Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nie eens oorlog kon Bokke, Kiwi’s se lus vir rugby demp

Suid-Afrikaners en Nieu-Seelanders het nog altyd enige kans gebruik om mekaar op die rugbyveld te pak; nie eens ’n oorlog kon hulle afskrik nie, skryf Floris van der Merwe.

Die Springbok leer Nieu-Seelanders ’n rugbyles of drie. Skets: John Jackson

Die Suid-Afrikaanse betrokkenheid gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die stryd in Italië het van Mei 1944 tot Mei 1945 gestrek.

Dit was hoofsaaklik die Sesde SA Pantserdivisie wat aan die oorlogspoging deelgeneem het en hulle het Egipte aan die einde van April verlaat om na Italië op te ruk.

Met die aankoms van die Sesde Divisie in Italië, kon hul rugbysterre natuurlik nie wag om hul krag op die rugbyvelde te vertoon nie. Louis Babrow was baie aktief op die gebied van rugbyorganisasie.

Op 30 Desember 1944 het die Suid-Afrikaners ’n span van die Nieu-Seelandse Tweede Divisie in die Foro d’Italia (omring deur pragtige marmerstandbeelde van sportmanne uit die antieke tyd) met 8-3 geklop. Volgens Babrow was dit die belangrikste en moontlik die taaiste wedstryd wat hy in die oorlog gespeel het.

Die stadion by die Foro d’Italia in Rome waar Suid-Afrikaanse soldate in 1944 ’n oorwinning oor die Nieu-Seelanders behaal het. Foto: Gert van der Westhuizen

Onder die Suid-Afrikaanse spelers was Springbokke soos George Smith en Louis Babrow, asook ’n toekomstige Springbokkaptein, Felix du Plessis.

Ander spelers in Babrow se span was J. Perry, W. Ridl, C.J. Mackenzie, J. van der Walt, B. Impey, A.P. Greeff, D. Lonsdale, Harry Brunow, A. Stockhill, H. Ogilvie, Pieter Bruyns en W.J. Newing.

Daar moet genoem word dat die “Springbokke” verteenwoordigend was van die hele Unie-verdedigingsmag in Italië terwyl die “Kiwi-XV” net uit ’n “small advanced base of the NZEF” bestaan het.

Boy Louw se Kiwi-temmers

Boy Louw (regs) maak spelers touwys in die fynere kunsies van rugby. Foto: Getty Images

In 1945, het Matthys Michael (alias Boy) Louw onder instruksie Italië platgery om al die nodige statistieke van die beskikbare Suid-Afrikaanse rugbyspelers te vind.

Die rede vir hierdie dringende sending was die uitdaging wat genl. Bernard Freyberg van die Nieu-Seelandse magte aan die Suid-Afrikaanse Sesde Divisie gerig het. Gevolglik sou dié Divisie sy aartsvyand, Nieu-Seeland, op 10 November 1945 in Rapallo pak.

Onder die wakende oog van Boy Louw het die 35 “Springbokke” wat deur die proewe aangewys is, in die Elizabeth Hotel aan die see in Rapallo gebly waar hulle ’n streng afrigtingsprogram ondergaan het.

Op die dag van afrekening het die Kiwi’s met vragmotors vol ondersteuners opgedaag. Die “Springbokke” het sprankelende rugby gespeel, elke afdeling van die spel oorheers en hul teenstanders met 30-5 afgeransel.

Onder die spelers was toekomstige Springbokke soos Cecil Moss en Stephen Fry, asook toekomstige Junior Springbok Hannes Morkel (seun van Gerhard Morkel van die 1921-Springbokspan). Die res van die span was H. Swanson, Ian Frylinck, Jimmy Hearne, Frank Kingwell, Peter Stewart, John Youngleson, Dick Holton, Piet Duvenhage (kapt.), A.P. Greeff, John Morkel, J. Botha en H. Schwartz.

Rapallo
Rapallo, die dorp aan die Italiaanse Riviera waar die Suid-Afrikaners ’n roemryke sege van 30-5 oor die Nieu-Seelanders behaal het. Foto: Gert van der Westhuizen

Dit was die eerste ontmoeting tussen hierdie twee lande sedert hul wedstryd in Rome in Desember 1944, toe Suid-Afrika met 8-3 gewen het.

Terloops, die Kiwi’s het ’n opvolgwedstryd gevra, hierdie keer in Florence, en die telling was 23-3 in die Springbokke se guns. Hierdie oorwinning het tot ’n draakstekery insake “The Book” aanleiding gegee. Laasgenoemde was die rugbyprogram van die dag en daarna is daar gereeld vir die Nieu-Seelanders gevra of hulle al “The Book” gelees het.

‘The Book’

“Wherever, and whenever, they meet they would immediately form a scrum . . . ” ’n Destydse skets beeld die rugbywedywering tussen Suid-Afrikaners en Nieu-Seelanders gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit.

Die tweestryd tussen die rugbyspelende Suid-Afrikaanse en Nieu-Seelandse soldate het iewers tussen 1942 en 1943 in Egipte begin.

Waar ook al groepe soldate van dié twee nasies mekaar raakgeloop het, het ’n vriendskaplike tweestryd ontstaan – meestal tot die ergernis van kroegeienaars en tot die verstomming van omstanders – want hierdie mense kon nie die skrums wat uit dié ontmoetings gelei het, verstaan nie. Twee pakke soldate wat mekaar met mening in die grond in probeer dryf net om daarna weer hand om die lyf en al laggende ’n koue verversing te gaan soek.

Dit was die gees wat tot die geboorte van “The Book” gelei het. Daar is kort-kort na “The Book” verwys, hoewel dit aanvanklik net in hul gedagtes bestaan het. Die een kontingent sou vir die ander gesê het dat hulle niks van rugby weet nie en daarom “The Book” moet gaan lees. Die ander kontingent sou dan antwoord: “Hoekom? Ons het dit dan geskryf!”

Dié “boek” het later wel in skrif verskyn, maar in die vorm van ’n Italiaanse handleiding

Dit is nie seker wie eerste met dié gedagte vorendag gekom het nie, maar die Suid-Afrikaanse Artillerie-regiment maak daarop aanspraak.

Dié “boek” het later wel in skrif verskyn, maar in die vorm van ’n Italiaanse handleiding. Dit was in Julie 1945 toe die 7/23rd Medium Regiment teen die Italiaanse Amatori-rugbyklub in Milaan gespeel het. Weens die oorlog het dié klub slegs agt spelers gehad en moes die Suid-Afrikaners hul geledere aanvul.

Die wedstryd het net ná ’n belangrike atletiekbyeenkoms plaasgevind met die gevolg dat daar ’n groot skare teenwoordig was. Omdat die meerderheid Italianers nie die spel geken het nie, het ’n Suid-Afrikaner dit kortliks verduidelik en dit is in Italiaans vertaal en in pamfletvorm onder die toeskouers versprei.

Onder die toeskouers was ook Nieu-Seelanders en hulle het die situasie uitgebuit deur te spot dat Suid-Afrika nou die “boek” het en daaruit moet leer hoe om die spel te speel . . . en dat dit nogal die Italianers is wat hulle moes leer.

Rugbylesse in Italië

Volgens die Springbok-senter Babrow was die wedstryd teen die Nieu-Seelandse Tweede Divisie op dié stadion by die Foro d’Italia in Rome die belangrikste en moontlik die taaiste wedstryd wat hy in die Tweede Wêreldoorlog gespeel het. Foto: Gert van der Westhuizen

Daardie aand in die Suid-Afrikaners se gewilde kuierplek is die pamflet prominent uitgestal. Verwysings daarna het gou vermeerder en versprei. Dit het aanleiding gegee tot ’n spotprent wat in ’n kroeg in Bologna vertoon is en waarop ’n groot Kiwi in rugbyklere op ’n rugbyveld staan met sy voet op ’n beteuterde springbok op die grond.

Die volgende dag het die Suid-Afrikaners geantwoord met ’n groot Springbok-rugbyspeler wat met sy voet op drie klein Nieu-Seelandertjies staan terwyl hulle “The Book” bestudeer. Die “boek” se titel is The Game of Rugby: How It Is Played en op die teenoorgestelde bladsy, “Lesson One: The Ball”.

Vier dae later het die Nieu-Seelanders geantwoord met ’n spotprent wat ’n onderwyser uitbeeld voor ’n klas van 15 klein Springbokkies. Die onderwyser het ’n rugbybal in sy hand en sê vir die klas dat iemand tog sekerlik moet weet wat in sy hand is.

Die Suid-Afrikaners het die beste met die Nieu-Seelanders oor die weg gekom.

Hiermee is ’n einde gemaak aan die spotprente en is die wedywering op die veld voortgesit. Dit is hoe bogenoemde wedstryd op 10 November 1945 gestalte gekry het.

So is daar ná die wedstryd berig:

“This fixture was confined to the two divisions only and was the climax to all the scrums which have surged backwards and forwards in the various clubs, canteens and ristoranti. Some of you will recall the famous impromptu rugby tussles amongst the pigeons in St. Mark’s Square, Venice, between the ‘Pig Islanders’ and the ‘Biltong Bashers’.”

In La Stella d’Oro, ’n tydskrif vir Suid-Afrikaners in Italië, is daar deur lt. A.J. Oxley van die Royal Natal Carbineers gepleit dat “The Book” uitgebou moes word na ’n ware reëlboek met plek vir handtekeninge van Springbokke en All Blacks deur die jare en dan as ’n rugbytrofee tussen dié twee lande moes dien, net soos in die geval van die reeks om die As in krieket tussen Engeland en Australië.

Groot vriende met Nieu-Seelanders

Louis Babrow in aksie in ’n wedstryd in Engeland in 1938. Foto: Getty Images

Sers.maj. S. Mirwis was ’n joernalis van beroep en hy het gedurende die oorlog in die Noorde diens gedoen. Ten opsigte van die unieke verhouding tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland, het hy vanuit Egipte die volgende aangaande die waarde van sport vir die soldaat geskryf:

“ . . . sport is the finest ambassadorial diplomatist in the fusing of the elements of good fellowship and understanding between divergent peoples. The manifestation of these elements amongst the soldiers of the United Nations thrown together in the Middle East is an inspiring sight. But in the midst of war the influence of sport on these far-flung sporting fields is strengthening even more the firm bonds of friendship. South Africa’s brilliant sporting ambassadors in Egypt are not failing in this respect.”

Selfs op die St. Markusplein in Venesië het die Suid-Afrikaners en die Kiwi's vir die grootste rugbyskrum in die geskiedenis gesorg.

Die Suid-Afrikaners het die beste met die Nieu-Seelanders oor die weg gekom. Waar hulle mekaar ook al sosiaal ontmoet het, het hulle rugby gepraat en geskrum. Hulle het vanaf Benghazi tot by Bologna en daarvandaan tot by Brighton kroeë stukkend geskrum. Selfs op die St. Markusplein in Venesië het al die Suid-Afrikaners [teenwoordig] en die helfte [sic] van die Kiwi-divisie vir die grootste rugbyskrum in die geskiedenis gesorg.

“The keen spirit of rivalry and good fellowship which the South Africans and New Zealanders developed on rugby fields in both Dominions has grown since the Springboks joined the Kiwis in the Middle East. Both South Africans and New Zealanders appear to have much in common but perhaps one of their chief common interests is a love for rugby. Whenever fifteen New Zealanders come upon fifteen South Africans and they find a suitable piece of ground, an oval ball and uprights and crossbars they play rugby.”

Floris van der Merwe

’n Aanhaling van ’n soortgelyke aard verskaf nog meer kleur aan hierdie sonderlinge verhouding:

“When South Africans play rugby against New Zealanders they draw many thousands of spectators and cause traffic jams. When six Springboks, on leave in Trieste recently, were strolling down one of the main streets, they met six Kiwis coming towards them, and added another traffic jam to the list. As they drew near, they sized one another up, then bent down without a word, formed a scrum in the street, and started heaving in traditional style.

“Watched by a puzzled crowd of Italians and Yugoslavs, two scrum-halves leapt to life, started handling an imaginary ball and yelled injunctions to their forwards. Backwards and forwards edged the scrum. And soon the traffic jam was complete. Then, still without a word, they straightened up, shook hands solemnly and went their ways.

“The civilians, more puzzled than ever, dispersed. Perhaps they were not expected to know that the action they had witnessed was the highest expression of esteem which the soldiers of these two rugby-loving countries have been in the habit of conferring on each other whenever they met in scrum-forming strength.”

Die goed georganiseerde “internasionale” rugbywedstryde is sodanig ondersteun dat ’n toetsatmosfeer geheers het. Dit was by uitstek die wedstryde tussen die SA Divisie-spanne en die Nieu-Seelanders in Egipte en Italië wat die oudstryders bygebly het. Sulke omstandighede was die ideale leerskool vir “groentjies”.

Dat rugby ook ’n negatiewe uitwerking op die oorlogspoging kon gehad het, blyk uit die getal beserings wat opgedoen is.

Suid-Afrika se betrokkenheid by Italiaanse rugby blyk ook beduidend te wees. Benewens die feit dat die Suid-Afrikaners gedurende die oorlog die Italiaanse spanne die 3:4:1-skrumformasie geleer het, was baie Suid-Afrikaners ook by die afrigting van Italiaanse spanne betrokke.

Dat sportdeelname, in besonder rugby, ook ’n negatiewe uitwerking op die oorlogspoging kon gehad het, blyk uit die getal beserings wat opgedoen is. Toe die 1944-’45-rugbyseisoen pas in die woestyn ’n aanvang geneem het, was daar al vyf seiners met gebreekte ledemate: “Plenty of reserves are available, however, and the team retains its unbeaten record. Local Senussis, who have never witnessed this sport before, opine that they have never seen nor imagined anything so cruel and inhumanly stupid. Camels seem to have taken infinite pains to keep clear of the rugby field.”

Sport en oorlog

Suid-Afrikaanse soldate kom onder skoot in Noord-Afrika. Foto: Jonathan Ball Uitgewers

Die Tweede Wêreldoorlog het ’n einde gemaak aan verskeie Springbokke se rugbyloopbane. Diegene wat in 1938 nog in hul fleur was, het teen 1945 die beste daarvan verloor.

Iemand soos Tony Harris se loopbaan is byvoorbeeld op 22 jaar kortgeknip, Freddie Turner, Flappie Lochner en D.O. Williams s’n op 24, Ben du Toit s’n op 25, Ebbo Bastard s’n op 26, Danie Craven en Jan Lotz s’n op 27. Voeg daarby nog Louis Babrow, Jimmy White en Pat Lyster. Billy Anderson word allerweë beskou as die beste vleuel wat nooit Springbokkleure ontvang het nie. Die tussenkoms van die Tweede Wêreldoorlog moet hiervoor kwalik geneem word.

Opkomende sterre gedurende die oorlog was mense soos Felix du Plessis, Cecil Moss en die Fry-broers, Stephen en Dennis. Die rugbytoer wat die Sesde Divisie aan die einde van die oorlog onderneem het, was ’n goeie leerskool vir die jonger spelers. Spelers soos W.P. Richards, Billy Griffiths, G. Peiser, A.N. Vincent, H.J. Matthysen, J.J. Duckitt en vele ander kon nie die eerste span uit die toergroep haal nie, maar terug in hul provinsies het hulle van die grootste uitblinkers geword.

Sport is ook nie net vir fiksheid en ontspanning beoefen nie. Enkele gevalle waar dit vir oorlogstrategie aangewend is, is ook bekend.

Louis Babrow het dekades ná die oorlog verwys na ’n rugbywedstryd agter die spoorwegstasie van El Alamein op 21 Oktober 1942 wat spesiaal in opdrag van die Geallieerde Agtste Leër gereël is om die vyand voor die groot veldslag te mislei. Van die betrokke 30 spelers het vier twee dae later in die Slag van Alamein gesneuwel en is 11 gewond. Die militêre opperbevel wou met hierdie wedstryd die vyand onder die indruk bring dat daar nie vir ’n aanval voorberei word nie. Die Duitse spioene het die wedstryd vertolk as ’n “bakleiery onder die Geallieerde soldate”.

Dr. Cecil Moss met ’n kopie van sy outobiografie. Foto: Argief

Jaarlikse rugby- en sokkerwedstryde het nie net om ’n beker of nasietrots gegaan nie, maar ook om liefdadigheid. Wedstryde is, onder meer, ten bate van die Britse Legioen-fonds en Griekse liefdadigheid gereël.

Sportmanne en -vroue het ook vanaf die eerste dag van die oorlog gewerk om die Rooi Kruis-fonds op te bou. Teen 7 Desember 1943 het hulle al meer as £1 miljoen pond hieraan bygedra.

Dit is natuurlik nie bekend watter invloed die anti-oorlogsgesindes op die sportkrag van die Unie-verdedigingsmagte gehad het nie. ’n Groot hoeveelheid topsportmanne en -vroue het in hierdie kategorie geval.

Dit is algemene kennis dat die Afrikaner hom nie geredelik by die magte aangesluit het nie en uit die studie is dit ook duidelik dat die meeste name van sportdeelnemers dié van Engelssprekendes was. Dit sou ’n groot invloed op die rugbytweestryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland gehad het, maar terselfdertyd moet in ag geneem word dat die Nieu-Seelanders ook “verswak” was omdat sommige van hulle in die Ooste diens gedoen het.

Dit sal egter ’n aparte studie van ’n ietwat ander aard verg om hiervoor ’n konkrete antwoord te kan kry.

* Van der Merwe is emeritusprofessor, departement sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Dié artikel is ’n verkorte en geredigeerde weergawe van een wat in 2009 in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Navorsing in Sport, Liggaamlike Opvoeding en Ontspanning verskyn het.

Meer oor:  Cecil Moss  |  Louis Babrow  |  Nieu-Seeland  |  Egipte  |  Suid-Afrika  |  Italië  |  Tweede Wêreldoorlog  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.