Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nuwe projek is oefenlopie om op Mars te woon

’n Splinternuwe robottuig, Perseverance, gaan vanjaar aktief op Mars soek na mikrobiese lewe wat voorheen moontlik daar bestaan het. Dié sending is ook deel van ’n groter program om weer na die maan te reis, skryf Elsabé Brits.

’n Voorstelling van die Perseverance, wat 1 025 kg weeg, op Mars. Voorstelling: Nasa/JPL-Caltech

Vir die eerste keer sal ons ook die klanke kan hoor van Mars – dié koue, droë planeet waar baie wetenskaplikes glo mikrobiese lewe dalk ook soos op die Aarde ontwikkel het.

Wanneer Perseverance, hierdie jongste tuig van die Amerikaanse ruimte-agentskap (Nasa), in Februarie 2021 op Mars land, sal twee mikrofone saam met sy 23 kameras aangeskakel word. Die landing sal – net soos dié van Curiosity, sy voorganger wat steeds op Mars bedrywig is – opsigself iets besonders wees. Maar dié keer sal ons alles kan sien én hoor.

Kenners praat van die “sewe minute van verskrikking” – die laaste minute voordat hy veilig op vaste die grond is. Jare se werk en miljarde dollar is op die spel nadat Perseverance sy reis in Julie of Augustus vanjaar begin.

Die Jezero-krater is uit 60 moontlike gebiede en ná vyf jaar se navorsing as landingsplek gekies.

Sodra hy regmaak om te land, sal foto’s vinnig van die terrein geneem word en dit sal met ’n kaart vergelyk word om te bepaal om dit veilig is om neer te stryk. As dit nie veilig is nie, sal Perseverance neerstryk op ’n tweede landingsgebied wat gekies is.

Valskerms word ontplooi om die tuig se spoed te verminder. Die landingsproses word verder beheer deur sy vuurpylenjins. Sodra die tuig naby die oppervlak is, ontplooi ’n lughyskraan bo hom wat verseker dat Perseverance saggies op sy ses wiele op Mars neerstryk.

Die lughyskraan breek dan weg en val op ’n veilige afstand grond toe.

Dit sal die eerste keer wees dat mense kan sien hoe die valskerms ontplooi word, hoe Perseverance as’t ware neergesit word en hoe die lughyskraan wegbreek.

Die Jezero-krater is uit 60 moontlike gebiede en ná vyf jaar se navorsing as landingsplek gekies.

Die tuig sal nie net soek na tekens van oerlewe nie, maar ook monsters versamel en in metaalbuise stoor sodat die volgende sending dit maklik kan optel. Dié sal vinnig land, dit oppik en na die Aarde terugkeer.

Ons sal dalk anders dink oor Mars

Perseverance se landingsgebied is in swart omkring. Die ligter kleure dui hoërliggende gebiede aan. Foto: Nasa/JLP-Caltech/MSS/JHU-APL/ESA

Die krater is geologies ryk en is tot 3,6 miljard jaar oud. “Om monsters van dié gebied te kry, kan ons denke oor Mars en lewe daar revolusionêr verander,” het dr. Thomas Zurbuchen, mede-administrateur van Nasa se wetenskapsendingdirektoraat, het gesê. “Dit sal belangrike vrae beantwoord oor planetêre evolusie en astrobiologie.”

Die gebied is ’n reuse-kom wat deur ’n oer-impak veroorsaak is en is net noord van Mars se ewenaar geleë.

Landskappe in die omgewing is van die oudste en van die grootste wetenskaplike waarde. Die Jezero-krater is 45 km wyd en was eens ’n antieke rivierdelta waar oer-organiese molekules en ander vorms van mikrobiese lewe in die water en sediment kon wees. Veral die karbonate en klei binne en aan die rand van die krater kon dit bewaar het.

Volgens Nasa kan die karbonate ook wys hoe Mars verander het van ’n omgewing ryk aan lopende water en met ’n dikker atmosfeer tot die koue woestyn wat dit vandag is.

Perseverance het sewe instrumente aan boord, buiten die kameras en mikrofone, wat wetenskaplik gaan doen wat nog nie voorheen vermag is nie.

Karbonaatminerale vorm deur die interaksie tussen koolstofdioksied en water, en bewaar die veranderinge met die verloop van tyd – byna soos tydkapsules wat kan wys wanneer en hoe dit droër op Mars begin word het.

Gehidrateerde silika kom in baie vorms op die Aarde voor, dit is ook baie hard en goed bestand teen wind en water, en van die oudste mikroskopiese fossiele is al in silika gevind. Die Mars Reconnaissance Orbiter, het ook al bewyse van gehidrateerde silika in die Jezero-krater afgeneem.

Perseverance het sewe instrumente aan boord, buiten die kameras en mikrofone, wat wetenskaplik gaan doen wat nog nie voorheen vermag is nie. Daar gaan ook ’n baie klein helikopter saam om te bepaal of daar op Mars gevlieg kan word.

Die ander instrument, so groot soos ’n motor se battery, sal koolstofdioksied in suurstof omsit. As dit werk, kan soortgelyke toestelle vervaardig word om suurstof vir mense te vervaardig; dit sal net byna 100 keer groter moet wees.

’n Nuwe tuiste op die maan

Nasa is reeds klaar met die eerste fase van die vervaardiging van die vuurpyl wat mense weer na die maan gaan neem. Foto: Nasa

Die Perseverance-sending spits hom nie net toe op die soeke na tekens van oerlewe nie, dit sal ook help om die tegnologie vir die toekoms te bepaal – ’n toekoms waarin mense nie net as ontdekkers in die ruimte teenwoordig gaan wees nie, maar een waarin hy ook dáár wil begin woon.

Daarom kyk Nasa eers weer na die maan.

Die eerste van ’n reeks nuwe bemande sendings genaamd Artemis word vir 2024 beplan. Die eerste vrou sal daarmee na die maan gestuur word en daar word ook met ’n projek genaamd Gateway begin om op lang termyn op die maan te bly.

Mense sal maande lank in die ruimte kan bly en verskeie reise van en na die maan kan onderneem.

Gateway is ’n groot buitepos wat om die maan sal wentel om byna soos ’n permanente halfwegstasie steun aan bemande en onbemande sendings te bied.

Die nuwe Ruimtelanseerstelsel (SLS) en tuig, die Orion, sal instrumenteel wees in die bou van Gateway en om ruimtevaarders te vervoer. Die SLS het die kragtigste vuurpyle wat nóg gebou is.

Dit sal dit moontlik maak vir mense om maande lank in die ruimte te bly en verskeie reise van en na die maan te onderneem. Daar sal ook na verskeie gebiede op die maan gereis kan word.

Krag, kommunikasie en aandrywing vir Gateway sal vanaf 2022 daargestel word.

Indien dit suksesvol is, sal ’n leef-, operasionele en wetenskaplike-area gebou word. Mettertyd sal die Gateway ’n diensplatform word wat brandstof sal berg en ’n laboratorium sal verskaf.

’n Ander landingstuig sal mense tussen Gateway en die maan se oppervlak vervoer. Nasa het verlede jaar 11 maatskappye aangewys om dié tegnologie te ontwikkel en om na brandstofverbruik te kyk.

Dit is nie bloot net nog ’n ontdekkingsreis na die maan nie. Dit is ’n oefenlopie om op Mars te woon.

Daar word hard gewerk om Artemis I vanjaar al op ’n toetsvlug te stuur. Daarna sal Artemis II met ruimtevaarders om die maan wentel, die eerste keer in meer as 50 jaar dat só iets gebeur.

Artemis III sal in 2024 die eerste bemande sending na die maan onderneem. Twee ruimtevaarders, ’n man en ’n vrou, sal op die maan land en nog twee sal in ’n wentelbaan om die maan in Gateway bly. Daarna sal mense elke jaar na die maan gestuur word.

Dit is egter nie bloot net nog ’n ontdekkingsreis na die maan nie. Dit is ’n oefenlopie om op Mars te woon – die mensdom se volgende groot sprong.

Bronne: Icarus: https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0019103518306067?via%3Dihub; Geophysical Research Letters: https://agupubs.onlinelibrary.wiley.com/doi/abs/10.1029/2019GL085584; Nasa; JPL.

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nasa  |  Maan  |  Aarde  |  Mars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.