die boere wie se stories ons vertel het elke dag te make met mense wat nie glo dat swart mense kan boer nie.”

Die meeste van hulle besit nie eens grond nie. Hulle wil eenvoudig net boer en vir hul nageslagte iets agterlaat.
Ivor Price

Vandag sien hy en Kobus egter ’n nuwe geslag swart boere: Boere wat landbou geswot het en two-tone dra en dinamiese jong swart vroue met grimering en hoë hakke wat net so hard soos die mans boer.

“Net ná 1994 was die regering nogal desperaat om met grondhervorming te begin en baie van die grond het deur korrupte tenders en mislukte programme in die verkeerde hande beland hoewel die bedoelings goed was – maar dit is ongelukkig daai verhale van mislukking wat in mense se kop vasgesteek het,” sê Ivor.

Die nuwe geslag boere is entrepreneurs wat ’n “veer voel vir gesag en gevestigde strukture en die regering”, sê Ivor. “Die meeste van hulle besit nie eens grond nie. Hulle wil eenvoudig net boer en vir hul nageslagte iets agterlaat.”

Een lappie grond

Kobus: “As ek aan landbou dink, kry ek ’n warm gevoel. Ek dink aan ‘seën my pa en seën my ma en my oom op sy plaas in Afrika’.”Foto: Jaco Marais

Nog een van die stereotipes oor boere is dat jy hektare en hektare grond moet hê met wuiwende wingerde (as jy in die Boland woon) en ’n Kaaps-Hollandse plaasopstal teen die bult.

Vir Kobus het dit veral opgeval dat daar ’n vals korrelasie is tussen boer en grond. “Ek sê nie grondeienaarskap is nie ’n belangrike kwessie nie, maar 90% van die mense met wie ons praat besit nie hul eie grond nie.

“Daar is ’n klomp projekte wat net probeer om iemand met ’n lappie grond so groot soos hierdie tafel te help om genoeg kos te maak vir hulleself en miskien ’n bietjie te veel. Die eerste stappie is jy spaar die geld wat jy sou betaal het vir daai kos in die winkel en as dit ’n bietjie meer is kry jy ’n klein inkomste en as jy dit net nog ’n bietjie opgradeer word jy ’n kleinskaalse kommersiële boer – en ek praat hier van hoeveel mense wat in armoede leef en nie hoop om ooit werk te kry nie.”

Ivor en Kobus se stories help ook om stereotipes af te breek oor die groot kommersiële wit boere en die idee dat hulle verlam is deur die vrees vir onteiening sonder vergoeding. Dis juis hulle wat hande oor die draad uitsteek, sê Ivor.

“Ek het nog nie een boer ontmoet wat meen dat grondhervorming nie moet gebeur nie. Wat ons opgeval het is hoe landbou en boere verstrengel geraak het in die debat oor onteiening, want eintlik het die twee niks met mekaar te doen nie. Wanneer mense sê ‘give back the land’ praat hulle nie van produktiewe landbougrond nie. Hulle sê: ‘Ek het ’n huis nodig of ek het elektrisiteit nodig’. Die meeste mense wil in elk geval nie meer in die platteland bly waar baie van ons plase is nie, want hulle het werk nodig.”

Kobus knik. “Baie wit boere is in elk geval een seisoen daarvan weg om die plaas aan die Landbank of wie ook al te verloor. En die swart boere se frustrasie is hulle het toegang tot grond, maar hulle het nie die titelakte waarteen jy kan finansiering kry nie.”

Hy aarsel ’n oomblik. “Maar ek kan nie dink hoe die beskikbaarheid van meer grond skielik ’n groot verskil gaan maak nie. Beginnerboere het steun nodig, hulle het insette nodig, hulle het mentorskap nodig en hulle het geld nodig – ’n stuk oop grond verander dit nie.”

Niks uit iets

Ivor: ‘Baie van die boere wie se stories ons vertel het elke dag te make met mense wat nie glo dat swart mense kan boer nie. Sonder dat ek dit noodwendig so geformuleer het, was ek een van daai mense bloot omdat ek nie hul pogings raakgesien het nie.’ Foto: Jaco Marais

Vir albei hierdie dromende entrepreneurs is daar stories wat hul hart week maak.

Iemand soos Suid-Afrika se boer van die jaar, die megaboer Nick Serfontein, wat die eerste man is wat Ivor “oom” noem.

“Dis ’n man met so ’n ferm handdruk en ’n sagte oor. Dit voel omtrent of hy my oupa kon wees.”

En dan is daar Etienne van Wyk, ’n voormalige skaapwagter van Marydale in die Noord-Kaap, wie se plaaswerker-ouers niks meer besit het as hul onmeetlike verbeelding nie. “Hy het as kind op die skoot van ’n wit kommersiële boer, oom Dries Liebenberg, gesit en daai oom het iets in hom raakgesien wat hy nie in sy eie kinders gesien het nie – en dit het die Van Wyk gesin se toekoms onherroeplik verander.”

Toe Etienne een van tien mense word wat van die Noord-Kaapse regering grond kry, word hy die enigste wat sukses behaal weens die intense mentorskap wat hy by oom Dries gekry het. Maar toe hy by dié beloofde land uitkom is daar nie water of elektrisiteit nie . . . net braak grond.

Ivor glimlag. “Etienne het met sy geld vir hom en sy gesin ’n huis gebou en ’n bakkie gekoop en hy wou vir ons sy huis wys, want dis sy groot trots, maar dis ’n baie beskeie eenslaapkamerhuis. Hy leef vir sy skaap en die genetika van skape.

“Maar net daai simbool van hierdie plaaswerkerskind wat op die boer se skoot sit, want hy het hom so lief soos sy seun. . .daar is ampers iets Bybels daaraan.”

Vir Kobus is dit veral die verhaal van Max Ndamane van Richmond in die Noord-Kaap, “waar die heinings tussen ryker en armer en ligter en donkerder eenvoudig verroes in die stowwerige, klipperige grond” soos hy dit so poëties in die boek verwoord.

Waar Max bly, word net oorgevlieg of verby gery. Tog het hy met sy ses hektaar regeringsgrond die benydenswaardige vermoë “om uit sy eie pad te bly, om die gewig van die verlede en die hede opsy te stoot, om op te staan en môre aan te hou werk, want hy weet dit gaan ’n bietjie beter wees as gister.”

Kobus glimlag. “Sy hele lewensverhaal is stories van hoe niks iets word, en dan word dit nog iets en dan word dit nog iets.”

En dít, weet Ivor en Kobus nou, is in wese waaroor boerdery gaan.

Meer oor:  Via  |  Ivor Price  |  Kobus Louwrens  |  Richmond  |  Boere  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.