Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nuwe soort oorlogvoering

Kan die gebruik van onbemande afstandbeheerde tuie vir oorlogvoering onder énige omstandighede eties, moreel en wetlik regverdig word? vra Christo Viljoen. Hy bespreek ook die apparatuur wat hierdie nuwe era van afstandsoorlogvoering inlui.

Die dodelike hommeltuig.
Die dodelike hommeltuig.

Op Vrydag 3 Januarie om 00:32 het ’n burgerlike Airbus A320 uit Damaskus, Sirië, op die internasionale lughawe in Bagdad, Irak, geland.

Aan boord was onder andere genl.maj. Kassem Soleimani (62), leier van Iran se magtige Koedsmag, en sy raadgewer Aboe Mahdi al-Moehandis, senior bevelvoerder van Irak se volksmobiliseringsmag, wat van ’n besoek aan Sirië en Libanon teruggekeer het. Albei is deur die Amerikaanse regering as “terroriste” geklassifiseer.

Soleimani was die argitek van Iran se intelligensie- en buitelandse militêre operasies, en is naas pres. Hassan Roehani as die magtigste man in Iran beskou.

Soleimani en Al-Moehandis was onbewus daarvan dat Amerikaanse agente hulle met hul aankoms geïdentifiseer, dopgehou en op ’n veilige afstand agtervolg het.

Soleimani en Al-Moehandis het saam met agt ander makkers in twee voertuie geklim en op pad na Bagdad in die nagdonker by die lughawe uitgery. Die Amerikaanse agente het sowat 750 m agter hulle gery, maar die twee voertuie nie uit hul sig verloor nie.

Ook was hulle onbewus daarvan dat ’n afstandbeheerde tuig, ’n MQ-9 Reaper-hommeltuig van die Amerikaanse lugmag, ure tevore gelanseer is (waarskynlik vanaf ’n Amerikaanse lugmagbasis in Irak) en bokant die Bagdad-lughawe luier.

Die Reaper is basies ’n vlieënde robot wat via satellietverbinding deur twee operateurs vanuit ’n beheerkamer, waarskynlik op ’n Amerikaanse basis in Irak, beheer word. Dit sou ook beheer kon word vanaf ’n beheerkamer aan boord van ’n Amerikaanse oorlogsvaartuig, of selfs aan die ander kant van die wêreld in die VSA. Ons sal nooit weet nie.

Die operateurs in die Reaper se beheerkamer is danksy die agente, kameras en ’n satellietverbinding deurlopend op die hoogte van die bewegings van Soleimani se konvooi. Met die twee voertuie in hul visier op die beeldskerm voor hulle, druk die Reaper se operateurs ’n knoppie en ’n Hellfire- lasergeleide missiel word om 00:47 gelanseer en peil met dodelike akkuraatheid op die konvooi voertuie af.

Nóg drie missiele wat die een ná die ander gelanseer is, tref sowat 30 sekondes later hul teikens. Soleimani, Al-Moehandis en agt ander sterf oombliklik in die verskriklike ontploffing.

Die Amerikaanse agente is sekondes later op die toneel, identifiseer die twee hoofslagoffers, rapporteer terug dat die sending suksesvol was, en verdwyn in die nag.

Dié beskrywing van gebeure is nie ’n videospeletjie of ’n toneel uit ’n Star Wars-fliek nie, maar ’n voorbeeld van die nuwe fase wat oorlogvoering betree het – onbemande afstandbeheerde wapens wat met dodelike akkuraatheid hul taak suksesvol uitvoer. En wat nuwe vrae oor die etiese aspek van hierdie skrikwekkende oorlogstegnologie – wanneer robotte die plek van vlees-en-bloed-soldate inneem – laat ontstaan.

Was dit geregverdig?

Die dood van Soleimani en sy makkers, in opdrag van pres. Donald Trump, het die spanning in die Midde-Ooste en tussen die VSA en Iran, en tusen Iran en Irak, laat eskaleer:

  • Die Irannese het wraak gesweer en verreikende vergeldingstappe teen Amerika en sy burgers belowe.
  • Dié dreigemente is opgevolg met talle mortiere en vuurpyle wat op onder meer die Amerikaanse ambassade in Bagdad en Amerikaanse basisse in Irak afgevuur is.
  • In Kenia sterf drie Amerikaners in ’n aanval op ’n militêre basis deur die Islamitiese terreurgroep Al-Sjabaab.
  • Drie dae ná Soleimani se dood kondig Iran aan dat hy die vroeëre ooreenkoms opskort om sy uraanverrykingsaanleg te sluit en die ontwikkeling van kernwapens te staak.
  • Die Demokrate in die Amerikaanse kongres het wetgewing ingedien om Amerikaanse presidente te verbied om eensydig sulke operasies sonder die toestemming van die senaat te magtig.
  • Talle van Amerika se Europese bondgenote het hulle intussen van Trump se optrede gedistansieer.
  • Die Amerikaans geleide koalisie teen die terreurgroep Isis om die Irakse basisse teen Iranse militante te beskerm, het sy operasies tydelik gestaak.
  • Die Irakse parlement verklaar die geteikende sluipmoord op Soleimani as ’n onwettige oorlogshandeling en besluit dat die Amerikaanse magte Irak moet verlaat.

In reaksie dreig Trump met sterk sanksies teen Irak as sy troepe verplig word om die land te verlaat, en dreig met optrede teen 52 Iranse militêre teikens sou die land enige Amerikaanse burgers of eiendom aanval.

  • Die brose ontluikende demokratisering van Irak is in gevaar.

Die wetlike en etiese probleme rondom die sluipmoord wentel egter daarom dat Soleimani by terrorisme betrokke was terwyl hy ook ’n hoë regeringsamptenaar was. Ongeag of dit volgens die internasionale reg eties was, en of dit wettig was om hom dood te maak, is die meeste Amerikaners nie spyt daaroor nie.

Belangriker nog is die vraag of die gebruik van onbemande afstandbeheerde tuie vir oorlogvoering eties en moreel onder enige omstandighede regverdig kan word.

Reaper-hommeltuig

Die MQ-9 Reaper-hommeltuig is ’n unmanned aerial vehicle (UAV), wat óf outonoom kan funksioneer óf van ’n afstand deur twee (soms drie) operateurs (’n “vlieënier” en ’n wapenbeheerder) vanaf ’n grondbeheerstasie beheer word.

Dit is aanvanklik vir die Amerikaanse lugmag ontwikkel deur GAAS (General Atomics Aeronautical Systems), maar word nou ook aan die lugmagte van Australië, Frankryk, Duitsland, Italië, Nederland, Spanje, Brittanje, Indië en België verskaf. Die Reaper kos $16 miljoen (sowat R230 miljoen).

Anders as die klein burgerlike hommeltuie het die Reaper nie vier of ses lugskroefenjins nie, maar word dit aangedryf deur ’n enkele turbo-skroef­enjin van 671 kW, en lyk ook meer soos ’n konvensionele vastevlerkvliegtuig.

Die Reaper is 11 m in lengte, met ’n vlerkspan van 20 m en ’n loonvrag van 1 400 kg, wat normaalweg vier Hellfire-missiele is (sien kassie hiernaas).

Dit kan 1 800 kg brandstof aan boord neem, het ’n maksimum vlugspoed van 480 km/h, ’n reikafstand van 1 900 km, en kan met ’n volle loonvrag 14 uur lank teen ’n kruisspoed van 313 km/h in die lug bly. Die maksimum lanseermassa is 4,76 ton en dit kan tot 15 km hoog vlieg.

Anders as burgerlike hommeltuie kan dit nie stil hang in die lug nie. Vanaf ’n operasionele hoogte van 7,5 km neem dit ’n geleide missiel soos die Hellfire sowat 30 sekondes om die teiken te tref.

Hellfire-missiel

Die AGM-114 Hellfire is ’n Amerikaanse lug-na-oppervlak- geleide missiel wat aanvanklik ontwikkel is vir gebruik teen pantservoertuie, maar later is verskeie variasies ontwikkel.

Dit kan vanaf verskeie lug-, see- en grondplatforms gelanseer word. Die meeste variante van die Hellfire is lasergelei, maar een variant word met radar gelei.

Die Hellfire het ’n massa van tussen 45 kg en 49 kg, is 1,6 m lank met ’n deursnit van 18 cm. Die plofkop bevat 9,1 kg teenpantser-plofstof en ’n skrapnel-lading van 8,2 kg wat op impak disintegreer.

Die Hellfire het ’n operasionale reikvermoë van tussen 0,5 km en 11 km. Dit kan ’n topspoed van 1 600 km/h bereik, 1,3 keer die spoed van klank. Laasgenoemde beteken dat die teiken dit nie kan hoor naderkom nie.

Nadat die Reaper-operateur op die operasionele hoogte sy teiken geïdentifiseer en die Hellfire gelanseer het, vlieg die missiel onder lasergeleiding en tref die teiken tipies sowat 30 sekondes later – met vernietigende gevolge.



Meer oor:  Hommeltuig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.