Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nou meer as ’n koerant, maar steeds lesers se waghond en reisgenoot

Vrydag maak Beeld se slagspreuk, Jou Wêreld, Jou Koerant, plek vir ’n nuwe een: My Wêreld. En dit is dan ook terug waar dit hoort, reg onder die mashoof en meer persoonlik.

Barnard Beukman

In pas met veranderde mediapatrone dui die Beeld-handelsmerk op meer as net ’n koerant.

Dit sluit onder meer in ons landingsblad, beeld.com, as deel van Netwerk24, wat ons met al die belangrike Afrikaanse koerante en tydskrifte deel.

Daar kan die koerant ook elektronies deurgeblaai word.

Die redaksie werk hard om die belangrikste nuus elke dag so volledig moontlik aan ons lesers te bring. Ons het in ooreenstemming met lesers se behoeftes ook begin om al hoe meer diepte-artikels te plaas oor brandpunte soos die grondkwessie, gaan pres. Cyril Ramaphosa dit maak of nie, skoolonderwys, kragvoorsiening, munisipale dienste, omgewingskwessies saam met streeknuus, motors, die stand van die rand en vermaak.

Ons glo ook vas dat Beeld ’n belangrike gedagteplein vir die opweeg van verskillende idees en standpunte moet wees, waaroor ons ook as deel van die diskoers kommentaar lewer. Daar is soms druk dat ons die een of ander afgekampte standpunt moet kies en met uitsluiting van ander net daarmee moet beweeg. Dit sou die Afrikaanse nuusomgewing verskraal en kreatiewe meningsuiting strem. Beeld is juis een van die plekke waar ’n mens oor die hele Suid-Afrikaanse spektrum heen van uiteenlopende standpunte kan kennis neem, hetsy of ons daarmee saamstem of verskil.

Daarom is My Wêreld inklusief van die werklikheid en nooit uitsluitende isolasie nie.

My Wêreld is vir ons lesers ook deelname aan ’n verskeidenheid van projekte, soos ons lesersfoto’s, Bruid van die Jaar, vennootskappe met Aardklop en Innibos, gereelde kompetisies, lesersbriewe en -SMS’e en vennootskappe in die musiek­bedryf, soos Il Divo en Classics is Groot. Ons kondig Vrydag ook ons vennootskap met Johan Stemmet se nuwe musiekreeks op SABC2 aan.

Van môre af gaan ons lesers inlig oor nuwe, opwindende ontwikkelinge op van die projekte. En plek-plek sal lesers nuwighede en verstellings – ons glo verbeteringe – opmerk.

Ons is in tye wat ons waghondrol belangriker as ooit is en fopnuus sonder remme voortstorm. Daarom fokus ons om ’n hawe van gesaghebbende nuus, ontleding en inligting te wees. Geloofwaardigheid bly die hoeksteen van Beeld se nuuskeuse eerder as modegiere wat van korte duur is. Meer regstreekse tweerigtingkommunikasie met lesers is een van die kenmerke van suksesvolle koerante oor die wêreld heen.

Dit is deel van die plan. Dankie dat u deel van die reis is.

Groete, Barnard

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Beeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.