Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nog ’n verlore seun se storie

Deon Wiggett se onthullings oor ’n oudonderwyser van Grey-kollege se wandade met skoolseuns, het Johnny laat terugdink aan die verhaal van ’n ou skoolvriend.

Jannie se ouers en oupas en oumas was kerkmense.

NGK-mense. Sy ma en een ouma het orrel gespeel in die kerk. Sy pa en albei oupas was diakens en later ouderlinge. Jannie se oudste broer het teologie gestudeer, maar later sy studies gestaak.

Jannie se mense was elke Sondag in die kerk op ’n dorp op die destydse Wes-Transvaalse platteland. Dit was in die 1980’s.

Jannie was ’n uitblinker. Hy het van gr. 1 tot die destydse st. 6 ses elke jaar eerste in sy klas gestaan. Daarna het hy skielik tot die 27ste plek afgeskuif. Niemand het ooit vir hom gevra wat is fout nie, het ek later vasgestel.

Daar was wel in ’n stadium ’n vertroulike gesprek met ’n predikant.

Jannie was ook ’n uitstekende pianis en het in matriek ’n onderskeiding gekry in Afrikaans.

Hulle het hom ’n ‘softie’ genoem. Hy kon die haat in hul stem hoor.

Hy was nooit werklik deel van my onmiddellike vriendekring op skool nie. In st. 7 het hy my een of twee keer genooi om by hom te gaan kuier en ons het lekker gesels en plate geluister, want ons was albei mal oor popmusiek. Maar die kuiery het gou opgedroog.

Jannie het al hoe meer ’n eenkantkind geword en al hoe minder gepraat. Ons wat saam met hom op skool was, het nie eens geweet wat van hom geword het ná matriek nie. Ons weet net hy het gaan studeer.

Jare lank het niemand niks van Jannie gehoor nie. Tot een oggend in 2013, toe daar ’n berig in die koerant was dat hy homself in sy kar vergas het.

’n Paar maande later kry ek ’n oproep van die eksekuteur van Jannie se boedel. Jannie het in sy selfmoordbrief geskryf hy wou hê ’n boks waarop my naam geskryf is, moet aan my bemaak word. Die eksekuteur wou weet wanneer ek die boks by sy kantoor kan gaan haal.

                                                                                     ***

In die boks was daar sewe dik Croxley-skryfboeke (hardeband, daardie met die rooi streep aan die kant). Bo-op was ’n koevert met my naam op. Binne-in was ’n brief: Beste Johnny. Hierdie is die dagboeke wat ek in my lewe gehou het. Die eerste drie gaan oor die eighties, die volgende twee oor die nineties en die laaste twee van 2000 tot Kersfees 2012. Ek wil graag hê jy moet dit lees. Wanneer jy dit klaar gedoen het, sal jy verstaan hoekom. Groete, Jannie.

Ek het begin gelees. Sy geskrifte is so ysingwekkend dat ek eintlik nie eens direk daaruit wil aanhaal nie. Dit sal vir my soos ’n oortreding, soos ’n vorm van oneerbiedigheid voel om Jannie se intieme, persoonlike gevoelswêreld in sy dagboeke in ’n koerantartikel oop te vlek.

Al is hy reeds dood.

En al gaan dit oor die soort goed wat oral in die wêreld gebeur: boelies, onsedelike aanranding, intimidasie, verkragting, afknouery, sielkundige ondermyning. Selfhaat. Pyn. En eensaamheid.

Veral eensaamheid is ’n deurlopende draad in al sewe dagboeke. My hart het gebloei toe ek dit lees. Ek het meer as een keer in trane uitgebars. En ek moes meer as een keer ná so ’n lees-sessie kroeg toe gaan in ’n wanhopige poging om weg te kom van al die inligting waarmee ek so skielik gekonfronteer is.

... net sodat daar iemand is wat weet wat met my gebeur het.

Nadat ek dit destyds gelees het, het Jannie se geskrifte lank by my gespook. Ná ’n jaar of twee het ek daarvan vergeet. Ek dink ek wóú vergeet. Totdat ek na Deon Wiggett se potsending-reeks My Only Story geluister het. Toe onthou ek: Ek het ook ’n klompie jare gelede iemand se enigste storie in my hande gehad.

Ek het dit destyds teruggesit in die boks en dit in een van die kaste in my huis gaan indruk. Ek het intussen verhuis, en die kans was goed dat Jannie se boks onder die weggooigoed beland het in die trekproses. Ek het vervaard begin soek. Ek het my huis omgekeer. Niks. Ek kon dit nie glo nie. Ek wou dit nie aanvaar nie.

’n Paar dae later kom ek af op ’n paar ou bokse in die klein buitekamertjie waarin die tuingereedskap gebêre word. Ek is blitsvinnig deur hulle almal – en daar, in die heel onderste een, was Jannie se boks.

Ek het dit alles weer gelees. En besef ek het geen ander keuse nie as om te help dat ook sy storie gedeel word. Dit voel net reg. As ek stilbly, sal dit verkeerd wees.

Uit sy dagboeke blyk dit dat Jannie vroeg al geweet het hy is homoseksueel. Hy het baie met homself gestoei daaroor. Op skool is hy telkemale geboelie omdat hy nie wou rugby speel nie en eerder klavier wou speel en boeke wil lees. Hulle het hom altyd ’n “softie” en ’n “moffie” genoem, in ’n skellende, neerhalende toon. Jannie skryf hy kon die veragting en haat in hul stemme hoor.

In st. 7 het hy hom begin onttrek en hy het geen vriende op hoërskool gehad nie. In st. 9 het hy ’n gesprek met sy NGK-predikant gehad kort voordat hy aangeneem moes word as lidmaat. Hy het aan die predikant gesê hy wat Jannie is het besluit om openhartig met hom te praat, want godsdiens beteken vir hom baie en vir hom is dit ’n ernstige saak, hierdie hele ding van om deur katkisasie te gaan en as ’n lidmaat aangeneem te word.

Jannie het verduidelik dis iets wat hy nie kan verhelp nie, dis net asof dit daar is, dis nie asof hy al ooit besluit het om homoseksueel te wees of dit gekies het nie. Hy het baie nagelees daaroor, in die beperkte lektuur wat daar in apartheid-Suid-Afrika oor die onderwerp was, en hy glo dit is ’n biologiese ding, jy word so gebore. Dit het alles te doen met chromosome en sulke goed. Die dominee het hom egter laat verstaan dat homoseksualiteit ’n gruwel in God se oë is.

Jannie het toe besluit om nie aangeneem te word as lidmaat nie. Hy het gevoel hy kan nie voor in ’n kerk staan en lieg nie. Sy ouers was verpletterd. Hulle het begin om Jannie van die een psigiater na die ander te stuur sodat hy van sy homoseksualiteit genees kan word. ’n Psigiater het vir hom pille voorgeskryf en ’n kliniese sielkundige het hom ontleed en vir hom probeer voorskryf hoe hy oor homself moet voel.

In sy matriekjaar is hy boonop onsedelik aangerand deur iemand wat in die 1980’s ’n bekende figuur in die Afrikaanse literêre bedryf was. ’n Paar maande later het Jannie ’n oordosis pille gedrink. Hy was ’n week lank in ’n koma. Hy het dit oorleef. Daarna was hy nooit weer dieselfde nie. Hy het getrou sy anti-depressante gedrink. Hy het alle ambisie en wilskrag verloor, begin drink, met dwelms begin eksperimenteer.

Hy was ’n verlore seun.

En hy kon met niemand daaroor praat nie, want hy wou met niemand daaroor praat nie. Hy was bang hulle sal hom ook verwerp en verstoot, soos wat sy skoolvriende al die jare gedoen het.

Daar is drie paragrawe in een van Jannie se latere dagboeke (in 2012) wat ek wel graag hier wil aanhaal. Dit is dalk ’n gepaste manier om die artikel af te sluit:

“Ek het nooit vergeet dat ek ’n gruwel in God se oë is nie. Ek het dit later bewustelik vergeet, maar weet nou dit was altyd in my onderbewuste: Jy is ’n gruwel in God se oë. Jy begin jouself haat sonder dat jy dit agterkom. Jy voel altyd minderwaardig. Nadat ek onsedelik aangerand is, het dit erger geword. Daar was niemand met wie ek kon praat nie. Nie my pa nie, nie my ma nie. Nie my broer nie. Nie ’n enkele onderwyser nie. Ek word gery deur skuldgevoelens en ’n minderwaardigheidskompleks.

“En dan, die kerkmense wat altyd so voor in die koor is en homoseksuele mense soos tweedehandse siele laat voel. Hulle sê mense soos ek sal in die ‘ewige vuur’ brand. Dit staan alles in die Bybel, sê hulle. Dit staan ook in die Bybel dat as jou dogter nie ’n maagd is die dag wanneer sy trou nie, moet sy buite die stadspoorte gestenig word. Maar nee, DIT sal hulle nooit doen nie.”

Die volgende aanhaling het my ook baie stof tot nadenke gebied: “Wat ek nog nooit kon verstaan nie: Wie is die kerkmense om namens God te besluit dat gay mense boosaardig is en nie liefde verdien nie? Dat hulle moet selibaat wees? Hoekom dink die kerkmense altyd deur middel van seks? Wat van al die ander dinge wat ’n mens met ’n lewensmaat kan deel: kameraadskap, onderskraging, geselskap, warmte, gemeensaamheid, vriendskap, iemand saam met wie jy dinge kan doen en jou lewe en jou kreatiwiteit kan uitleef. Hoekom word ons tot eensaamheid verdoem? Wat het hulle daaroor te sê? En wat sê hulle oor iets soos biseksualiteit?”

En in die laaste dagboek: “Die rede hoekom ek gevra het dat jy my dagboeke moet lees ná my dood, is net sodat daar iemand is wat weet wat met my gebeur het. Iemand wat sal weet hoe my lewe was. En ek het jou gekies, Johnny, want ek was verlief op jou toe ons in st. 7 was. Daar was altyd ’n glimlag op jou gesig. In ons huis was daar net lang gesigte en ’n somber atmosfeer.

“Jy het so ’n stout kaboutergesiggie gehad en jou oë was so vol lewenslus. Jy het my ook lekker laat lag daai kere toe ons plate gespeel het. Maar ek was altyd te bang en te skaam om vir jou te sê hoe ek voel. Ek was bang jy sou ook vir my lag, jy sal my ook deur my gesig klap of met die vuis slaan of vir my sê dat ek ’n gruwel in God se oë was. Daarom kon ek dit nie doen nie, en het net besef ek moet jou laat gaan, vir altyd, uit my lewe.”

  * Johnny en Jannie is skuilname uit respek vir Jannie se oorlewende naasbestaandes en omdat die skrywer nie graag ou wonde wil oopkrap nie.

Meer oor:  Deon Wiggett  |  Kindermolestering  |  Verkragting  |  Homofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.