Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nuwe wêreld se 1ste asemteug

Dit voel aan die einde van hierdie dekade asof ons werklik aan die einde van iets, en aan die begin van iets anders, staan. Maar dit is nie die eerste keer dat die mens monsters in die oë moes kyk nie skryf Lourensa Eckard.

by1

Die ou wêreld is sterwend en die nuwe een sukkel om gebore te word: Nou is die tyd vir monsters. Die skrywer en filosoof Antonio Gramsci het met dié woorde beslis nie verwys na die einde van die 2010’s nie. Dit is ’n tydlose aanhaling, een wat in die onsekerheid van 2009 net so waar was soos nou.

Is daar werklik iets te sê vir die einde van ’n dekade? Die antwoord is waarskynlik nee. Daar is egter iets aan die vorige tien jaar wat anders voel, asof ons werklik aan die einde van iets, en aan die begin van iets anders, staan.

Die ou wêreld se doodsroggel weerklink terwyl die nuwe wêreld net-net begin om sy eerste asemteug te neem. So, wat lê vir ons voor en wat het ons uit die vorige dekade geleer?

Tegnologie

Dit is nie nodig om stil te staan by die dood van die CD, oftewel laserskyf, of van slimfone met knoppies op nie.

Tussen 2010 en 2020 het tegnologie nie net die mens se buitewêreld verander nie, maar in ’n meerdere mate is sy binnewêreld onderstebo gegooi. Hoe ons dink, hoe ons droom, hoe ons oor onsself dink, hoe ons voel, hoe en of ons bid en hoe ons liefhet is geheel en al ontwrig.

Die spoed waarteen ons kommunikeer het ook verskeie omwentelings veroorsaak. Die #MeToo-beweging het stadig maar seker opgebou, maar toe die damwal breek het dit ’n internasionale skudding veroorsaak.

So ook die #BlackLivesMatter- en ander maatskaplike bewegings.

Weens tegnologie het die skudding plaasgevind voordat daar behoorlik oor die kern van die sake besin kon word. Is daar moontlik te vinnig op die onderskeie lawaaiwaens gespring, ten koste van ware regstelling en geregtigheid? Sosiale media sou ’n goue era van vryheid van spraak inlui, maar keer op keer het ons gesien dat dit misbruik word om sommige mense stil te maak.

Met 5G-netwerkvermoë wat binnekort ontplooi gaan word en die koste van data wat hopelik goedkoper gaan word, is dit onwaarskynlik dat die pas van maatskaplike bewegings gaan afneem. Ons gaan ’n manier moet vind om vinnig genoeg krities te wees oor die tekortkominge van dié bewegings, wat veels te geneig is om te stoomroller oor enige kritiek en voorstelle vir verbetering.

Daar is 24 lande in die wêreld wat al hoe meer outokraties word, insluitende Amerika, Indië en Brasilië.

Talle lande neig na outokrasieDie sosiale bewegings wat soos veldbrande op sosiale media versprei, het dikwels ’n oorsprong in politieke ontnugtering. Mense wend hulle tot sosiale media want hulle voel tradisionele platforms het nie meer genoeg plek vir hulle nie en hulle het nie ’n stem nie.

Dit mag miskien so wees, of miskien is dit net ’n simptoom van die gevoel dat enige en alle behoeftes onmiddellik bevredig moet word. Kitsbevrediging, of instant gratification in Engels.

Dit hou dodelike gevare in vir demokrasie, want demokrasie verg geduld en geduld is iets wat ’n nuwe generasie van polities bewuste jong mense nie het nie. Kritiek op demokratiese stelsels is nie ongegrond nie. Jong mense sien hoe demokrasie in elk geval omseil word deur diegene wat meer geld en meer invloed het.

Daar is ook ’n frustrasie met die algemene rompslomp van demokrasie. Dit neem tyd om ’n konsensus te bou en as daar genoeg remme en teenwigte is, word ’n dooiepunt soms bereik. Is dit nie dalk in sommige gevalle beter om ’n welwillende diktator te hê wat spoedig dinge kan laat gebeur nie, hoor ek ál meer mense vra.

Die Varieties of Democracy-instituut aan die Universiteit van Gothenburg in Swede het vanjaar in ’n omvattende verslag bevind dat daar deesdae ’n neiging is tot outokratiese regerings.

Daar is 24 lande in die wêreld wat al hoe meer outokraties word, insluitende Amerika, Indië en Brasilië. Outokratiese leiers is nie op hierdie lande se inwoners afgedwing nie. Demokratiese verkiesings vind daar plaas, so wat sê dit oor wat die inwoners wil hê?

Ek glo nie ons gaan minder outokrasie in die volgende tien jaar sien nie. Indien mense toenemend skepties is oor demokrasie, gaan meer gedoen moet word om demokratiese instellings te versterk.

Om nie eens te praat van genetiese vooruitgang nie, wat miskien gaan sorg dat ’n soort supermens oor tien jaar gebore gaan word.

‘Seks-resessie’

Wat baie interessant gaan wees, is hoe die mens met lief en leed gaan omgaan in die dekade wat voorlê.

’n Tendens-ontleder van die groep Flux Trends in Johannesburg, Bronwyn Williams, sê dit is duidelik dat die mensdom die laaste paar jaar ’n “seks-resessie” beleef het. Tieners en jong mense is veel meer geneig om maagde te wees as hul ouers of selfs oupas en oumas op daardie ouderdom.

So waarom is seks so ongewild? Williams sê dit kan toegeskryf word aan slimfone waarop dit makliker is om ’n virtuele verbinding met iemand aan te gaan as om dit in persoon te doen. Daar is ook ’n legio aanlyn platforms waar eensames met mekaar kan praat, sonder om ooit persoonlik te ontmoet. Dit is ook nie net tieners en jong mense wat sku word nie. In Japan word die sogenaamde hikikomori beoefen, waar mense, veral mans, hulself uit die samelewing onttrek en afsonder.

Volgens Williams is daar sakegeleenthede vir maatskappye wat munt gaan slaan uit eensaamheid. Verwag ’n verdere kommodifisering van eensaamheid.

Universele basiese inkomste?

So van kommodifisering gepraat, is geld en finansies iets waar ons verdere ontwrigting gaan sien.

Die McKinsey Global Institute sê vandag se jong mense is die eerste generasie sedert die Tweede Wêreldoorlog wat nie ryker as hul ouers gaan wees nie. Dit skep verwyt.

Volgens Oxfam besit die rykste 26 mense in die wêreld dieselfde hoeveelheid rykdom as die onderste helfte van die wêreldbevolking.

Dit is dus nie verrassend dat iets soos ’n universele basiese inkomste byna ’n hoofstroom-idee geword het nie. Dit word reeds in Finland beoefen, waar alle burgers ’n basiese toelaag ontvang, ongeag hul inkomstevlak. Die onderliggende argument is dat niemand deur die krake hoef te val nie.

Die tradisionele finansiële reuse gaan dit natuurlik nie net daar laat nie. In ’n geval waar ekonomieë nie groei nie, gaan daar aan vindingryke, miskien gevaarlike, maniere gedink word om groei te stimuleer. Hier sal iets soos negatiewe rentekoerse ’n groter rol begin speel.

Dit beteken dat iemand wat geld wil spaar, gestraf word en iemand wat geld leen, beloon word.

Die Europese Sentrale Bank se huidige rentekoers is minus 0,5%, die laagste nog. Kritici wys dat dit nie ekonomiese groei in Europa gestimuleer het soos verwag nie.

In Suid-Afrika het Discovery sy bank vanjaar gestig, waar verbruikers beloon gaan word as hulle geld op ’n sekere manier bestuur. Dit gaan nie lank wees voor ander banke op die behavioural banking-wa spring nie.

Klimaatsangs

Miskien is mense minder geneig om geld te bestee as hulle ’n doodse vrees vir die toekoms het?

Die Amerikaanse sielkundevereniging het navorsing gedoen oor die sielkundige uitwerking wat angs oor klimaatsverandering op mense het.

Daar is bevind dat miljoene mense met klimaatsangs saamleef: ’n vrees dat die wêreld, of die wêreld waarin jou kinders gaan leef, gaan vergaan.

Mense soos die klimaatsaktivis Greta Thunberg het aan die einde van hierdie dekade baie gedoen om die gevare van klimaatsverandering op die agenda te plaas. Dit sal ongetwyfeld ’n groot besprekingspunt in die volgende dekade wees.

Daar is vrese oor die volhoubaarheid van handel en nywerheid op die skaal wat ons dit die afgelope eeu en ook dekade gesien het. Daar is vrese oor al die plastiek in die see, al die motors op die pad, al die gevaarlike gasse in die atmosfeer. Dit is vrese wat gegrond is.

Maar as die wêreld in die volgende dekade nie in ’n vuurbal ontplof nie, gaan mense steeds wil eet, skoolgaan, stokperdjies beoefen en bloot leef.

Uiteindelik weet niemand werklik wat die volgende dekade vir ons inhou nie. Tien jaar terug het sommige gedink motors sal teen 2020 kan vlieg. Robotte word weliswaar slimmer en slimmer en daar word amper elke dag ’n nuwe deurbraak met gesondheidsorg gemaak. Om nie eens te praat van genetiese vooruitgang nie, wat miskien gaan sorg dat ’n soort supermens oor tien jaar gebore gaan word.

Dit is skrikwekkend en ook opwindend om te dink aan die verandering wat in die volgende dekade vir ons voorlê. Ons kan egter nie toelaat dat die onsekerheid ons verlam nie.

Ja, die ou wêreld is sterwend en die nuwe wêreld sit vas in die geboortekanaal, maar dit is nie net nou die tyd van monsters nie, mnr. Gramsci.

Monsters was daar nog altyd, maar gaan ons toelaat dat ’n paar monsters ons so bang maak dat ons ophou om seks te hê? Ek hoop nie so nie.

  • Eckard is ’n joernalis en aanbieder van kykNET Verslag.
Meer oor:  Dekade  |  By  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.