Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nié buig of bars

Vergelyk appels met appels in die debat oor Black Lives Matter en sy knielendes, skryf Ernst Roets.

Betogers kniel op Trafalgarplein in Londen. Foto: Getty Images

Die Black Lives Matters (BLM)-beweging slaag met vlieënde vaandels daarin om sy lang lys ideologiese en politieke doelwitte te verpak as die ekwivalent daarvan om bloot te sê dat diskriminasie en geweld teen swart mense moet stop.

Sy aktiviste werk ook hard daaraan om dié wat nie die knie voor hul doelwitte buig nie as gewetenlose rassiste te etiketteer wat nie vir swart mense omgee nie. Meningsvormers in die hoofstroom val graag oor hul voete om die knie voor BLM te buig (soms sommer letterlik) – en om dié wat nie die knie wil buig nie daarvan te beskuldig dat hulle ’n verwronge sin vir moraliteit het.

Neels Jackson, ’n vryskutjoernalis wat in godsdiens- en geloofsake spesialiseer, skryf verlede week op hierdie blaaie dat dit pas by die navolging van Christus om die knie voor BLM te buig.

Hy verwys na Jesus wat sy dissipels se voete gewas en gesê het dat hulle dit ook moet doen.

Christus het nie gekniel vir ’n politieke beweging wat geweld pleeg nie.

Jackson gaan verder en sê die beste wat dalk nou kan gebeur, is dat boere wat oor plaasmoorde bekommerd is, óók hul steun aan die BLM-beweging toesê. Hy skryf: “Deur te sê Black Lives Matter sê jy jy gee erkenning aan die pyn van swart mense, en jy sê jy wil help om dit te verander.”

Meningsvormers soos Jackson suggereer graag dat indien jy nie die knie buig nie, dit is omdat jy ten slegste ’n immorele rassis is wat nie omgee as swart mense deur die polisie afgemaai word nie of, ten beste, dat jy soos Jimmy Kruger eenvoudig onverskillig staan teenoor geweld teen swart mense.

Hierdie meningsvormers besef klaarblyklik nie dat BLM ’n ideologies gedrewe politieke beweging met ’n duidelike politieke agenda en doelwitte is nie. Dié doelwitte word bevorder onder ’n banier wat sê dat swart lewens saak maak – maar in werklikheid het baie van hierdie doelwitte niks daarmee te doen nie.

As ons die buig van die knie met Christus wil vergelyk, moet ons ten minste die nodige omstandighede in ag neem. Christus het nie ondersteunend gekniel vir ’n politieke beweging wat geweld en diefstal pleeg, onskuldige mense in die straat aanrand en dan eis dat die polisie se finansiering geskrap word nie. Hy het ook nie ondersteunend gekniel voor ’n beweging wat sê dat die Westerse (of in hierdie geval Bybelse) konsep van die gesin vernietig moet word nie, of vir mense sê (soms skreeu) dat hul identiteit hulle daarvan diskwalifiseer om menings uit te spreek.

Benewens die ooglopende probleme met die BLM-beweging se optrede en links-ideologiese doelwitte is daar twee probleme wat onder die loep geneem moet word. Die eerste is die feit dat sy bewerings nie met die feite strook nie; die tweede dat die media toelaat dat hulle as pion gebruik word om groepe soos BLM se dubbele standaarde te bevorder.

Die hoeksteen van die BLM-beweging se eise is dat swart mense in die VSA buite verhouding tot hul getalle deur die polisie geteiken word. Die VSA is ’n land met 330 miljoen mense, waarvan swart mense 13% uitmaak. Die werklikheid is dat geweldsmisdaad en die polisie se gebruik van dodelike geweld in die VSA in die afgelope 25 jaar aansienlik afgeneem het. Daar is jaarliks ongeveer 50 tot 60 miljoen onderonsies tussen die polisie en lede van die publiek, waartydens sowat 10 miljoen arrestasies gemaak word. Omtrent 1 000 mense word jaarliks in die VSA deur die polisie doodgemaak.

Dit beteken dat ’n mens se kans sowat een in tienduisend is om te sterf wanneer jy in die VSA gearresteer word. (Neem in ag dat ’n persentasie van dié sterftes geregverdig is omdat dit gevalle insluit waar mense die polisie aanval.)

Sowat 52% van mense wat deur die Amerikaanse polisie doodgemaak word, is wit; daarteenoor is 32% swart. Indien ’n mens egter in ag neem dat meer as 50% van die moorde in die VSA deur swart mense gepleeg word (in sommige stede selfs twee derdes), besef ’n mens dat die getal ongewapende swart mense wat deur die polisie gedood word buite verhouding is – nie omdat dit so baie is nie, maar omdat dit so min is.

In Suid-Afrika bestaan daar nie sulke uitdruklike syfers oor misdaad wat volgens ras verdeel word nie. Ons kan wel ’n paar opmerkings maak oor die media se verslagdoening wat ras en geweld behels. ’n Ontleding van nuusartikels oor rassisme in Suid-Afrika wat in 2006 deur die Media Monitoring Project gedoen is, het die drie prominentste aannames wat in die media oor ras gemaak word soos volg gelys: alle wit mense is rassisties; swart mense is slagoffers; en ras is die enigste verduideliking hiervoor.

Verskeie navorsingsinstellings – wat die “progressiewe” Plus 94 en die Instituut vir Geregtigheid en Versoening insluit – bevind egter dat wit mense in Suid-Afrika meer rassediskriminasie ervaar as swart mense.

Wit-op-swart-voorvalle van geweld op plase kry in die Engelse media in Suid-Afrika gemiddeld 16 keer meer blootstelling as swart-op-wit-voorvalle.

Die Coligny-voorval, die doodskisvoorval en die Parys-voorval – al drie gevalle van wit-op-swart-geweld – het in die media meer blootstelling gekry as 150 plaasmoorde saam!

Die probleem met die knie buig is nie die stelling dat swart lewens saak maak nie; die probleem is met die verwronge verhaal wat deur die BLM-beweging en sy woordvoerders in die media bevorder word.

Nou kan ’n mens sekerlik aanvoer dat jy die knie buig omdat jy daarmee bloot sê dat swart lewens saak maak, maar dat jy nie met BLM se ander doelwitte saamstem nie. Soos een persoon op Facebook gesê het: Dit maak omtrent soveel sin soos om ’n Nazi-swastika te dra en te sê dat jy slegs saamstem met die goeie goed wat Hitler gedoen het.

So: Nee, wat, ons sal nie die knie buig nie. Eerder as om dié wat nie die knie wil buig nie van verwronge moraliteit te beskuldig, sal mediakommentators meer waarde tot die gesprek toevoeg as hulle die energie daaraan bestee om eerder die dubbele standaarde in eie geledere te beveg.

* Ernst Roets is hoof van beleid en aksie by AfriForum.

Meer oor:  Ernst Roets  |  Blm  |  Afriforum  |  Black Lives Matter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.