Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nie so maklik om art. 25 te verander

Dis allermins eenvoudig om die Grondwet se eiendomsklousule te verander, verduidelik Theuns Eloff.

Die onteiening van grond sonder vergoeding word oral in Suid-Afrika druk bespreek. Foto ter illustrasie. Foto: Johan van Wyk

Noudat ons weet dat die ANC ’n wysiging van art. 25 van die Grondwet sal steun om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, is die vraag watter moontlike veranderings voorgestel kan word.

Daar is sienings dat die ANC en die EFF saam ’n gemaklike tweederdemeerderheid sal kry om art. 25 te verander “soos wat hulle wil”. Daar is ander wat glo dat enige verandering van art. 25 nie net ’n tweederdemeerderheid sal benodig nie, maar dat eiedomsreg so fundamenteel is dat enige verandering daaraan ’n meerderheid van 75% nodig sal hê.

Waar lê die waarheid?

Die belangrikste deel van art. 25 wat verander kan word om die politieke oogmerke van die ANC (en die EFF) te bereik, is art. 25(2):

“Eiendom mag slegs ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif onteien word (a) vir ’n openbare doel of in die openbare belang; en (b) onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word, aanvaar is óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is”.

Die howe het dus ’n oorsigrol in onteiening om te bepaal of die vergoeding 'regverdig en billik' is.

Die twee sleutelkwessies is ’n “algemeen geldende regsvoorskrif” en “vergoeding wat aanvaar is of deur ’n hof bepaal is”.

’n “Algemeen geldende regsvoorskrif” beteken in wese dat ’n wet vir almal moet geld, nie net vir byvoorbeeld ’n sekere rassegroep nie.

En die vergoeding vir onteiening moet, as daar verskil van mening is, deur ’n hof bepaal word. Die howe het dus ’n oorsigrol in onteiening om te bepaal of die vergoeding “regverdig en billik” is (art. 25(3)).

Drie scenario’s vir veranderings

Daar is breedweg drie scenario’s vir veranderings aan art. 25(2). Die eerste is dat die beginsel van onteiening sonder vergoeding as ’n uitsondering op die algemene reël van art. 25(2) (dat vergoeding betaal moet word) gestel word, maar dat die detail daarvan in ’n nuwe onteieningswet gegee word.

Uit uitsprake van ANC-leiers en kenners word daar hier aan vier kategorieë gedink, naamlik grond:

* Wat deur die eienaar(s) agtergelaat (“abandon”) is;

* Waar die eienaars toegelaat het dat nie-eienaars dit vir lang tydperke bewoon en of bewerk het;

* Wat ongebruik lê; en

* Wat onderbenut is.

Die ANC sal dalk 'n meerderheid van 75% nodig hê om die Grondwet te verander as onteiening sonder vergoeding net op een rassegroep gemik is. Foto ter illustrasie. Foto: Johan van Wyk

Hierdie uitsonderings sal dan in ’n nuwe onteieningswet uitgespel word en sal aan onteiening sonder vergoeding onderworpe kan wees. Die toepassing van hierdie uitsonderings in die onteieningswet sal outomaties aan die oorsig van die howe oorgelaat word (soos met alle wetgewing die geval is).

Die tweede scenario is dat die detail van die uitsonderings in art. 25(2) self ingesluit word, met die behoud van die oorsig van die howe en sonder dat die “algemeen geldende regsvoorskrif” van art. 25(2) verander word.

Die uitwerking van hierdie scenario sal basies dieselfde wees as scenario een.

Daar kan direk gestel word dat onteiening sonder vergoeding spesifiek op die grond van wit Suid-Afrikaners van toepassing gemaak word.

In albei dié scenario’s is dit moontlik dat art. 25(4)(b), wat stel dat eiendom nie tot grond beperk is nie, ook verander kan word om duidelik te stel dat onteiening sonder vergoeding slegs op grond van toepassing is. Dit is meermale as versekering deur ANC-leiers gegee aan diegene wat bekommerd is dat spaarportefeuljes, aandele en intellektuele eiendom ook sonder vergoeding vervreem kan word.

Hierdie aspek mag dalk vir die ANC ’n manier gee om partye soos die DA se instemming vir ’n genuanseerde verandering van art. 25(2) te kry.

Die derde (en slegste) scenario is waar art. 25(2) grondliggend verander word om onteiening sonder vergoeding die norm ten minste ten opsigte van grond te maak. In só ’n verandering kan die oorsig van die howe ten opsigte van onteiening sonder vergoeding uit art. 25(2) gehaal word; wat beteken dat art. 25(3), wat bepaal dat vergoeding “regverdig en billik” moet wees, ook verander sal word.

Daarby kan daar direk gestel word dat onteiening sonder vergoeding spesifiek op die grond van wit Suid-Afrikaners van toepassing gemaak word.

Watter partye gaan saam met die ANC stem?

Hoe realisties is dit hierdie veranderings deur die parlement gemaak kan word?

Die ANC, met 249 uit 400 stemme in die nasionale vergadering (62%), het nie self die vereiste 66.6% (267 stemme) nie. Hulle het 18 stemme van ander partye nodig om 267 te haal. In scenario een en twee is dit ondenkbaar dat die EFF met hul 6% (19 stemme) sodanige verandering sal steun, omdat dit nie naastenby is wat dié party wil bereik nie.

En om die beginsels van die oorsig van die howe en die algemeen geldende regsvoorskrif te behou, sal nooit in die EFF se kraal pas nie. Dit is verder hoogs twyfelagtig of enige ander party die ANC in onteiening sonder vergoeding sal steun.

Die DA met 89 stemme (22%), en Cope, die ACDP en die VF Plus elk met drie stemme is sterk teen die verandering van art. 25 gekant. Die IVP het 10 stemme (4%) en sal so ’n voorstel net steun as die grond van die Ingonyama-trust veilig is.

Die ander kleiner partye het saam 17 stemme, een te min vir die 18 wat die ANC nodig het om die tweederdemeerderheid te kry.

Pres. Cyril Ramaphosa het gesê die ANC steun die verandering van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Foto: Deaan Vivier

In scenario drie sal die ANC, waarskynlik ná versekerings en ander toegewings, dalk wel op die EFF se steun kan staatmaak.

Dit is naby genoeg aan wat die EFF wil hê, veral as hulle aan hul ondersteuners kan wys dat hulle ook ander toegewings van die ANC gekry het – op pad na hul eie beleid van volledige nasionalisering van grond. Maar as scenario drie (of enige permutasie daarvan) met ’n tweederdemeerderheid aanvaar word, is die saak nog lank nie afgehandel nie.

Die redes hiervoor lê in die twee sake wat hierbo genoem is, naamlik die oorsig van die howe en die beginsel van ’n algemeen geldende regsvoorskrif.

As dit aan die politici en amptenare oorgelaat word, is Zimbabwe ons voorland.

Hoofstuk 1 van die Grondwet bevat grondwetlike waardes wat volgens art. 74 slegs met ’n meerderheid van 75% gewysig kan word.

Hieronder is die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg (die “rule of law”). Om die oppergesag van die reg (met ander woorde die oorsig van die howe) uit die beskerming van een van die basiese menseregte in hoofstuk 2 (eiendomsreg) weg te neem, kom daarop neer dat die oppergesag van die reg self aangetas word.

En daarvoor is nie slegs ’n tweederdemeerderheid nodig nie, maar 75%. Die howe sal byvoorbeeld in scenario een of twee objektief kan bepaal of grond onderbenut of onbenut is, anders sal dit aan die politici en amptenare oorgelaat word en Zimbabwe is ons voorland.

Konstitusionele hof kan rol speel

As hierdie oorsig uit ’n veranderde art. 25 uitgelaat word, sal beswaardes by die konstitusionele hof kan aansoek doen dat ’n meerderheid van 75% nodig is en die hof kan só ’n bevel maak.

Art 36. van die Grondwet sê verder: “ . . . die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens ’n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met inagneming van alle tersaaklike faktore”.

Die reg om eiendom te besit en dit nie op ’n arbitrêre wyse te verloor nie, mag dus slegs beperk word deur ’n algemeen geldende regsvoorskrif, dit wil sê ’n voorskrif wat vir alle Suid-Afrikaners geld – en nie net ’n sekere rassegroep nie.

Theuns Eloff

Hoofstuk 1 noem dit die grondwetlike waarde van nierassigheid (1(b)). En as dit aangetas word deurdat onteiening sonder vergoeding net op wit mense van toepassing gemaak word, skop die vereiste vir ’n meerderheid van 75% in.

Saamgevat: Indien ’n wysiging van art. 25 daarop neerkom dat die oorsig van die howe uit die onteieningsproses weggeneem word en/of dat die proses van onteiening sonder vergoeding nie op alle landsburgers van toepassing is nie, maar dat slegs een rassegroep geteiken word, is daar vir só ’n verandering ’n meerderheid van 75% nodig.

Dit is dus duidelik dat die voorgenome verandering van art. 25 allermins eenvoudig is.

Pres. Cyril Ramaphosa moet terdeë bewus wees daarvan dat dit nie net oor die verandering kan gaan nie, maar ook oor hoe om dit só te bewoord dat dit wel ’n tweederdemeerderheid of met ’n sekere bewoording 75% steun kry én dat só ’n verandering ernstige regsgevolge kan inhou.

Gewone Suid-Afrikaners wat bekommerd is oor die verandering van art. 25 om onteiening sonder vergoeding toe te laat, kan ook verseker wees dat dit nie sommer maklik gedoen sal kan word nie.

Maar juis daarom moet almal betrokke bly en hul teenkanting sterk en duidelik laat bly hoor.

* Dr. Theuns Eoff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Grondwet  |  Eiendomsreg  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.